Читать книгу Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale - Деон Мейер - Страница 12

Оглавление

Ek is besig met die gewone administratiewe pligte van ’n stasiebevelvoerder, in my afskorting agter die aanklagkantoor, toe konstabel Davidson sy kop daar insteek en sê: “Inspekteur, hier’s ’n kwaai tannie wat jou persoonlik wil sien.”

“Stuur haar in,” sê ek en weet al klaar dit is huismoles. My voorganger het my mooi voorberei. Op Riebeeck, het hy verduidelik, is daar drie soorte sake wat ons met reëlmaat moet hanteer: veediefstal (waarvoor die boere aanklagkantoor toe kom), huismoles (wanneer die vroue kom besoek aflê) en Vrydagaande se dronkies, wat ons sommer self inbring hier teen twaalfuur se kant.

Ek staan solank op sodat ek hoflik kan wees, en dan marsjeer sy by die deur in – ’n stewige vrou in ’n mooi somersrok, reuse handsak aan die arm en ’n huismolesfrons op die voorkop.

“Gezina Greyling, bly te kenne,” sê sy en steek haar hand na my toe uit sonder dat ek die indruk kry sy bedoel die laaste deel vreeslik opreg.

“Inspekteur Havenga,” sê ek. “Sit gerus.” Haar handdruk is stewig.

“Jy’s nuut hier, Havenga.” Dis nie ’n vraag nie. Sy gaan sit op die punt van die bruin goewermentstoel, handsak op die skoot, en kyk my reguit in die oë terwyl ek ook gaan sit. “Laat ek vir jou sê waar Riebeeck se onheil lê. By die duiwel se oorkussing, dis waar. Ledigheid. Julle sal moet plan maak.”

“Mevrou?”

“Hier is niks vir die kinders om te doen nie, Havenga. Desember is die ergste. Die rykes is see toe, en ’n arm weduwee soos ek moet maar hier met haar kroos sit en wag vir die nuwe jaar, totdat die kinders weer kan skool toe en kollege toe. En wat doen julle? Niks. En nou het Magriet die krokodilletjie en julle moet help. Julle dien mos die gemeenskap.” Sy leun effens terug, haar sê gesê.

Dit is nie my eerste bevelvoerderspos dié nie. Ek het al die Mag gedien van Berea in Gauteng tot by die Tuinestasie in die Wes-Kaap. En ek het al gehoor dat die Mag van baie dinge beskuldig word. Maar van die duiwel se oorkussing …

“Ons help waar ons kan, mevrou.”

“Dis goed, Havenga, want julle sal met die krokodilletjie moet help,” sê sy en maak haar handsak oop, haal ’n foto uit en gee dit oor die lessenaar vir my aan, een van hierdie kitskamera-goeters wat dadelik ontwikkel.

“Ek het die kamera loop leen by Freddie se apteek, want ek wil nie hê daar moet negatiewe wees nie en die kind mag nie haar voete by die huis uit sit nie.”

Ek kyk na die foto. Dis van ’n vriendelike krokodilletjie met sagte oë en al die kleure van die reënboog op sy lyf – diamantskubbe in goud en blou en groen en rooi, die hele pad tot by sy stert.

“Dis pragtig,” maak ek die groot flater.

“Pragtig?” vra Gezina Greyling verontwaardig. “Pragtig? Dit is getatoeëer op my dogter se skouer en jy sê dit is pragtig. Dit is ’n brandmerk van die duiwel op my Magriet se lyf en jy sê dit is pragtig! Nee, Havenga, ek verstaan jy is nuut hier, maar op Riebeeck laat ons nie ons kinders mismaak deur die gruwels van die stad nie.”

“Ek het nie geweet … Ek het nie bedoel …”

“Hulle is stad toe, Dinsdag, sy en Mandie Coetzee, die slagter se dogter. Ek sê nogal vir haar sy verdien dit, want sy het nou so hard gewerk vir die matriekeksamen, en ek gee haar vyftig rand en sê, gaan geniet dit, my kind. Maar die duiwel sit en wag by die Groentemarkplein. Ek ken hulle, daardie mannetjies by die stalletjies met lang hare en sulke vuil voete in sandale. En jy weet hoe die kinders is. Een kyk na die mode en ’n spesiale aanbod en daar sit hy. Krokodil op die skouer.”

