Читать книгу Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai - De Wet Hugo - Страница 7

Оглавление

3

“Ja, Pa, ek weet ek eet vis, maar ek hou nog steeds nie van die reuk nie. Dit stink.”

Sy pa lag terwyl hulle teen die mistige kronkelpad afry na die hawe toe. “Wel, ons woon by die see en ons sal van nou af baie vars vis eet. Dis gesond.”

“Dan sal ek maar seker met ’n wasgoedpennetjie op my neus moet rondloop terwyl Ma dit gaarmaak,” sê Miek en hy en sy pa lag albei.

Hulle parkeer die motor in die hawe. Toe hulle uitklim, kry Miek die aaklige reuk van ou vis en hy druk vinnig sy hand oor sy neus. Sy pa lyk superopgewonde. “Kom, Miek. Dit lyk of daardie blou bootjie so pas ingekom het. Hulle sal lekker vars vis hê.” Sy pa begin met ’n drafstap in die rigting van die water beweeg en Miek loop traag agterna.

“Mickey Mouse! Wat maak jy hier?” hoor hy skielik ’n bekende stem uit die mis kom. Hy kyk verbaas om.

“O, hallo. Jy’s mos Donovan, nè?” vra Miek.

“Jislaaik, daar insult jy my nou! Hoe ken jy dan nie vir Donnie na jou eerste dag in Laerskool Vreesbaai nie?”

“Natuurlik weet ek wie jy is …” begin Miek.

“Relax, my bru. Ek joke maar net. Kom sit, man.”

Hy gaan sit langs Donovan op die betonmuur. “Wat maak jy hier? Het jy kom visvang?” vra hy.

“Nee, my pa is ’n visserman. Ek wag vir hom om in te kom. Ek wil iets met hom discuss.”

“O, oukei,” sê Miek. Wat sal Donovan met sy pa wil bespreek? wonder hy.

“En jy? Wat bring jou na Cape Fear, soos ons locals die harbour noem?”

“Dis ’n cool naam. Vreesbaai. Cape Fear. Dis snaaks.” Miek sug. “Ek’s hier saam met my pa. Ons het kom vis koop vir aandete.”

Donovan skud sy kop. “Julle gaan nog lekker moeg word van vis eet hier by die seaside.”

“Ek dink ook so,” sê Miek.

Miskien moes hy nie vanoggend so vinnig besluit het om nie met Donovan vriende te maak nie. Teen dié tyd behoort hy al te weet ’n mens moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Hier sit hulle nou saam op die hawemuur en Donovan is eintlik baie gaaf.

“Donovan, as jy lus is, moet jy een of ander tyd by my … by ons huis kom k—” begin hy, maar stop dadelik toe hy Donovan se gesig sien. “Donovan?” Die seun langs hom sit versteen. Sy oë lyk glaserig met twee groot trane wat teen sy wange afloop. “Wat is nou verkeerd?” vra Miek bekommerd.

Hy raak aan Donovan se skouer, maar sy nuwe vriend reageer nie en begin herhaaldelik te prewel: “Hulle kom. Hulle kom …”

Miek skrik. Die monsterhond … Hy is seker wat hy vroeër gesien en gehoor het, bestaan nie. Dat die gedierte net deel van sy verbeelding was . . . Maar nou tree Donovan vreemd op en dit maak hom van voor af bang.

“Hei, wat bedoel jy met ‘hulle’?” vra hy sag. Hy huiwer. “Is daar dan meer as een?”

Donovan se oë raak skielik weer helder. Hy spring van die muur af en tel sy fiets op om te ry. “Ek moet by die huis kom, bru. See you tomorrow.”

Miek lig homself ook van die muur af. “Wag, voor jy gaan,” sê hy benoud, “jy het nou net gesê ‘hulle’ kom. Ek dink ek weet waarvan jy praat. Is daar meer as een?”

Donovan se antwoord laat sy hart vir ’n oomblik ophou klop.

Terwyl hy en sy pa terugry huis toe, hoor Miek Donovan se stem nog oor en oor in sy kop herhaal:

“Die see is vol van hulle.”

Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai

Подняться наверх