Читать книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker - Страница 6
VIER
Оглавление“Ek het as joernaliste gewerk,” begin sy langsaam. “In Johannesburg. ’n Doodgewone lewe. Eers universiteit toe en daarna by ’n koerant. My ouers het ook daar gewoon, maar ek wou onafhanklik wees en het in ’n woonstel gaan bly wat ek saam met ’n vriendin gedeel het. En ek was verloof.” Sy kyk vinnig na hom, maar hy verroer nie ’n ooglid nie.
“En op ’n dag bel hulle my by die werk om my te vertel van die ongeluk. My ouers was op pad na die Laeveld en het teen ’n vragmotor vasgery. Niemand weet wat regtig gebeur het nie, daar was niemand oor om te vertel nie.” Sy speel met die rand van die kombers en lê dan agteroor met haar oë toe. “Dit was ’n geweldige skok. Soos jy seker kan dink. My baas was simpatiek en het my ’n week vakansie gegee, nie dat dit eintlik gehelp het nie. Dit sou beter gewees het om maar aan te hou werk. En ek weet nie wanneer dit begin het nie, maar in die maande daarna was ek dikwels moeg. ’n Soort vermoeienis wat ek nie geken het nie. Wat niks te maak het met slaap of harde werk nie. En ek het hard gewerk. Báie hard. Dit het gehelp. Maar daar was meer en meer dae dat ek by die huis gekom het met die gevoel dat dit te veel krag vereis om my klere uit te trek. My woonstelmaat het gesê ek moet dokter toe gaan en ek wou nie. Ek was seker dis maar die nadraai van die skok. Een of ander sielkundige ding. Die gewigsverlies het ek ook daaraan toegeskryf. En daar was soveel dinge om te doen. My ouers se huis moes verkoop word, alhoewel ek dit eers oorweeg het om daarin te gaan woon. En die boedel …” Sy maak weer haar oë oop en kyk na hom. “Ek is goed nagelaat, iets wat nie toe van besondere belang was nie, maar wat een van die belangrikste aspekte van die hele … gemors geword het.”
Hy steek ’n sigaret aan en staan op om ’n asbakkie te kry. “Jy gee nie om nie?” vra hy hoflik.
Sy skud haar kop.
“Jammer. Gaan voort.”
“Nou ja, op ’n dag het ek tog na ons huisdokter gegaan, en hy het nes ek ook maar gedink dis ’n nadraai van die skok alhoewel hy tog ’n paar toetse laat doen het. Bloedtoetse en sulke goed. Ek was seker hy sou my ysterpille gee of ’n seevakansie voorskryf, en dan sal ons weer daarvan kan vergeet, maar toe hy my bel, was hy ernstig. Hy wou hê ek moet hospitaal toe gaan vir verdere toetse.” Sy strengel haar vingers inmekaar en haar oë kyk rusteloos rond. “Dis hoe dit begin het.”
“Waar was jou … e … verloofde?” vra hy.
“O, hy was daar. Baie simpatiek. Vol goeie raad en goeie bedoelings. Het vas geglo dis alles psigosomaties. ’n Lang vakansie – verkieslik saam met hom – sal my weer op die been kry en die blos na my wange terugbring.” Sy glimlag wrang. “Dis nie wat die dokters gesê het nie. Nie dat hulle besonder eksplisiet was nie, iets waaroor ek hulle nogal kwalik geneem het. Nou weet ek natuurlik beter. Hulle het nie regtig geweet wat verkeerd was nie. Niemand het nie. Eers het hulle gesê dis leukemie.”
Hy maak ’n skielike beweging met sy hand, en sy kyk vraend na hom. “Nee,” sê hy, “vertel verder.”
“Dit was ’n skok,” sê sy en haar stem raak gevoelloos. “Maar op ’n manier goed omdat dit so finaal was. Ek weet nie of jy dit kan begryp nie. Ek het geweet alles is verby en ek het met die grootste weersin na die hospitaal gegaan vir bloedtoetse en oortappings en al die ander dinge wat hulle nodig geag het. Wat mý betref, was dit onnodig. Ek sou op my eie en in vrede wou klaarmaak. Sonder dat mense gedurig met my lol. En ek het ook. My sakies in orde gebring en so meer.”
