Читать книгу Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale - Деон Мейер - Страница 6

Оглавление

“Hoe pleit jy, meneer Liebenberg?” vra professor Vermaak.

“Skuldig, professor.” Ek vou my hande op my skoot. Hulle hoef nie te sien hoe ek bewe nie.

Hy sit in die middel van die driemanskap wat die dissiplinêre komitee vorm. Links van hom is die adjunkregistrateur: studentesake, meneer Ronsard Steyn, ’n klein, skraal mannetjie met ’n potloodstreep-snorretjie en ’n been wat senuagtig onder die tafel rukspring. Regs is prof Tienie Grobbelaar, die bejaarde hoof van die departement Romeinse Reg en Regsgeskiedenis, sy lang, grys hare deurmekaar soos gewoonlik, sy oë toe, asof hy slaap. Ek sit oorkant hulle, ’n eiland op ’n stoel in die somber vertrek.

Dit is Steyn wat nie kan wag om sy stuiwer in die armbeurs te gooi nie: “En met reg ook, meneer Liebenberg. Jy besef dat jy geskors kan word vir dié oortreding?” Hy vra dit asof hy nie kan wag om die vonnis uit te spreek nie.

“Ja, meneer.”

“Ek is seker daar is versagtende omstandighede,” sê prof Tienie rustig, sonder om sy oë oop te maak.

“Natuurlik,” sê prof Vermaak, die lang, formele een.

Hulle kyk na my met afwagting. Steyn se springende been maak ’n ritmiese skuifelgeluid op die dik mat.

Ek wil hulle so graag alles vertel. Maar sal hulle verstaan? Sal dit regtig ’n verskil maak? Ek kyk van my swetende hande af op. Steyn se kraalogies is soos dié van ’n kobra – reg om die gif van skorsing met ’n blitsige pik uit te deel. Hy sal nie verstaan nie. Vermaak? Miskien. Maar hy lyk nie na ’n man wat ooit verblind was deur die liefde nie. Prof Tienie? Hy is die een wat elke dag ’n angelier in die lapel van sy gekreukelde baadjie dra. Miskien is hy my enigste hoop. Ás hy wakker is. Ek wend my tot hom, al kyk hy nie na my nie.

“Dit was die liefde, professor.”

Steyn se been raak stil. Hy beur vooroor. “Die liefde?”

Ek knik.

“Dit lyk my nie jy besef hoe ernstig jou posisie is nie, meneer Liebenberg.” Sy been het weer begin spring. “Lighartigheid is uiters onvanpas.”

Vermaak lyk ongemaklik, maar sê niks. Ek weet ek is gedoem.

“Laat die jong man verduidelik,” sê prof Tienie.

“Dit sal goed moet wees,” sê Steyn.

’n Sweetdruppel loop langs my neus af. Die das druk teen my keel. Ek is nie ’n goeie prater nie. Maar nou hang my toekoms daarvan af.

Ek maak my keel senuagtig skoon, my oë weer op my hande. “Alles was okay gewees tot ek vir Sara Nieuwoudt gesien het,” sê ek, en my stem klink soos dié van iemand anders. “Toe het alles verander.”

* * *

Ek sien haar die eerste keer terwyl ek besig is om met Willem ’n sinlose argument te hê. Ek en Willem is die slotpaar van die Shimlas. Ons was ook die slotpaar van die universiteit en die Vrystaat se ondertwintigspanne – en almal sê ons gaan vanjaar die slotpaar van die Vrystaat wees.

“Jy is net eenvoudig te sterk,” sê Willem. Ons stap van die rugbyveld af koshuis toe.

“ ’n Mens kan nie té sterk wees nie,” sê ek.

“Jy is nie ’n mens nie. Jy is Diesel Liebenberg.”

