Читать книгу Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman - Страница 10

Оглавление

Diep onder die Aarde

Anna wonder of sy nie maar moet omdraai nie. Die vloer van die tonnel waarin sy stap, daal skerp en die lug is donker en swaar. Haar flitslig speel oor die pienk graniet waardeur die tonnel kerf. Graniet is die boustof van die middelste eilandgroep van die Seychelle-argipel waar sy en haar familie woon. Haar ma het haar vertel dat hierdie eilande eens die toppe van ’n groot vasteland was wat in vervloë dae met die skuif van die tektoniese plate onder die see in verdwyn het.

Verbeel jou: ’n hele kontinent, weggesink onder die see!

Sy wip soos sy skrik toe iets skielik laag oor haar kop fladder. ’n Vlermuis! Die wande van die tonnel rek verder oop, en dan hoor sy ’n gedruis voor haar. Sy koes toe ’n stroom vlermuise skielik oor haar kop duik. Die lug om haar is gevul met die gewarrel van hulle vlerke en ’n onaardige tjirgeluid. Sy skrik so groot dat sy amper haar flits laat val.

Sy ken die groot vrugtevlermuise van die Indiese Oseaan goed. Hulle hang in die dag onderstebo en slaap in die toppe van die hoogste bome. Hulle kan goed sien, selfs in die nag. Saans kom hulle soos reusevlieërs uit die boomtoppe geseil om hul strooptog op die vrugtebome rondom Anna-hulle se huis uit te voer. Veral die mango’s is vir hulle onweerstaanbaar!


Hoekom is spesies op eilande so kwesbaar vir uitwissing?

Diere wat goed aangepas is om in alle omstandighede te oorleef, is versprei oor die hele wêreld en sal nie sommer maklik uitsterf nie. Dink maar aan die kraai: ’n mens vind hulle oral, selfs in plekke waar die meeste ander diere al verdwyn het.

Eilande is egter afgesonderd, en oor die eeue heen het baie eilandspesies so goed aangepas by die unieke toestande op hul tuiseiland dat hulle nêrens anders kan oorleef nie.

Neem nou maar die dodo. Die afwesigheid van roofdiere op Mauritius het hulle so lui gemaak dat hulle ophou vlieg het. Die res is geskiedenis.

Wat is die les wat ons hieruit leer? Dat dit gevaarlik is om te gespesialiseerd te raak!

Die vlermuise wat op die Seychelle-eilande voorkom, is kieskeurige eters. Hulle eet slegs sekere insekte wat net daar voorkom, en baie van hierdie insekte eet weer plante wat spesiaal aangepas is om te groei in die grond en die klimaat van die granieteilande naby die ewenaar, en nêrens anders nie! As indringers soos mense dus kom en net die kleinste deeltjie van die ekosisteem versteur, soos byvoorbeeld om ’n bos uit te kap vir brandhout of om plek te maak vir ’n groentetuin, of dalk gif gebruik om insekte dood te maak wat die tamaties vreet, stort die hele spulletjie inmekaar en spesies soos hierdie unieke vlermuis sterf vinnig uit.

Dink jy dit is moontlik om sulke spesiale diertjies soos dié as troeteldiere aan te hou? Kry maar eerder ’n brak!


Hierdie vlermuise is egter ’n heel ander soort. Soos alle vlermuise wat in grotte woon, is hierdie spul blinde insekvreters wat hul pad in die donker vind deur klankgolwe as ’n soort biologiese sonar te gebruik. Wat Anna nie besef nie, is dat sy so pas ’n kolonie van ’n baie skaars soort vlermuis ontdek het.

Hulle is baie kleiner as vrugtevlermuise, en word gekenmerk deur die web wat tussen hul agterbene strek, in die plek van ’n stert. Die web, saam met die diertjie se vlerke, help hulle om vernuftig deur die lug te sweef. Dié skildstertvlermuise kom net op ’n paar eilande in die Seychelle-eilandgroep voor, en volgens berekeninge is daar nog net omtrent ’n honderd van hierdie spesifieke diertjies oor, behalwe die twee wat haar pa reeds veilig in die RuimteArk bewaar.

Sy lig met die flits om haar rond. Die wande van die tonnel het padgegee en sy staan nou in ’n reusegrot. Die ligstraal glim teen iets blinks teen die dak: stalaktiete! Hierdie rotsformasies vorm deur die eeue wanneer mine­raalryke water uit die dak van die grot drup. Dit weet Anna, want sy het dit iewers in ’n National Geographic-tydskrif gelees. Dit is interessant om dit nou self te sien!

Die grot is nie baie groot nie, en sy sien nog ’n paar vlermuise teen die dak sit. Sy probeer om hulle nie te steur nie, want die gefladder oor haar kop ontsenu haar.