“En jou werk? Het jy aanhou werk?”
“Ja. Tot dit onmoontlik geword het.” Sy lek oor haar droë lippe en kyk pleitend na hom. “Ek is vreeslik dors.”
Hy staan dadelik op. “Kan ek vir jou water bring?”
Sy kou aan haar lip. “Weet jy waarvoor ek lus is? Tee. Maar ek is bevrees ek kan nie nou opstaan en dit maak nie. Ek sal omval.”
Hy kyk huiwerig na die kombuis. “Ek sal dit probeer maak as jy my beduie hoe om dit te doen.”
“Skakel eers die ketel aan,” sê sy en haar oë word sagter as sy na hom kyk. “Het jy nog nooit tee gemaak nie?”
“Nee. Nie wat ek kan onthou nie.”
Sy beduie vir hom waar die teepot en koppies is en sy wil lag vir sy onhandigheid, maar hy kry dit tog reg en kom sit dit voor haar neer nadat hy die koffietafeltjie tot teen die bank geskuif het sodat sy haar koppie kan bykom.
“Dit lyk baie flou,” sê hy skepties.
Sy lag effens. “Ek sal dit laat trek.” Sy kyk hoe hy vir homself ook skink en weer gaan sit. “Ek het nie eens koek om aan te bied nie. Al wat ek het, is hoëproteïen-stafies.”
“Nee, dankie. Ek is nie honger nie. Maar gaan voort. Hoe het jy in België beland?”
Sy drink eers ’n sluk. “Wel, op ’n dag, na nog ’n reeks toetse en nadat ek al my testament gemaak het, het die dokters van plan verander. Dis nie leukemie nie, het hulle gesê. Hulle weet nie wát dit is nie, maar dis nie kanker nie.”
“Jy sê dit so ligweg,” merk hy op.
Sy draai haar gesig weg van hom. “Dis die enigste manier waarop ek dit kán sê. Iemand wat nog nie in daardie posisie was nie, kan nie weet hoe dit is nie. Wat dit aan jou doen as jy op ’n dag vertel word dat jou lewe heel waarskynlik verby is. Eers word jy woedend. Waarom ek? Jy wil almal en alles uitmekaar skeur van woede. Jy dink dis onregverdig. Jy is dan nog jonk en jy is gesond … want ek wás gesond, weet jy. Ek het masels en pampoentjies gehad en so nou en dan ’n verkoue, maar dit was al. My mangels is nooit uitgehaal nie, my blindederm sit nog. Ek het nooit ’n arm of been gebreek nie, die binnekant van ’n hospitaal was vir my so onbekend as die binnekant van die Taj Mahal. Daarom was dit selfs ’n groter skok. My liggaam was nie meer my eie nie, dit was die eiendom van spesialiste, eksperte op bykans elke gebied. Hulle het naalde in my gesteek en my bloed onder mikroskope ondersoek, en ek was vir hulle ’n baie interessante geval. ’n Raaisel. My bloed het teen my gedraai, maar ook nie eintlik met die dokters saamgewerk nie.
“Maar goed. ’n Mens aanvaar tog mettertyd. Jy huil nie meer elke keer as jy die son sien opkom en wonder hoeveel keer jy dit nog gaan sien nie. Jy berus en jy geniet die goeie dae en aanvaar die slegte dae met ’n mate van kalmte. Behalwe dat die goeie dae al minder geword het, iets wat die dokters opnuut oor hul mikroskope laat buig het. En op ’n dag het ons huisdokter met my gepraat en gesê hulle kan dit nie vir my wegsteek nie; hulle weet nie wat dit is wat my aan die opvreet is nie. Dit lyk soos leukemie, maar dit is dit nie. En hy het my vertel van ’n vooraanstaande hematoloog hier in Brussel. Hy, my dokter, het die man al hoor praat op ’n Europese kongres en het baie gelees van sy werk. Hy het taktvol probeer uitvra hoe my finansiële posisie was, en of ek dit sal kan bekostig om hierheen te kom. Hy sou eers aan die spesialis skryf en my gegewens gee, en dan hoor ons wat hy sê. Wat ons toe gedoen het.”
