Читать книгу Anna Atoom en die seerower se dolk - Elizabeth Wasserman - Страница 6
Die karakters in die boek
ОглавлениеAnna Atoom
Anna is twaalf jaar oud. Sy het kort, donker hare wat net nie plat wil lê nie. Sy is mal oor die see en hou seeslakke aan vir troeteldiere. Sy het ’n boetie genaamd Pip.
Professor Sabatina Atoom
Sy is Anna en Pip se ma. Sy is ’n wetenskaplike wat die weerstasie op MonPetit-eiland monitor. Haar werk hou haar baie besig.
Admiraal Abraham Atoom
Anna en Pip se pa. ’n Ongeluk vroeër met ’n Molekulêre Verplaser het die aantrekkingskrag tussen die molekules in sy liggaam verbreek. Daarom kan hy nie meer die swaartekrag van die aarde weerstaan nie en moet hy in die ruimte bly.
Pip Atoom
Anna se boetie. Hy is ’n BioTron en dus half mens, half robot. Hy kan wonderlike dinge doen, maar soos die meeste kleinboeties pla hy net meestal vir Anna.
Ton
Hy werk vir die Atoom-familie en kan alles doen. Hy kook, hy neem Anna elke dag met die motorboot na die skool op die groot eiland, en hy bou allerhande slim elektroniese toerusting. Ton is reusagtig groot en baie sterk. Niemand weet waar hy vandaan kom nie, of wat hy voorheen gedoen het nie.
Hodoul
’n Berugte seerowerkaptein wat meer as tweehonderd jaar gelede ’n skrikbewind in die Indiese Oseaan gevoer het. Toe hy moeg was vir seerowery, het hy op die Seychelle-eilande afgetree. Sy nasate bly tot vandag toe nog daar.
Raymond Hodoul
Die seerower Hodoul se agter-agterkleinkind.
Mevrou Salie
Die vrou wat in die argief werk op die eiland waar Anna skoolgaan.
Uranus Draak
Die slimste wetenskaplike in die wêreld. Hy is ’n kollega van Anna se ouers.
Meneer Amsterdam
Die hoof van GROEN (Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Ekologiese Navorsing), die agentskap waarvoor Anna se ouers werk. Die doel van die organisasie is om die aarde se ekosisteem te help bewaar.