Читать книгу Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale - Деон Мейер - Страница 8

Оглавление

Ek weet hulle spot al met my.

“Louise Luttigh is al agt maande lank ’n polisievrou en sy het nog nie eens iemand vir ’n verstreke parkeermeter gevang nie.”

Feit van die saak is, dit is nie my skuld nie. Maar hulle steur hulle nie daaraan nie. Veral die mans. “Gaan saam met my uit vanaand, Louise, dan gee ek jou rede om my te arresteer.” Of: “Hier is ek, Louise, boei my aan jou vas. Sluit ons toe.” Of: “Arresteer jouself, Louise. Vir diefstal. Jy het nou net my hart gesteel.”

Eers was dit net ’n kollegiale geterg. Nou is dit al gewoonte.

Ek doen diens in die middestad. Voetpatrollie, van Strandstraat tot Waalstraat, letterlik in die skaduwee van Tafelberg. En daar is maar die gewone stedelike misdaad – van handsakdiewe tot gewapende roof. Wanneer die radio aan my heup knetter, dan hardloop ek. En ek is nie stadig nie. Maar ek is nooit vinnig genoeg nie.

Die arrestasie word altyd deur ’n man gedoen. “A, sien jy is ook hier, konstabel,” sê hy dan, lag en lei die verdagte na die patrollievoertuig.

My woonstelmaat, Inge, het ’n ingewikkelde metafisiese teorie dat skoonheid juis lelike dinge soos misdaad wegstoot. “Jy is te mooi. Daar is jou probleem,” sê sy met Germaanse finaliteit en gaan aan om haar lesing voor te berei. Inge kom van Namibië af en gee Duits by die hoërskool hier agter ons teen die berg.

“Gmf,” sê ek. “As ek so vervlaks mooi is, hoekom kan ek nie ’n man vang nie? Selfs net om saam met my te gaan fliek.”

“Omdat jy ’n polisievrou is. Dit intimideer hulle. Mans het baie klein ego’tjies, jy weet.” Aldus die Duitse orakel.

Ek sug en kyk by die venster uit na die swembad en tuin. Al die woonstelle kyk uit op die swembad, want die gebou is daarrondom gebou. ’n Paar mense benut die laaste hitte van die laatmiddag om lyf nat te maak.

Ek en Inge swem nie baie nie, want sy sê sy is nie gebou vir swemklere nie. En ek wil nie alleen gaan swem nie.

Dan sien ek hom. Lank en lenig stap hy, breë skouers, atletiese tred, wye snor en donkerbril, handdoek oor die skouer, net genoeg hare op die bors, vel mooi bruingebrand, hare kort en swart.

“Sjoe,” sê ek. “Daardie een se ego kan nie te klein wees nie.”

Inge staan op, kom staan langs my by die venster. Meneer Lenig vou sy handdoek netjies op en sit dit op die gras neer, sit sy donkerbril daarop neer en duik dan grasieus in die sprankelende blou water in.

“Dis die een wat oor die naweek in nommer drie-en-veertig ingetrek het,” sê Inge. Sy weet van alles, want sy drink in die middag ná skool soms tee by die opsigter en sy vrou, wanneer ek kastig my skoonheid as die Polisie se geheime wapen inspan.

“Waar kom hy vandaan?”

“Gauteng.”

“Hm. Seker ’n grootwildjagter. Of ’n gimnasium-instrukteur,” fantaseer ek.

“Tannie Annetjie sê dit is snaaks, hy sê hy is glo ’n konsultant, maar hy is die meeste van die tyd hier by die woonstel.”

“Miskien het hy nie nodig om te werk nie. Miskien het hy ’n skatryk pa,” sug ek en staan op. “Wil jy koffie hê?”

“Wortelsap, asseblief.”