“En jou verloofde?”
Haar gesig word hard. “Hy het die hele idee afgeskiet. Volgens hom was dit ’n onnodige uitgawe, en hy kon nie sien wat die oorsese man my kon sê wat ons eie dokters nie kon doen nie. Ek het selfs dat ons huisdokter met hom praat. Maar hy wou net nie aanvaar dat hierdie man werklik ’n kenner van hierdie besondere tipe bloedsiekte is nie. Dit was …” Sy drink weer ’n bietjie tee en haar oë kyk ver die verlede in. “Dit was ook nie die enigste rede nie.”
“Die enigste rede vir wat?”
“Ons verhouding wou nie vlot nie. Marius het nie geweet hoe om die moontlike dood van sy geliefde te verwerk nie. Hy het hom gebreek om ondersteunend en simpatiek te wees, maar in werklikheid wou hy weghardloop as hy my sien.” Sy maak ’n tam beweging met haar skouers. “Dit was ’n redelik algemene reaksie.”
“Jy oordryf,” merk hy op.
“O, nee,” sê sy vinnig. “Ek oordryf nie. Waarom dink jy het ek jou nooit vertel wat met my verkeerd is nie? Dink jy ek is blind vir die skok in jou oë elke keer as ek jou sien? En jy ken my nie eens soos ek eers gelyk het nie. My ander vriende en vriendinne het my as ’n hipergesonde mens geken en meteens moes hulle hul houding verander. Probeer lyk asof hulle nie skrik as hulle my sien nie. Altyd vrolik wees in my teenwoordigheid, want hoe durf hulle kla oor ’n onbeskofte baas of ’n ontroue kêrel of gewoon ’n rok wat gekrimp het as hulle oorkant iemand sit wat enige dag kan doodgaan? Glo my, die beste vriendskap raak gestrem. Dis makliker om weg te bly tensy jy ’n baie goeie toneelspeler is. Dis jammer dat dit so is, maar dis onvermydelik. Hulle het nie geweet dat ek nie regtig verander het nie, dat ek nog belang stel in hul kwinte en kwale. Nee, geen vriendskap kan dit weerstaan nie.”
“Maar jou verloofde – die man, Marius? – was tog iets anders. Hy het jou tog seker …” Hy bly ongemaklik stil.
“Nee,” sê sy koud. “Hy het maar so gedink, en ek het dit vir hom makliker gemaak deur die verlowing te breek. Hy het verlig gelyk, weet jy? Regtig verlig, al het hy my probeer vertel ek doen ’n dwase ding en het hom tog nodig.” Sy lig haar hande op. “Toe kom die brief van die hematoloog in Brussel, en hy sê hy sal my graag as pasiënt aanvaar. Toe verkoop ek al my besittings, gee my motor vir my woonstelmaat en klim op die vliegtuig.”
“Alleen?”
“Nee. Met ’n verpleegster wat my hand vasgehou het tot ons hier aangekom het.”
“En waar kom hierdie woonstel vandaan?”
“Ek het dit gekry. Teen almal se sin. Aan die begin en vir groot gedeeltes van die afgelope drie jaar was ek natuurlik in die hospitaal, en dis waar John my wou gehou het. Maar ek het vasgeskop. Ek het niemand geken nie, ek was doodsiek in ’n vreemde stad en vreemde land en ek sou – teen almal se beterwete in – ’n lewe vir myself herbou. Wat ek ook gedoen het.”
Hy kyk haar benieud aan. “Die John van wie jy praat, is hy jou dokter?”
“Ja. John Dijkstra.”
“Hoe dom van my. Natuurlik. Ek moes dit geweet het.”
“Waarom sê jy so? Hoe kon jy dit geweet het?”
“Ek ken hom,” sê hy. “Ons speel dikwels saam tennis.”
Sy kyk belangstellend na hom en dis asof sy sy lyf vir die eerste keer raaksien. Hy is lank en skraal, maar sy kan nou sien dat hy ook fiks is. Sy lyf lyk plat en hard, en daar is nie ’n beduidenis van ’n uitsetting om die middellyf nie. “Jy speel dus tennis. Nou toe nou.”
