Читать книгу Grilgrypers 3: Kamp vir monsters - De Wet Hugo - Страница 7

Оглавление

4

Toe die Jeep uiteindelik stop, druk die bestuurder op die paneelbord en die deurslotte spring oop. Clayton sien vyf ander Jeeps, presies soos die een waarin hy is, langs hulle in ’n halfmaan geparkeer staan.

Die bestuurder se selfoon lui. Hy antwoord en ná ’n paar sekondes druk hy dit dood. Dan sê hy kortaf: “Uit.”

Clayton klim versigtig uit die Jeep. Al die bome om hom maak hom kortasem van angs. Dan sien hy hoe vyf ander seuns ook uit die ander Jeeps klim.

“Haal diep asem, Clayton. Bly kalm,” fluister hy vir homself.

Hy kyk versigtig rond. Die plek waar hulle staan lyk soos die tipiese somerkampterrein wat ’n mens gewoonlik in Amerikaanse flieks sien. Daar is ses houthutte, drie links en drie regs, en tussen hulle ’n groot houtgebou wat waarskynlik ’n eetsaal is. Aan die onderkant van die bult waarop die kampterrein gebou is, is ’n groot meer. Alles word deur helder spreiligte verlig.

Clayton frons terwyl hy sy nek draai om alles om hom te bekyk. Hy sien hoe die ander seuns dieselfde doen. Dit lyk allesbehawe soos die supermoderne, deftige kamp wat hy op die pamflet gesien het!

Net toe kom ’n man met ’n digte rooi baard en ’n blonde vrou uit die groot houtgebou voor hulle gestap. Hulle is soos soldate aangetrek, in gekamoefleerde uniforms met berets wat skuins op hulle koppe sit.

Clayton se maag draai. Wat wag werklik op hulle by hierdie kamp?

“Welkom. By. Kamp. Mentors! Die. Beste. Kamp. Ooit!” probeer die middeljarige blondekopvrou in die uniform kletsrym. Sy probeer ook ’n paar hip-hop-danspassies en skree dan: “Laat die pret begin!”

Die lang, gespierde seun met die sonverbleikte hare wat naaste aan Clayton staan, snork deur sy neus en die res van die seuns bars ook uit van die lag.

Clayton bekyk die ander seuns. Daar is ’n ou met ’n kopbeen-tatoe op sy wang en ’n kaalkop-tweeling wat lyk of hulle groot boelies kan wees. Dan is daar ’n tingerige ou met ’n wit Superdry-kappietop aan.

“Stilte!” bulder die man langs die blondekopvrou. Almal is onmiddellik tjoepstil. Clayton se vingerpunte begin weer te prik. Hy sal versigtig moet wees vir hierdie man met die rooi hare en baard.

“Dis nie ’n vakansiekamp hierdie nie,” sis Rooibaard vir Blondie, wat bleekgeskrik langs hom staan.

Sy knik en loer oor haar skouer in die rigting van die groot houtgebou agter hulle. Nou, vir die eerste keer, gewaar Clayton die donker man in die deftige pak wat op die stoep staan en stil na hulle kyk. Wie sou dit wees? Hy weet vir ’n feit dis nie die beroemde Jean-Luc Naudé nie. Hy het gaan google hoe die multibiljoenêr lyk nadat sy pa vir hom die pamflet in die hand gestop het.

“Julle is nou by Kamp Mentors,” gaan Rooibaard voort, “en soos julle so pas gehoor het, is hierdie nie ’n vakansieplaas nie. Julle is hier om gerehabiliteer te word.”

Die seuns loer almal vlugtig na mekaar.

“Julle kan my Meneer noem en my kollega hier langs my is Mevrou vir julle.”

Blondie glimlag breed en waai gretig. Clayton moet hard keer om nie weer te lag nie.

