Читать книгу Speurhond Willem in die ruimte - Elizabeth Wasserman - Страница 2
6
ОглавлениеLansering
Ek dink ek het my bewussyn verloor. Die krag waarmee die vuurpyl vanuit die swaartekrag van die aarde breek, het my heeltemal oorweldig. Doktor Krot het my gewaarsku dat dit kan gebeur. Mens se bloed bly so te sê in jou tone agter terwyl jou kop opskiet na die sterre toe.
My eerste gewaarwording is dat ek effens naar voel. Toe draai my maag nog meer van skone senuwees toe ek ont-hou waar ek is!
Die binnekant van die ruimtekapsule word dof verlig deur die fluoresserende ligte op die instrumentpaneel. Ek sukkel steeds om myself te oriënteer. Waar is bo en waar is onder? Dan hoor ek Willem langs my praat. Hy sit dood-luiters daar in sy ruimtepakkie, asof hy wag vir die rugbywedstryd op die televisie om te begin.
Willem hou daarvan om Saterdagmiddae saam met my pa rugby te kyk. Hy is mal oor die biltong wat gewoonlik byderhand is, en hy hou baie van die rusbank se sagte kussings. Eintlik dink ek hy maak meestal sommer net of hy rugby kyk, terwyl hy eintlik sit en slaap. Ek twyfel of hy regtig omgee wie wen.
“Dit is Sojoes TMA 23 aan Baikonoer. Baikonoer, kom in!” Dit is Willem wat so slim klink. Hy het mooi geluister na al ons instruksies, en hy praat reeds soos ’n veteraan-ruimtevaarder.
Die videoskerm voor ons flikker aan. ’n Swart-en-wit beeld van doktor Krot, alewige koffiekoppie steeds in die hand, word so duidelik na ons geprojekteer dat dit lyk asof die hangsnor-ou hier reg voor ons staan.
“Haai daar, Willem, Baikonoer hier,” antwoord hy. “Hoe gaan dit daar bo, ou maat?”
Willem loer na my kant toe. Ek is nie seker of hy homself as ’n maat van doktor Krot wil beskou nie. Willem is kieskeurig!
“Alles reg, natuurlik!” ’n Mens sou sweer hy word elke Saterdagmiddag gou opgeskiet ruimte toe.
“Nou ja, julle twee kan vir eers bietjie ontspan. Die lansering het perfek verloop. Dit gaan julle nog agtien uur vat om tot by die Internasionale Ruimtestasie te kom, en die koppeling sal outomaties gemaak word sodat julle aan boord kan gaan. Intussen het ek gedink jy sal dalk hallo wil sê vir ’n ou maat van jou?”
Die beeld op die skerm verander en skakel oor na ’n kamera op die Ruimtestasie self.
“Boris!” sê Willem bly. Ek hoor ’n snaakse klopgeluid. Bekommerd kyk ek rond, maar dan besef ek dit is Willem se kort stert wat so binne-in sy ruimtepakkie swaai.
Ek kyk mooi na die beeld van die ruimtehond wat na ons geprojekteer word.
Boris is ’n wollerige brakkie wat vrolik met ’n wye oop bek lag. Dan druk hy sy snoet tot teen die videokamera sodat ons net twee nat neusgate sien.
“Staan bietjie terug, skattie, dat ek jou kan voorstel aan my huismens!” sê Willem.
Huismens? Skattie?
“Is Boris …” begin ek, uit die veld geslaan.
“Boris mag wel ’n man se naam wees, maar sulke dinge gebeur dikwels. Ek ken ’n ou wie se naam Klara is. En wat van ons buurvrou, tannie Jan? As jy jou huiswerk ordentlik gedoen het, sou jy gelees het dat die Russe net wyfiehonde gebruik in hulle ruimteprogramme!” snou Willem my toe.
O, nee! My hond het ’n meisie!