Читать книгу Grilgrypers 3: Kamp vir monsters - De Wet Hugo - Страница 4

Оглавление

1

’n Yskoue sweetdruppel hardloop teen Clayton Goliath se rug af terwyl hy na sy kamervenster staar. Sy vingerpunte begin skielik te prik.

Aan die ander kant van die glas huil die wind deur die groot ou boom se takke, wat soos knopperige monstervingers teen sy kamervenster tok-tok.

Jy’s dertien, nie meer drie nie, Clayton, sê hy oor en oor in sy gedagtes. Dis alles net sy verbeelding, probeer hy homself troos.

Maar sy oorverdowende hartklop oorreed hom gou die boom met die growwe bas, wat lyk of dit asemhaal, is nie slegs ’n drogbeeld in sy kop nie.

Die takkie wat teen die ruit krap, begin groei tot dit soos ’n klou met lang, skerp naels lyk. Nog een verskyn. Die boomvingers begin wild oor die ruit kriewel, en dan sien hy die ding wat hom soveel nagte laat wakker lê …

’n Vieslike verrimpelde gesig verskyn in die dik boomstam. Bloedrooi oë gloei uit die diep kasse en ’n skeefgetrekte bek vol vlymskerp tande glimlag tartend vir hom.

Die plankvloer agter hom kraak. Hy vlieg om.

Dis tannie Themba. “Vir wat lyk jy of jy ’n spook gesien het, Clayton?” Sy rol haar oë en vat aan haar hare wat in netjiese vlegsels in haar nek hang.

Clayton vou sy hande in vuiste. Hy kyk vinnig terug na die venster, maar daar’s niks vreemds nie, net die doodgewone boom. Hy hét homself toe weer verbeel. Hy haat dit dat tannie Themba dit altyd regkry om hom so simpel te laat voel. En hy haat dit dat sy dit nét doen wanneer hulle alleen is. Voor sy pa is sy gawer as Barney die pers dinosourus. “Dis sommer niks, Tannie,” sê hy toe hy eindelik sy stem terugkry.

Tannie Themba lig ’n wenkbrou en gee ’n tree nader. “Nou maar waarom is jou ogies dan so tranerig?” Voor hy kan antwoord, loop sy tot by die spieël teen sy kamermuur en leun nader terwyl sy haar lippe oor mekaar vryf om seker te maak haar lipstiffie is nog in plek. “Clayton, jy moet regtig probeer om nie so pateties te wees nie,” sê sy oor haar skouer.

Clayton se mond gaan oop, maar hy kan aan niks dink om te sê nie. Hy het nog altyd geweet tannie Themba hou nie van hom nie, maar sy het nog nooit voorheen so neerhalend met hom gepraat nie.

“Jy wil hê die wêreld moet dink jy’s so dapper en sterk met al die belaglike goed wat jy onlangs aangevang het, maar eintlik is jy net ’n pieperige klein seuntjie wat soos ’n riet staan en bewe as jy alleen is in jou kamer.” Sy draai om. Vir ’n paar sekondes kyk sy stip na hom. Dan beweeg sy met byna bomenslike spoed nader en druk haar gesig in syne. “Jy’t verloor, jou klein bogsnuiter. En ék het gewen. Moet my nooit weer probeer aanvat nie. Jy sal sleg tweede kom. Verstaan jy my mooi?” sis sy.

Clayton se maag draai. Nie net van tannie Themba se sigaretasem nie, maar ook omdat sy daarin geslaag het om hom werklik bang te maak. Hy kry die vreemde gevoel dat sy gevaarlik is. En hy weet hy sal haar in die toekoms versigtiger moet hanteer. Hy knik vinnig.

Tannie Themba gee ’n tree terug en vou haar arms. “Jou pa wil jou in sy studeerkamer sien.” Sy glimlag breed, maar daar is iets slinks in haar oë. “Hy het goeie nuus om met jou te deel.”

Clayton beweeg na die deur, maar tannie Themba se stem laat hom omkyk. “En Clayton, onthou, dit wat jou so bang maak as jy alleen is in jou kamer, is níks teen my nie. Wees gewaarsku, mannetjie. Ék is jou grootste nagmerrie.”

Grilgrypers 3: Kamp vir monsters

Подняться наверх