“En John is jou dokter,” mymer hy. “Ek het natuurlik geweet hy is ’n baie knap man.” Dan kyk hy haar skerper aan. “En wat het hy toe gesê toe hy jou begin behandel?”
“Dit was eintlik maar dieselfde storie,” sê sy. Sy begin moeg word van die gepraat. “Daar was tye dat hy kopskuddend by my gekom het en gesê het dit móét leukemie wees, en daar was tye dat hy gesê het dit is iets anders. Hy het elke behandeling probeer waarvan hy geweet het, en partykeer het dit gehelp en ander kere nie. Soms het ek beter gevoel en dan was ek weer maande in die hospitaal. Ek is so moeg daarvoor. Ek is so verskriklik moeg vir alles.”
“Maar jy het vroeër gesê jy behoort bly te wees omdat jy nou gesond word?”
“Ja,” sê sy tam en trek die kombers tot onder haar ken. “Die tweedelaaste reeks toetse het John weer moed gegee, en die laastes was baie positief. Hy reken ons het die siekte oorwin. Ek kan begin gesond word. Ek sal nie meer doodgaan nie.”
“Dis baie goeie nuus.”
Sy voel hoe die trane weer begin opdam. “Ja.” Sy soek in haar japonsak na ’n sakdoek en vee oor haar oë. “Jy weet, toe ek ’n kind was, het ons net langs ’n speelpark gewoon. In die park was daar ’n baie hoë glyplank. Die lekkerste ding. Ek was nooit bang daarvoor nie, al was ek toe nog klein, en aan die begin het ek altyd tot bo geklim en al die pad omgestap en opgeklim en weer afgegly. Uur na uur. Maar toe word ek moeg vir die omstappery en ek probeer sommer teen die gladde kant terugklim. En ek vind uit as ek net ’n ent afgly, nie tot heel onder nie, en myself dan stop, kan ek makliker teen die gladde metaal terugklim tot bo. Elke dag het ek dit verder uitgetoets. Gekyk presies hoe ver ek kan gly sodat ek tóg nog kan terugklim, want ek wou so graag van heel onder af terugklim. Ek het my skoene uitgetrek sodat ek beter kan vastrap, maar dit het nie gehelp nie. Die helling van die ding was so steil dat ek net tot halfpad kon gly as ek nog wou terugklim. As ek eers heel onder was, kon ek dit nie doen nie. Dan moes ek maar omloop en met die leer op. En dis hoe ek nou voel. Ek het te ver afgegly om terug te klim en ek het hoegenaamd nie die krag om om te stap na die leer nie.”
Hy knik en staan toe skielik op. “Is daar nie ’n plek hier naby waar ek vir ons iets te ete kan kry nie?”
Sy begin lag deur haar trane. “Daar is seker.”
“Ek is nou weer terug. Het jy ’n sleutel sodat jy nie hoef op te staan nie?”
“Op die boekrak.”
Na hy uit is, lê sy met die sakdoek teen haar mond gedruk en staar na die muur. Wat moet ek nou doen? wil sy skree. Waarheen moet ek gaan? Ek is al so lank hier dat ek nie meer weet waar ek inpas nie. Die onderskragende briewe van vriende het lankal minder geword. Hulle het van haar vergeet. Daar is niemand wat vir haar wag nie. Die enigste mens met wie sy nog kontak het, is die bankbestuurder. Of haar oorlede ouers se prokureur wat daarvoor gesorg het dat sy elke maand genoeg geld het om die woonstel en die dokters en die hospitaal te kan betaal. Sy ken net een lewe, en dit is die een waarin sy vasgevang sit. Die plafon van die hospitaalkamer waarin sy soveel ure deurgebring het, is bekender as die natuur van die land waarin sy nou woon. En afgesien van Ester en Gerrie en die ou vroutjie oorkant die gang, ken sy geen mens nie. En natuurlik Mavis, John se vrou. Mavis wat getref was deur die geskiedenis van haar man se nuwe pasiënt en wat haar kom opsoek het. Mavis wat haar getroos het toe haar pragtige lang hare begin uitval het. Wat serpe aangedra het. Boeke. Blomme. Wat nooit in al die jare opgehou pleit het dat sy by hulle moet kom woon nie. Wat saam met haar gehuil het van blydskap toe die chemoterapie gestaak is en haar hare weer begin groei. Wat haar hare in die hospitaal kom was het en vir haar gesê het sy lyk soos ’n kabouter met die skerp gesiggie en die kort sprietjies.
