Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk - Elizabeth Wasserman - Страница 10

Die AardWag

Оглавление

Terwyl Anna nog op die strand sit en droom, is haar ma besig in haar laboratorium naby hulle huis, op die rand van die eiland.

Professor Sabatina leun vooroor en loer oor haar silwer halfmaanbril. Iets is nie pluis nie!

Sy sit op ’n stoel wat gly op ’n sirkelvormige spoor hoog bo die vloer van die laboratorium. Reg voor haar neus, en in die middel van hierdie sirkel, hang iets skouspelagtigs mooi: ’n reusagtige hologram van die aarde.

Tans bedek skadu die oostelike halfrond op die beeld van die blinkblou aardbol. Die skadulyn wat dag en nag skei, gly stadig oor die Indiese Oseaan, in die rigting van die Horing van Afrika. Dit kruip oor die groep eilande waar die Atoom-familie woon. Die eilande lyk soos smaragde in die saffier-blou oseaan. Op die hologram-aardbol is MonPetit maar so groot soos ’n muntstuk. As jy baie mooi kyk, sien jy die donker vierkant van die Atoom-familie se huis in die middel van die eiland, waar ’n liggie skielik begin flikker. Dis Ton wat die stoeplig vir Anna aansit.


Hologramme

Hologramme is driedimensionele beelde wat opgewek word deur laserlig uit verskillende hoeke te projekteer. Só kan ’n lewensgetroue figuur van jou geskep word wat, byvoorbeeld, in jou plek skool toe kan gaan.

’n Hologram is natuurlik nie solied nie, en jy sal jou hand daardeur kan steek en niks anders oorkom nie as om vir ’n paar sekondes ’n blouerige hand te hê.

Die hologrambeeld van die aarde in professor Sabatina se laboratorium is die belangrikste deel van die AardWag, die weerstasie op MonPetit. Dit beeld die aardbol in al sy glorie uit net soos wat dit regtig lyk vanuit die ruimte. Die beeld word elke paar sekondes opgedateer deur seine vanaf satellietstasies wat om die aarde wentel. ’n Mens kan sien hoe die aarde om sy as draai en hoe die wolkformasies verander.


Professor Sabatina is salig onbewus van alles: die donker buite, en haar dogter wat so laat eers van haar swemuitstappie terugkom. Haar aandag word vasgevang deur die weerpatrone wat op die AardWag se hologram wys.

Aan die sonskynkant van die aardbol is ’n onsigbare wind besig om die sand van die uitgestrekte woestyndeel in Noord-Afrika op te klits in ’n stofstorm. Die warm lug wat dit oor die Middellandse See uitstoot, veroorsaak ’n laagdrukstelsel wat sneeuwit wolke vanaf die Atlantiese Oseaan insuig. Hopelik verlig dit die droogte in die Kalahari, dink die professor.

Die berekeninge wat die rekenaar op ’n skermpie aan die kant van haar stoel projekteer, begin waarskuwend flits.

Professor Sabatina frons.

Sy tik dadelik ’n nota op die toetsbord voor haar. Blitsig word ’n stormwindwaarskuwing elektronies versend na die skepe aan die weskus van Suider-Afrika.

Dis alles deel van die werk wat sy doen. Sy bring die grootste gedeelte van haar tyd in hierdie laboratorium deur. Met behulp van die AardWag monitor sy die weerpatrone. Sy hou ook die algemene welstand van ons ekosisteem stip dop. Sy waarsku die wêreld as rampe soos ’n tsoenami of ’n vulkaniese uitbarsting dreig.

Professor Sabatina geniet elke oomblik van haar werk. Daar is nooit tyd om verveeld te wees nie. Sy is gelukkig om die beste toerusting in die hele wêreld tot haar beskikking te hê. Nêrens anders is daar iets soos die AardWag met sy hologram-aardbol en die superrekenaar wat dit bedryf nie.