* * *

Ek doen my rondte by Groentemarkplein se vlooimark toe die radio skielik lewe kry. “Alle reaksiespanne – gewapende roof by Suiderkruis Bouvereniging, hoek van Burg- en Houtstraat … Ek herhaal, alle …”

Ek luister nie verder nie; ek druk net my pet met die linkerhand vas en hardloop. Twee straatblokke. Dis al. Mense maak vir my ’n pad oop op die sypaadjie as hulle my sien kom. Een lummel fluit vir my, maar ek steur my nie daaraan nie. Ek wil eerste daar wees.

Ek sien Suiderkruis Bouvereniging se uithangbord en trek die rewolwer uit sy skede, hou dit met twee hande voor my bors, nes ek by die kollege geleer is, en kom tot stilstand voor die deur. Die glas is ondeursigtig. Ek weet wat om te doen. Ek druk die deur met my skouer oop en swaai die rewolwer in, halfgebukkend, gewig mooi op elke voet versprei.

“Moenie skiet nie, konstabel Luttigh. Ons is aan jou kant,” sê Snijders, die kort konstabeltjie met die groot mond wat saam met my begin het, en ek weet hulle gaan vanaand by die stasie weer heelwat hê om oor te lag.

Ek bêre die vuurwapen en glimlag verleë, soos elke keer. Snijders sê die rower is skoonveld en hy het al die speurders laat kom.

“Hoe het jy …?”

“So vinnig hier gekom, Luttigh? Voorgevoel. Ons mans hét dit net.”

Wat kan ek sê? Miskien is hy reg. Die speurders stap in, stel hulself voor. Speurder-sersant Johan Kok, jongerig, maar sy kop is so bles soos ’n hoendereier, en speurder-konstabel Van Rhyn.

Sersant Kok het ’n mooi, sagte stem. Hy vra my om te bly, want ek moet bysit tydens die ondervraging van die vroulike tellers.

“O, dié bankrower was baie vriendelik,” sê die vrou wat die geld aan hom moes oorhandig. Sy is lank, skraal en blond, met lang, rooi vingernaels en ’n goue ring aan elke vinger. “En hy is so aantreklik. Hy lyk amper soos Tom Selleck. Jy weet, Magnum van die televisie. En hy sê vir my …”

“Hy het dus geen vermomming gedra nie,” sê sersant Kok met groot geduld.

“Nee. Behalwe die donkerbril. Jy weet, soos Arnie in Terminator 2 gedra het. En hy sê vir my …”

“Ek wil hê u moet hom so volledig moontlik beskryf. Haarkleur, gesigsvorm, lengte, gewig, ouderdom. Sal u dit kan doen?”

Sy draai een van haar groot, goue ringe in die rondte terwyl sy dink. “Laat ek sien. Sy hare is swart. Sy oë … Ek kon dit nie sien nie, maar ek sou sê …”

“Net wat u gesien het, asseblief.” Sersant Kok se sagte, mooi stem kry alles met haar reg.

“Goed.” Sy rek die woord lank uit. “O, sy snor. So bruinswart. En mooi. So ’n grote, nie so ’n kleintjie soos party mans dra nie. En hy het die mooiste mond.”

“Hoe lank is hy, Mevrou?”

“Laat ek sien. Ek is nie ’n kort vrou nie, maar ek moes opkyk. Oor die ses voet. Ses-voet-drie. Ses-voet-vier.”

“Dus tussen een-komma-agt en een-komma-nege meter?”

“So iets.”

“Is hy skraal? Oorgewig? Atleties?”

“Atleties. Definitief atleties. En daardie kuiltjies. Hy het vir my geglimlag, jy weet. Toe sê hy vir my: ‘Moenie skrik nie, skattebol, ek wil niemand seermaak nie …’”

* * *

Dit is warm ná werk. Baie warm. Ek sê vir Inge ek gaan swem, of sy nou saamkom of nie. Sy glimlag ’n geheimsinnige Germaanse glimlag en sê niks.

Die water is heerlik koel en ek swem rustig vier lengtes voor ek hom aangestap sien kom. Meneer Lenig, met sy handdoek oor sy skouer en sy donkerbril.