Dié paar mense is die enigste familie wat sy het. Hierdie woonstel is die enigste tuiste.
Sy skrik toe die deur oopgaan en kyk verstom hoe Charles ’n paar kartondose op die koffietafel neersit.
“Wat is dit?” vra sy flouerig.
“’n Hele versameling goed. Daar is ’n pizza en ’n bakkie koolslaai en gebraaide hoenderstukke en broodjies met ham.”
Sy kan nie help om te lag nie. “Wie gaan dit alles opeet?”
“Ons kyk maar hoe ver ons kom. Waar hou jy jou borde en messegoed?”
Terwyl hy die goed kry, bekyk sy hom. Sy het selde iemand gesien wat so ontuis lyk in ’n kombuis. Hy pas nie eens in die sitkamer van die woonstel nie alhoewel sy nie weet waarom dit is nie. Agter ’n lessenaar, ja, daar kan sy hom wel voorstel. Of in ’n konferensiesaal.
Om hom te plesier wend sy ’n poging aan om te eet en sy kry dit nogal reg om ’n stuk hoender en ’n halwe broodjie na binne te werk.
“Dit was lekker,” sê sy.
Hy vee sy mond af met so ’n delikate gebaar dat sy gedwing word om iets daaroor te sê.
“Jou ouers het jou baie goeie maniere geleer.”
Hy kyk na haar met sy geslote gesig. “My ouers het min met my opvoeding te doen gehad. ’n Kind op hulle ouderdom was meer ’n oorlas as ’n vreugde. Ek het meer tyd in kosskole deurgebring as by die huis.”
“Ag, kom,” sê sy ongelowig. “Jy was tog seker die erfgenaam of wat jy dit ook al wil noem. Jy het dan gesê jy het die familiesaak oorgeneem.”
“Ja,” sê hy. “Ek was die erfgenaam.”
“Maar …”
Hy maak ’n afwerende gebaar. “Ons praat nie nou oor my nie. Ons praat oor jou.”
“Ek is klaar gepraat.”
“En ek is bly jy het my vertel. Ek het natuurlik so iets vermoed, maar dis goed dat ek nou alles weet.”
Sy kyk net na hom en vou die papierservet in konsertinaplooitjies.
“Ons sal nooit weer van doodgaan praat nie,” sê hy.
Sy gooi die servet neer en draai haar kop weg. Sy wil nie hê hy moet die trane sien nie.
“En ek het ’n voorstel om te maak.”
Sy kyk verbaas na hom terwyl sy oor haar oë vee. “Ja?”
“Ek wil hê jy moet met my trou.”
Sy is so totaal lamgeslaan dat sy net kan sluk. “Trou?” stamel sy eindelik. “Jy kan dit nie bedoel nie.”
“Ek bedoel dit.”
“Maar …” Sy gooi haar hande in die lug. “Ons ken mekaar nie. Kyk hoe lyk ek … ek kan aan geen enkele rede dink waarom jy dit sê nie!”
Hy steek ’n sigaret aan, staan op en leun teen die boekrak. “Ek kan jou die geleentheid gee om gesond te word. Nee,” keer hy, “luister eers na wat ek sê. Ek besit ’n villa in Italië, die soort plek waarheen ek byna nooit gaan nie, maar wat goed opgepas word deur ’n huishoudster. Gewoonlik leen ek die plek vir vriende wat daar wil gaan vakansie hou. Dis mooi geleë en kyk uit oor een van die mere. Dis warm daar. Sonnig. Ek sal jou dadelik soontoe stuur, en daar kan jy bly tot jy gesond is. Weer gewig aangesit het.”