Hulle noem my al van skool af só, omdat oom Japie Kellerman, wat op die plaas langs my pa s’n anderkant Trompsburg boer, eendag ná ’n skoolwedstryd vir my pa gevra het: “Wat voer jy daardie klong, Lieb? Diesel?”

Willem hou vol: “Dit help nie Coach raas met my omdat my kant van die skrum swaai nie. Dit is jy wat minder moet druk. Jy sal jou krag moet leer ken.”

En toe sien ek die meisie op die fiets. Dit is nie asof ek nooit vroumense raaksien nie. Hulle is mos maar oral. Maar hiérdie soort sien het ek nog nooit gesien nie. Dit is asof die son net op háár skyn, asof alles om haar in die skaduwee is. Ek sien haar bruin hare wat agter haar aanwaai, haar oë wat opkyk na die bome, die vel van haar arms wat blink, haar gesig, o haar gesig, en iets hier in my kop maak ’n kortsluiting, amper soos die keer toe ek en Slaghuis Strydom op Loftus in mekaar vasgehardloop het …

Haar fiets is hier langs ons, tussen ons, verby.

“Haai,” sê ek vir haar en gaan staan stil, maar sy hoor nie; haar lang bene in die denim hou net aan om die fiets egalig te trap.

“Watse ‘haai’ is dit met jou?” vra Willem, maar ek hoor hom skaars. Ek staar haar agterna. En dan sien ek die bome se blare het begin val; ek sien die kleure van herfs en ek wonder waarom ek dit nog nie voorheen opgemerk het nie.

“Waarna kyk jy? Het jy iets vergeet?”

Dan besef ek ek móét weet wie sy is, want ek gaan met haar trou. ’n Mens moet darem jou vrou se naam ken. Ek hardloop, want sy is al ver.

“Diesel, wat makeer jou?”

Ek hardloop.

“Jy’s mal.” Dit is nie regtig wat hy gesê het nie, maar ’n mens gebruik nie sulke woorde voor ’n dissiplinêre komitee nie.

Ek hardloop.

Sy draai af.

Ek is vaagweg bewus van studente langs die straat wat groet. (Ek is bekend, dalk effens beroemd.) Ek maak die draai net betyds om te sien hoe sy voor Vergeet-my-nie afklim. Ek stoom voort. Sy stoot die fiets na die koshuis se voordeur. Ek moet by haar kom voor sy by die deur in verdwyn. Dameskoshuise sluk mense in.

Ek versnel. En toe moet ek begin rem. Om honderd-drie-en-twintig kilogram op volle vaart weer tot stilstand te bring, is soms ’n bietjie van ’n probleem.

Sy hoor seker my rempoging, want sy kyk om en haar mooi, swart oë word groot. Sy stoot die fiets nog vinniger deur se kant toe. Maar nie vinnig genoeg nie.

Ons ontmoet mekaar net mooi in die oop voordeur van Huis Vergeet-my-nie – ek, Sara Nieuwoudt, haar fiets en haar boeke wat in die fiets se mandjie was. Ons ontmoet teen so min of meer veertig kilometer per uur.

Agterna sou een ooggetuie, met fisika as hoofvak, sê dit was die perfekte voorbeeld van Newton se eerste wet, wat daarop neerkom dat ’n rustende of bewegende liggaam neig om in daardie staat te bly, tensy ’n eksterne krag daarop inwerk.

Ons vul die voorportaal. Ek lê bo-op die fiets, sy lê onder haar boeke. Sy kom halforent en kyk na my.

“Haai,” sê ek weer. Dié keer hoor sy my. “Ek is Diesel Liebenberg. Ek gaan met jou trou.”

* * *

“Ek hoop dié sinlose vertelling lei iewers heen,” sê adjunkregistrateur Ronsard Steyn.

“Jy sal tot die punt kom, meneer Liebenberg?” sê-vra prof Vermaak.

“Ja, professor.”

“Wat was haar reaksie?” vra prof Tienie, sy oë steeds toe, maar ek sweer ek sien ’n effense glimlag op sy gesig.