“Die belangrikste ding wat julle van die eerste oomblik af moet onthou, is dat ons wedersydse respek hier toepas.” Rooibaard gluur na hulle. Clayton hou op asemhaal toe hulle oë ontmoet, maar gelukkig kyk Rooibaard vinnig weer weg. “Jy, Spiertier!” sê hy vir die fris ou langs hom. “Kan jy vir ons vertel wat wedersydse respek is?”

Clayton se hart klop vinniger. Iets in die seun se gesig laat hom dink hy gaan nou ’n sarkastiese antwoord gee.

Maar die ou skuifel sy voete en maak keel skoon. “Um … wedersydse respek is wanneer iemand jou goed behandel omdat jy hulle goed behandel. Of andersom.”

“Dis reg,” sê Rooibaard en kyk vir ’n paar ongemaklike sekondes weer stip na Clayton. “Kom ons hoop maar julle almal onthou Spiertier se antwoord vir solank as wat julle nog met ons is.”

Wat bedoel die man? Volgens Clayton se pa was daar geen manier om vroeër uit die kamp te kom nie. Hulle kan jou nie uitskop vir wangedrag nie. Hulle sal dinge net vir jou moeiliker maak. Vir solank as wat julle nog met ons is … Wat beteken dit dan? Hulle sal hulle tog seker nie na ’n regte tronk vir jeugmisdadigers stuur nie?

“Laat ons oor reëls gesels!” onderbreek Rooibaard Clayton se gedagtes. “Julle mag geen selfone, tablette, skootrekenaars of enige ander elektroniese toestelle soos iPods of Apple-horlosies by julle hê nie. Alles moet by my kantoor, hier regs van die eetsaal, ingehandig word. Vang ons jou met enige van hierdie goed, word jy summier gestraf. So wees gewaarsku.”

Die seuns brom onderlangs en Rooibaard verskree hulle om stil te bly. “Julle mag die kampterrein onder geen omstandighede sonder toestemming verlaat nie,” gaan hy voort. Rooibaard en Blondie loer vinnig na mekaar en dan sê Rooibaard: “En ons sal julle ook nie aanraai om alleen in die woud te gaan stap nie.”

Clayton kyk om na die bome wat krakerig in die wind wieg en rillings hardloop teen sy lyf af.

“Hoekom nie? Is daar wilde diere in die woud?” vra Kopbeen-tatoe.

Rooibaard se gesig word rooier, asof hy gaan ontplof. “Hou jou smoel!” skree hy. “Wie’t vir jou gesê jy mag praat?”

Die seun hou albei hande in die lug op en sê: “Jammer, jammer.”

“Jy sál jammer wees!” gaan Rooibaard soos ’n besetene voort. “Hier gaan julle maniere leer!”

Rooibaard knik vir Blondie, wat soos ’n standbeeld na hom staar. Dit lyk of sy uit ’n dagdroom wakker skrik en sy gee ’n haastige tree vorentoe. “Goed, kêrels. Daar is ses van julle. Julle gaan twee-twee saam in ’n hut bly.” Sy glimlag breed en wys na hulle: “Julle twee, julle twee en julle twee is saam in ’n hut.”

Clayton en die lang, gespierde ou is saam ingedeel. Die kaalkop-tweeling is saam en Kopbeen-tatoe is saam met die seun in die wit Superdry-kappietop.

“Die drie hutte regs van die eetsaal – dis nou die groot gebou hier voor ons met die stoep – is vir júlle. Maar … moet asseblief onder geen omstandighede na die drie hutte aan die ander kant van die eetsaal gaan nie. Dis waar die meisies bly. En dis verbode vir julle,” sê Blondie en trek ’n aangeplakte, hartseer huilgesig voor sy kliphard begin giggel.

Van die seuns lag weer, maar Clayton skud net sy kop vir die lawwe vrou wat so hard probeer cool wees.

“Stilte!” bulder Rooibaard en die seuns bedaar onmiddellik. “Julle program vir elke dag is soos volg: Julle begin met ontbyt, dan fiksheid en dan rehabilitasie in die middag.”