Sy is bewus van ’n swewende gevoel. Dit kan nie waar wees nie. “Jy kan nie net met my trou omdat jy ’n huis in ’n warm klimaat het nie!”
“Jy kan nie langer vir jouself sorg nie,” sê hy. “Jy moet dit erken. Ek weet jy wil nie, ek weet jy wil glo dat jy onafhanklik en sterk is, maar jy is nie. In die paar weke wat ek jou ken, gaan jy stadig verder agteruit, en ek hoop nie jy verkwalik my dat ek dit sê nie. Dis waar. Jou spieël moet dit vir jou bewys. En jy gaan agteruit ten spyte van die feit dat jy aan die gesond word is.”
“Ek het mos vir jou verduidelik,” sê sy lammerig.
“Ek weet. En ek bied jou ’n uitweg aan, ’n manier om terug te kom by die leer.” Hy draai vinnig weg en gaan staan voor die venster sodat sy rug na haar gekeer is. “Dit sal ’n huwelik in naam wees,” sê hy styf. “Ek dink dit is die term daarvoor. Ek vereis niks van jou nie. Net vriendskap en dat jy gesond sal word. Dit kan ’n vennootskap wees as jy dit so wil sien.”
“Vennootskap,” sê sy, en die ongeloof maak plek vir ’n tikkie histerie. “Wie sal ’n vennootskap met mý wil aangaan?”
Hy draai om en kyk weer na haar. “Dit gebeur dikwels dat ’n swakker firma in nood verkeer en dan oorgeneem word deur die groter en sterker maatskappy.”
“En verswelg word.”
“Nie noodwendig nie. Die sterker firma kan die swakker een help om weer op die been te kom sonder om sy eie identiteit prys te gee.”
“Ek sien,” sê sy. “’n Saketransaksie.”
Hy antwoord nie, en sy wonder wat ’n mens moet doen om daardie grys oë weg te dop dat jy kan sien wat in sy brein aangaan. Hy wys nooit enige gevoel nie. Sy gesig is altyd onpeilbaar. Jy weet hy vind iets snaaks as sy mondhoeke effens beweeg en jy weet hy is kwaad as sy oë selfs kouer word. En dis al. Hy frons nie en hy lag nie. Hy kýk net, en alles wat hy sien en hoor, verdwyn in die geslote dieptes van sy oë. Of dit êrens dieper wel ’n reaksie veroorsaak, weet sy nie. Sy twyfel.
“Maar daar is geen sprake van nie,” sê sy beslis. “Dis geweldig … ek weet nie eens hoe om dit te noem nie. Vriendelik. Behulpsaam. Maar dis buite die kwessie.”
“Wat anders gaan jy doen?” vra hy skerp, kry dan spyt en haal diep asem. “Ek is jammer. Dit is nie waarom ek die aanbod gemaak het nie.”
“Sê nou ek gaan tog dood?” vra sy uitdagend. “Waarin het jy jouself dan beland? Een lang komplikasie. Dan het jy verniet jou lewe gekompliseer.”
“Ek het gesê ons praat nie weer oor doodgaan nie!”
“Ek is jammer,” sê sy sonder om jammer te klink. “Maar ek het al een man gesien skrik en hardloop. Dit was nie ’n aangename gesig nie. Ek sou nie so iets weer wou deurmaak nie.”
“Ek skrik nie maklik nie,” sê hy koud. En hy wil byvoeg: ek is nie jou Marius nie.
Hulle bly al twee ’n ruk lank stil. Hy stap ’n draai deur die kamer, kyk na die kombuis, lyk of hy hom bedink en gaan skink vir hom ’n whisky.
“Jy kom reg,” sê sy. Sy wens hy wil liewer nou loop. Die aand was verskriklik uitputtend. Sy is moeg gepraat en moeg gedink en sy is vreeslik verward.
“Sal jy daaroor nadink?” vra hy en sy stem is nou sagter.
“John sal dit nooit toelaat nie,” dink sy aan nog ’n rede. “Hy wil my laat opneem in ’n hersteloord. Waarom weet ek nie. Dis iets waaroor ons al lank baklei.”
“Ek sal met John gaan praat.”
Sy kyk hom verwonderd aan. “Jy sal dit doen ook.”