Hoe lekker om so ’n grot te vind, een waarvan niemand anders weet nie! Sy kan nie wag om dit vir Darius te kom wys nie. Oor ’n dag of wat is hy weer hier, terug op MonPetit. Dié keer sal hy ses weke lank kuier, die volle somervakansie van sy kosskool in Switserland. Anna se skool sluit vir vier weke, en sy probeer nog steeds haar ma oortuig dat sy maar die twee weke wat Darius hier is, ook uit die skool kan bly.

Haar ma wil niks daarvan hoor nie.

“Skool is belangrik, Anna!” sê sy.

“Maar Ma …!”

Anna hou daarvan om met haar ma te stry.

Die gedagte aan Darius laat die grot minder donker en gevaarlik lyk. Hulle kan ’n piekniekmandjie hiernatoe bring, en kerse …

Skielik sien Anna ’n opening aan die kant van die grot. Daar is sowaar ’n tonnel wat verder gaan! Die vloer van die tonnel daal hier skerp af, dieper onder die eiland in.

Anna steek vas. Sy is skielik bewus daarvan dat die lug koud is, en dat sy eintlik maar dun aangetrek is. Sy vryf oor die hoendervleis op haar boarm. Hoe lank sal haar flits se battery nog hou? Dalk kan sy eerder later terugkom en vir Brak saambring. Sy ooglense kan goeie lig maak, soos die koplampe van ’n miniatuurmotortjie. En miskien Pip ook?

Pip sal mal wees oor die grot! Maar as Pip weet waar dit is, het sy geen kans om in vrede hier te kom kuier saam met Darius nie. Dalk moet dit hulle twee se geheim bly?

Die gedagte om ’n geheim met Darius te deel, maak haar heel opgewonde. Dit is lekker om iets te weet wat hy nie weet nie! Darius is slim, en nogal verwaand daaroor. Sy weet hy is trots daarop dat hy ’n leerling aan een van die bekendste skole in die wêreld is, en sy gaan maar net skool op ’n eiland. Haar klasmaats is meer geïnteresseerd in visvang as in kwantumfisika.

Sy besluit om liewer vir Darius te wag voordat sy die nuwe tonnel verken. Sy draai om en kyk nog ’n bietjie in die vlermuisgrot rond.

Haar gedagtes dwaal weg.

Die grot sal haar weer ’n kans gee om dit onder Darius se neus te vryf dat haar lewe hier op die eiland, verlate soos dit mag wees, baie meer opwindend en avontuurlik is as die grys klipgeboue waar hy heeljaar vasgevang is saam met tweehonderd ander seuns, en van die beste onder­wysers wat daar is …

Sy dink weer aan al die stories wat Darius vir haar vertel. Maks het hulle gehelp om hulle skootrekenaars so op te stel dat hulle elke aand met mekaar kan praat. Daar is ’n drie uur tydsverskil tussen Switserland en die eilande, en Darius kan gewoonlik net ’n paar minute afknyp van die streng dissipline van sy kosskool. Nogtans kry hulle dit reg om bykans elke dag ’n kort video-gesprek met mekaar te hê.

Anna se huismense was nog te besig om op te let dat sy deesdae meer aandag aan haar voorkoms gee. Ton sou dalk iets agtergekom het as hy meer van meisie-dinge geweet het, maar alhoewel sy skerp oog ’n verandering by Anna bespeur, skryf hy dit bloot toe aan haar proses van grootword – ’n misterieuse storie vir hom!

Anna is so ingedagte dat sy haar toon teen ’n klip op die vloer van die grot stamp. “Eina!” roep sy uit. Haar stem eggo spookagtig teen die rotswande en sy ril.

Tyd om terug te gaan! Sy vind die tonnel waardeur sy gekom het en begin terugstap. Haar gedagtes begin weer dwaal en sy dink aan Pip. Hy is nou sewe jaar oud, en hy behoort saam met haar na die skool op die hoofeiland toe te gaan. Maar nee, haar ouers reken hy is te spesiaal en daarom kan hy privaat onderrig kry hier op die eiland. Daar is selfs ’n rooster vir hom opgestel: Ton leer vir hom wiskunde en meganika net na ontbyt, en daarna gaan hy na professor Sabatina se laboratorium toe vir lesse in spraak en taal. Anna het voorgestel Maks moet hulle daarmee help, maar niemand het gedink sy is snaaks nie.

Waarop Anna mees jaloers is, is die halfuur wat haar broer elke weeksoggend by die eetkamertafel sit terwyl hulle pa vir hom ’n biologieles gee vanaf sy RuimteArk. Dit is nie regverdig nie! Daar verveel sy wat Anna is haar elke dag dood in die skool op die hoofeiland, terwyl haar pampoenpit van ’n broertjie die lekkerste lesse kry op die eiland, en tussendeur saam met die dodo’s rondhardloop of visvang.

Sy is so diep ingedagte dat sy skaars agterkom hoe lank sy al loop. Dan tref dit haar: moes sy nie al lankal die einde van die tonnel bereik het nie?

Anna Atoom en die digitale draak

Подняться наверх