Die rekenaar ontvang inligting vanoor die wêreld, verwerk die data en projekteer sy berekeninge op die AardWag. Van Arkansas tot Antarktika, van Berlyn tot Beijing, van Kuba tot Kaïro gebeur daar niks wat die aandag van hierdie gesofistikeerde stelsel ontglip nie. Navorsers wat olifante in Afrika tel, wetenskaplikes wat soek na nuwe insekspesies in die Amasone, mariene bioloë wat besoedeling in die Rooi See meet: almal stuur hul inligting na die geheuebank van die superrekenaar op MonPetit-eiland.

Die rekenaar is so slim dat professor Sabatina dikwels vergeet dat dit net ’n masjien is. Sy beskou die rekenaar as haar vriend en getroue kollega. Hy is vir haar veel meer as net ’n blikbrein, en daarom het sy vir hom ’n naam gegee: Maks.


Maks die superrekenaar

Maks is superslim, maar hy is vol streke. Hy kan enigiets bereken en die ingewikkeldste probleme binne nanosekondes oplos. Maks kan ook praat in enige van sewe-en-twintig tale, afhangend van hoe hy gestel word.

Ongelukkig is sy grammatika nie baie goed nie. Iemand het vergeet dat al die verskillende tale wat hy kan praat ook verskillende grammatikareëls het. Maks is dus geprogrammeer met net een stel grammatikareëls. Hy weet nie dat werkwoorde in die meeste tale nie meervoude het nie, en sy reëls vir byvoeglike naamwoorde werk miskien in Frans, maar nie in ander tale nie.

As Maks praat, klink hy glad nie superslim nie. Om die waarheid te sê, hy klink heel onnosel.


Maks se stem vanuit die versteekte luidsprekers verbreek professor Sabatina se konsentrasie.

“Kyke ’n bietjie na 25°02”S 130°09”W!”

Vir die professor maak die string koördinate dadelik sin. “Dis naby Pitcairn-eiland, of hoe?”

Sy zoem haar stoel op die glybaan om totdat sy oor die Stille Oseaan hang.

“Jy siene wat ek sien?”

“Ek SIEN, Maks. Ek kan egter niks SIENE nie, selfs al kyk ek met twee oë. Ons moet regtig jou taalprogram oorskryf!” Sy voel sommer vies. “Jy’s die slimste rekenaar in die hele wêreld, maar jy klink soos ’n ongeletterde swaap!”

Sy ignoreer die lang sug wat uit Maks se luidsprekers opklink en fokus haar aandag op ’n kol net noord van vier klein eilande.

Maks kry homself altyd jammer as die professor met hom raas. Om aandag en simpatie te kry, maak hy ’n geluid wat klink soos die geroeste rat van ’n ou trapfiets.

“Hou op om die gek te skeer en doen jou werk, Maks. Wat is dit wat die see hier so ’n snaakse kleur gee?”

Professor Sabatina se halfmaanbril sak af tot op die punt van haar neus. “Hier’s ’n vreemde versteuring, en die temperatuur van die water is ook te hoog.”

“A, so jy is darem nie aan die slaape nie! Arme Maks hoef darem nie alleene al die werk te doen nie?”

Die professor sug. Maks is so lief om oor alles te kla! Miskien kan sy hom programmeer om vroliker te wees. Dit sal haar lewe baie makliker maak.

Maar sy het nooit tyd vir speletjies of onbenullighede nie. Sy is te besig. Om alleen die AardWag te beman is harde werk. Boonop het sy kinders om groot te maak.

Professor Sabatina werk vir ’n groot internasionale organisasie bekend as GROEN (akroniem vir die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing). Dis ’n internasionale netwerk van wetenskaplikes wat op aarde en in die ruimte saamwerk om ons ekosisteem te bewaar. Die AardWag is een van hul heel belangrikste projekte.

Die professor druk haar neus nog nader aan die hologram. ’n Donker kring is nou duidelik sigbaar in die see.

Skielik begin ’n rooi lig teen die plafon van die laboratorium flikker. ’n Alarm skree skril.

