Читать книгу Weerkaatsings - 'n sprokie - Eleanor Baker - Страница 5

DRIE

Оглавление

Die middag van haar verjaardag, toe sy soos gewoonlik op haar bed lê en rus, bel Charles om te vra hoe dit gaan en of sy wil uitgaan.

“Ja,” sê sy fatalisties. “Dit gaan nie besonder goed nie, maar ook nie eintlik slegter nie.”

“Sal ek jou weer so vroeg kom oplaai?”

“Nes jy wil.”

Sy lê na die gehoorbuis en kyk nadat hy afgelui het. Sy het lank en diep nagedink die afgelope week. Waarom hy haar weer wil sien, weet sy nie. Waarom sy hom toelaat om dit te doen, weet sy nog minder. Vriendskappe van enige aard is nie iets wat sy die afgelope jare aangemoedig het nie. Ester is ’n uitsondering. Ester het self besluit. Ester doen wat Ester wíl doen en luister nie na teëpraat nie. Maar dié man is iets heel anders. Sy hou van hom, ja, dit lei geen twyfel nie, en op ’n manier geniet sy die ure saam met hom, maar wat sy weet – of vermoed – wat hy nie weet nie, is dat die vriendskap geen toekoms het nie. Daar bestaan nie meer ’n toekoms nie, en sy raak moeg. Moeg vir baklei. En dis nog iets wat sy nie begryp nie. Al die jare toe daar nie regtig iets was om voor te veg nie, het sy geveg. Nou dat dit wil lyk asof daar iemand is wat haar welsyn op die hart dra, raak sy moeg. Nee, dis nie so eenvoudig nie. Sy dink nie dit het regtig iets met hom te maak nie. Dis maar toevallig dat hy juis op hierdie stadium in haar lewe beland het. Sy is gewoon moeg. Sy het gewoon nie meer die krag om verder te veg nie, en as sy John kan glo, lyk dit asof die einde in sig is. Asof die geveg byna verby is. Hy wil wag vir die finale toetse oor twee weke of so, maar die laastes was positief. Of negatief, afhangende van die oogpunt waarna jy daarna kyk. Sy behoort te jubel. Sy behoort beter te voel en beter te word en sy het nie die sterkte daarvoor nie. Sy kan nie meer slaap nie en sy weier – soos sy nog al die jare geweier het – om pille daarvoor te drink. Dis met moeite dat sy nog eet. As sy geweet het van ’n verlate strand iewers op die aardbol, het sy soontoe gegaan en opgekrul op die laagwatermerk gaan lê sodat die see haar kan wegspoel as dit hoogwater word. Dis waarvoor sy lus is. Dis ál waarvoor sy nog lus of krag het.

Maar toe Charles voor haar staan met ’n ruiker blomme, vrolik sy tog effens op. Dit is per slot van rekening haar verjaardag en dis lank laas dat iemand vir haar blomme gebring het. Hy staan op die mat en wag terwyl sy hulle in water sit.

“Mag ek jou badkamer gebruik?” vra hy skielik. “Ek het direk van die kantoor hierheen gekom en ek sou graag my gesig wou afspoel.”

Toe hy weer uitkom, sit sy op die rusbank en kyk na die blomme. “Jy hoef dit nie te doen nie, weet jy,” sê sy gelykmatig. “Om reguit van die kantoor hierheen te jaag net omdat ek vroeg in die bed wil kom, is belaglik. Jy moet saamstem. Waarom gaan jy nie liewer huis toe nie?”

“Ek sal besluit wat belaglik is of nie,” sê hy en sy stem is merkbaar kouer.

“Jammer.”

“Dis nie belangrik nie.”

Nee, dink sy, maar dis ook nie ’n besonder goeie manier om die aand te begin nie. “Ek is jammer,” sê sy dus weer. “Kan ek dalk vir jou iets gee om te drink? Ek dink hier staan nog iewers ’n bottel whisky of so iets. Gerrie het dit gebring en hier vergeet.”

“Ja, dankie,” verras hy haar.