“Ek het verlede naweek saam met hom tennis gespeel, en toe het hy genoem dat ons gerus eendag saam moet gaan eet. Dit sal die natuurlikste ding op aarde wees.”
“Charles,” sê sy. “Ek dink jy moet nou gaan. Ek kan nie meer aangaan nie. Die dag word nou te lank vir my.” Sy vou die kombers weg van haar, swaai haar bene stadig grond toe en staan op, maar toe sy haar bene reguit buig, gee hulle mee en sy gryp vervaard in die lug, stamp haar teen die tafelrand en val toe terug op die bank. Hy het dadelik nader gestaan, maar hy raak nie aan haar nie, tel net die kombers op en gooi dit weer oor die maer, wit bene.
“Loop tog,” sê sy en begin verskriklik huil.
“Lize,” sê hy. “Kan jy dit dan nie insien nie? Jy kán nie langer alleen hier bly nie. Ek kan jou laat versorg, ek kan jou help om weer gesond te word. Ek sal jou oppas en beskerm.”
“Maar waarom trou?” huil sy.
Hy draai weer weg, en sy kan sien hoe moeilik dit vir hom is om te verduidelik. “Dis al wat ek jou kan aanbied,” sê hy styf. “My reputasie en joune in ag geneem, is dit al wat ek kan aanbied. Jy mag dit ouderwets vind.”
“Goed,” sê sy en begin bedaar alhoewel sy nog oor haar been vryf waar die tafel haar seergemaak het. “Dit is geweldig groothartig van jou, en ek aanvaar dat jou motiewe suiwer is, maar wat kry jý in ruil? Jy neem verantwoordelikheid vir my oor, jy sorg vir my, jy pas my op en ek word miskien weer gesond. En jý? Wat kry jy?”
Vir ’n lang tyd sê hy niks nie. “Dit lyk miskien nie vir jou so nie, maar ek is eensaam. Ek werk hard, ek is nie besonder sosiaal nie en wanneer ek saans huis toe gaan, is dit eensaam. Dis al wat ek van jou vra: vriendskap. Kameraadskap. Ek het nooit gedink ek sal ooit so voel nie; my eensaamheid was my krag. Maar nou … dinge verander. Daar breek tog ’n dag aan dat dit jou bekruip en beklem. En ek dink tog ek en jy kan vriende wees.”
“Ja,” stem sy uitgeput saam. “Ek het dit al gesê: jy is ’n goeie vriend. Ek bly net voel dis onregverdig teenoor jou. Ons stem albei saam dat ek by so ’n reëling kan baat, maar ek is nie so seker of jy iets in ruil gaan kry nie. Jy ken my glad nie! Jy sien my net as hierdie … hierdie … hulpelose, lamsakkige wese. Gestel ek word gesond, en dan skrik jy eers regtig vir die eerste keer as jy sien wat nou in jou huis rondloop?”
“Ek sou nie bereik het wat ek reeds bereik het as my oordeelsvermoë so swak was nie.”
“En ek ken jou nie,” sê sy. “Wat weet ek van jou af? Ek weet hoe oud jy is, dat jy tennis speel, dat jou ouers ook dood is, dat jy nie van hamburgers hou nie. Dis kwalik ’n goeie basis.”
“Ja,” erken hy. “Maar ons situasie is ietwat anders. Die gewone reëls geld nie vir ons nie. Ek weet ons behoort mekaar eers goed te leer ken en dan ’n besluit te neem, maar tyd is die een ding wat ons nie het nie. Jy moet nóú hier weg, hoe gouer hoe beter. Jy moet nou gehelp word. En al wat ek ooit van jou vereis, is dat jy eerlik sal wees. Eerlik teenoor my. En in die kort tyd wat ek jou ken, dink ek tog ek ken jou goed genoeg om te kan sê jy is ’n eerlike mens.”
Sy knik net. “Ek dink ons moet dit hier laat. Ek kan nie meer dink nie. Al waaraan ek kan dink, is dom vrae soos waarom jy nie liewer met ’n normale, gesonde meisie trou nie. Daar is tog duisende van hulle.”
