Читать книгу Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai - De Wet Hugo - Страница 9
Оглавление5
Terwyl hy na die skoolhek toe stap nadat die laaste klok gelui het, soek Miek tussen die kinders na Lisa. Dan sien hy sy’s reeds buite besig om haar iPod se oorfoon in haar oor te druk. Hy draf gou tot by haar voor sy in die digte mis oorkant die straat kan verdwyn.
“Hei. Waarheen is jy op pad?” vra hy en besef eers hoe simpel sy vraag klink toe Lisa begin lag.
“Ek gee jou een raai, Miek. Dink mooi. Waarheen gaan kinders op Vreesbaai gewoonlik na skool?”
Miek se ore begin warm word. Sy spot seker maar net en is nie regtig sarkasties nie.
“Ja, man, ek weet jy’s op pad huis toe, maar waar woon jy?” probeer hy.
Lisa trek haar gesig asof sy geskok is. “Hoe dúrf jy my dit vra? Hoe weet ek of jy nie dalk ’n reeksmoordenaar is nie?”
Miek kyk vinnig weg, onseker of dit ’n grap is.
Lisa red hom uit die ongemaklikheid. “Ek terg sommer. Ek kan sien jy’s ’n goeie ou.”
Miek sukkel om in haar haselneutbruin oë te kyk. Haar donker vlegsel hang oor haar regterskouer en terwyl Lisa praat, draai sy die punt om haar wysvinger.
“En glo dit of nie,” gaan sy voort, “ek woon heel toevallig in die huis skuins oorkant julle, so jy’s welkom om saam met my tot daar te stap.”
Miek kan sy opgewondenheid nie keer nie. “Hoe weet jy waar ék woon?”
Lisa se een wenkbrou lig. “Rêrig, Miek? Wonder jy nog? Hier op Vreesbaai is nuwe intrekkers groot nuus. En as dit nuwe intrekkers is in die straat waar jy woon, is dit selfs nog groter opwinding.”
Miek knik net sy kop. Sy maag voel vreemd, asof dit onderstebo gedraai het. Hy hou baie van Lisa. Sy’s mooi, intelligent en snaaks – die drie eienskappe wat ’n meisie in sy opinie perfek maak.
Lisa loer onderlangs na hom terwyl sy met haar vinger op haar iPod druk. Wie weet, miskien hou sy dalk ook van hom.
“Waarna luister jy?” vra hy.
“Uhm … ek het gehoop jy sou nie vra nie,” antwoord sy skaam. “Dis nie baie cool nie, maar dit help my om te ontspan.”
Nou is hy éérs nuuskierig. “Oukei? Gaan jy my vertel wie dit is?”
“Dis Enya.”
Miek frons. “Enya? Ek het nog nooit van hulle gehoor nie.”
Lisa lag. “Dis nie ’n hulle nie. Dis ’n sy. Luister hier.” Sy gee die een oorfoon vir hom aan en hy druk dit in sy oor. “Sy’s Iers.” Lisa wag vir sy reaksie.
Miek luister vir ’n rukkie en trek dan die oorfoon uit sy oor. “Dis heel nice,” sê hy terwyl hy dit vir haar teruggee.
Lisa rol haar oë. “Yeah, right. Ek glo jou nie.”
“Nee regtig. Ek’s ernstig. Ek hou daarvan. En ek verstaan waarom jy dit ontspannend vind. Al haar ge-oe en -aa sal my ook maklik aan die slaap maak.”
Lisa skop speels in Miek se rigting en hy spring eenkant toe.
“Wat dink jy van die alewige mistigheid van Vreesbaai?” vra Miek terwyl hulle aanstap huis toe.
Lisa byt haar onderlip. “Hmm. In die begin het ek gedink dis erg spooky. Ek was bang. Om eerlik te wees, ek is nog steeds.”
Hy weet presies hoe sy voel. Maar dit sal hy nooit aan haar erken nie. “Waarom is jy bang? Of waarvoor?” vra hy versigtig. Gaan sy dalk iets van die monsterhond sê?