Een van die kaalkoppe steek sy hand op.

“Ja, wat is dit nou, Eier 1?” vra Rooibaard. Niemand durf lag nie.

“Ekskuus, Meneer, maar wat presies is rehabilitasie?” vra die kaalkop.

Rooibaard kry ’n onheilspellende glimlag op sy gesig wat Clayton laat ril. Nie eens die bome se blare in die suisende wind laat hom so gril nie.

“Rehabilitasie bestaan uit allerhande vorme van terapie – medies en sielkundig.” Voor iemand nog iets kan vra, skree Rooibaard: “Goed! Ons begin môre stiptelik om sesuur. Gaan kies nou julle hutte, kry julle bagasie uit die Jeeps en pak julle klere in julle kaste. Oor dertig minute sal ’n klok lui en dan ontmoet ons in die eetsaal vir aandete.”

Die twee mentors draai om en sluit aan by die man in die pak wat op die stoep staan. Net voor die drie by die eetsaal ingaan, draai Rooibaard om en skree: “Beweeg!”

Die seuns laat spat in die rigting van die hutte. Nie soseer oor Rooibaard se geskree nie, maar eerder om die beste hut te probeer kry. Clayton mik dadelik vir die een wat naaste aan die eetsaal is, want dis die verste van die bome af.

“Vinniger, ou!” skree die lang seun met die bultende spiere toe hy verby Clayton hardloop en in die hut verste van die eetsaal verdwyn. Clayton gaan staan stil en sluk swaar. Sy kamermaat het so pas die hut aan die rand van die woud gekies.

Clayton haal diep asem voor hy by die hut instap. Toe hy sy kamermaat op die bed naaste aan die eetsaal sien lê, begin sy kopvel kriewel, want dit beteken hy gaan aan die woud se kant moet slaap! En wat nog erger is, is dat daar ’n venster reg langs sy bed is. En reg langs die venster is die naaste groot boom.

“Jammer ek het jou daarbuite so aangejaag, maar ek wou seker maak ons kry die lekkerste hut,” sê die seun. “Ek’s Ferdi.”

“Hi, en ek’s Clayton,” sê hy en gaan sit op die bed oorkant Ferdi s’n. Die hut is skoon, maar niks moderns nie. Langs elke bed is ’n venster, met dun, deursigtige gordyne. Dit maak Clayton nog meer senuweeagtig. “Dis nie regtig so vyfster soos wat my pa dit laat klink het nie,” sê hy skouerophalend vir sy nuwe kamermaat. “En hier’s nie eens ’n badkamer nie.”

“Ek’t gesien hier’s ’n gebou agter die drie hutte. Dis seker maar ’n ablusieblok soos op ’n gewone kampeerplek,” sê Ferdi.

“Wonderlik,” mompel Clayton, “perfek vir ’n piepie drie-uur in die oggend.”

Ferdi lag. “Enigiets is beter as die kinderhuis,” sê hy. “Hopelik sien daardie plek my nooit weer nie.”

Clayton probeer om nie sy verbasing te wys nie. Sy pa het dan gesê dit kos ’n arm en ’n been om na die simpel kamp te gaan. Waar sal ’n kinderhuis geld kry om een van hulle inwoners hierheen te stuur?

Asof Ferdi sy gedagtes kan lees, sê hy: “Die kinderhuis wou my na ’n verbeteringskool toe stuur, maar toe kom ’n anonieme weldoener met die briljante idee om my hiernatoe te bring. En ek’s bly daaroor, want ek was nog nooit met vakansie nie, en dit sal beslis beter wees as drie weke saam met die idiote by die kinderhuis.”

Clayton knik. Hy kan hom maar net indink hoe Ferdi moet voel. “Wel, kom ons hoop maar net alles hier werk oukei uit.”