Die volgende oomblik verskyn ’n ou man in ’n gestoffeerde leunstoel reg langs professor Sabatina. Hy hang half skeef soos wat hy omtrent ’n meter en ’n half bokant die vloer dryf. Dis natuurlik onmoontlik vir iemand van vlees en bloed om só te verskyn – die beeld van die ou man is ook ’n hologram.

Hy lyk half deurskynend en nie mooi in fokus nie. Hy flikker gevaarlik, asof hy enige oomblik gaan ontplof en verdwyn. Dis meneer Amsterdam, die direkteur van GROEN.

Die professor is nie bly om hom te sien nie. Hy is een van daardie mense wat almal rondom hom altyd verveel. Boonop meng hy geduring in met almal se werk, want sy gunstelingtydverdryf is om sy neus in ander se sake te steek.

Selfs as ’n hologram is hy nie ’n welkome gas in haar laboratorium nie, maar vandag irriteer sy ontydige besoek haar nog meer as gewoonlik. Sy is angstig om ’n verklaring te vind vir die vreemde verskynsel in die Stille Oseaan. Sy wil nie nou gepla word nie!

Meneer Amsterdam vryf sy vet vingers in sy skoot. “Sabatina, daar is ’n probleem wes van Suid-Amerika!” kwaak sy krakerige brulpaddastem. “Ek het nog nie jou verslag daaroor gekry nie, en ek wil weet hoekom jy GROEN nie op hoogte van sake hou nie.”

Professor Sabatina trek haar neus op, so asof sy ’n sterk en onwelriekende kaas ruik. As meneer Amsterdam tog net in GROEN se hoofkantoor in Holland wil bly en haar uitlos!

Vir die soveelste keer verwens sy die hologramtegnologie wat dit vir mense so maklik maak om sommer net so te verskyn waar ander werk. In die ou tyd moes jy klop voor jy inkom. Dis hoog tyd dat iemand ’n boek skryf oor etiket en goeie maniere in die era van tegnologiese kommunikasie.

“Ja, meneer Amsterdam, ek en Maks is bewus daarvan. Ek dink net u verwag my verslag ’n bietjie te vinnig, aangesien die versteuring in die suidelike deel van die Stille Oseaan maar skaars ’n halfuur gelede begin het.”

Meneer Amsterdam se gesig trek op ’n plooi.

“Sabatina, Sabatina!” sug hy. “Jy het die mees gesofistikeerde toerusting op aarde. Wat sal van ons word as ons nie op jou kan vertrou om ons betyds in te lig oor probleme nie?”

Die professor probeer hard om haar nie te vererg nie.

“Ek kan u reeds sê dat dit lyk asof die versteuring vanaf die seevloer kom. Dit veroorsaak hoëfrekwensie-klankgolwe wat oor ’n radius van sowat 10 000 kilometer versprei.”

Sy kyk ’n oomblik af na haar rekenaarskerm.

“Dit lyk nie na ’n aardbewing nie,” gaan sy voort. “Maks is besig om alle weerpatrone noukeurig na te gaan.”

Vanuit die luidsprekers kom ’n sagte gesnork.

Maks kan so moedswillig wees! Professor Sabatina wens skielik hy was ’n regte mens sodat sy hom kon aangluur, of sy hakskeen kon skop. Weet hy dan nie ’n mens moet jou gedra as die baas met jou praat nie?

En meneer Amsterdam is hulle ál twee se baas.

Ongelukkig.

Stil-stil stuur die superrekenaar nog inligting na die skerm langs professor Sabatina se stoel. Al is sy grammatika swak en al het hy geen takt nie, weet Maks hoe om met data te werk.

Die professor rapporteer verder soos sy die feite op die skerm voor haar lees.

“Gelukkig is daar op die oomblik baie min skepe in daardie omgewing. Weet u van enige boodskappe of noodseine wat ontvang is? Ek stel voor dat u eerder u kosbare aandag aan moontlike skeepvaartprobleme gee. Dit sal my en Maks die nodige tyd gun om hierdie saak uit te sorteer.”

Sy glimlag so vriendelik as wat sy kan, maar die angel in haar woorde is onmiskenbaar en haar persblou oë is yskoud.

