Читать книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker - Страница 4
TWEE
ОглавлениеDis donker in die koffiekroeg, maar omdat verskuilde geel ligte agter die pilare aangebring is, lyk die binnekant gesellig en amper sonnig. Herfstig. Veral omdat die tafeltjies van ’n glansende gelerige hout is en nie die gewone praktiese swart hout van die deursnee-kafee nie. Die eienaar is boonop so behep met sy klein koninkryk dat hy elke tweede dag vars blomme op die tafeltjies sit. Dit gee hom plesier wanneer hy klante sien wat versigtig aan die blomme vat om seker te maak hulle is eg. Dan kom hy altyd agter die toonbank uit en moedig hulle aan om te ruik ook. Hy wil al hulle sintuie stimuleer. Hulle moet sy vars appelkoek ruik as hulle binnekom, en wanneer ’n klant die plek verlaat, en die swaaideure ’n stuk kafeelug na buite stoot, wil hy hê die koffiegeur wat saam uitgepers word, moet nog meer mense lok. Dit gebeur dan ook. Mense wat buite, maar onderdak, rondslenter en kuier voor die winkelvensters van die kompleks, dink miskien nie eens aan ’n koppie varsgebroude koffie nie, maar as die geur hulle neuse bereik, word dit ’n dringende noodsaaklikheid.
Lize hoef nie meer gelok te word nie. Sy ken die koffieplek sedert sy in die stad aangekom het. Dis naby die hospitaal en naby die bushalte, en omdat die winkelkompleks op die grondvloer van die hoë toringgebou is, is dit altyd ’n skuilplek teen die wind en reën. Terwyl ’n mens daar rondloop, kan jy vergeet van die koue en grysheid, en jou reënjas kry kans om droog te word.
Sy was die hele oggend by die hospitaal en toe sy daar uitkom, het sy na die bushalte gestap om te wag vir die bus wat haar huis toe sal neem. Maar die bus was laat, en die ontevrede, nat mense het gegrief rondgestaan of na hul horlosies gekyk. Sy wou skielik wegkom en het byna vanselfsprekend oor die pad geloop en koers gekry na die winkelkompleks en die knus koffiekroeg.
“Juffrou was lank laas hier,” sê die kelner vir haar. Hy het ’n dik lyf en ’n outydse wit voorskoot wat byna sy hele voorkant bedek en hy vee haar tafeltjie af asof dit nie reeds skoon genoeg is nie.
“Ja.”
“Wat kan ek vir Juffrou bring?”
“Koffie, asseblief.”
Hy lig sy kop op, druk sy neus in die rigting van die plafon en snuif behaaglik. “En iets om te eet? Appelkoek? Kaneelrolle?”
Sy moet glimlag. “Nee dankie.” Maar dan verander sy van plan. “Ja, tog. ’n Sny appelkoek.”
Hy swaai sy swaar lyf met ’n grasieuse beweging om sodat dit lyk asof hy ’n buiging gemaak het en verdwyn in die rigting van die toonbank en die swaaideure daaragter. Sy sit en speel met die spyskaart en geniet die warm skynsels van die plek. Die geborgenheid en vriendelikheid. ’n Kelner wat haar onthou, al was sy maande laas hier.
Hy sit die koffie voor haar neer en soos altyd kyk sy skuldig rond voor sy drie groot lepels suiker ingooi. Ester sê sy behoort haar te skaam, maar daar is vir haar niks so lekker soos soet, warm koffie nie. En daar is soveel tye dat suiker haar naar maak, laat sy dit geniet as sy kan. Sy kyk op toe die swaaideur ’n nuwe groep instoot. Jong meisies in kort wit rokkies met muurbalrakette. Vrolik, hare deurmekaar, reënjasse onder die arm, wange rooi. Mens sou sweer die son skyn buite. Sy sien hoe waarderend kyk die dik kelner na hulle kaal bene, en werktuiglik skuif sy haar eie dieper onder die tafel in. Daar was ’n tyd toe sy ook so rondgeloop het. Bruin gebrand, deel van ’n jolige groep jongmense, onselfbewus oor haar lyf of bene. Maar dit is so lank gelede dat sy nie eens meer kan onthou hoe dit gevoel het nie. Sy ken geen ander lewe meer nie. Om te leef beteken om versigtig te wees, stadig te beweeg, genoeg te rus, genoeg te eet. Jy besluit nie net wát jy gaan doen nie, jy besin daaroor en beplan volgens jou kragte. Om blomme te koop beteken ’n lang wandeling. Twee blokke van die woonstel af. Om soontoe te stap is gewoonlik nie ’n probleem nie, maar dit raak ver wanneer sy begin terugstap. Twee blokke. Eens op ’n tyd sou sy twaalf straatblokke geloop het sonder om daarvan bewus te wees. Behalwe as haar skoene haar geskaaf het. Of so iets banaals.
