Читать книгу Speurhond Willem in die ruimte - Elizabeth Wasserman - Страница 3
7
ОглавлениеIn die ruimte
Oor Willem se gekoer met sy langverlore liefde sal ek liewer nie uitwei nie.
Sy mag miskien ’n baie intelligente hond wees, maar Boris praat nie menstaal nie. Van hul blafferige tjank-gesprek verstaan ek dus gelukkig min, maar dit is nie te moeilik om af te lei dat die twee tortelduifies baie na mekaar verlang het nie.
Gmf!
Tussen dit alles deur vergaap ek my aan die ongewoonheid van my omgewing.
Die binnekant van die Sojoes-kapsule is glad nie soos ek my voorgestel het nie. In plaas van die luukse ruimteskepe van die flieks, laat dit my baie meer dink aan die krat waarin ek en Willem ons toegespyker het toe ons onsself Turkye toe gepos het. (Lees hieroor in Speurhond Willem op reis.) Oral is daar knoppies en vreemde instrumente. Dit is baie beknop, en daar is nie eens ’n venster nie.
“Is ons regtig, egtig in die ruimte?” wonder ek hardop. Doktor Krot moes my gehoor het, want skielik verskyn daar beelde op twee ander skerms.
“Kyk!” sê hy. “Hierdie beelde kom van julle aanboord-televisiekameras.”
Op een van die skerms vul die blou skyf van die aarde bykans die hele beeld. Dit is wondermooi! Ek sien die uitgestrekte persblou van die Indiese Oseaan. Die donker skadulyn van die aankomende aand sny net oos van Madagaskar verby. Afrika lê in rou sonlig reg onder ons. ’n Bank spierwit wolke bedek die suidelike punt.
“Dit reën vanaand by jou huis!” lewer doktor Krot kommentaar.
Trane brand skielik agter my oë. Wat het ek aangevang? Ek dink aan my ma en my pa daar doer ver onder ons. Ma is seker in die kombuis, besig om aandete te maak terwyl sy een van haar lawwe deuntjies sing, steeds in haar skik omdat ek skynbaar die spelkompetisie gewen het. Pa sit waarskynlik nog vas in die verkeer op pad terug huis toe.
En hier wentel ek, hulle enigste seun, derduisende kilometers bo die aarde en hulle weet nie eens daarvan nie.
Vir die eerste keer dink ek daaraan dat dit sekerlik vrek gevaarlik is. Dalk gaan ons nooit weer terug nie! Hoe gaan hoofkommissaris Servin dít aan my ouers verduidelik? Internasionale krisis of nie, hy gaan sekerlik in groot moeilikheid kom omdat hy my so sonder my ouers se toestemming “ontvoer” het.
Willem moes seker agtergekom het ek voel nie so lekker nie.
“Kyk eerder na die ander skerm!” sê hy.
Ek kyk.
Die ander skerm se kamera projekteer weg van die aarde, in die ruimte in. Die sterre van die Melkweg lê ontbloot in al hulle kristalhelder glorie. My asem steek skoon vas in my keel – dit is so mooi!
“En kyk net daar!” sê Willem. Die beeld fokus op ’n voorwerp wat soos ’n muskiet teen die fluweeldonker heelal hang. Ons beweeg vinnig nader daaraan.
Dit is die Ruimtestasie!