Читать книгу Speurhond Willem in die ruimte - Elizabeth Wasserman - Страница 4
8
ОглавлениеDie Internasionale Ruimtestasie
Ek weet nie mooi watse prentjie ek van die Internasionale Ruimtestasie in my kop gehad het nie, maar ek sou verse-ker nooit kon raai dat dit só sou lyk nie.
Ek kyk seker na te veel Amerikaanse televisieprogramme.
Die Internasionale Ruimtestasie, het hoofkommissaris Servin aan my verduidelik, verteenwoordig die mensdom se modernste tegnologie tot op hede. Dit is veronderstel om die toppunt van al ons slimmighede te wees: ’n gesamentlike projek van verskeie nasies om die ruimte te oorwin.
Maar vir my lyk dit meer na iets wat Karel se kleinboetie met sy Lego-blokkies op sy kamervloer gebou het.
Dit lyk asof alles sommerso hot en haar saamgeflans is. Twee massiewe sonkragpanele steek weerskante van die Ruimtestasie uit, soos die vlerke van ’n reusagtige muskiet. Elkeen van die panele bestaan uit vier blaaie, wat weer op hulle beurt in twee dele opgedeel is. Tussen hierdie groot “vlerke” hang ’n versameling silinders en vierkantige kamers, soos ’n klomp verdwaalde buitegeboue wat met gangetjies verbind is.
Dit is al waaruit die Stasie gemaak is.
Ek onthou dat doktor Krot vertel het dat die dele van die Stasie op aarde gebou is en toe stuk-stuk hier in die ruimte aanmekaar gelas is. Mens kan dit sien. En hulle het nie eens probeer om die verskillende stukke by mekaar te laat pas nie. Daar is geen sprake van die elegante, stroombelynde vorms van die ruimteskepe in flieks nie. Dit lyk sowaar soos ’n drywende blikkiesdorp!
“Hoe ver is ons bo die aarde?” vra ek.
“Omtrent so driehonderd kilometer,” antwoord doktor Krot. “En jy mag dit dalk interessant vind om te weet dat die Ruimtestasie elke dag sewentien keer om die aarde wentel. Om dit reg te kry, is ’n gemiddelde spoed van 27 743,8 kilometer per uur nodig. Ek twyfel of jy al ooit tevore so vinnig gery het!”
“Sjoe, sowaar?” Ek kan skaars dink hoe vinnig dit moet wees. Maar vir my lyk dit of die Stasie tjoepstil teen die donker ruimte hang.
“Maar hoe kry die Ruimtestasie dit reg om so vinnig te beweeg?” wonder ek hardop. Ek sien geen teken van ’n groot enjin of enigiets anders wat lyk asof dit die lompe stellasie kan voortdryf nie.
“Onthou, jy is nou in die ruimte. En die ruimte is ’n reuse-spasie vol niks. Daar is geen atmosfeer wat wrywing veroorsaak nie. Al wat nodig is, is om die Stasie aan die beweeg te sit, en so nou en dan vuur ons ’n kleinerige enjin as die rigting effens aangepas moet word. Dus is stroombelyning nie nodig nie, en in die oop ruimte handhaaf alle voorwerpte ’n konstante spoed totdat iets hulle stop. Dit is die eerste van Newton se wette, onthou?”
Newton se wette? Ek sal beter moet oplet in die wetenskapklas. Ek moes heeltemal te veel feite absorbeer die afgelope dag of wat. My kop pyn sommer!
“Kyk!” sê Willem, en hy stoot ’n knyperbord met notapapier na my kant toe. Dit kom doodluiters teen ’n konstante spoed na my toe aangedryf, net soos wat doktor Krot verduidelik het.
Ek vang dit uit die lug en bars uit van die lag. Willem se ore het opgestyg en dryf om sy kop rond soos twee groot seile. Hy lyk heeltemal laf!
“Die enjins van julle kapsule het ophou vuur ter voorbereiding vir julle koppeling met die Stasie,” verduidelik doktor Krot van die televisieskerm se kant af. “Julle sal nou gewigloosheid begin ervaar.”
Gewigloosheid! Hoe kan ek dit beskryf? Ek voel hoe my lyf losraak van my stoel. Net die sitplekgordel hou my terug. Ek voel lig en vry. Dit is min of meer soos om onder water te wees, net veel, veel beter.
“Bly vasgegordel, asseblief,” word ons gewaarsku. “Ons gaan nou met die outomatiese koppelingsprogram begin. Dit gaan omtrent ’n uur neem. Eet solank ietsie.”
Ja, ek is skielik dood van die honger. My maag voel asof hy nog nooit kos gesien het nie.
Al ons kos is netjies verpak in gemerkte plastiek- en aluminiumhouers. Ek skil dadelik ’n sjokolade af. My ma is mos nie hier om te sê ek moet my poeding laaste eet nie!
Willem is dors, maar die strooitjiedrinkery gee hom probleme. Hy druk die vloeistof uit die sakkie en dit vorm ’n reusagtige, koeëlronde druppel op die punt van die strooitjie. Net toe hy dit wil hap, wikkel dit los en dobber soos ’n groot jelliebal deur die lug. Willem knip sy sitplekgordel los en sweef agterna.
Ek dog ek lag my dood. In my lewe het ek nog nie iets so snaaks gesien nie! Elke keer as Willem na die borrel water hap, versplinter dit in tientalle kleiner borrels wat in alle rigtings wegdwarrel. Willem se plomp lyf is nog vetter in die ruimtepak, maar gou leer hy om sy bewegings min of meer te beheer en die waterjagery raak ’n heerlike speletjie.
Ek help ook om die borrels water bymekaar te maak. As jy twee van hulle saamdruk, smelt hulle saam tot ’n groter een. Op dié manier kry Willem darem sy dors geles.
Teen die tyd dat ons kapsule veilig gekoppel is aan die Internasionale Ruimtestasie, sit ons weer stroopsoet vasgegordel in ons sitplekke.
Net Willem se nat ore vertel ’n ander storie.