“Wel, dis obviously weird om na ’n klein plekkie met ’n naam soos Vreesbaai toe te trek, en as jy hier aankom lyk dit of ’n onheilspellende mismonster die dorp en al die inwoners probeer versmoor,” sê Lisa en iets in haar oë laat Miek voel hy moet ophou voorgee hy’s nie ook bang nie.
’n Groot, donker figuur spring skielik uit die miswolk voor hulle. Lisa gil hard en Miek skrik so groot dat hy terugtree en op sy agterstewe beland. Donovan breek homself.
Toe Miek tot verhaal kom, is Lisa al besig om hom op te help. “Donovan, jy’s ’n idioot!” skree sy vies.
“Julle twee losers het lekker geskrik, nè?” Nie Miek of Lisa lag nie. “Oukei, oukei … ek kan sien Edward en Bella is nie nou in die mood vir my nie. Dan verdwyn ek maar weer … like mist in the morning sun … maar net nie in Vreesbaai nie, hoor. Hier kan die son maar skyn soveel as wat hy wil, die mis gaan nie verdwyn nie.”
Donovan begin hardloop. Net voor hy deur die mis verswelg word, skree hy: “Watch out! Ek maak julle netnou sommer weer skrik!”
Sy kekkellag verdamp in die geraas van ’n groep jonger kinders wat verby Miek en Lisa hardloop en ook in die mis verdwyn.
Miek maak keel skoon. “So as ek mag vra,” begin hy en probeer om nie te nuuskierig te klink nie, “waaroor is jy gestres? Jy’t genoem dat …” Miek dink. “Anye?”
Lisa begin lag. “Enya.”
“Jy’t gesê Enya se musiek help jou om te relax.” Hy skud sy kop. “Relax? Waarom?”
Lisa sug diep en dit lyk of sy na die regte woorde soek. “Ek het … uhm … ’n kondisie.” Sy kyk vinnig na hom en dan weer stip voor haar.
“Is dit ernstig? Of wil jy nie daaroor praat nie?” vra hy huiwerig.
“O nee,” keer Lisa gou, “dis nie ’n kondisie wat ’n dokter spesifiek gediagnoseer het nie. Dis net iets wat ek weet … dat ek dit het.”
Miek sien Lisa weet hy verstaan nie waarvan sy praat nie.
Sy hou op met stap en draai na hom. “Oukei, Miek. Ek gaan nou iets baie persoonliks met jou deel.”
Verskillende emosies weerkaats in Lisa se oë. Wat wil sy nou eintlik sê? Hulle begin weer aanstap.
“Jy moet my belowe jy sal niks wat ek jou nou gaan vertel met enigiemand bespreek nie,” sê Lisa ernstig.
“Ek belowe, Lisa,” sê hy en knik.
“Dankie.” Sy druk ’n haarsliert agter haar oor in en sug diep. “Ek sien en hoor goed.”
Miek se hart begin woes in sy keel klop. Praat sy van die monsterhond? Hy wil dadelik sê hy weet presies wat sy bedoel, maar die woorde stol in sy keel.
Lisa vat aan sy arm. Sy lyk bang. “Ek sien en hoor dit oral. By die huis. By die skool. In die strate. Oral!”
Miek voel hoe die vel op sy arms saamtrek in hoendervleis. Lisa kom dit agter en los sy arm. Haar oë rek. “Gister in die klas het ek dit wéér gesien … en ek het gewonder of jy nie ook het nie. Jy’t met glaserige oë daar gesit terwyl Sumari oor die leesboek gepraat het. En toe die pouseklok lui, het jy erg deurmekaar gelyk. Dit was tóé dat ek dit gesien het. Hy was agter jou.”
Miek sluk swaar. “Wat het jy gesien, Lisa?”
Haar oë skiet vol trane en sy vra verbaas: “Het jy hom nie ook gesien nie?”
Hy skud sy kop. “Wie?”
Lisa vee oor haar wange en snik. “’n Nar … met skerp tande.”