Sy loop na die kombuisie en terwyl sy ’n glas uithaal en ys uit die bakkie skud, kyk sy ongemerk na hom oor die toonbank wat hulle skei. Hy staan skuins gedraai deur die venster en uitkyk, en sy besef weer eens hoe sterk sy gesig is. Al lyk hy moeg. En dit laat haar glimlag. Wat ’n paar is ons nie! Die invalide en die moeë sfinks wat haar wil oppas.

“Ek hoop dis nie te sterk of te flou nie,” sê sy toe sy die glas vir hom gee. “Ek het nie die vaagste benul hoe om dit te skink nie.”

Hulle sit oorkant mekaar, en om te vergoed vir haar suur houding van vroeër, vra sy gemaak opgewek: “Waarheen gaan ons?”

“Ek het nie bespreek nie. Ek het gedink ek hoor by jou waarvoor jy lus is.”

Sy dink ’n rukkie. “’n Hamburger.”

Hy staar na haar. “’n Wát?”

“Hamburger. Dis twee broodjies met ’n stuk vleis tussenin. En ek ken ’n plek wat dit baie lekker maak met ’n spesiale sous en allerhande ander dinge by. Heerlik. En dan ken ek ’n ander plek wat die lekkerste roomyse maak. Hoë torings met sjokolade bo-oor.”

Hy het sy glas neergesit. “Is dit regtig waarvoor jy lus is?”

“Ja.” Maar in werklikheid wil sy in die bed klim en huil. Sy het net nie die moed om dit te sê nie.

“Waar is die plek waar mens dit koop?”

“O, sommer op straat,” antwoord sy ligweg. “Jy kan sit op die terras of jy kan dit so in die stap opeet. Veral die roomys.”

Hy lyk oorbluf, en toe hulle eers by die plek aankom en oorkant mekaar sit op ongemaklike ysterstoeltjies met ’n kartonbakkie voor elk, weet sy dat dit die verkeerde ding was. Hy staar met soveel misnoeë na sy hamburger dat sy nie eens daaroor kan lag nie.

“Hou jy nie daarvan nie?” probeer sy spot.

“Ek weet nie. Kry ’n mens nie ’n mes en vurk hierby nie?”

“Nee. Jy vat dit vas dat niks uitgly nie en jy hap. Het jy nog nooit vantevore een geëet nie?”

“Nie sedert ek op kosskool was nie.”

Sy byt ’n hap uit hare en dit smaak na saagsels, maar sy weet ook dat dit geen maatstaf is nie; alles smaak vir haar na saagsels. “Dis lekker,” sê sy onoortuigend.

Hy eet syne ook en alhoewel hy kennelik dink dis barbaars, lyk dit tog asof hy dit geniet. “Ja,” sê hy toe hy sy hande en mond deeglik aan die verpotte papierservetjie afgevee het, “dit was nie sleg nie. Kry mens die roomys ook hier?”

“Nee,” sê sy en sluk aan die trane. “Dis hier oorkant die plein. En jy kan nie sit nie, dis net ’n kraampie.”

“Goed,” sê hy sugtend. “Kom ons loop soontoe.”

Maar toe hulle elkeen met die verspotte horinkies in die hand staan, begin sy huil. Sy draai vinnig weg van hom, gooi die roomys in ’n oorvol asblik wat dreig om die roomys op die sypaadjie uit te kantel, en begin terugloop na die motor. Hy haal haar vinnig in – ook sonder sy roomys – en help haar in die motor.

“Wat makeer?” vra hy.

“Ek wil huis toe gaan,” sê sy wanhopig. “En jy moet huis toe gaan. Wat doen ons hier? Waarom wil jy my uitneem? Los my uit. Jy kan mos sien dit werk nie.”

Hy antwoord haar nie op een van die vrae nie en neem haar reguit huis toe. Hy maak nie verskoning nie, en sy ook nie. Sy groet hom net en klim in die bed waar sy huil tot sy naar is en van die hamburger ontslae raak.