“Sy het stadig opgestaan en haar boeke begin bymekaarmaak, professor. En toe ek wil help, sê sy ‘los’. Net dit. ‘Los.’ En daardie stémtoon. ’n Mens stry nie met daardie stemtoon nie. Toe staan ek maar daar en kyk hoe sy haar boeke optel en in die mandjie sit; hoe sy die fiets optel en deur ’n agterdeur verdwyn, seker na die fietsloods toe. Toe sê een van die studente op voordeurdiens my been bloei waar iets van die fiets my gesny het. Toe sê ek ‘o’, en toe ek kyk, hang daar ’n stuk vel, en die bloed loop teen my been af tot op my tekkie. Ek was nog so half verbaas, want dit was glad nie seer nie.”

“Kom tot die punt, meneer Liebenberg.” Steyn se been spring nou erg.

* * *

Ek slaap drie aande na mekaar sleg en speel daardie Saterdag ’n nagmerrie van ’n wedstryd. Voetjies van Rensburg, die haker, is smoorkwaad, want hy sê almal dink dit is as gevolg van sy swak ingooie in die lynstane. Willem praat omtrent nie met my nie. Maar Coach Hanekom is ’n man van vele insigte. Hy laat my Sondagoggend na sy huis toe kom en terwyl ons van sy vrou se botterbroodjies saam met tee op die stoep geniet, sê hy: “Jy’s verlief, Diesel.”

“Ja, Coach.”

“Dis jou eerste keer.”

“Ja, Coach.”

“Dit gebeur met ons almal, Diesel.”

“Ja, Coach.”

“Dit maak ’n mens deurmekaar. Dit voel of jy siek is. Of jy koors het. Jy kan nie konsentreer nie.”

Ek knik.

“Vertel my alles, Diesel.”

Ek vertel hom.

“Met vroumense moet ’n mens ’n plan hê, Diesel. Dit is soos ’n wedstryd. Jy moet strategies dink. Jy moet jou bewegings uitwerk. Maar jy moet heel eerste weet waarteen jy te staan kom. Jy het inligting nodig. Jy moet die bewegings, die speelpatrone van die ander span ken. Verstaan jy wat ek sê, Diesel?”

“Nee, Coach.”

Hy sug. “Kom ek begin weer van voor af.”

* * *

Coach roep ’n Red-vir-Diesel-komitee in die lewe, want hy sê hy kan nie bekostig om die beste slot in die Vrystaat se gedagtes op ’n ander plek as op die bal te hê nie. Hy is die sameroeper. Lordan de Villiers, die Shimla- en Vrystaatse losskakel, is die konsulterende lid, want vroumense vrek oor Lordan en hy het die kennis en die kontakte. Ek is die addisionele lid.

Met die eerste vergadering sê Lordan daar’s nie ’n probleem nie, hy sal alles omtrent die vroumens uitvind. Gee hom net ’n dag of twee.

Met die tweede vergadering lyk hy mismoedig. Hy het elke moontlike kontak in Vergeet-my-nie gebruik om sy inligting te bekom.

“Ek het nie goeie nuus nie, Coach.”

“O,” sê Coach bekommerd en my hart sak in my skoene.

“Haar naam is Sara Nieuwoudt.”

O, die klank van haar naam. So volmaak.

“Sy is ’n tweedejaar-B.A. met kunsgeskiedenis en filosofie …”

Coach maak die geluid wat die ou manne sê hy altyd gemaak het toe Naas Botha nog vir Tukkies gespeel het.

“Maar dit raak slegter,” sê Lordan, diep bekommerd. “Sy haat rugbyspelers. Sy haat rugby. Sy sê dit is barbaars en versinnebeeld alles wat verkeerd is met mans – hulle onsensitiwiteit, chauvinisme, aggressie. Sy het nie ’n ou nie, maar sy sê dit is omdat sy nog nooit ’n man ontmoet het wat dié soort vrede in homself het dat hy regtig sensitief kan wees nie.”