Ek is stomgeslaan. Ek kyk nog ’n rukkie na die krokodilletjie.

Dit is asof hy vir my glimlag.

“Nou hoe gaan ons maak, Havenga?”

“Mevrou …” Ek dink, maar vir dié een is daar niks in die handleidings nie. Ek kyk op na die vrou voor my. Dit is asof haar stoom opgeraak het. Haar skouers val en sy sak terug in die stoel.

“Ai, inspekteur, ’n mens doen maar jou bes. En Magriet is ’n wonderlike kind. Vir haar is die krokodilletjie die mooiste ding wat sy nog gesien het. Maar op daardie ouderdom dink hulle net aan vandag. Wat van môre, wanneer dié goed” – sy wys met ’n vinger na die foto – “nie meer in die mode is nie? Wat gebeur as sy dertig of veertig is en haar kinders vra oor die ding op haar skouer? Maar sy is net so koppig soos haar ma.”

Daar is ’n nattigheid in Gezina Greyling se oë en ek sien dit is mooi oë, groen, met ’n sagtheid, amper soos die krokodilletjie s’n. En al is ek ’n oujongkêrel, is ek nie bestand teen dié weerloosheid nie. Ek maak ’n gevaarlike stelling: “Mevrou Greyling, ons is hier om te help. En dit is wat ons gaan doen.”

* * *

Toe ek by die Mag aangesluit het, was daar net een manier van ’n ding doen: volgens die boek. En die boek was eenvoudig – dít is toelaatbaar en dát is nie toelaatbaar nie. Maar dinge verander. Deesdae kom sulke jong mannetjies met baadjies en dasse en grade in polisiekunde en bied “seminare” aan vir stasiebevelvoerders, waarin hulle praat van missies en visies en kernwaardes en besluitnemingsmodelle en sleutelprestasie-areas. ’n Mens luister maar en knik jou kop en gooi dieselfde groot woorde rond tydens teetye by die seminaar, maar heimlik dink jy dit is maar dieselfde boek van die ou dae, net so ’n bietjie opgetooi met groot woorde. “Voetsoolvlak”. ’n Probleem “aanspreek”. ’n Inset “lewer”. Strukture “in plek kry”. Bid jou aan …

Maar by ’n vorige seminaar was daar so ’n skraal kêreltjie met ’n bek so glad soos seep, wat kom praat het oor kreatiwiteit. En as jy mooi geluister het deur al die groot woorde deur, kom sy hele toespraak op een ding neer: die ou manier van doen is nie altyd die beste nie. As jy so ’n bietjie probeer, kan jy probleme op lekker, nuwe maniere oplos. Of is dit nou “aanspreek”?

Dit is aan dié kêreltjie wat ek dink toe Gezina Greyling statig die afskorting verlaat, want nou sal ek kreatief moet dink.

Ek bel eers vir ou dokter Reitz om te hoor of tatoeëermerke verwyder kan word. “O, jy praat van Magriet se krokodilletjie,” sê hy. Klein dorpie. “Met die nuwe lasers haal hulle hom af sodat jy nie eens kan sien hy was daar nie. Maar dis seer.”

Ek vra hom nog ’n bietjie uit en groet.

Ek weet een ding gaan nie help nie: om self met Magriet Greyling te gaan praat. Jy stuur nie ’n middeljarige gesagsfiguur om met ’n tienderjarige oor so iets te gesels nie. Dit is soos ’n rooi doek vir ’n bul. Wat ons nodig het, is ’n jong gesant van die gereg, iemand wat maar self nog ’n adolessente nattigheid agter die ore het …

En toe dink ek aan my jongste aanwins.

Pieter Abel kon enigiets geword het, want hy is ’n slim mannetjie. (Sy lêer is hier in die kabinet. By die Polisiekollege was dit net A’s in die eksamens.) Maar toe kies hy die Mag, sonder om te dink aan range. As sy van Prinsloo of Papenfus was, sou dit nie ’n probleem gewees het nie. Maar dis Abel. Konstabel Abel. Gelukkig sal hy, met sy verstand, nie lank ’n konstabel bly nie.