“Soos Arnie s’n in Terminator 2,” onthou ek die teller se woorde en glimlag. Ek lag amper, want ek dink hoe snaaks dit sal wees as Meneer Lenig die bankrower moet wees en ons is feitlik bure. Dink net hoe sal hulle my dan spot.

Ek klim uit die water en gaan sit op my handdoek. Meneer Lenig stap verby my op pad na die water, kyk skielik vir my en glimlag. “Haai,” sê hy. My keel trek toe en my hart val my aan en ek maak ’n klein, lamlendige groetbeweging met die vingers van my regterhand, want die woorde sit in my keel vas.

Ek weet ek kan nie, mág nie daar wees as hy uit die water kom nie. Ek hardloop op woonstel toe, bars by die deur in en sê: “Hy het vir my ‘haai’ gesê.”

En Inge sê: “Ek wil net gou julle troukoek in die oond kry.”

Toe skater ons van die lag.

* * *

Ek is besig om in Strandstraat vir toeriste te beduie hoe om by die Tuine te kom, toe sersant Kok skielik langs my verskyn. Hy wag dat ek klaar praat met die toeriste. Hy het ’n bruin-en-swart geruite baadjie aan en ek wonder of hy ’n vrou of meisie het wat hom kan leer om reg aan te trek.

“Ek het vir jou ’n identikit van Skattebol gebring,” sê hy sag, vryf met sy hand oor sy bles en gee die skets aan. “Miskien loop jy hom raak.”

Ek snap nie dadelik wie “Skattebol” is nie, maar dan sien ek die skets en bring die kloutjie by die oortjie.

Skielik voel dit asof iemand my met ’n Casspir omry, want die bankrower kon volgens die identikit baie maklik Meneer Lenig gewees het.

“Hoekom lyk jy so bleek?” vra sersant Kok besorg en sit sy hand versigtig onder my elmboog.

“Iets wat ek geëet het,” sê ek en bedank hom vir die skets.

“Dit is ’n plesier,” sê sersant Kok en skuif sy das reg. Sy das pas nie by sy baadjie nie.

“Dit lyk glad nie soos hy nie,” sê Inge later by die huis. “Jou probleem is dat jy niks anders op die brein het as die swembadman nie.”

“Komaan, Inge. Daar is sterk ooreenkomste. Selfs die donkerbril is dieselfde.”

“My broer het een van daardie brille. Hoekom ry jy nie nou plaas toe en gaan arresteer hom nie? Dis net eenduisend-vyfhonderd kilometer. En jy het genoeg bewyse.”

Ek kyk weer na die skets. “Jy dink nie dit lyk soos hy nie?”

“Nee. Gaan swem tog nou. Ek weet jy wil.”

“Nie vanmiddag nie,” sê ek en skakel die ketel aan.

* * *

Konstabel Snijders, die kort een met die groot mond, stap saam met my deur ’n stegie tussen twee toringblokke. “Ek wil vir jou iets vra, Luttigh.”

Ek ken hom nie so hoflik nie. “Wat is dit, Snijders?”

“Ek het twee kaartjies vir die krieket Vrydagaand.”

Ek snap nie dadelik dat hy my wil uitvra nie.

“Baie geluk, Snijders.” Dan besef ek wat hy vra, en skielik dink ek hy is nie só kort nie. Hy is nog steeds langer as ek.

“Nee, ek bedoel …”

Die radio’s op ons heupe kom in stereo aan. “Aandag, alle reaksiespanne. Bankroof in Adderleystraat. Tak van Suiderkruis Bouvereniging …”

Ons hardloop. Snijders is vinnig. Ek verstaan skielik hoekom hy gewoonlik voor my op ’n misdaadtoneel is. Maar ek hou by. Vandag gaan ek minstens saam met iemand ’n arrestasie doen.

Toe ons om die hoek kom, staan die patrollievoertuig al voor die bouvereniging-tak se deur. Snijders se vaart neem skielik af en ek hardloop amper in hom vas. Hy kyk met ongeloof na my en na die uniformmanne wat voor ons opgedaag het.