Vir die volgende twee weke hoor sy nie van hom nie en alhoewel sy vaagweg droewig voel, voel sy oor die algemeen te sleg om lank daaroor te dink. Sy slaap stukkies in die dag of nag en as sy nie by die hospitaal is nie, lê sy in die bed of op die wit rusbank.

“Wat het gebeur?” vra John vir haar. “Wat het van jou positiewe houding geword? Veral nou. Dit lyk asof ons gewen het, en in plaas daarvan dat jy sterker word, versleg jy nou.”

“Ek kan nie meer nie,” sê sy vir hom deur geklemde kake. “Ek kan eenvoudig nie meer aangaan nie.”

“Ek gaan vir jou iets gee om jou te laat slaap,” sê hy beslis.

“Moenie, John,” smeek sy. “Ek kan nie sulke goed in die woonstel aanhou nie. Ek sal dit almal gelyktydig drink.”

“Lize!” sê hy streng. “Ek ken jou nie so nie.”

“Ek het nou eers agtergekom wat ek kan verloor,” probeer sy verduidelik. “Al hierdie jare het ek daarvan vergeet.”

“Ek gaan jou laat opneem.”

“Nee!” Sy spring op en moet aan sy lessenaar vashou om nie om te val nie. “Los my uit. Ek is nie jou verantwoordelikheid nie.” Dan skrik sy vir haar woorde. “Ek is jammer. Ek is jammer. As dit nie vir jou was nie …”

Terug in haar woonstel lê sy ineengekrimp op haar bed en klou aan ’n kussing. Sy weet self nie wat gebeur het nie. Sy verstaan haar gedrag net so min as wat John dit verstaan.

En so kry Charles haar toe hy onverwags daar opdaag na werk een middag. Hy kan dadelik sien dat sy slegter lyk, en sy staan ook net na hom en kyk sonder om hom binne te nooi.

“Mag ek inkom?” vra hy dus.

“Die plek is deurmekaar,” sê sy gespanne, haar oë twee brandende kolle. “Ek het weke laas afgestof.” Sy vee ’n stuk hare uit haar gesig. “En ek is ook nie aangetrek nie.”

“Ek was lus om na die see te ry,” sê hy.

“Die see? Maar dis ver.”

“Ek weet, maar dis so ’n mooi middag.”

“Is dit?” Sy kyk vaag na die venster. “Reën dit nie?”

“Dit reën die afgelope drie dae nie meer nie.”

“Kyk hoe lyk ek. My hare …” Dit klink meteens heerlik. Om sommer na die see te ry.

“Ons hoef nie uit te klim nie. Toe, gaan trek jou aan.”

Sy staan opsy dat hy kan inkom en sy loop na die slaapkamer om aan te trek. Toe sy weer uitkom, het sy ’n langbroek en trui aan, en daar is ’n serpie om haar hare gebind. “Kan ek so gaan?”

Hy kyk haar moedeloos aan, en êrens in hom voel hy ’n woede kook. Is daar dan niemand wat na die kind kan kyk nie? Maar hardop sê hy: “Jy lyk goed. Kom ons ry.” En hy, wat jare laas by die see was en nooit daarvan sou droom om sommer vir die aand soontoe te ry nie, klim in die motor en ry.

En sy, wat aanvoel dat dit seker nie in sy normale patroon pas nie, vra: “Ry jy dikwels sommer see toe?”

“Nee.”

Toe skakel hy die radio aan en vir die res van die pad luister hulle na die musiek. En sy dink: ek sal dit nooit vergeet nie. Alles is meteens vreedsaam. Sy is lankal nie meer op die kruin van die golf nie, maar sy lê baie lekker op die sand. Vir ’n paar uur het alles genadiglik tot stilstand gekom. En in haar binneste seën sy hom vir sy begrip en vir die feit dat hy nie vrae vra nie.

Toe hulle by die strand aankom, vermy hy die promenade en draai teen die duine weg na ’n stiller gedeelte waar hy die motor reg teen die relings parkeer sodat hulle na die see kan kyk sonder om uit te klim.