“As ek met een van hulle wou trou, het ek dit gedoen,” sê hy, en sy stem is ysig. Hy buk af en begin die reste van hul aandete bymekaarmaak. Sy kyk na hom soos hy heen en weer beweeg, en aan die een kant wens sy hy wil nou loop en aan die ander kant weet sy wat wag. Nog ’n angsbevange nag van min slaap.
Asof hy dit opgevang het, kyk hy na haar. “Is daar nog iets wat ek kan doen voor ek loop? Sal jy vannag kan slaap?”
“Ek weet nie,” sê sy, al haar bravade daarmee heen.
“Waarom kan jy nie slaap nie?” vra hy, sy stem baie sag.
Dit ontstem haar weer al veg sy daarteen. “Ek weet nie. Ek het bang geword en ek was nooit ’n bang mens nie. Die siekte het my bang gemaak.” Sy begin rukkerig huil. “Ek het so hard geveg, elke uur en elke minuut van hierdie drie en ’n half jaar. Ek weet nie waarom ek nie kan voortgaan nie. Ek weet nie waarom ek so bang geword het nie.”
“Toe maar,” sê hy. “Jy het nou die aand so rustig in die motor geslaap, dink jy dit sal help as ek hier bly sit tot jy aan die slaap is?”
Sy kyk op na hom en haar oë is so gretig dat hy week word. “Sal jy dit doen? Wil jy nie liewer nou huis toe gaan nie?”
“Nee. Maak jou reg en klim in die bed. Ek belowe ek sal hier sit tot ek seker is jy slaap vas.”
“Dankie,” fluister sy en staan struikelend op. Deur aan die mure vas te hou bereik sy haar slaapkamer en badkamer, en hy gaan sit en luister na die geluide wat vir hom so onbekend is. Toe hy later hoor dit word stil, staan hy op en gaan staan in haar kamerdeur. Sy lê in die bed met die komberse tot teen haar ken getrek en sy kyk na hom met haar groot, uitgeputte oë.
“Slaap nou,” sê hy kalm. “En belowe my jy sal nadink oor wat ek gesê het. Mag ek môreaand kom hoor wat jy besluit het?”
“Ek sal daaroor dink,” sê sy en maak haar oë toe. “Dankie. Vir alles.”
Sy hoor hoe hy terugloop en sy hoor die vere van die stoel toe hy gaan sit en sy wag vir die angs om op haar bors te kom sit, maar dit bly weg. Die drogbeelde wat uit die skaduwees van die kamer moet kom om haar geselskap te hou, bly weg. Met een oor luister sy na die geluid van ’n boek wat geblaai word, ’n vuurhoutjie wat getrek word en voor sy weet wat gebeur het, hoor sy heeltemal niks meer nie.
Hy lees twee hele hoofstukke in ’n boek oor filosofie wat hy uit die boekrak gekry het voor hy opstaan en saggies na haar kamer loop. Sy slaap vas, hy kan dit hoor. Haar asemhaling is reëlmatig, maar haar hande, wat bo-op die kombers lê, beweeg soms met klein fladderende beweginkies. Hy staan baie lank na haar en kyk en in sy wang ruk ’n spier. Toe draai hy weg, verander dan van plan en skakel eers die bedlampie langs haar af. Net voor hy dit doen, sien hy die fyn silwerring wat op die bedtafeltjie lê en hy tel dit op en hou dit in die palm van sy hand. So dun, só dun. ’n Heks sal haar nooit opeet nie. Hy gly die ring in sy sak, skakel die lig af en loop. In die sitkamer los hy een van die leeslampe aan en gaan toe weg. En terwyl hy in die hysbak ry en na sy motor stap, verwonder hy hom oor alles wat die aand gebeur het. Onbeplan. Die eerste keer in sy lewe dat hy so ’n belangrike besluit geneem het sonder om vooraf eers daaroor te dink. Die eerste spontane voorstel wat hy nog óóit gemaak het. En hy weet nie waarom hy lus is om te fluit nie. Die koerantman wat besig is om sy stalletjie vir die nag te sluit, lyk ook verras toe ’n vreemdeling so vriendelik vir hom wuif.