Читать книгу Grilgrypers 3: Kamp vir monsters - De Wet Hugo - Страница 5
Оглавление2
Sy pa hou die pamflet na hom uit, maar Clayton kyk aspris weg. Kan sy pa nie verstaan hy stel nie belang nie? Hy weier!
Moedeloos laat val sy pa die pamflet op die lessenaar voor hom.
Clayton leun terug in sy stoel. Toe hy uiteindelik weer opkyk na die man wat oorkant hom agter die groot houtlessenaar sit, sien hy sy pa se oë lyk skielik anders. Donkerder … amper boosaardig. Hy het sy pa nog nooit so gesien nie! Clayton trek sy skouers agtertoe. Hy kan nie dat dit hom van stryk bring nie. Sy pa is die enigste mens wat hom kan help. As hy ontslae wil raak van hierdie mengelmoes van emosies wat soos ’n krieketbal in sy keel vassit, sal hy nóú iets moet doen.
“Hoekom, Pa?” vra hy. Hy probeer hard om sy stem normaal te hou. “Vir drie weke! Dis die hele wintervakansie. Asseblief, Pa. Ek smeek Pa. Moet dit assebliéf nie aan my doen nie.”
Sy vingerpunte begin te prik, soos altyd wanneer hy gespanne is. Het hy hom verbeel of het sy pa se oë so pas hier reg voor hom weer na hulle normale bruin kleur verander?
Sy pa steek sy hand na hom toe uit oor die tafel, maar Clayton ruk weg. Nee, iets is verkeerd. Hoekom voel dit of hy sy pa nie moet vertrou nie? Die studeerkamer is skielik onnatuurlik stil, dit is net die muurhorlosie wat hy ritmies agter hom hoor tik.
“My seun, glo my, asseblief. Ek’s jammer jy voel so hieroor, maar ek’s oortuig daarvan dis wat jy nou nodig het.”
Clayton trek sy vingers deur sy kuif. Hy voel lus om te huil. “So Pa’s oortuig daarvan ek moet vir drie weke gedurende my skoolvakansie op ’n strafkamp vir jeugmisdadigers gaan?”
“Ek sou jou nou nie ’n juis jeugmisdadiger noem nie, maar …” Sy pa knik asof hy klaar besluit het. Sy oë verdof weer en sy kykers word swart. “Ja, jy móét gaan! Jy’t so pas dertien geword en jou gedrag die afgelope ruk was uiters onaanvaarbaar.” Sy pa se gesig raak rooier terwyl hy sy stem verhef. “My magtig, man! Die skoolhoof het jou die ander dag ’n tienerkrimineel genoem!”
Clayton se oë skiet vol trane – hy kan dit nie langer keer nie.
’n Paar sekondes van ongemaklike stilte hang weer in die vertrek. Clayton sluk swaar en vee die nattigheid vinnig van sy wange af.
Sy pa vryf oor sy oë en skud sy kop. “Jy’s reg,” sê hy, sy vingers trommelend op die lessenaar voor hom, “dit ís ’n rehabilitasiekamp, maar darem nie vir … tienerkriminele nie. En dis definitief nie sommer enige kamp nie. Dis eksklusief. Én glad nie goedkoop nie. Vir wat dit my uit die sak jaag, kan ek jou netsowel weer op ’n vyfster oorsese vakansie neem. Maar my geld is nie al wat jou by die program ingekry het nie. Jy sal nie glo hoeveel toutjies tannie Themba vir jou moes trek nie.”
Clayton voel sy oë rek en sy mond val oop. “Tannie Themba … Ek moes dit geweet het,” fluister hy geskok.
Sy pa sug moedeloos. “Clayton, wat bedoel jy daarmee?” Maar voor hy kan antwoord, hou sy pa sy hand in die lug op om hom te keer. “My kind, jy moet vrede maak met die idee dat ek en tannie Themba nou deel van mekaar se lewe is. En of jy dit wil aanvaar of nie, ons gáán trou. So my raad aan jou is om haar te begin respekteer.”
Vir ’n oomblik vergeet Clayton heeltemal van tannie Themba se dreigement in sy slaapkamer. “Sy’s nie my ma nie!” skree hy.
“En sy wil dit ook nie wees nie!” brul sy pa briesend terug. Sy oë is weer gitswart van woede. Clayton se vingers begin erger te prik. Sy pa moet die verbasing op sy gesig sien, want hy sê dadelik: “Dis nie wat ek bedoel het nie.” Dan keer sy oë weer terug na hulle normale kleur.
Clayton voel sy emosie oorkook. Hy gee nie meer om of hy sy pa se gevoelens seermaak nie. “Ek dink dit ís. Sy hou níks van my nie. Ek is net in haar pad hier!”
“Dis nie waar nie,” sê sy pa sag, maar ferm. “Al wat ek bedoel het is dat tannie Themba nie verwag om jou ma se plek in te neem nie. Niemand sal ooit kan nie. Jy en jou ma was baie lief vir mekaar en daardie band sal vir ewig hou.”
Sy pa verstaan duidelik nie. Hy sal iets anders moet probeer as hy sy pa wil oortuig om hom nie na die simpel kamp toe te stuur nie. Maar wat?
“Pa,” sê hy versigtig, “kan ons nie ’n ander reëling maak nie? Wat daarvan as Pa my eerder vir die hele drie weke hok en ek kry bedags ’n vakansiewerk en dan betaal ek die skade aan tannie Themba se motor só af?”
Sy pa skud sy kop beslis. “Clayton, ek het reeds betaal om die krapmerk wat jy opsetlik met die skroewedraaier aan tannie Themba se Range Rover gemaak het te laat herstel. En glo my, drie weke se vakansiewerk sou nie daarvoor kon betaal nie.”
Dis so onregverdig! Clayton slaan met sy vuis op die lessenaar. “Pa wíl my net nie ’n kans gee nie!”
“Nee, ek wil nie!” skree sy pa terug. Hy gluur na Clayton met onheilspellende swart oë. Verbeel hy hom, of kan hy bloupers are in sy pa se nek sien bult? “Jy’t al heeltemal te veel kanse gehad! Eers was dit al die foto’s waarvan jy tannie Themba se kop afgeknip het, toe haar duur skoene wat spoorloos verdwyn het en later verbrand agter die motorhuis gevind is. Toe haar motor met die krap. Genoeg is genoeg, Clayton! Jy gaan op hierdie kamp en klaar.”
Vir die eerste keer in sy lewe is Clayton bang vir sy pa. Iets ís fout.
Jy het verloor … en ék het gewen. Dis wat tannie Themba gesê het. Hy kan nie help om die woorde oor en oor in sy kop te hoor nie.
Hy lig die pamflet traag van die tafel op sonder om sy oë van sy pa af te haal. Sy pa sit baie regop in sy stoel met albei sy hande plat op die lessenaar voor hom. Sy spiere lyk gespanne, asof hy enige oomblik kan opspring.
Toe sy pa weer praat, is sy stem baie sag. “En Clayton, volgens die bestuur van die program sal jou deelname en houding jou ervaring bepaal. As jy saamwerk en altyd jou beste gee, sal dit soos ’n vakansie voel, maar as jy vasskop en probleme veroorsaak, sal dit ’n nagmerrie wees.”
Clayton spring op en loop vinnig by die studeerkamer uit, maar voor hy die deur agter hom kan toeklap, hoor hy sy pa skree: “As ek jou nie nou op dertien na hierdie kamp stuur nie, gaan jy nog eendag in ’n monster verander!”