Читать книгу Die dingesfabriek 1: Jannus en Kriek op die maan - Elizabeth Wasserman - Страница 6
Huis Deurmekruis
ОглавлениеHuis Deurmekruis was een van die eerste huise aan die buitewyke van ’n klein stadjie. In daardie dae was dit ’n rykmansbuurt en Huis Deurmekruis was een van die deftigste wonings in die straat.
Die klein stadjie het al hoe groter en groter geword. Die hoë geboue en besige strate van die middestad het al hoe nader en nader aan Huis Deurmekruis gekruip. ’n Groot snelweg is bykans reg oor die ou huis gebou.
Die gesinne in die ander huise het weggetrek na nuwer, stiller buurte.
Hulle huise is platgeslaan en deur fabrieke vervang. ’n Spoorlyn is gebou. Die stad het aanhou groei en groei, en die munisipaliteit het besluit om woonstelblokke in die omgewing te bou. ’n Klomp mense het teruggetrek en die lelike, vaal woonstelblokke volgemaak met vuilgesigkindertjies en raserige honde.
Nog fabrieke het verrys en die lug het grou geword van al die rook en ongure walms wat alles besoedel het.
Maar tussen al die fabrieke, vervalle woonstelblokke en nou straatjies vol rommel en dubbelgeparkeerde motors staan Huis Deurmekruis steeds dapper, ingeskuif onder die skouer van die groot betonbrug waar motors heen en weer verbyblits op die snelweg.
Die torings van Huis Deurmekruis raak plek-plek amper aan die onderkant van die brug en in die somer broei swaeltjies en duiwe tussen die dakkappe. Net die Oostelike Toring, die hoogste punt van Huis Deurmekruis, loer onder die brug uit.
Donderweer blits voortdurend om die Oostelike Toring. Om te keer dat die blitse die aandag van die motoriste op die snelweg aflei en ongelukke veroorsaak, het die munisipaliteit ’n groot advertensiebord daar opgerig.
’n Klein maar digte tuin vol kaktusse en reusekoolplante groei om Huis Deurmekruis. Die voordeur is weggesteek tussen standbeelde van klipmonsters en meerminne. Daar is ’n yslike klopper in die vorm van ’n bosvark se kop, en as iemand die deur vir jou sou oopmaak, bevind jy jou in ’n donker voorportaal met ’n dak so hoog dat die flou lig van die kandelaar skaars die vloer bereik. Binne die maag van die gebou krul ’n groot stel trappe op na die boonste verdiepings.
Die kinders se kamer is in die westelike vleuel van die gebou. Soms verdwaal hulle op pad na die eetkamer of die voordeur. Jannus dink dat die gange en trappe soms oornag verskuif, maar Kriek reken dit is nonsens.
Teen die mure langs die trap hang portrette van die Knoetsfamilie.
Die kinders hou veral van die portret van Ouma Krisantalia Renostrum Knoets, want Kriek is na haar vernoem.