Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk - Elizabeth Wasserman - Страница 11

Оглавление

MonPetit-eiland

Admiraal Atoom en Sabatina het MonPetit-eiland dertien jaar gelede gekoop, net voor Anna gebore is.

MonPetit is een van ’n pragtige groep eilande net suid van die ewenaar, amper reg in die middel van die Indiese Oseaan. Hierdie eilande is die pieke van ’n reuse-bergreeks wat duisende eeue gelede onder die see versink het.

Die hart van die eilande bestaan uit pienk graniet. Dis mettertyd bedek deur woude vol palmbome en eksotiese plante. Toringhoë takamaka-bome gooi diep skaduwees oor die strande. Broodvrugte, mango’s en avokadopere hang in oorvloed aan die bome rondom die Atoom-familie se huis. Die soet geur van tropiese blomme meng met die parfuum van kaneel en vanielje.

Die strand bestaan uit sagte sand, wit soos sneeu. Miljoene helderkleurige visse swem in die warm water van die koraalrif rondom die eiland, en snags kom lê seeskilpaaie hul eiers op die strand.

In die middel van die eiland, in die skuilte van ’n paar granietkranse, het admiraal Atoom ’n huis gebou in die tradisionele eilandstyl. Die dak is spits en stewig gepak met droë palmblare. Reg rondom die huis loop ’n ruim stoep wat skadu bied teen die fel tropiese son. Die vensters van die huis het geen glas in nie, net houthortjies wat jy kan toetrek as dit reën. Binne roer groot dakwaaiers die lug en hou die vertrekke heerlik koel.

’n Entjie weg van die huis is ’n beskutte baaitjie en daar staan ’n strandhut. ’n Motorboot vasgemeer aan ’n houtkaai dobber lui op die kristalhelder water. Dis die boot waarmee Ton Anna elke weeksdag skool toe vat.

Sou iemand toevallig met ’n seiljag hier verbykom, of dalk met ’n vliegtuig hier oorvlieg, sal MonPetit-eiland presies lyk soos een van daardie tropiese eiland-prentjies wat reisburo’s se toonvensters versier.

Maar MonPetit is geen vakansieparadys nie.

Dis die mees gevorderde weerstasie op aarde, en boonop die tuiste van ’n buitengewone familie.

Anna ken die geheime van haar eiland goed. Kort nadat sy tien geword het, het haar ma haar geleer om die Onderwater-verkenner te bestuur. Maks is verbind met al die kontroles van die duikboot en hy sorg dat alles veilig verloop. Dit maak dit doodmaklik.

Vir Anna is hierdie uitstappies saam met haar ma die grootste pret. Sy wens met haar hele hart dat haar ma meer tyd kon hê om die pragtige eiland saam met haar kinders te geniet. Maar daar is altyd een of ander ramp wat die aarde se ekosisteem bedreig en haar ma se aandag in beslag neem.

Vandat Anna agt jaar oud was, bly haar pa nie meer by hulle nie.

Toe admiraal Atoom nog op MonPetit gebly het, het hy al sy tyd aan die bewaring van die oseane gewy. Saam met sy vriend Uranus was hulle van die eerste wetenskaplikes wat vir GROEN begin werk het.


Die geheime van MonPetit-eiland

Al lyk die strandhut so gesellig van buite af, is dit geen plek vir ’n piekniek nie. Die hut is tjokvol gesofistikeerde toerusting en ingewikkelde masjinerie. Dit huisves ook die lugversorger wat dag en nag vars, koel lug aan die grotte onder die eiland voorsien.

’n Luik in die vloer gee toegang tot hierdie grotte in die graniet-maag van die eiland. In een van hulle is professor Sabatina se laboratorium, met Maks die knorrige rekenaar en die pragtige hologrambeeld van die AardWag.

