Читать книгу Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman - Страница 6

Оглавление

In die middel van die nag

Anna skrik wakker en sit penorent in haar bed.

Alles is doodstil. Brak sit in die hoek van haar kamer en die liggies agter sy ooglense gloei dofweg. Hy is nog in sy slaapprogram. Hy skakel homself elke oggend klokslag sesuur aan, en dan begin hy dadelik in die kamer rondspring.

Dit is bykans stikdonker.

Anna stoot die laken van haar af en swaai haar voete oor die rand van die bed. Iets het haar wakker gemaak, maar alles is nou doodstil afgesien van die see wat sag sug onder in die baai. Sy voel met haar tone na die hout­vloer en leun vorentoe. Sy spits haar ore en onderskei die sagte tjr-tjr van die dakwaaier wat die soel naglug deur haar kamer sirkuleer. ’n Muskiet het haar op haar boarm gebyt en sy krap die jeukplek ingedagte.

Hoe laat kan dit wees? Die res van die huismense slaap sekerlik vas. So geruisloos as moontlik stap sy na haar venster. Die maan is so donker dat sy die wasige plasma van die ruimte tussen die sterre van die Melkweg kan sien hang.

“Die ruimte is nie leeg nie!” het Ton haar vertel. “Die spasie tussen die sterre is oorweldigend groot, maar dit is gevul met vrye ione en elektromagnetiese golwe onsigbaar vir die menslike oog.” Vir Anna voel die ruimte onbereikbaar ver, en baie leeg. Iewers daar bo wentel haar pa se RuimteArk, gemaak uit dik, halfdeursigtige materiaal wat geen lig weerkaats nie. Onsigbaar.

Sy wonder wat hy nou doen?

Dan hoor sy dit weer. Is dít die geluid wat haar wakker gemaak het? Dit is ’n veraf gezoem, soos bye wat druk aan die werk is. Sy stoot die houtluik van haar venster verder oop en gaan sit op die vensterbank voor sy haar bene na buite swaai. Geruisloos stap Anna na die rand van die stoep en tuur uit oor MonPetit-eiland.

Die see lê wyd en stil soos ’n donker spieël. ’n Briesie roer die blare van die palmbome langs die huis. ’n Skielike plofgeluid laat haar wip van die skrik. Sy ontspan gou weer, want sy ken daardie geluid – dit is net ’n ryp kokosneut wat val. Maar tog … daar is iets in die lug wat haar pla en sy span haar sintuie in om dit vas te pen. Die strandhut wat die ingang na haar ma se laboratorium versteek, lyk pikdonker. Die sanderige paadjie af na die baai glim dof in die sterlig. Digte plantegroei vou die slapende eiland toe in ’n knus kombers van blare.

Anna hoor ’n paar paddas kwaak vanuit die rigting van die granietspits wat die hoogste punt van hul eiland vorm – daar is ’n krans waar die water altyd drup en die grond klam bly. Sy klap weer na ’n muskiet wat honger naderzoem. Dan vang iets haar oog: ’n vreemde gloed tussen die blare agter die huis. Dit lyk asof dit na die middel van die eiland beweeg. Sy stap om die stoep na die agterkant van die huis om beter te kan sien. Vir ’n oomblik dink sy dat sy haar net verbeel het – alles is donker en stil. Maar dan sien sy dit weer – ’n ligstreep van stippels wat stadig opkruip teen die paadjie na die krans, en dan skielik weer verdwyn.

Anna se nuuskierigheid kry die oorhand. Sy draai om en glip terug oor die vensterbank na haar kamer. Sy vroe­tel in die laai van haar bedkassie en haar vingers vind haar flits. Sy gebruik dit gewoonlik net om haar plakkies in die chaos van haar hangkas se bodem op te spoor, maar nou kan dit uiteindelik ’n behoorlike doel dien!

Sy skakel nie die lig aan nie. Voor sy nie weet of die ligspikkels dalk net haar verbeelding is nie, gaan sy liewer niemand anders pla nie.

Die tropiese nag is bedompig en gou word die dun T-hemp waarin sy geslaap het klam van die sweet terwyl sy die paadjie wat teen die steil helling na die middel van die eiland kronkel, volg. Daar is ’n uitkykpunt bo-op die spits. Sy en Pip sit graag daar om die skepe wat verbyvaar dop te hou, en soms hou hulle klipgooiwedstryde na die toppe van die bome onder hulle.

Die paadjie is oorgroei met lowerryke tropiese plante, en hier en daar moet sy koes vir die sterk spindrade van palmspinnekoppe se webbe. Sy weet hulle is skadeloos, maar nogtans gril sy vir die reusegediertes, sommige van hulle so groot soos haar hand. In die ligstraal van die flits lyk die spinnekoppe nog meer skrikwekkend, en Anna wonder of dit so ’n slim idee was om haar ondersoek alleen aan te pak.