Maar die appelkoek is lekker. So lekker soos altyd. Sy eet dit stadig en happie vir happie sodat dit nie opraak nie. En sy dink aan John en sy verwyte. ’n Hele halfuur lank in sy kantoor voor sy geloop het. Hy wil nie dat sy langer alleen bly nie, hy kan dit nie toelaat nie. Mavis sê ook so. Mavis sê sy kan by hulle gaan bly, sy wou nog altyd ’n dogter gehad het.
“Al wat ek oor het, is my onafhanklikheid,” het sy by hom gepleit. “Hoeveel kere moet ek dit nog sê? Waarom gun julle dit nie vir my nie?”
“Omdat dit ’n dwase onafhanklikheid is. Onthou jy verlede winter? Wat het gebeur as jou ou vroutjie jou nie gekry het nie? En die halfdosyn kere verlede jaar? En die jaar vantevore en die jaar …”
“Jy verstaan nie my manier van veg nie,” was al wat sy kon sê.
“Belowe my jy sal daaroor dink.”
“Ek belowe.”
Sy verstaan self nie haar koppigheid nie. Dit sou soveel makliker gewees het om maar in te gee en te doen wat hulle wil hê. Gee die woonstel op, klim op die trein en gaan woon in die hersteloord. Word opgepas en versorg. In ’n inrigting. Dis wat hulle nie verstaan nie. Sy haat inrigtings. Die breë, antiseptiese gange, die verpleegsters, die reuke en geluide van ’n hospitaal. Elke keer wat sy nog in die hospitaal gelê het, was daar net een wortel voor haar neus en dit was om weer tuis te kom, in haar eie woonstel, haar eie bed. Dis wat haar die krag gegee het om weer ’n keer terug te veg, weer ’n keer op die been te kom en op eie krag die hospitaal te verlaat.
Sy kyk weer op toe die swaaideur sy kenmerkende skree-geluidjie maak en sien die man wat sy by Ester-hulle ontmoet het. Wat was sy naam nou weer? Charles Ashton. Hy lyk moeg en effens onseker toe hy eers tussen die tafeltjies staan. So asof hy nou nie meer weet presies wat hy daar kom doen het nie. Maar die glimlaggende kelner staan gou nader en trek vir hom ’n stoel uit, en terwyl hy gaan sit, kyk hy in haar rigting en herken haar. Sy kan sien hy herken haar, want dit lyk asof hy skrik.
Foei tog, dink sy, mens kan hom ook nie kwalik neem nie. Hy bied aan om ’n vreemdeling huis toe te neem, en sy kan amper nie uit sy motor klim nie.
Hy knik effens, lyk toe of hy weifel, maar staan tog op en kom na haar aangestap.
“Môre,” sê hy. “Of middag. U het u boek in my motor vergeet.”
“Dit ook nog,” sê sy. “Ek is jammer, maar dit was nie ’n besonder interessante boek nie. Ek het dit nog nie eens gemis nie.”
Hy knik weer. “Nou ja …”
Die kelner red die situasie. “Sal u hier sit, meneer Ashton?” vra hy en trek die stoel oorkant hare uit.
Hy lyk onthuts, maar het nie eintlik ’n keuse nie, dus sit hy maar.
“Ek is byna klaar,” stel sy hom gerus. “Ek loop nou.”
Die kelner bied nie die spyskaart aan nie, en Charles beduie net iets wat die man blykbaar kan interpreteer, want hy loop weg.
“Ek eet dikwels hier as ek haastig is,” verduidelik hy vir Lize.