“Dit is aansteeklik, Luttigh.” Hy skud sy kop.

“Wat bedoel jy?” vra ek omdat ek aan niks anders kan dink nie, terwyl ek wonder wie hy gaan vra om saam met hom krieket toe te gaan.

Ons stap by die misdaadtoneel in. Die rower was al weer te vinnig.

“Hy het my ‘skattebol’ genoem,” hoor ek die een teller vir ’n uniformman sê.

Ek haal die identikit uit my hempsak, vou dit oop en wys dit vir haar.

“Dis hy,” sê sy. “Dis hy. Hy lyk net soos Tom Selleck. Sy hare is net swart.”

“Kry vir sersant Kok,” sê ek vir Snijders.

* * *

Ek sit by die swembad met sonbrandmiddel, ’n donkerbril en ’n boek. Ek wil ’n man vang, maar ek is nie seker hoekom nie.

Die middag is nie baie warm nie en die suidoos waai. Ek is die enigste een by die swembad. Dan sien ek hy kom aangestap.

’n Bankrower stap nie só nie, dink ek. Nie met soveel atletiese grasie, so ontspanne nie. ’n Bankrower sal oor sy skouer kyk, daar sal ’n dringendheid in sy treë wees. Wie het in elk geval al gehoor van ’n bankrower wat elke middag ná werk kom swem?

Hy doen sy handdoek-en-donkerbril-ding en stap langs my verby. “Haai,” sê hy weer en glimlag. Ek sien sy oë is bruin. My hart klop aan my ribbes en vra om uit te kom en ek wonder of dit van bangheid of verliefdheid is.

Hy swem die een lengte na die ander, met grasie en ’n gebrek aan inspanning. Ek smeer sonbrandmiddel op my vel en maak of ek die nuutste Afrikaanse blitsverkoperroman lees.

Toe hy klaar geswem het, stap hy druppend verby my tot by sy handdoek. Hy droog sy hare af, sy rug na my gedraai. Ek sien die klein spiertjies van sy rug en die groot spiere van sy skouers, en ek maak die boek oop en begin sommer op ’n plek lees.

“Ek het jou gister gemis,” sê hy, en van skrik byt ek my onderlip vas.

Ek klap die boek toe. “Ek het gewerk,” lieg ek glad.

“O. Watse werk doen jy?”

Die moontlikhede van wat kan gebeur as ek hom die waarheid vertel, flits deur my gedagtes.

“Ek is ’n … sekretaresse,” sê ek met net een hartklop se vertwyfeling, en terwyl my hart vinnig klop, vra ek: “En jy?”

“Konsultant,” sê hy en stap tot langs my. “Mag ek maar hier sit?”

“Asseblief.” Ek wag tot hy gemaklik is. “Watse soort konsultant?”

“Finansiële konsultant. Ek werk met ander mense se geld.” Hy glimlag speels. Hy steek sy hand uit. “My naam is Theuns Richter.” Hy kyk my in die oë en ek neem sy hand; dit is warm en ferm en manlik en …

Ek skrik wakker. “Louise Luttigh.” Dan onthou ek ek was nog nie tevrede met sy verduideliking van sy beroep nie. “Wat doen ’n finansiële konsultant?”

“Is jy seker jy is ’n sekretaresse?”

’n Casspir ry oor my ingewande. “Hoekom?”

“Jy klink soos iemand wat ’n onderhoud voer.” Hy glimlag weer onder sy breë snor. Ek sien die kuiltjies hier langs sy snor en ek weet hy het net ’n grappie probeer maak.

“Ek is net nuuskierig. Ek ken nie mense met sulke indrukwekkende titels nie.”

“Dit is glad nie indrukwekkend nie. Ek lewer ’n diens aan mense, help hulle om hul geld op die regte manier te belê, of dit nou aandele, versekering, rentebeleggings of wat ook al is.”

“Geniet jy dit?”

“Die groot voordeel is dat ek van die huis af kan werk en my eie ure kan bepaal. Ek is baie lief vir die buitelug, vir pakstap veral. Dit gee my tyd daarvoor.”