Meneer Amsterdam is nie ongevoelig vir hierdie behandeling nie. Hy trek die een hoek van sy slakkerige bolip vies op en verdwyn met ’n elektroniese klapgeluid.

“Wel!” sê die professor. “Nou kan ons ten minste aangaan met ons werk. Maks, het jy nog inligting vir my?”

Die rekenaar bly ’n lang ruk stil. Professor Sabatina voel hoe haar maagsenuwees op ’n knop trek. Sy het ’n vermoede iets baie sleg is besig om te gebeur. Maks is nie een wat sy woorde tel nie, en hy het nog nooit voorheen so lank geneem om sy mening oor enigiets te gee nie.

Sy vryf haar silwer hare senuweeagtig deurmekaar. Hulle staan nou nog regopper as gewoonlik.

“Maks, wat dit ook al was, dit lyk of dit begin verdwyn!” roep sy dan uit. “Die skokgolwe het heeltemal verswak. As jy nie slim genoeg is om vir my te kan sê wat dit veroorsaak het nie, kan jy minstens vir my sê of hierdie golwe enige skade kon aanrig?”

“Niks meer as om die vissies wat daar rondswems se kiewe te kielies nie,” antwoord Maks. “My berekeninge is dat die golwe nie sterks genoegs was om die rotsformasies en tektoniese plate in die aarde se kors te skuifs nie.”

Weer bly die rekenaar ’n rukkie stil, asof hy dink. Die professor verwonder haar opnuut oor presies hoeveel Maks kan dink in die bestek van ’n paar sekondes. Sy weet dit sal haar ’n hele paar jaar neem om dieselfde hoeveelheid inligting te verwerk waardeur hy so blitsig gaan.

“Ek is besig om deur my databank te gaan om te siene of daar al ooit voorheen so iets gebeurs het. Ek kyke ook of daar verslae is oor die effeks van hierdie frekwensie klankgolf op seelewe.” Hy sug. “Jy moet nog ’n bietjie wagge en geduldige weese.”

“Nee, ek het al genoeg gewag, Maks!” Sy is nooit baie geduldig nie. “Dit lyk in elk geval of alles nou terug na normaal is.”

Sy is reg. Die AardWag projekteer weer die gewone beeld van die oseaan rondom Pitcairn-eiland. Die flikkerende syfers op die skerm voor haar het ook stil geword. Wat dit ook al was, dit het net so onverwags opgehou as wat dit begin het.

“Wat gaan aan? Maks, hou my op hoogte!”

“Ja-baas, goed-baas, nes baas sêe, baas!” sing-praat die rekenaar astrant.

Maar net voor die professor haar humeur kan verloor, verskyn ritse syfers en grafieke op die skerm voor haar. Maks se verslag is volledig en korrek. Dit beskryf elke stukkie detail van die vreemde gebeure wat so pas in die Stille Oseaan plaasgevind het.

Die versteuring het presies drie minute en vyf sekondes geduur. Dit lyk nie asof daar enige nagevolge is nie. Maar die belangrikste vrae bly onbeantwoord.

Wat was dit? Wat het dit veroorsaak? Hoekom het dit gebeur?

Tot laat in die nag probeer professor Sabatina en haar rekenaar antwoorde kry op al dié vrae. Hulle ondersoek elke moontlike oorsaak van so ’n ongewone verskynsel. Hulle bepaal die waarskynlike effek van die golwe op elke deeltjie van die ekosisteem.

Maar niks maak sin nie.

Toe die professor uiteindelik die hoop laat vaar om die antwoorde te vind, is dit amper middernag. Sy besef daar is niks wat sy nou meer kan doen nie. Maks sal die res van die nag alleen verder werk. Hy slaap nooit nie.

Uitgeput trek sy die deur van die laboratorium agter haar toe. Sy stap die kort entjie huis toe deur die warm tropiese nag.

Sy het al weer aandete misgeloop, en die kinders is lankal in die bed.

Anna Atoom en die seerower se dolk

Подняться наверх