“Dis ’n gesellige plek,” stem sy saam. “Een van my geliefkoosde plekke.”
“Ja,” sê hy en soek in sy sak na sy sigarette. “Rook u?”
Sy skud haar kop. “Nee, dankie.”
“Ek was onder die indruk dat mense nie hou van hierdie kompleks nie.”
“Regtig?” Sy wonder waarom hy dit sê. Hy klink na ’n marknavorser. “Ek hou daarvan.”
“Vind u dit nie te modern nie?” vra hy weer. Hy dra ’n goueraambril wat hy nou afhaal en in sy binnesak bêre.
“Nee. Ek weet daar is kwaai kapsie gemaak omdat die plek te modern is – in ag geneem die klassieke boustyl van die ander omringende geboue – maar dit het my nog nooit gepla nie. Ek baklei nie teen vooruitgang nie.”
Hy kyk haar skerper aan. “Dis ’n nuwe siening. Ek was onder die indruk dat die jongmense van vandag almal terughunker na tye toe alles primitief was.”
Sy haal net haar skouers op. Sy is nie verteenwoordigend van hedendaagse jongmense nie, wil sy vir hom sê. Ons motiewe verskil seker.
Die joviale kelner is weer terug met ’n bord fyngesnyde kalkoenskywe en slaai en ’n glas melk wat hy met sy rare buiging voor Charles neersit.
“Dit lyk gesond,” merk sy op. Veral die glas melk.
Hy lyk verbouereerd. “Ek is jammer. Wil u nie ook eet nie?”
“Ek het reeds iets geëet, dankie.”
Die kelner staan nog na hulle en kyk asof hy op iets wag, dus vra sy hom om vir haar ook ’n glas melk te bring.
Sy hou haar oë voor haar terwyl hy eet, en toe hy klaar is en sy reken sy kan nou maar loop sonder dat dit te ongeskik lyk, stoot sy haar stoel effens agteruit. “Ek moet nou gaan.”
“Ek kan jou aksent glad nie plaas nie,” sê hy skielik. “Jy is nie Belgies nie.”
Sy is bly hy het die formele aanspreekvorm laat vaar. Dit laat haar net meer ongemaklik voel. “Nee, ek is nie. Ek is Suid-Afrikaans.”
Hy lyk verbaas, of so na aan verbaas as wat hy kan lyk. “Dis interessant.”
“U klink ook nie eintlik Belgies nie,” kap sy teë.
“Nee. My vader was Engels en my moeder Frans.”
“Maar u is ’n Belg.”
“Ja.”
“Seker skoolgegaan in Engeland?” raai sy.
“Ja. Universiteit ook.”
Sy knik. Haar melk is klaar en sy wil loop. Die man het ook gesê hy is haastig. Sy stoot haar stoel verder terug, leun op die tafel en staan op. Sy haal diep asem om die duiseligheid teë te werk en glimlag vir hom. “Tot siens. Dit was gaaf om u weer te sien.”
Hy staan ook op, en die kelner staan dadelik nader met die rekening.
“Goeiste,” sê sy verleë. “Ek het amper geloop sonder om te betaal.” Sy maak haar handsak oop en haal haar beursie uit, maar hy maak ’n afwerende gebaar en betaal vir hulle albei.
“Dankie,” sê sy. “Dit was nie nodig nie.”
Hy antwoord nie, beduie net dat sy voor moet stap, en eers toe die swaaideur hulle weer uitgestoot het tussen die gedrang van mense, kyk hy na haar.
“Sal ek die boek vir jou bring?”
“Nee, nee,” keer sy. “Dis nie nodig nie. Ek het u mos gesê, dis ’n vervelige boek. Een van daardie kitsverkopers waaroor almal praat sonder om te noem dat dit swak geskryf en vervelig is, tensy mens ’n besondere voorliefde het vir bloed en gemene mense.”
’n Haastige jong seun druk by hulle verby met soveel geweld dat hy haar laat steier en sy gryp na Charles se arm om nie te val nie.
“So ’n onbeskofte seun,” sê hy, en sy sien hoe koud sy oë kán word.
“Ons staan ook in die pad van die mense. Tot siens.”
Maar dis asof hy haar nie wil laat gaan nie. “Sal jy vanaand saam met my kom eet?” vra hy.