“Klein brandertjies,” sê sy mymerend. “Maar dis so mooi. Ek het vergeet dat die someraande so laat aanhou.”

Sy kyk na twee jong mense in sweetpakke wat al langs die waterkant draf, en dit ontstem haar so dat sy rukkend wegkyk.

“Wat is dit?” vra hy stil.

“Jy weet nie hoe graag … hoe graag ek ook daar sou wou hardloop nie.” Haar stem word heftiger. “Ek het dit gedoen. Eens op ’n tyd. Elke jaar vir ’n maand by die see. Kaalvoet in die sand. Heeldag lank in die water. Wil jý nie langs die see gaan loop nie? Ek sal hier vir jou wag. Ek gee nie om nie.”

Hy glimlag effens. “In my pak?”

Dis waar, dink sy. Hy slaap seker ook in ’n pak.

“Jy kan jou skoene uittrek,” stel sy voor.

“Nee.”

Skielik wil sy die see voel en sy maak die deur oop en klim uit voor hy haar kan keer. Die wind is sterker as wat sy verwag het, maar sy loop tot voor die motor en hou aan die relings vas, haar gesig opgehef en haar oë toe. Die seereuk is so lieflik. Die souterige wind lig net vir ’n kort rukkie die vermoeienis van haar af sodat sy haar gesig heen en weer draai en glimlag. Hy het intussen ook uitgeklim en staan langs haar, en sy bewonder die wind wat so sonder aansiens des persoons aan sy hare pluk, en dit oor sy gesig waai.

“Jy sal weer langs die see hardloop,” sê hy onverwags.

Sy kyk lank na hom. “Jy sê dit met soveel oortuiging.”

“Ek weet dit. Jy sal weer hardloop.” En hy wens sy wil hom vertel wat verkeerd gegaan het.

Maar sy skram weg daarvan en klim terug in die motor. Hy tuur oor die duine voor hy by haar aansluit. “Dit lyk my daar is ’n eetplek hierbo. Sal ons soontoe ry en kyk wat ons kan kry?”

“Jy is honger,” sê sy skuldig. “Ek het nie daaraan gedink nie.”

Hulle ry na die plek en gaan sit teen die venster sodat hulle nog altyd oor die see kan uitkyk. Die lug het pienkerig geword en die see se kleur verdiep. Op die tafeltjie tussen hulle staan ’n klein lampie en dit verlig net die een kant van haar gesig. Hy kyk daarna en onthou ’n lampie wat ’n tante van hom uit die Ooste saamgebring het. Die raamwerk was van een of ander soort skulp gemaak en die bolskermpie was gefatsoeneer uit vliesdunne lagies ryspapier wat met groot sorg oor die raam aangebring was. Haar gesig herinner hom aan die lampie, want dit lyk asof haar gesigbene wil deurbreek, so dun is die wit vel wat te styf oor die skedelstruktuur gespan is. En hy voel weer die vreemde gevoel wat hy nie ken nie.

Hy bestel vir hulle iets om te eet en kyk hoe versigtig sy klein happies afsny en eet. Dis duidelik dat sy nie eens bewus is van wat sy doen nie, en hy het ook geen begeerte om te praat nie.

“Hoe oud is jy?” vra sy uit die bloute.

“Veertig.”

Sy knik. Sy het hom ouer geskat, maar dit kan bloot wees omdat hy so ernstig is. Nie net ernstig nie, maar anders. Asof hy op ’n ander vlak beweeg as die gewone mense.

“Wie sorg vir jou?” vra sy weer.

Hy ignoreer die ironie. “Ek self. Wat bedoel jy met sorg?”

“Jy bly tog seker êrens. En jy eet, en iemand moet jou hemde stryk.” Sy kyk so ernstig na hom dat hy weet sy spot nie.

“Ek het ’n huishoudster. Victoria. Sy versorg die huis, en haar man, Albert, kyk na die tuin.”

“Dis lekker.” Sy het dit nie verwag nie.

Hy haal sy skouers op. “Hulle is al jare by my.”

“Jy praat van ’n tuin. Jy woon dus in ’n huis.”