Maar daar is dit weer, sommer naby haar! Die liggies is nou duideliker, en sy kan sien hoe hulle in ’n reguit lyn saamvlieg voor hulle teen die krans verdwyn. Dit lyk sowaar soos ’n stroom vuurvliegies op pad na ’n geheime vuurvliegvergadering!

Sy het nog nooit ’n regte vuurvliegie gesien nie, maar sy onthou prentjies van hierdie oulike insekte uit ’n boek vol feëverhale waarvoor sy besonder lief was toe sy nog ’n klein dogtertjie was. Die boek het steeds ’n ereplek op haar boekrak: die hoeke van die buiteblad voos gevat en die bladsye geskif van eindelose kyk na die mooi prentjies daarbinne.


Vuurvliegies

Vuurvliegies hou van warm klimaatstreke, en omdat hulle hul eiers in klam grond lê, vind mens hulle dikwels naby stroom­pies of in vleie. Daar is meer as tweeduisend verskillende spe­sies vuurvliegies in die wêreld, maar hulle is almal familie van mekaar. Elke spesie flits sy liggie met ’n unieke ritme, en so ken hulle mekaar uit.

Die liggies is natuurlik ’n manier om mekaar te vind in die donker, maar ook ’n waarskuwing vir insekvreters om liewer iets anders vir aandete te soek. Vuurvliegies smaak nie lekker nie, maar wat help dit as die aanvaller dit eers uitvind nadat hy reeds ’n hap gevat het?

Hoekom brand ’n vuurvliegie dan nie uit nie?

Die vuurvlieg maak sy liggie deur ’n chemiese reaksie wat spe­siale selle in sy onderlyf laat fluoresseer. Die liggolwe wat afgegee word, is van ’n spektrum wat “koue lig” genoem word omdat dit nie hitte oordra nie. “Ligvliegies” sou dalk ’n beter naam vir hulle gewees het!


Anna stap om ’n bos oortrek met geurige maanblomme, en skielik is die ry liggies sommer hier by haar. Flits vuur­vliegies dan nie hulle liggies nie? wonder Anna. Die klein fakkeltjies wat kort voor haar neus verbyvlieg, gloei met ’n konstante neongroen lig, baie soos die skynsel wat die trappe na haar ma se laboratorium verlig. Een van die vuurvliegies vlieg so naby aan Anna se neus verby dat sy haar hand daarna uitsteek. Die vuurvliegie maak ’n netjiese landing op haar voorarm.

Anna beskou die gediertetjie versigtig. Sy liggie gooi ’n kolletjie op haar voorarm en in die middel daarvan sit die vreemdste insek wat sy nog ooit gesien het. ’n Sekonde lank woer sy vlerkies nog en kom dan tot rus.

Dadelik besef Anna dat dit nie ’n gewone insek is nie. Dit het wel ses pote en ’n stel stewige vlerke, maar in plaas van twee saamgestelde oë is daar ’n enkele kameralensie in die middel van sy ronde metaalkoppie.

Dit is ’n bioniese vuurvlieg! Op daardie oomblik kom die vlerkies weer in beweging en die vuurvliegie styg op. Hy hang ’n oomblik om Anna se kop en trek dan weg in die rigting van die ander.

“Kom terug!” roep Anna onwillekeurig. Sy strompel agter die ry liggies aan, maar dit is asof die vuurvliegies aspris vinniger vlieg om haar te ontduik. Een vir een verdwyn die liggies van die voorstes, en net betyds sien Anna hoe die laaste een by ’n skeur in die rotswand inglip. Sy druk haar gesig teen die growwe graniet. Sy kan die ry liggies duidelik sien wegsmelt in die donker grot binne die krans. Sy skyn die lig van die flits deur die gleuf: dit lyk asof dit diep in die rots af strek na die binnekant van die berg toe. Dalk is dit ’n tonnel wat na ’n grot onder hulle eiland lei?

Die AardWag en die ondergrondse meer waar die Atoom-familie die JetKopter en die Onderwater-verkenner hou, is juis in so ’n stel grotte onder die eiland geleë. Wie sê daar is nie nog grotte nie?

Wie weet watter interessanthede ’n mens dalk in sulke grotte sal aantref?

Anna is nie iemand wat op haar laat wag nie. Sy moet weet waarheen hierdie vreemde vuurvliegies op pad is!

Sy lig met die flits op en af langs die rotsgleuf. Onder by haar voete het die sagte grond ingekalwe en dit lyk asof die opening daar breër is. Sonder om twee keer te dink, hurk sy en kruip-rol deur die nou opening. Sy pas net-net daardeur.

Anna steur haar min aan die modderstreep wat nou oor haar linkerwang lê. Die ligte katoen van haar kortbroek het ’n winkelhaak geskeur toe dit vasgehaak het aan ’n droë tak. Maar sy is deur die rotsgleuf! Die spasie rondom haar raak binne ’n tree of wat breed genoeg dat sy gemaklik kan loop. Sy kan steeds die gloed van die vuur­vliegies voor haar sien en sy volg dit haastig.

Anna Atoom en die digitale draak

Подняться наверх