“Vanaand? Nee. Ek bedoel … dis vriendelik van u om my te nooi, maar ek gaan nie saans uit nie.”
“Waarom nie?”
“Ek … ek doen dit nie. Ek is saans te moeg.” Sy weet dis ’n ellendige verskoning, maar sy weet nie wat om te sê nie.
“As ons vroeg gaan eet?”
“Maar nie vanaand nie,” sê sy wanhopig. Nie na ’n oggend by die hospitaal en ’n dwase uur in die stad nie.
“Saterdagaand?”
Sy dink vinnig. Sy het op die aarde niks anders om Saterdag te doen nie, maar sy kan ook kwalik drie dae voor die tyd reeds weet hoe sy gaan voel.
“Ja, goed,” stem sy lammerig in.
“Ek sal jou sesuur kom oplaai. Ons kan uit die stad ry. Ek ken ’n plek waar hulle vroeg al begin bedien.”
Seker vir kinders, dink sy bitter. Maar sy sê ja.
“Dan bring ek tog die boek saam,” sê hy. “Dit hinder my nou al twee weke lank. Ek kon dit al teruggebring het.”
Die vermaledyde boek, dink sy toe sy aanstap na die bushalte. Sy wens sy het genoeg geld by haar gehad om ’n taxi te bekostig, want sy is nie nou lus vir staan en wag nie. Dit was ’n verwarrende uur, en sy wil so gou moontlik by die huis kom.
En asof alles teen haar gekant is, slaap sy die Vrydagnag sleg. Sy weet dis die nuwe medikasie, maar elke keer as sy vas slaap, word sy rukkend wakker van die vreeslike nagmerries totdat sy vroegdag maar opstaan en in die sitkamer gaan sit. Haar hare is papnat gesweet en klou teen haar voorkop vas, en sy voel lighoofdig van die slegte nag. Sy drink ’n handvol vitaminepille en maak vir haarself ontbyt, maar toe die son deur die mistigheid breek, weet sy dat dit nie ’n maklike dag gaan wees nie. Terwyl sy haar hare later was, word sy so duiselig dat sy op die ou end op die rand van die bad moet sit met albei hande klouend aan die wasbak. En sy huil van frustrasie omdat sy tóg uitgesien het na die aand. Teen haar wil en beterwete in het sy uitgesien daarna. Om weer soos ’n mens te voel. ’n Jong meisie wat op ’n Saterdagaand uitgaan. Sy het selfs die vorige dag ’n nuwe rok gekoop; iets wat sy nie dikwels meer doen nie omdat sy gewoon nie opgewasse is teen die bejammerende blikke van verkoopdames nie wat meer daarop ingestel is om oorgewig klante te troos. Hulle weet hoe om ’n gul lyf te verdoesel, maar hulle staan verslae as iemand ’n rok soek wat haar ’n bietjie lyf sal bygee.
Teen die tyd dat haar lang hare droog is en sy opgekrul op die wit rusbank lê, het sy al ’n halfdosyn kere deur die telefoongids geblaai en stilgestaan by Charles Ashton se nommer. Eenkeer het sy selfs begin skakel en toe weer opgehou en die gehoorstuk neergesit. Waarom weet sy nie. Miskien omdat sy ’n sekere determinasie in sy oë gelees het. As sy nie vanaand gaan nie, sal hy haar volgende week uitneem. Dan maar liewer vanaand dat dit verby is. En bowendien: hoeveel meisies kanselleer afsprake met hom omdat hulle sleg geslaap het? Dis verspot om die minste te sê. Dis die soort rede wat sy ma sal gee, of sy ouma, as sy nog leef.
Sonder dat sy dit so beplan, raak sy tog aan die slaap, en toe sy vyfuur wakker skrik, voel sy wel effens sterker. Sy drink weer al die pille wat die uur voorskryf en trek toe haastig aan, maar toe sy na die voltooide produk in die lang spieël kyk, dreig die trane om te loop. Eenkeer, lank gelede, het sy met grimering probeer regkry wat die siekte van haar weggeneem het, maar sedertdien het sy geleer dat dit niks help nie. Dit laat haar net lyk na ’n winkelpop wat deur ’n oorywerige kunstenaar en ’n palet beetgekry is.