Coach maak weer daardie geluid.

“Sy sê …” Lordan sluk, asof dit te erg is om te noem. “Sy sê … sy soek ’n man wat kan huil.”

’n Stilte daal oor die komitee neer. Dit voel asof my hele wêreld in duie stort. Alles is verlore.

Eindelik sê Coach, verpletterd: “ ’n Man wat kan huil.” “ ’n Man wat kan huil,” sê Lordan weer bevestigend. Daar is weer ’n lang stilte.

“Ons het ’n probleem,” sê Coach. Hy soek na woorde. “Diesel,” sê hy stadig, “daar is ’n ding wat jy moet weet: sekere wedstryde kan ’n man net nie wen nie. Vat nou maar ’74 se Leeus. Strategie het nie gehelp nie. Soms is die ander span net beter as jy. Verstaan jy, Diesel?”

Ek sien weer die bruin hare van Sara Nieuwoudt, ek proe weer haar naam op my tong.

“Nee, Coach. Ek verstaan nie. Coach het ons nog altyd geleer dat ’n man enigiets kan doen, hy moet net in homself glo, hy moet net hard genoeg probeer.”

“Ons praat hier van huil. En van Diesel Liebenberg. Die Toring van Trompsburg. Ek kan myself baie dinge voorstel, maar ek kan jou nie sien huil nie.”

“Ek weet, Coach, maar as ek moet leer huil om met haar te kan trou, dan gaan ek leer.”

“Trou?” vra Lordan geskok.

“Diesel …” begin Coach, maar ek val hom in die rede. “Nee, Coach, ek het klaar besluit. Ek gaan huil. Nou moet julle net vir my sê hóé.”

Hulle kyk na mekaar.

* * *

Ek gaan lê haar voor by die kunsgeskiedenisklas en toe sy uitkom, gee ek haar die blomme. “Ek is jammer oor nou die dag,” sê ek.

Sy lyk verruklik in ’n ligblou hemp of bloes of ’n ding, en ’n bruin romp. Haar hare blink en die hand wat sy na die blomme uitsteek, is klein en fyn.

“Dankie,” sê sy en glimlag effens, en my hart skrum teen my bors. “Ek is ook jammer. Ek was ongeskik.”

Lordan de Villiers het gesê ek moet haar nie weer dadelik vra om te trou nie, ek moet eers geduldig wees.

“Ag, dis okay,” sê ek. Ek kan nie onthou watter ander goed ek wou sê nie en ek kom tot die punt. “Ek het een keer amper gehuil. Dit was verlede jaar, teen die Pukke. Ons het met een punt verloor omdat ek ’n strafskop afgestaan het.”

“O,” sê sy en frons so effens, asof sy nie verstaan wat ek sê nie.

Ek wonder of Lordan sal dink ek was lank genoeg geduldig. “Sal jy nou met my trou?”

“Nee,” sê sy en glimlag breed, maar dit is vir my, nie mét my nie. Ons is by haar fiets.

“Sal jy saam met my gaan fliek?”

“Nee,” sê sy en klim op die fiets. “Maar dankie.” Sy ry.

“Hoekom nie?” roep ek verstom agter haar aan.

“Jy speel rugby!” roep sy oor haar skouer en dan is sy weg, om ’n hoek, en ek staan daar met my groot hande nog voor my soos ek beduie het, en ek weet nie wat om te doen nie.

* * *

“Rugby is my lewe,” sê ek vir Willem.

“Soos dit hoort,” meen hy en druk ’n halwe hamburger in sy mond.

“Dit is al wat ek goed kan doen.”

Hy knik en kou.

“Maar vir haar sal ek dit los.”

Hy stik met ’n luide geproes en sy oë raak waterig. “Jy is van jou sinne beroof,” sê hy eindelik met volkome afgryse.