Ek steek my kop by die deur uit. “Konstabel Abel!”

“Inspekteur!” roep hy van agter die stasie en ek hoor sy haastige voetstappe op die gruis. Oomblikke later verskyn hy in die deur. Pieter Abel lyk soos die meeste konstabels wat vars uit die kollege is: kort, netjiese hare, yl snorretjie, vuur in die oë – met ’n ronde goueraambrilletjie.

“Ek het ’n moordsaak vir jou, Pieter.”

“Wraggies, inspekteur!” Sy oë is groot agter die brillense.

“Ja.” En dan glimlag ek. “Ek wil hê jy moet ’n krokodilletjie vermoor.”

* * *

Die liefde is baie soos ’n misdadiger: dit slaan dikwels toe op plekke en tye wat jy dit die minste verwag. Ek en Pieter Abel het ons planne mooi – én skeppend – agtermekaar gekry. Die bende-ding was sy idee – ek het net hier en daar gehelp met die slyp van die storie. Toe is hy daar weg met die patrollievoertuig, die nuwe blinke, ’n frons van erns en konsentrasie diep op sy jeugdige voorkop ingekeep.

Ek is seker die plan sou gewerk het, as dit nie vir die liefde was nie.

Pieter Abel kom by die Greylings se huis aan, gaan klop aan die deur en Gezina, wat my die hele storie later sou vertel, maak die deur oop.

“Middag, mevrou, ek is van die polisiediens.” Asof sy nie die voertuig voor die deur en die blou uniform herken nie. Maar Gezina speel saam en vra of sy kan help.

“Ek is hier om bendebedrywighede te ondersoek.”

“Bendebedrywighede,” herhaal Gezina hard, sodat Magriet haar iewers in die huis kan hoor. Sy is beïndruk deur ons strategie.

“Ja, mevrou, hier is dwelmbendes in die Wes-Kaap bedrywig, en ons wil hul aktiwiteite nou uitroei.”

“Uitroei,” knik Gezina. “Nou hoe kan ons help?”

“U sien, die bendelede dra almal tatoeëermerke. En ons het ’n leidraad gekry dat hier dalk so iemand in dié huis skuil.”

“Dit is ernstig,” sê Gezina weer hard om die onsigbare gehoor se onthalwe. “Magriet!” roep sy in die gang af. “Ek dink jy moet nader staan, my kind.”

Magriet Greyling kom by die voorhuis in. Pieter Abel gee een kyk na daardie blakende vel, die kuiltjies in die wange, die lang bruin hare wat op haar skouers hang, en dit is asof Gezina die klokke in sy kop kan hoor lui. Daar staan die twee jonges mekaar en aangaap sonder om ’n woord te sê, tot Gezina dit nie meer kan hou nie.

“Die bendes,” por sy vir Pieter Abel aan. Hy hoor nie. Sy sê dit ’n bietjie harder.

“O … e … ja, die bendes. Juffrou, ek is hier om jou in hegtenis … Ek bedoel, ek moet jou ondersoek … ek bedoel, ek is hier vir ’n ondersoek.”

“Ja,” sug Magriet asof dit die beste nuus is wat sy in weke gehoor het.

“Wys my jou krokodilletjie,” sê-vra konstabel Abel.

“Okay,” sê Magriet Greyling en laat haar skouer sak. Agter op die sonbruin skouer lê die reptiel en sy veelkleurige glimlag.

“Dis pragtig,” sê Abel.

“Dankie,” sê Magriet en slaan haar oë in nederigheid neer.

* * *

Hy sit oorkant my in die kantoor en probeer sy bes om deur die waas van verliefdheid skuldig te lyk.

“Mevrou Greyling sê jy het gesê die krokodilletjie is pragtig.”

“Ja, inspekteur.”

“Mevrou Greyling is baie ontsteld, Pieter. Sy sê die gereg is hier om haar te beskerm, nie om ’n komplot teen haar te smee nie.”

“Ja, inspekteur.”

“Sy sê sy gaan ’n brief aan die kommissaris skryf.”

Hy sug en sê niks.

“Jy het jou plig versaak, konstabel.”