’n Ander grot dien as stoorplek vir die Atoom-familie se voertuie: ’n duikboot en ’n spesiale ligte vliegtuig, die JetKopter. Daar is ’n klein ondergrondse meer in die middel van hierdie groot grot, wat deur ’n onderwaterpoort verbind word met die see. Hierdeur kan die Onderwater-verkenner die see ongesiens bereik.

Die Onderwater-verkenner is ’n miniduikboot wat professor Sabatina vir wetenskaplike ekspedisies gebruik, maar nou en dan vat sy haar kinders saam net vir die pret. Dis inderdaad wonderlik om onderwater rond te ry en alles in die see te bekyk.

’n Deel van die grot se dak kan heeltemal wegskuif. Van buite is die opening glad nie sigbaar nie, want dit word bedek deur ’n deksel van sterk plastiek wat dieselfde kleur en tekstuur as die pienk granietrotse van die eiland is. As die dak oopskuif, kan die JetKopter met gemak daardeur opstyg.

Die JetKopter is ’n kruising tussen ’n helikopter en ’n vliegtuig. Dit kan loodreg opstyg en bykans op enige plek land. Sodra dit in die lug is, vou die helikopterskroef terug en begin die straalenjins werk.

Die Atoom-familie gebruik selde die JetKopter. Dis veral bedoel vir lang reise, en sedert die admiraal se katastrofiese ongeluk verlaat die familie amper nooit die eiland nie.


Anna se pa was net so lief vir die see as sy en haar ma. Hy het grootgeword op die eilande, die seun van ’n visserman. Maar sy vrou kom uit ’n familie van slim en geleerde mense.

Kort ná hulle troue het ’n ongeluk Sabatina se familie getref. Dit het egter ’n goeie nadraai gehad: sy het ’n hoop geld geërf van ’n verlangse tante. Die tante, wat ook ’n beroemde wetenskaplike was, het ’n battery ontwerp wat die energie kan stoor wat motorenjins opwek, om dit later terug te gee as elektrisiteit. ’n Ma kan byvoorbeeld die battery aan ’n laaier by die gesinsmotor se enjin koppel, haar kinders in die oggend skool toe neem en dan genoeg elektrisiteit hê om die huishouding die res van die dag aan die gang te hou. Op dié manier word brandstof dubbel benut, en dit het beloof om die wêreld van ’n dreigende energiekrisis te red.

Die patentregte op die battery het Sabatina se tante skatryk gemaak. Ongelukkig het sy kort daarna beswyk weens ’n elektriese skok toe ’n demonstrasie van haar wonderlike toestel skeefgeloop het.

As enigste erfgenaam was Sabatina skielik in staat om iets daadwerkliks te doen aan haar en haar man se droom om die omgewing te help bewaar. Hulle het genoeg geld gehad om MonPetit te koop en die mees gevorderde weerstasie op aarde daar te bou. By die AardWag kon hulle werk en leer, die impak van die mensdom se bedrywighede op die ekosisteem bestudeer en die internasionale gemeenskap vroegtydig waarsku as die delikate balans van die natuur versteur word.

’n Eiland in die middel van die Indiese Oseaan is natuurlik ook ’n heerlike plek om te bly! En toe Anna gebore is, was hulle die gelukkigste familie op aarde.

Maar toe sy agt jaar oud was, het ’n verskriklike ding gebeur.

Haar pa het saam met sy vriend Uranus aan ’n Tornado-Absorbeerder gewerk toe ’n atoomverplasende straal hom per ongeluk vol in die bors getref het. Atoomverplasende strale word deur die Tornado-Absorbeerder gebruik om die energie van baie sterk storms te verminder. Dit was nuwe tegnologie wat nog nie voorheen uitgetoets is nie, en die effek van so ’n straal op ’n mens was totaal onvoorspelbaar.

Vir ’n paar oomblikke het die admiraal gevaarlik gebewe. Dit het gelyk asof hy gaan ontplof. Dit was asof sy molekules in miljoene submikroskopiese deeltjies wou oplos. ’n Ruk lank het sy lyf so tussen verdamping en verdwyning gehuiwer, en hy het allerhande vreemde vorme begin aanneem.