Hy knik. En dink aan al die groot vertrekke waarin niemand ooit kom nie behalwe wanneer Victoria afstof. “Ek sal dit eendag vir jou gaan wys as jy belang stel.”

“Nee, nee. Ek soek maar net na ’n raam.”

“’n Raam?”

“Jy staan so alleen. Ek wil die prent afrond, voltooi.”

En jy? wil hy vra, maar hy sê dit nie.

“Ek dink ons moet maar teruggaan,” stel sy voor, en hy staan op, wetende dat sy nie verder gaan praat nie.

In die motor op pad terug raak sy aan die slaap, en hy draai die musiek sagter sodat dit haar nie moet hinder nie. In die swak lig bestaan haar gesig net uit skaduwee, maar sy slaap rustig en so diep dat hy kort-kort na haar kyk om seker te maak sy haal asem. Toe hy voor die woonstelgebou stilhou, word sy wakker en lyk verleë toe sy sien hoe hy na haar kyk.

“Ek is jammer. Ek het so … lekker geslaap. Dis regtig ongeskik. Maar ek was so moeg.”

“Dis nie nodig om verskoning te maak nie. Ek is bly jy het lekker geslaap.”

“Dis snaaks,” sê sy en skuif die serp reg wat losgeraak het van die slaap. “In my eie bed slaap ek so sleg, en nou …”

“Waarom slaap jy so sleg?” Hy hou sy stem gelyk sodat sy nie moet voel hy vereis ’n antwoord nie.

Sy bewe en trek haar trui stywer om haar skouers. “Dis die nagmerries. Jy het geen idee hoe …” Maar dan maak sy die deur oop en begin uitklim.

Toe hy haar by die woonstel groet, vra hy: “Wanneer sal jy weer saam met my uitgaan?”

Sy kyk net na hom. “Dit was heerlik vanaand. Ek is bly jy het gekom. En ek is jammer oor nou die aand.”

“Ek sal weer kom,” is al wat hy sê toe hy wegdraai om te loop.

Wie is jy, Charles Ashton? wonder sy terwyl sy gereed maak om te gaan slaap. En hoe kry jy dit reg om my vir ’n paar uur te laat vergeet van die nagmerrie? En sy wonder of hy weer sal kom.

Maar hy kom weer en elke keer sien hy hoe die mantel van uitputting swaarder om haar dun skouers hang.

“Eet jy ooit as jy alleen is?” vra hy haar een aand.

Sy gee ’n skewe glimlag. “Somtyds. Dis nie meer belangrik nie.”

En ’n paar dae later kom hy maar weer en maak weer ’n afspraak, en sy gaan maar saam al is dit net vir ’n halfuur en ’n vinnige koppie koffie. Tot sy hom een aand bel net voor hy begin aantrek om haar te gaan haal.

“Ek is jammer,” hoor hy haar dowwe stem. “Ek kan nie vanaand gaan nie.”

“Wag,” sê hy gebiedend. “Wat het gebeur?”

“Niks nie,” sê sy tam. “Ek was heeldag by die hospitaal vir toetse en dis … ek is te moeg. Jammer.” En sy sit die gehoorbuis neer.

Hy staan ’n ruk en dink en gaan trek toe vinnig aan en ’n halfuur later lui hy haar deurklokkie. Dit lok geen reaksie uit nie, en hy lui ’n tweede keer en toe ’n derde voor sy die deur stadig oopmaak.

“Ek het dan gesê …” sê sy. Sy dra ’n knielengte wit japon wat sy teen haar keel vashou en sy is kaalvoet.

“Ek weet,” sê hy beslis en stap verby haar die kamer binne. “En jy het tog nie gedink ek sal dit sommer daar laat nie, het jy?”

Sy druk die deur toe en skuifel agter hom aan, terug na die rusbank waarop sy gelê het. Sy trek haar bene onder haar in en gooi die kombers wat op die vloer geval het, weer oor haar bene.

“Dit kan nie so aangaan nie,” sê hy en bly voor haar staan.