Hy staar na die blad van my lessenaar.

Ek haal diep asem en probeer ’n ander aanslag. “Is jy verlief op Magriet, Pieter?”

Sy gesig verhelder. “O ja, inspekteur. Baie.”

“Wil jy met haar trou?”

“O ja, inspekteur.” Pateties. Die liefde maak ’n man, selfs ’n lid van die Mag, pateties.

“Wil jy hê die ma van jou kinders moet ’n tatoeëermerk op haar skouer hê, konstabel Abel?”

Ek moes dit seker nie gevra het nie. Ek moes geweet het wat sou kom. Maar daar is versagtende omstandighede. Ek is immers ’n oujongkêrel.

“O ja, inspekteur. Maar net as ek ook een het. As ek dalk Saterdag kan afkry, inspekteur.”

* * *

Ons sit in dominee Stultingh se studeerkamer, Sondag ná kerk, besig met ’n krisisvergadering. Gezina sit oorkant, teen die boekrak, in haar Sondagbeste, en ek kan sien die Magrietappel het nie ver van die boom geval nie.

Dominee Stultingh, agter sy groot lessenaar, sug diep. “Ek het probeer, Gezina.”

“Ek het gehoor, dominee.”

Hulle verwys na sy preek, wat oor die liggaam as ’n tempel gegaan het, maar ek het vir Pieter Abel en Magriet dopgehou. Hulle het nie ’n woord gehoor nie. Hulle was te besig om vir mekaar te loer en te bloos.

“Hy het gisteraand sy krokodilletjie vir haar kom wys,” sê Gezina. “En toe vra hy haar Oujaarsdans toe.”

“Ai, ai, ai,” sê dominee Stultingh. “Ons sal ’n plan moet maak.” Dan verhelder sy gesig. “Willem, maar jy kan hom mos Oujaarsaand laat werk.”

“Dis waar, dominee. Maar dit gaan nie die krokodilletjies hokslaan nie.”

“Ai, ai, ai.”

“Dit is die generasiegaping,” sug Gezina. “Dit is omdat ons nie van die krokodilletjies hou nie …”

“Jy is reg,” sê ek, en die skraal kreatiewe-denke-mannetjie doem weer voor my op, want iewers in Gezina se stelling is daar ’n plan.

“Miskien moet julle …” wil dominee spekuleer.

En dan sien ek die oplossing voor my: helder, skeppend, ’n manier van die probleem “aanspreek” op “voetsoolvlak”, by wyse van spreke.

“Ek dink ek het ’n plan.”

Hulle kyk hoopvol na my.

“Mevrou Greyling, wat doen jy Oujaarsaand?”

“Noem my tog maar Gezina.”

“Gezina, Oujaarsaand?”

“Ek sal maar wakker lê tot Magriet huis toe kom.”

“En die Saterdag, net voor Nuwejaar?”

“Op die aarde niks, Willem.”

“Gezina, ek en jy gaan dans.”

* * *

Dit is nie maklik vir ’n vyf-en-veertigjarige stasiebevelvoerder om soos ’n rocker aan te trek nie. Vra my. Ek moes die Saterdag voor Nuwejaar spesiaal ’n frokkie, denimbroek en -baadjie gaan koop. Die sandale het ek gelukkig gehad. En my hare, sien ek in die patrollievoertuig se truspieël, lyk nog steeds kort en yl, al is dit geolie en teruggekam.

Ek hou voor die Greylings se huis stil, stap voordeur toe en klop aan. Gezina maak die deur oop. Ek herken haar amper nie. Sy lyk … asemrowend. Jonk. En … laat ek nou maar eerlik wees: sexy. Daar is ’n blom in haar hare, haar lippe is rooi, die denimbaadjie se moue is astrant opgerol, die wye blommetjiesromp vrolik en reg vir swaai op die dansbaan.

“Jy lyk pragtig,” sê ek.

“Gmf,” sê sy, maar ek kan sien sy waardeer die kompliment. “Ons lyk soos middeljarige hippies. Jou plan moet net werk.”

“Dit sal werk,” sê ek met meer moed as oortuiging.