“Ek is ook lief vir pakstap,” sê ek opreg, want ek het eenkeer saam met ’n groep in die Magaliesberg gaan stap toe ons op kollege was.

“Wonderlik,” sê hy. “Dan moet jy asseblief Saterdag saam met my kom. Daar is ’n wonderlike dagroete teen Tafelberg op.”

* * *

“Sy naam is Theuns Richter. Dit pas hom, nè? Hy is ’n finansiële konsultant en hy het my gevra om oormôre saam met hom te gaan stap op die berg. Ek sê vir jou hy is fantasties en daardie glimlag van hom is só mooi en lekker dat dit vet maak …” sê ek amper uitasem vir Inge.

Sy sit en opstelle merk. Sy kyk nie op nie. “Het hy die bankrowery gelos?”

“Ag, man, ek het ’n fout gemaak. Theuns sal nooit … As jy hom ken … Dit is net onmoontlik,” probeer ek verduidelik, maar dis hopeloos, want sy ken hom nie.

“En sy ego is nie geïntimideer deur jou beroep nie?”

“Wil jy koffie hê?”

“Jy het vir hom gelieg,” sê sy met sekerheid.

“Ek sal hom Saterdag alles vertel. Ek belowe.”

Sy prewel iets in Duits wat soos ’n skietgebed klink.

* * *

Vrydagoggend is daar ’n klein beriggie op die voorblad van die koerant. Skattebol-rower slaan weer toe. Hulle haal die tellers aan wat sê hoe aantreklik die verdagte is en sê hy het ’n modieuse bruin leerbaadjie en bruin broek aangehad. Ek wonder of Theuns Richter ’n modieuse bruin leerbaadjie het.

Die dag wil nie verbygaan nie. Laatmiddag is daar ’n motorongeluk by die kruising van Lang- en Waalstraat en ek kom later as gewoonlik by die huis.

Inge is nie alleen nie. Kort konstabel Snijders is by haar. Hulle gesels soos ou vriende. Ek onthou van die krieket en ek weet ek sal moet nee sê. Want as Theuns sien ek gaan saam met iemand anders uit …

Ons groet en ek sit die ketel aan, maar Snijders is skielik haastig en effens skaam. “Sien jou Maandag, Luttigh. Totsiens, Inge,” groet hy en is daar uit. Ek is maar verlig.

“Ek gaan saam met hom krieket toe vanaand,” sê Inge en sy bloos.

Ek staan met die teelepel koffie tussen blik en beker, versteen van ongeloof.

“Hy het eintlik na jou kom soek. Toe is jy laat. Ons het baie lekker gesels. Toe vra hy my. Toe sê ek ek sal gaan as jy nie vir my kwaad sal wees nie. Is jy kwaad vir my?”

* * *

Theuns Richter het ’n modieuse bruin leerbaadjie aan toe hy my vroegoggend by die woonstel kom haal. Ek wil lag, want ek kan nie glo dat ’n regte bankrower sy werksklere op ’n Saterdag ook sal dra nie.

“Ons moet gou vir jou ’n gemaklike rugsak gaan koop,” sê hy besorg toe hy my ou, verslete seilsak sien.

“Ek het nie genoeg …”

“Ek sal jou nie toelaat om te betaal nie, Louisa.”

Ek is mal daaroor as hy my Louisa noem. Ek stribbel effens teë, maar hy is ’n vasberade man. By die winkel haal hy sy beursie uit. Dit is groot en van swart leer gemaak. Ek sien die note. ’n Dik stapel. En ek weet ons sal die Skattebol-rower gou moet vang, want my senuwees gaan dit nooit hou nie.

* * *

Maandagoggend is kouefrontkoud en nat, maar my hart is warm. Ek en Inge het Sondag in ’n waas van giggelende bakvissie-verliefdheid deurgebring. Sy is mal oor Snijders en ek het al my bruidsbylaes gaan opdiep uit die kas.