Toe Charles Ashton sesuur aan haar deur lui, skrik hy toe hy haar sien. Die hele dag al loop hy op en af deur sy huis en tuin en wonder waarom hy die meisie uitgevra het, en noudat hy voor haar staan, ken hy die antwoord nog steeds nie. Dis nie asof sy hulpeloos is nie. Die teenoorgestelde is eerder waar. Sy staan trots voor hom, byna uitdagend, asof sy hom uitlok om te skrik, om weg te draai en te loop. En hoe kan ’n mens skrik vir iets so breekbaar?
“Ek is reg,” sê sy en tel haar reënjas op.
Hulle loop woordeloos na die hysbak, staan langs mekaar met hul oë op die stuk glas waardeur ’n mens die verbyskietende verdieping kan sien en stap dankbaar uit na die motor. Ook in die motor praat hulle nie veel nie. Hy help haar met die sitplekgordel en konsentreer verder op die verkeer. Sy kyk by haar venster uit en is baie bly toe hy die radio aanskakel en hulle na die nuus kan luister. Dit gee hulle ten minste iets om oor te praat.
Die plek waarheen hy haar neem, is inderdaad baie mooi. Net buitekant die stad lê dit onder groot kastanjebome weggekruip en lyk na ’n boerdery wat omgeskep is in ’n restaurant. Die vriendelike egpaar wat hulle by die deur ontvang en innooi, versterk die indruk, en die eetkamer het ’n lae, berookte plafon en ongelyke geplaveide vloer.
“Dit was eens op ’n tyd die kombuis,” vertel Charles. “Kyk die pragtige ou vuurherd. Is die teëls nie mooi nie?”
“Fraai,” stem sy saam en gaan dankbaar sit. Die plek is verlate. Daar is nie eens ’n kind wat sy aandete sit en eet voor die son ondergaan nie. “Is u seker dis nie te vroeg vir hulle nie?” vra sy gedemp.
“My naam is Charles,” sê hy gelykmatig. “En nee, dis nie te vroeg nie. Hulle sou ons weggejaag het as dit te vroeg was.”
Die man, vermoedelik die eienaar, bring die wynlys vir Charles en hy kyk vraend na haar. “Wat sal jy drink? ’n Sjerrie, iets sterkers of miskien net ’n glas wyn?”
“Nee, nee,” sê sy haastig. “Geen alkohol nie. Tamatiesap sal lekker wees.”
Hy kyk haar ’n oomblik nadenkend aan en plaas toe hulle bestelling. Toe die man weg is en net die knetterende vuur hul ruimte deel, praat hy weer. “Jy mag nie alkohol inkry nie.” Dis nie ’n vraag nie, hy konstateer ’n feit.
“Nee,” sê sy en voel hulpeloos toe haar oë vol trane raak. “Ek weet nie wat sal gebeur nie. Ek wil ook nie uitvind nie.”
Hy sien die trane en voel iets wat hy nog nooit in sy lewe gevoel het nie. “Dit maak nie saak nie,” sê hy stil. “Ek is bly jy het tog vanaand saam met my gekom.”
Sy kalmte laat haar ook kalmeer. Sy is hom dankbaar daarvoor en besluit om eerlik te wees. “Ek het byna nie gekom nie. Ek … wou jou bel.”
“Waarom?”
“Ek het baie min geslaap gisternag. Dit gebeur soms.”
Hy bly stil terwyl die man hul glase voor hulle neersit en beduie toe dat hulle later eers sal bestel, daar is geen haas nie. Toe praat hy weer. “Wil jy my vertel?”
“Nee,” sê sy angstig. “Nee. Ek wil nie daaroor praat nie. Asseblief.” Ek wil nie hê jy moet ook verdwyn soos die ander nie, is wat sy sou wou byvoeg. Want julle kan dit nie hanteer nie. Ek kan dan kwalik.
“Dan laat ons dit,” sê hy vriendelik en begin haar uitvra oor Suid-Afrika. Voor sy weet hoe dit gebeur het, vertel sy hom van die land waar die son die meeste van die tyd skyn, van haar kinderdae eers op die platteland en toe later in die stad waar haar vader ingenieur was.