“Wat anders kan ek doen? Ek slaap nie meer nie, ek swot nie meer nie en ek kan sien Coach dink my spel het kwaai agteruitgegaan. Ek is ’n wrak, Willem.”

“Vergeet van haar.”

“Ek kan nie.”

“Jy kan nie? Ek het nie gedink jy sal ooit daardie aaklige woorde sê nie.”

“Ek is nie so sterk soos wat jy dink nie.”

Hy dink na. “Dan sal jy moet leer huil.”

“Hoe?”

“Ek sal ’n plan maak.”

Nou kyk, as Willem Wiese sê hy sal ’n plan maak, dan moet jy weet die dinge gaan gebeur. Hy is nie die grootste slot wat ek ken nie, korter en maerder as ek, maar vir dit wat hy in grootte kortkom, vergoed hy met vasberadenheid en geesdrif.

En so begin my reis op soek na Die Traan.

Daardie aand, ná die oefening, beveel hy my om op my bed te lê.

“Wat is vir jou die kosbaarste in die hele wêreld?” vra hy met ’n stuk droëwors in die mond.

“Sara Nieuwoudt.”

“Nee, man, behalwe die vroumens.”

“Frik.” My Simmentaler-stoetbul, vernoem na sy Du Preez-naamgenoot.

“Okay, nou maak jou oë toe en dink aan Frik. Sien vir Frik voor jou geestesoog. Sien jy hom? Mooi. Iemand het vir Frik geskiet, Diesel. ’n Veedief. Hy is kwaai gekwes. Frik lê op sterwe. Voel hoe hartseer jy is. Voel dit, laat die hartseer deur jou spoel. Voel jy dit?”

“Nee,” sê ek.

“Nee?”

“As Frik van ’n skietwond vrek, dan eet ons ’n jaar lank biltong, ou Willem.”

Hy gooi sy hande in die lug en stap by die kamer uit.

Ek lê op my bed en wonder wanneer ek vir Coach moet sê ek gaan rugby los. En ek dink aan die fyn handjie van Sara Nieuwoudt en wonder hoe dit sal voel om dit vas te hou.

Daardie nag slaap ek nie. Die volgende dag bewandel ek die kampus soos ’n skim; ek loop die pad tussen haar koshuis en haar klasse, maar sien haar nie. Mense kyk my met bejammering aan. Dit maak my net meer mismoedig.

Die volgende oggend vat Willem my na ’n fliek toe, ’n hartseer Europese fliek waar die held aan die einde doodgaan. Dit werk nie.

Hy bring vir my ’n boek om te lees. The Prince of Tides. Hy sê die vrou by die bib sê dit sal enigiemand laat huil. Ek lees dit dié nag deur. Dit werk nie. Ek kan nie verstaan waarom die held nie net na sy vrou toe teruggaan en al sy nonsens los nie. Willem sê ek moenie worry nie. Hy reël ’n vergadering. Almal moet hartseer stories vertel. Die ouens probeer hard. Hennie Pretorius smokkel selfs ’n ui in en snuif daaraan tot die trane loop, maar ek ruik dit en word kwaad vir hom. Die ouens sê ek wil nie saamwerk nie. Ek kan dit nie help nie. Uie is oneerlik as dit by huil kom, sê ek.

Die Donderdagoggend weet ek iets sal moet gebeur, want ek is moeg van die min slaap, die geknaag aan my senuwees en die verlang na Sara Nieuwoudt, wat ek nie ken nie. Maar my kop sê vir my sy is die een vir my. Die handelsreg-prof hou my agter en vra wat aangaan, want my toetspunt is power.

Willem kom sê na middagete hy gee moed op, daar is nie meer opsies oor nie.

Dié aand gooi Coach my uit die span uit.

“Jy moet verstaan, Diesel, dit is nie oor jóú nie, dit is oor jou spelpeil.”

