Читать книгу Die dingesfabriek 1: Jannus en Kriek op die maan - Elizabeth Wasserman - Страница 7
By die skool
ОглавлениеJannus sit agter Kriek in die klas. Die kinders is besig om ’n opstel te skryf.
Juffrou Frot sit agter haar lessenaar.
Dit is doodstil in die klas, behalwe vir die gekrap-krap van pligsgetroue penne op papier.
Jannus loer oor haar skouer. Hy proes en krabbel iets op ’n stukkie papier: Skynheilig!
Hy rol die papier in ’n bondeltjie en skiet dit tot op Kriek se lessenaar.
Kriek steur haar nie daaraan nie. Sy vee die gefrommelde papier weg met die hand waarmee sy haar pen vashou.
Dit rol tot by die lessenaar links van haar.
Die lessenaar waar Dries Doringkop sit!
Dries Doringkop is die graad se boelie.
Maar Dries is nie baie slim nie. Uit die hoek van sy oog sien Dries die gefrommelde papier raak.
Hy buk en tel dit op. Hy bloos.
Dries is mal oor Kriek, maar te trots
om dit te wys.
Hy stryk die papier plat en lees: Skynheilig!
Dries bloos dieper. Wat beteken dit?
Soos baie dom en sterk mense, is Dries verwaand. Hy
reken hy is ’n aantreklike kêrel en meisies kan hom nie weerstaan nie.
Sy is beslis dolverlief op my, dink hy en glimlag slu.
Hy loer onderlangs na Kriek. Sy sit doodernstig en skryf niksvermoedend verder.
Agter haar skryf Jannus:
Dries probeer Kriek se aandag trek: “Pssst!”
Kriek kyk skuinsweg op en sien Dries se bakkies wat in haar rigting gryns. Hy knipoog vir haar.
Kriek ignoreer hom.
O so! dink Dries. Sy speel hardekoejawel!
Net toe roep juffrou Frot vir Kriek.
“Ag, Kriekie, vat gou hierdie brief vir Juffrou kantoor toe?”
Kriek is juffrou Frot se witbroodjie, sy kry altyd al die stuurwerkies.
Die ander kinders skryf voort aan hulle opstelle.
Dries vat sy liniaal en trek Kriek se boeksak stadig nader totdat dit reg langs sy lessenaar is.
Versigtig maak hy dit oop.
Haar kosblik lê bo-op haar boeke en Dries kry ’n idee. Hy sal vir haar ’n briefie in haar kosblik sit!
Hy tel die kosblik op sy skoot en maak dit oop.
Binne die kosblik blink drie donkergroen metaalballe, elk met ’n klein knalpennetjie.
Dit lyk dan soos handgranate?
Dadelik kry Dries ’n plan.