“Leef jou ouers nog?” vra hy.
Haar gesig verstyf. “Nee. Hulle is albei in ’n motorongeluk dood. So vier jaar gelede. Bietjie langer.”
“Enige susters of broers?”
“Nee. En jy?”
“Nee.”
“En jou ouers?”
“Leef ook nie meer nie. Maar hulle is lankal dood. Hulle was middeljarig toe ek gebore is.”
“Twee weeskinders,” sê sy en glimlag effens.
Hy tel die spyskaarte op, elkeen die grootte van ’n koerant, en gee die een vir haar aan. “Wil jy solank kyk wat jy wil eet? Die kalfsvleis is heerlik. Ek kan dit aanbeveel.”
“Was jy al dikwels hier?” vra sy en lees die spyskaart sonder om in te neem wat daar staan.
“’n Paar keer. Ek bring graag sakemense hierheen. Dis so rustig.”
Sy kyk om haar rond. Hulle is steeds die enigste mense daar, maar alhoewel die vertrek relatief groot is, is dit tog intiem. Miskien die lae plafon en houtvuur wat dit so laat voel. “Wat doen jy?” vra sy. “Watse werk, bedoel ek.”
Hy glimlag effens. “Dis moeilik om in een woord te sê. Ek is ’n sakeman.”
“O, ek sien. Vir wie werk jy? Watter firma?” Dan kry sy skaam omdat sy so uitvra. Hy is nie Gerrie nie. “Jammer, dit klink baie nuuskierig.”
“Ek werk vir my eie firma,” sê hy. “My oupa het daarmee begin, en ek het in my vader se voetstappe gevolg.”
Sy begin ontspan in die gemoedelike atmosfeer en dit maak haar vrymoedig. “Jy lyk meer na iets soos … iets soos ’n advokaat.”
Hy lig sy een wenkbrou. “Vreemd dat jy dit sê. Dis wat ek studeer het. Regte. Dis wat ek sou wou gedoen het as dinge anders was. En my vader het my toegelaat om dit uit my sisteem te kry. Daarna moes ek ekonomie bestudeer.”
“En?” vra sy. “Is jy gelukkig?”
Hy kyk na haar met ’n blik wat sy nie kan peil nie. “Ek dink ek was suksesvol genoeg.”
Ja, sy onthou dat Ester gesê het hy is suksesvol. Dis seker genoeg. As hy so sê.
Hulle bestel hul kos en sy laat haar deur hom lei. Die kos is inderdaad so heerlik as wat hy belowe het, en sy kan ontspan want niks is te ryk of vreemd nie, en die eienaar het haar belowe dat hy geen versteekte lepels brandewyn in enigiets gegooi het nie. Net voor hulle hul hoofgereg klaar geëet het, verskyn ’n klein seuntjie in die deur, en na hy ’n lang ruk net na hulle gestaan en staar het, kom hy nader tot hy langs Lize staan. Hy is omtrent ses jaar oud of miskien jonger, en hy staan eenvoudig na haar en staar sonder om sy oë te knip.
Sy kyk na hom en glimlag. “En sê nou ek verander in ’n voël en vlieg by die venster uit? Dit kan gebeur as iemand so na ’n mens kyk, het jy dit geweet?”
Die seuntjie grinnik. “Jy’s nie ’n voël nie, jy’s te mooi.”
“Dink jy so?” vra sy geamuseerd.
“Ja,” sê hy beslis. “En ek weet jy kan nie vlieg nie. Mense kan nie.”
“Jy is reg,” gee sy toe. “Maar ek kan droom dat ek kan vlieg.”
“Ja. Ek droom partykeer dat ek kan vlieg.” Sy pa roep na hom vanuit die kombuis en hy kyk teësinnig in daardie rigting. “Wil julle nie saam met my kom bal skop nie?” vra hy dan vinnig. “My boetie is vir die naweek by sy maat en daar is niemand om met my te speel nie.”
Sy lag. “Nee, hoor, ek kan nie.”
Hy steek sy handjie uit en vat aan haar vinger. “Die heks sal jou nooit opeet nie.”
“Die heks? Watter heks?”
“Van Hansie en Grietjie. Onthou jy nie meer nie? Hulle moes hulle vingers deur die tralies steek.”