Gelukkig was hy omring deur slim wetenskaplikes. Hulle het hom in ’n spesiale tenk geprop om te keer dat stukke van hom nie heeltemal wegdryf nie. Weke lank het hulle hom probeer red, maar uiteindelik was dit duidelik dat sy molekules permanent hulle aantrekkingskrag vir mekaar verloor het. Die admiraal sou nie meer die swaartekrag van die aarde kon oorleef nie. Die enigste raad was dat hy in die ruimte moes gaan bly.

Dit was verpletterende nuus vir sy familie.

Gelukkig was die wetenskaplikes van GROEN net mooi op daardie tydstip klaar met die bou van ’n nuwe ruimtestasie. Uranus het persoonlik gesorg dat sy vriend sonder voorval daarheen kon reis. In die ruimtestasie was die admiraal veilig, en hy kon aangaan met sy werk.

Anna kon nooit weer op haar pa se skoot sit of met hom aan-aan speel op MonPetit se strand nie.

Sy sien hom darem nog elke dag. Elke aand, en gewoonlik vroegoggend ook, wanneer sy ruimtestasie oor hulle kant van die aarde wentel, maak hulle met hom kontak. Sy beeld verskyn op ’n televisieskerm langs die eetkamertafel. Die ontvangs is nie altyd ewe goed nie: soms is sy gesig net ’n donker skadu in ’n sneeustorm van stratosferiese versteuring, en die klankstroom breek op in ’n gekraak. Op ander tye is sy gesig en stem so helder dat Anna haar amper verbeel dat hy reg langs haar sit en dat hulle almal saam aandete geniet soos enige ander familie.

Die eerste paar maande nadat haar pa hulle moes verlaat, was die treurigste ooit op MonPetit-eiland. Anna en haar ma was heeltemal alleen. Iets moes gedoen word!

Professor Sabatina het gedink dis ’n goeie idee om vir Anna ’n boetie te kry. Omdat die admiraal nooit weer kon terugkom aarde toe nie, moes hulle ’n ander plan maak. Sy het die hulp van haar slim vriende, die wetenskaplikes, ingeroep.

En dis waarom Pip, Anna se boetie, nie ’n gewone seuntjie is nie.

Pip probeer gedurig om Anna te volg, oral waar sy op die eiland gaan. Dit maak haar vies, want hy is lomp en hy breek amper alles waaraan hy vat. Hy loer haar ook gedurig af en belemmer haar speletjies. Net die kwaaiste dreigemente hou hom uit haar seeslak-akwarium uit.

Al is hy half robot, half mens en uiters intelligent, reken Anna dat hy eintlik onnosel is. Hy is amper vyf jaar oud en steeds kan hy nie ordentlik praat nie. Hy maak net snaakse brom- en borrelgeluide, en hy is heeltyd in haar pad.

My geluk om so ’n broer te kry! dink sy elke keer as hy so op haar senuwees werk. Sy sou veel eerder die enigste kind wou wees en hom inruil vir ’n troeteldier, soos ’n mak vlermuis of ’n uil.

Boeties is ’n pyn.


Waar kom Pip vandaan?

Pip is ’n BioTron.

’n BioTron is ’n mengsel van mens en masjien.

Op die oog af lyk Pip soos ’n doodgewone seuntjie. ’n Deel van sy brein bestaan egter uit ’n gesofistikeerde rekenaar, en die beheer van sy spiere en sintuie is ook ietwat anders.

Die gevolg van hierdie modifikasies is heel interessant. Pip kan vinniger hardloop as enigiemand anders. Hy is ook buitengewoon sterk.

Maar ten spyte van al sy uitsonderlike eienskappe is hy net so irriterend soos enige ander kleinboetie.


Anna Atoom en die seerower se dolk

Подняться наверх