Theuns was wonderlik. Besorg, rustig, humoristies, ernstig, romanties. Ons het Saterdagaand gaan uiteet by ’n restaurant in die hawe. Hy het my by die woonstel se deur gesoen tot ek gedink het die stopsels in my mond gaan smelt.

Sondag moes hy werk – ’n kliënt op Worcester gaan spreek. Dit het my en Inge kans gegee om met skreeusnaakse verbeeldingsvlugte die gesamentlike troue te beplan.

“Alle reaksiespanne,” knetter die radio, en ek begin al hardloop van pure skrik. “Bankroof by Suiderkruis Bouvereniging in Buitengracht.”

Ek weet dit is Skattebol. En ek wil hom hê sodat ek kan ophou om my te bekommer elke keer as Theuns ’n leerbaadjie of ’n beursie vol geld of ’n donkerbril by hom het.

Ek hardloop soos ek nog nooit gehardloop het nie. Oor strate, waar motoriste met skreeuende bande en geïrriteerde toeters vir my plek maak. Oor sypaadjies, waar mense oorbluf uit die pad skarrel. My pet val af, maar ek ignoreer dit. Die blaas op my linkervoet van Saterdag se pakstap brand.

Ek hardloop.

Skattebol is dié keer nie vinnig genoeg nie. Hy hardloop by die bouvereniging se deur uit toe ek om die hoek kom. Hy het ’n voorsprong van honderd meter. Hy sien my en kies koers hawe se kant toe. Afdraand. My sterk punt.

Dit is moeilik om mooi te kyk as jy hardloop soos jy nog nooit gehardloop het nie, en jou bors hyg en jou longe brand en die blaas op jou voet is ’n kool vuur.

Maar ek weet dit is nie Theuns nie, want Skattebol hardloop sonder grasie, sonder die atletiese lenigheid van my swembadman.

Ek haal hom nie in nie. Sy treë is langer. Sy bene ook. Die afstand rek.

My woonstelmaat se aanstaande kom tot ons redding. Snijders verskyn uit ’n systraat asof hy gestuur is, en hardloop skuins in Skattebol vas. Hulle sloeg grond toe. Snijders se kop klap teen die randsteen en ek sien hy bly lê.

Skattebol het ook seergekry. Hy staan van die grond af op, maar sy linkerbeen wil nie meer lekker werk nie. Hy sukkel kruppel orent en maak weer aanstaltes see se kant toe.

Sy rug, die bruin leerbaadjie, is skielik hier voor my. Ek het my rewolwer in die hand en ek duik, my knie na sy stuitjie gemik. Hy syg neer, ek bo-op hom, sy gesig in die stof, die donkerbril in twee stukke.

Ek druk die rewolwer se loop diep in sy nek weg, rem sy arms agtertoe, druk sterk met die knie in sy midderug en knip die boeie om die polse.

Myne. Net myne.

Ek staan op en rol hom met die voet om.

“Haai, Louise,” sê hy, maar hy glimlag nie, en ek verlang na sy kuiltjies en ek huil voor ek die arrestasie op die radio kan inroep.

* * *

Inge klop aan my slaapkamer se deur.

Ek blaas my neus, staan op en maak oop.

“Hier is iemand vir jou.” Sy het haar begrafnisgesig op vandat ek huil-huil huis toe gekom het.

“Ek wil niemand sien nie.”

“Kom, spoel af jou gesig en borsel jou hare,” sê sy met Duitse gesag. Ek gehoorsaam. Dan stap ek saam met haar sitkamer toe.

Sersant Johan Kok sit op die punt van die stoel met ’n verlepte angelier in sy hand. Sy baadjie het strepe en sy das het strepe en sy hemp het strepe en sy bles blink dof.

“Ek het jou net kom gelukwens met jou eerste arrestasie,” sê hy met sy mooi, rustige stem, en ek sien hy het blou oë en dit pas by sy blou das.

“Ek sit die ketel solank aan,” sê Inge. Haar begrafnisgesig het verdwyn.

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Подняться наверх