“Nee,” sê sy en hy hoor die histerie in haar stem. “Jy is heeltemal reg. Sien jy daardie bruin botteltjie op die kombuistoonbank? Ek kyk al drie uur lank daarna. En weet jy wat is binne-in? Slaappille. Seker goed drie dosyn. Ek het vir John gesê ek wil dit nie hê nie, maar hy het aangedring en daar staan dit nou. En ek kyk daarna en probeer die krag bymekaarmaak om dit te drink. Almal.”

Hy loop na die toonbank wat die kombuisgedeelte van die sitkamer skei en tel die botteltjie op. Hy lees wat daarop staan en sit dit toe in sy sak. “Wat sal dit help?” vra hy onverstoorbaar.

Sy begin huil. “Dan sal ek nooit weer so moeg wees nie.”

“Snaaks,” merk hy op, “jy het my nie getref as die soort mens wat so iets sal wil doen nie.”

“Ek ís nie,” sê sy deur haar trane en hy is bly om ’n tikkie verontwaardiging te hoor. “Maar ek is moeg!”

“Ek kan dit sien, ja.” Sy stem word meer simpatiek. “Wat het vandag gebeur?”

Sy maak eers net ’n gebaar, maar praat tog. “Ek was heeldag by die hospitaal en ek het vergeet dat ons vanaand sou uitgaan. Jy weet nie hoe dit is nie. Die ewige toetse, die nimmereindigende gesukkel.”

“Ek neem aan dit het dus sleg gegaan?”

Sy begin lag. ’n Lelike lag vol trane en bitterheid. “Nee! John verseker my ons het die keerpunt bereik en nes die uitslae bekend is, sal ons definitief weet. Die laaste resultate was al goed. Ek moet bly wees!” Sy druk haar hande oor haar oë en huil dat haar skouers ruk. Dan skud sy haar kop. “John sê hy verstaan dit nie. Ek ook nie. Ek het nooit gehuil nie.” Sy vee oor haar wange en lig haar kop op. “Weet jy dit? Nooit. Nie in al die jare nie. Daar was nie ’n dapperder vegter as ek nie. Almal het so gesê. Haar vasberadenheid gaan haar red, het hulle gesê. O, ja. Die verpleegsters het my as voorbeeld genoem wanneer ander pasiënte bedruk of moedeloos raak. Kan jy dit glo? Wat sal hulle sê as hulle my nou moet sien? Ek is ’n goeie deelnemer, maar ’n swak wenner.” Sy vee weer oor haar oë en lê terug teen die kussing. “Ek is jammer. Ek gedra my nie baie goed nie. En ek dink nie ek sou regtig daardie pille gedrink het nie. Dis nie in my aard nie.”

“Dis wat ek ook gedink het,” sê hy en gaan sit. “Maar ek hou hulle maar.”

“Nes jy wil,” sê sy en haal ’n sakdoek uit haar sak. Sy snuit haar neus en droog haar oë af. “Maar ek kan nie meer voortgaan nie. Dis al wat ek regtig seker weet.”

“En ek glo jou,” sê hy. “Ek kon dit weke gelede al sien.”

“Charles,” sê sy. “Ek weet nie of jy dit kan verstaan nie, maar ek het nie die krag om gesond te word nie. Ek wil êrens gaan lê en slaap vir ’n jaar of langer.” Sy lig haar hand op en laat dit dan sak asof dit selfs te veel krag vereis. “Dis soos iets waarin ek verstrik geraak het. ’n Spinnerak. ’n Vermufte ou laken. Ek weet nie, ek weet net ek kan nie loskom nie.”

“Dink jy nie dis tyd dat jy my vertel nie?”

“Ag,” skud sy haar kop. “Dis so … futiel.”

“Ek dink jy is dit aan my verskuldig.”

Haar oë raak weer vol trane. “Ek is jammer. Ek weet jy is reg. Wil jy nie iets drink nie?”

“Nee, dankie. Ek sal net luister.”

Weerkaatsings - 'n sprokie

Подняться наверх