“En terloops, ek’s nie ’n boelie nie, hoor,” sê Ferdi uit die bloute. “Ek weet mense dink ek’s ’n spiertier, soos wat meneer Rooi-Gevaar my daar buite genoem het, maar ek gebruik net my spiere as dit nodig is om my boetie en die ander jonger outjies teen die régte boelies te beskerm.”

Clayton glimlag. Hy voel hoe sy lyf effens begin ontspan. Miskien sal hierdie tog nie so sleg wees nie. “Dan’s jy mos eintlik ’n held,” sê hy en gaan sit oorkant Ferdi op sy eie bed.

“Ja, seker, maar ek sukkel om my woede te beheer wanneer ek sien hoe boelies en skollies met hulle gemors wegkom … en dan ontplof ek. Een vark wat saam met ons in die kinderhuis is, het in die hospitaal opgeëindig. Dis hoekom ek hier is. Maar ek’s nie rêrig sleg nie.”

Clayton kan nie help om verlig te voel nie. “Ja wel, ek ook nie. My ma is twee jaar gelede dood. Toe kry my pa ’n meisie en sy’s ’n regte heks. Ek haat haar en toe knip ek haar kop van al hulle foto’s af en steek haar skoene aan die brand en krap haar kar … en toe stuur my pa my hierheen as straf.”

Ferdi trek ’n gesig. “Jy het wát gedoen? Haar kop van al die foto’s afgeknip, haar skoene verbrand en haar kar gekrap?” Hy bars uit van die lag. “Dis vrek snaaks, ou. Jy’s van nou af my held!”

Clayton lag, maar hy voel nie soos enigiemand se held nie. Hy’s steeds vasgekeer in hierdie kamp, in die middel van ’n woud, van alle plekke!

’n Onmenslike geskree laat al twee seuns instinktief opspring. Clayton se hele liggaam prik dadelik van skrik.

“Wat was dit?” vra Ferdi met groot oë. Terwyl hy na die deur toe stap en dapper buite gaan kyk, sak Clayton weer lam op sy bed neer. Moet hy vir Ferdi vertel van die krokodilbeer-gedierte wat hy dink hy op pad hierheen gesien het? Nee, besluit hy. Ferdi sal dink hy’s ’n weirdo en homself siek lag. Wat nog as hy moet weet Clayton het ’n onnatuurlike vrees vir bome?

Ná ’n rukkie kom Ferdi ingestap met Clayton se tas. In sy ander hand dra hy sy toksak. “Toemaar, daar’s niks buite nie. Toe het ek sommer gou ons goed in die Jeeps gaan haal.”

Clayton forseer ’n glimlag. “Dankie.” Dit is darem ’n ligpunt dat sy kamermaat so gaaf is.

Ferdi gaan val weer op sy bed neer en begin lag. “Jislaaik, ek het lekker geskrik. Vir ’n oomblik het ek gedink ’n dinosourus gaan ons hier binne kom opvreet.”

Clayton wil graag voorgee hy’s net so kalm en ontspanne soos Ferdi, maar hy kan nie die draaikolk in sy maag ignoreer nie. Hy probeer sy stem normaal hou: “Dink jy nie ook dis vreemd dat ons deur sulke hengse streng sekuriteit gekom het tot hier in die kamp nie? En dan slaap ons in houthutte sonder badkamers.” Hy staan op en loop tot by die deur. “En dan kan die hutte nie eens sluit nie.”

Ferdi sit regop. “Is jy ernstig?”

Clayton knik.

“Dis vreemd,” sê Ferdi.

Clayton haal sy skouers op. “Dis seker sodat niemand hulleself in die hutte kan toesluit nie.”

Ferdi se volgende woorde laat Clayton se lyf klam voel van sweet. “Of dalk sodat húlle enige tyd van die dag of nag by ons hutte kan inkom.”

Grilgrypers 3: Kamp vir monsters

Подняться наверх