Ek sit nog lank op die leë pawiljoen nadat almal weg is.

Die skaduwees trek lang strepe oor die veld, die kiewiete kom eis hul veld terug, maar ek sien niks raak nie. Ek sit met my gesig in my hande. Ek was nog altyd deel van ’n span, vandat ek die eerste keer ’n bal saam met die arbeiders se kinders op die plaas rondgeskop het. Wanneer hulle ’n span moes kies, was ek “keuse nommer een”, soos Coach al hoeveel keer gesê het. En nou? Nou het ek niks. Nie ’n slotmaat nie, nie ’n span nie en nie ’n meisie wat my vrou gaan word nie.

Wat het ek gedoen om dit te verdien? Net verlief geraak.

By my is selfbejammering soos ’n Vrystaatse spruit: gewoonlik net ’n droë lopie. Maar as dit goed reën, oorstroom sy walle en word dit ’n magtige rivier wat alles, ook rede en nugtere denke, saam met hom sleep, die hele pad na die See van Totale Mismoedigheid.

Terwyl dit donker word en selfs die kiewiete stil raak, oorweeg ek dramatiese dinge, soos om myself voor die verpleegstudente se bus te gaan gooi, maar met my geluk sal net die bus iets oorkom. Ek besluit eindelik om die aarde te bewandel vir die res van my lewe. Ek sal ’n swerwer word, sonder span, sonder slotmaat, sonder meisie.

Ek staan op, gooi my rugbystewels iewers tussen die leë sitplekke in en begin my eindelose tog noordwaarts. Ek stap oor die kampus, onder die eikebome deur. Die Toring van Trompsburg se kop hang op sy bors, sy sweetpak vir die laaste keer bevlek deur die gras van ’n rugbyveld. Ek stap verby verliefde paartjies wat hand aan hand vir mekaar lag en dit maak die mismoedigheid soos ’n klip in my hart.

Ek hoor eers nie die musiek nie.

Dit moes naby die konservatorium gewees het, het ek later besef. Ek kies kortpad deur die tuine en toe ek in ’n olienhout se takke verstrengel raak en effens tot my sinne kom, dring die klanke tot my deur. Hartseer klanke van klavierspel. ’n Soete melodie wat ek nie ken nie. Dalk ’n student wat iewers in een van daardie baie klein oefenkamertjies voorberei? Ek sal nooit weet nie. Maar dit is musiek waarvan die note my storie vertel. En die verhaal van elke man wat al ooit verlore in die liefde was, wat tevergeefs liefgehad het.

Ek staan en ek luister. Ek word een met elke gebroke hart wat deur die eeue ’n eensame pad moes loop. Soos ’n groot, warm kombers kom die musiek deur die oop venster en bedek my. Die fyn spore van die note trap liggies iets in my los – versteende selle wat bros en sag word en eindelik verkrummel, en iets vloei daaruit.

Toe huil ek. Nie diep snikke en ’n patetiese geteem nie. Diesel Liebenberg is nie daartoe in staat nie. Net trane wat loop, onophoudelik. Ek vee dit nie af nie, ek laat dit drup op die sweetpakbaadjie wat eens my trots was, laat die sout daarvan vermeng met die sout van die sweet en die sout van die bloed, dit is soos dit moet wees.

Ek huil. Die besef is eers net ’n klein, ligte kolletjie in my groot donkerte, maar groei dan; dit word ’n helder son, ’n verblindende waarheid.

“Ek huil!” skree ek, en die musiek daar binne hou skielik op.

“Ek huil!” skree ek en begin hardloop. My voete is vlug, my lyf nou lig. Ek hardloop deur die donker tuin, verby die hoofgebou, tussen studente deur, wat ’n pad oopmaak vir die gillende, voortsnellende verskynsel, onder die straatligte deur. Ek lag, maar die trane loop.