Ons ry landbousaal toe. ’n Mens kan die musiek al van die wynkelder af hoor. Jongmensmusiek: net tromme en baskitaar wat die Oujaarsnag inpols. Ons parkeer en stap saal toe. Binne is dit ’n massa van swaaiende lywe.

“Blaas my siel,” sê Gezina en trek haar skouers terug, asof sy haarself wil staal vir die aand wat voorlê.

Ons besluit om te dans. Hier en daar herken iemand ons en wys met skelm vingers. Gezina bekyk die jonges om haar se rukbewegings en probeer dit na-aap. Dan lag sy vir haarself en vir my en skielik, kan ek sien, begin sy die hele ding geniet.

Die woord versprei stadig deur die saal: Magriet se ma is hier saam met die inspekteur. En julle moet sien hoe hulle lyk! Die dansers begin so ’n kring om ons vorm. Gezina bekyk een slaplyfmannetjie se moonwalk en probeer dit self. Hulle lag. Ek klap hande en ruk agterna. Die omstanders juig. Ons improviseer en doen ’n sakkie-sakkie-moonwalk wat ons bewonderaarsklub laat aangroei.

Tot ’n gil só hard en vreesbevange opklink dat selfs die orkes ophou speel.

“Má!”

Dit is Magriet, wat ons eindelik raaksien. Die skare maak ’n pad oop vir haar en Pieter Abel. ’n Doodse stilte daal oor die Riebeeck-landbousaal neer. Die omstanders hang aan Magriet se lippe.

“Wat doen Ma hier?”

“Ons dans, my kind.”

“Kyk hoe lyk Ma.”

“Dink jy nie sy lyk pragtig nie?” gooi ek my stuiwer in.

Die toeskouers se oë volg die gesprek soos ’n tenniswedstryd – heen en weer, heen en weer.

“Ek dink Ma lyk …”

Gezina knipoog vir my, die teken waarop ons afgespreek het.

“Nee wat, my kind, dit is die mode,” sê sy terwyl ons so saam-saam van ons denimbaadjies ontslae raak. Ek en Gezina het net moulose geel frokkies onder die baadjies aan.

“Musiek, asseblief!” roep ek in die rigting van die orkes.

Weer gil Magriet, dié keer bloedstollend: “MÁAÁAÁÁ!” Die orkes val uiteraard nie in nie.

“Ma!”

Gezina glimlag liefies. “Ja, my kind?”

Magriet wys met ’n bewende vinger na Gezina se skouer.

“Wat is daai, Ma?”

“My krokodilletjie, my kind.”

“Hy het ook een,” sê Pieter Abel vies en wys na my skouer.

Dan kan Magriet Greyling dit nie meer hou nie. Sy bars in trane uit, gryp Abel se hand en storm die saal uit.

* * *

Selfs die permanente ink van kokipenne was af, as ’n mens jou skouer hard genoeg skrop, hoewel ek en Gezina die skroppery moes laat wag tot Magriet en Abel met die laserbehandeling begin het.

Magriet het haar ma eers regtig vergewe toe sy vir die Aprilvakansie huis toe gekom het. Teen die Julievakansie kon hulle saam lag oor die hele affêre.

Pieter Abel het vir ’n verplasing Tuine-stasie toe gevra sodat hy nader aan Magriet kon wees. Ek het die vorm gestempel en geteken en by die streekkommissaris se kantoor geneul tot hulle uit moedeloosheid die verplasing goedgekeur het. En elke Oujaarsaand gaan ons vier so saam-saam dans, sodat Gezina weer haar moonwalk vir die jeug van die dorp kan doen.

’n Week nadat Magriet haar diploma by die technikon gekry het, is sy en sersant Pieter Abel getroud. Ek het die bruid weggegee en dominee Stultingh het gepreek oor liefde en trou wat nie eens met lasers uit die hart verwyder kan word nie.

Maar die ding wat die dorp vandeesweek weer aan die praat gekry het, was die kaartjie wat mense uitgenooi het na die huweliksbevestiging van inspekteur Willem Havenga en mevrou Gezina Greyling. Want op die voorkant, met sagte oë en ’n tere glimlag, is daar ’n veelkleurige krokodilletjie, met rooi en geel en blou skubbe van sy kop tot op sy stert.

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Подняться наверх