Maar die kind se pa kom boender hom weg en maak knikkend en buigend verskoning vir die kind se gedrag. Lize kyk hom agterna tot hy klaend in die gang verdwyn. “Nou ja,” sê sy geamuseerd. “Een voordeel. Die heks sal my nooit opeet nie.”
Dis asof die kind die laaste stramheid tussen hulle verwyder het, en terwyl hulle wag op hul nagereg, gesels hulle ontspanne oor algemene sake, die dreigende staking, die miserabele somerweer. En Lize voel ook hoe die kruin van die golf begin buig, af sand toe. Dis makliker om stil te bly as om te praat, dit word moeisaam om die lepel na haar mond te bring, die ou, ou moegheid is terug soos sy geweet het sal gebeur. Sy eet nie klaar nie, maar vou haar hande op haar skoot en laat dit daar rus. Toe hy vra of sy koffie wil hê, skud sy net haar kop.
Sy het geweet dit sal gebeur, dis waarom sy van die begin af nie wou kom nie. Sy ken haar beperkinge en daar is vir haar niks so aaklig as om regop te moet sit en funksioneer as sy liewer plat wil lê met haar oë gesluit nie.
“Sal ons maar gaan?” vra hy asof hy haar gedagtes gelees het. Dis ook nie eens nodig nie. Hy het gesien hoe die spiertjie by haar mondhoek begin styf trek, en sy het dieselfde uitgeputte uitdrukking wat hy die dag in sy motor gesien het. ’n Blom wat net vir ’n paar uur oop bly voor dit verwelk. Hy vra ook nie haar toestemming nie, maar stap om na haar, trek haar stoel uit en ondersteun haar tot sy staan. En so, met sy arm onder haar elmboog, lei hy haar na die motor waar sy dankbaar agteroor gaan lê.
“Dis nog nie eens donker nie,” sê sy mymerend. “Jy kan nog die stad platdraf voor dit middernag is.”
“Ek het geen behoefte aan so iets nie,” sê hy styf. Dan kyk hy af na haar. “Wil jy dadelik huis toe gaan of wil jy nog ’n ent gaan ry?”
Haar eerste reaksie is om te sê sy wil asseblief dadelik huis toe gaan, maar die aand is so mooi met misvliese wat oor die weilande hang en die somerson laag op die horison, rooi agter die dun wolke, dat sy tog instem om eers ’n ent te ry.
Dit word ’n rustige rit. Hy praat glad nie en vereis geen reaksie van haar nie behalwe om nou en dan na iets te wys. ’n Reier wat soos ’n standbeeld in die vlak water staan, ’n bleshoender-vader wat met gesis die ander eende van sy wyfie se nes verjaag, ’n besonder mooi blommende boom wat in die water weerkaats word. Sy kyk en soms knik sy, maar die meeste van die tyd lê sy net stil agteroor met ’n effense glimlag om haar lippe. En hy dink afgetrokke: dis verkeerd. Dis verkeerd dat ’n jong meisie so lyk.
“Hoe oud is jy?” vra hy skielik.
“Agt en twintig. Amper.”
“Hoe amper?”
“Volgende week.”
“En hoe gaan jy dit vier?”
“Vier?” vra sy en haar stem word bitter en heftig. “Wat is daar om te vier?” Want ek sal by die hospitaal wees, en die enigste rooi blomme sal in die wagkamer staan. As ek gelukkig is.
“Sal jy weer saam met my uitgaan?” vra hy en draai die motor se neus in die rigting van die stad.
Sy antwoord nie dadelik nie. Dan sug sy. “Ek weet nie. Dis beter om nou reeds te weier as om jou ’n uur voor die tyd te bel en te sê dis onmoontlik.”
“Ek sal dit so aanvaar,” sê hy gelykmatig. “En ek bedoel dit. Ek wil nie hê jy moet gedwonge voel om te gaan nie. As jy op die aand nie kans sien daarvoor nie, mag jy my laat weet.”
Sy draai haar kop teen die kussing en kyk na hom. “Dankie,” sê sy stadig. “Op daardie voorwaarde sal ek dit aanvaar.” En na hulle ’n ruk in stilte gery het, voeg sy by: “Jy is ’n goeie vriend.”