“Ek huil!” jubel ek deur Vergeet-my-nie se voorportaal, teen ’n stel trappe op. ’n Vroumens skree iets van “jy kan nie daar ingaan nie”, maar nou soek ek vir Sara Nieuwoudt voor die trane weg is. Ek wil haar in my arms neem en haar die sout laat proe, sodat sy kan sê alles is okay, ons kan trou, want ek kan huil – en ek kan rugby speel. Ek storm in ’n gang af. Meisies skarrel hier en daar en gil hoog en paniekerig. Skielik is ek heeltemal uitasem en verdwaal in die doolhof van die koshuis. Ek besef ek het nie die vaagste benul in watter kamer, op watter verdieping, Sara Nieuwoudt bly nie.

* * *

“En dit is waar Sekuriteit jou betrap het,” sê adjunkregistrateur Ronsard Steyn.

“Ja, meneer.”

“En jy wil hê dié storie moet as versagtende omstandighede dien?”

“Ja, meneer.”

Hy skud sy kop.

“Meneer Liebenberg,” sê prof Vermaak, “ek wil hê jy moet ’n rukkie hier vir ons wag. Ons gaan verdaag na die kantoor hier langsaan en oor ’n vonnis besluit.”

“Goed, professor.”

Hy en Steyn staan op, prof Tienie sit met sy ken op sy hand. Vermaak druk prof Tienie se skouer. Sy oë gaan oop. “O,” sê hy en verrys ook uit sy stoel. En ek weet my enigste hoop het geslaap. Hulle stap in gelid na die deur, maak dit toe.

Sewe-en-tagtig jaar later – volgens my horlosie so tien minute – kom hulle terug.

Steyn is die een wat die vonnis moet uitspreek.

“Die dissiplinêre komitee het besluit om jou te skors, meneer Liebenberg.” My hart val reg deur, tot op die vloer. “Betreding van ’n dameskoshuis is ’n baie ernstige oortreding. So baie van die dames se ouers het met skok op jou optrede gereageer. Daarom kan ons nie anders as om die sterkste moontlike strafmaatreël toe te pas nie.”

Ek gaan toe, na alles, wel die aarde moet bewandel.

“Maar,” neem prof Tienie nou oor, sy stem krapperig soos ’n ou grammofoonplaat, “daar is myns insiens aansienlike versagtende omstandighede. ’n Jong man wat sy hart verloor en sy trane vind, verdien ’n reddingsgordel. Daarom het ons besluit om die vonnis op te skort vir solank as wat jy aan dié universiteit studeer. Tensy jy natuurlik weer in ’n dameskoshuis se gange loop en gil,” sê hy en hy glimlag, en ek weet hy het wragtig toe nie gesit en slaap nie.

* * *

Toe ek die deur oopmaak, wag Coach, Willem, Lordan en die hele span vir my in doodse stilte. En toe ek glimlag, brul hulle, en dit is ’n skouerkloppery en ’n optellery en omhelsing uit ’n ander wêreld. Maar toe ons buite die hoofgebou by die trappies afloop, word almal skielik stil.

Onder, by haar fiets, staan Sara Nieuwoudt.

Die manne laat my alleen na haar toe stap.

Sy het ’n blom in haar hand. ’n Enkele geel blom, wat sy na my uithou.

“Ek het van alles gehoor,” sê sy, en ek weet Lordan se kontakte samel nie net nuus in nie, hulle versprei dit ook.

“Ek is jammer …” begin ek sê, maar sy maak my stil.

“Daar is vanaand ’n volle uitvoering van Mozart se klavierkonsert nommer sewe-en-twintig in die Odeion. Nie net die stukkie wat jy gehoor het nie.”

“O,” sê ek.

“Sal jy my neem?” vra sy en sy glimlag die soetste, mooiste glimlag wat ek in my hele lewe gesien het.

En toe huil ek weer, sommer vir die lekker.

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale

Подняться наверх