Читать книгу Grilgrypers 1: Die vloek van Vreesbaai - De Wet Hugo - Страница 8
Оглавление4
“Miek!” Dis Sumari wat na hom roep en vir hom waai. Nes gister, sien Miek net tande en tandvleis toe hy in haar glimlaggende gesig vaskyk. Hy forseer ’n glimlag en waai terug.
Al is dit maar net die tweede oggend van die nuwe kwartaal, voel Miek stokflou. Hy het in die middel van die nag wakker geskrik van ’n enkele monsteragtige blaf en kon nie weer slaap nie. Die ergste was die gewonder of dit ’n droom of werklikheid was.
Sumari stap nader. “Is daardie oulike klein dogtertjie jou sussie?” vra sy en wys na ’n groepie kinders.
“Ja, sy’s in graad R … en soms ’n regte klein pes,” antwoord hy, terwyl hy sy sussie dophou totdat sy by haar klaskamerdeur instap.
“Ag, my moeder! Is julle twee die enigste kinders? Watse werk doen jou pa? Wanneer verjaar jy? Wat’s jou sterreteken? Waar het julle voorheen gebly? Het jy al ’n meisie gehad? Hoeveel sakgeld kry jy?” begin Sumari hom peper met die een vraag ná die ander. Miek maak sy mond na elke vraag oop om te antwoord, maar hy kry nie ’n woord in met Sumari wat soos ’n draaiorreltjie babbel nie.
Sumari se volgende vraag laat hom egter skrik. “Wat’s jou héél grootste vrees?” vra sy en kyk afwagtend na hom.
“Mickey Mouse!” red Donovan se stem hom uit die ongemaklike kruisverhoor.
Sumari se mond gaan oop en sy sit haar hande vies in haar sye. “Dis nou rêrig ongeskik van jou om ons nuwe vriend Mickey Mouse te noem. Wie dink jy is jý miskien? Donovan Duck?”
Donovan lig sy skouers. “Sorry, maar Donovan Duck werk nie so lekker soos Donald nie. Nice try, though, Annie Warbucks.”
Sumari se verontwaardigde gesigsuitdrukking laat Miek deur sy neus proes, maar voordat hy iets kan sê, laat ’n onbekende stem hom omkyk.
“Dis nie baie oorspronklik van jou om ’n rooikopmeisie Annie te noem nie, Donovan.” Dis die iPod-meisie. Vandag lyk sy vroliker.
“Sy kan bly wees ek het haar Annie genoem. Die enigste ander redhead wat ek ken is Chucky!” kap Donovan terug.
Sumari se oë rek en hulle almal bars uit van die lag.
“Ek’s Lisa,” sê die iPod-meisie en steek haar hand uit na Miek. “Welkom in Vreesbaai.”
“Lisa-hulle het ook maar eers drie maande gelede hiernatoe getrek,” sê Sumari en sit haar arm om Lisa se skouer, “maar ons is klaar BFF’s.”
Donovan snorklag en stap weg.
“Hei, jy kan maar snork soos ’n vark …” begin Sumari raas terwyl sy agter Donovan aan begin wegstap.
Vir ’n sekonde of twee staan Miek en Lisa half ongemaklik na mekaar en kyk. Eintlik brand Miek om vir Lisa én Donovan te vra wat hulle gister so bang laat lyk het, maar dis beslis nie nou die regte tyd daarvoor nie.
“Ek’s seker ek sal dit geniet hier op Vreesbaai,” sê Miek gou, want dit lyk of Lisa haar enige oomblik uit die voete gaan maak.
Lisa vee ’n haarsliert uit haar oë en glimlag misterieus terwyl sy dit agter haar oor indruk. “Wie weet?” sê sy. “Op Vreesbaai kan al jou drome waar word.” Terwyl sy omdraai en wegstap, hoor Miek haar sê: “Die soetes én die nagmerries.”