Читать книгу Anna Atoom en die digitale draak - Elizabeth Wasserman - Страница 7
ОглавлениеVerkenners
Anders as wat Anna gedink het, slaap nie almal op die eiland nie.
In haar laboratorium leun professor Sabatina Atoom vorentoe om die rekenaarskerm voor haar nog beter te kan sien. Soos altyd staan haar kort silwer hare woes in alle rigtings, en haar halfmaanbril het afgesak tot op die punt van haar neus.
“Maks, tel jy die seine van elke Vlioon op?”
“Elke liewe enetjies, professor!” verseker die rekenaar haar. “Hulle vliegs mooi volgens hul programmerings, en ons ontvangs hul terugvoeringe duidelik.”
“Fantasties! As ons loodsprojek werk, kan ons die bioniese vuurvliegies in elke aktiewe vulkaan ontplooi. Dit sal die vermoë van die AardWag om vulkaniese uitbarstings te voorspel aansienlik verbeter.”
“Ek integreers hulle beeldmateriaal nou, sodat ons kan siene wat hulle siene.”
Die skerm voor haar neus flikker vir ’n oomblik, en dan sien Sabatina die buitelyne van rotse en blare. Die vuurvliegies se kameras is sensitief vir infrarooi lig en vir temperatuur, en selfs in die stikdonker projekteer dit ’n duidelike beeld van die gebied waardeur hulle vlieg terug na die AardWag. Die beeld het weliswaar nie goeie kleurkontras nie en bestaan meestal uit skakerings van groen, blou en geel. Sabatina weet dat dit helderrooi sal wys waar dit uiters warm omstandighede teëkom, byvoorbeeld lawa in die hart van ’n vulkaan.
Skielik vul iets onverwags die beeld van die skerm. Dit lyk soos ’n reuse-oog! Sabatina vroetel met die kontroles voor haar en verlaag die vergroting van die kamera op Vlioon D36. Die beeld zoem terug. Sy herken dadelik die bos stekelrige hare, baie soos haar eie, maar net donkerder, wat bo die oog verskyn.
Anna!
Professor Sabatina trek haar asem skerp in.
“Maks! Is dit my dogter? Wat maak sy daar?”
Die rekenaar antwoord eers nie. “Dit moet ’n artefak weese!” beweer hy dan. “Anna is veronderstel om te slaape hierdie tyds van die nag, sodat sy kan groeis!”
Haar ma pons ’n kode op die sleutelbord voor haar in. Dit plaas haar in verbinding met die Persoonlike Kommunikeerder wat Anna om haar arm dra.
“Anna! Waar is jy?”
“Dit helpe nie, professor, haar Kommunikeerder lê op haar bedkassie. Ek kan dit siens met my opspoorstelsel. Sy moes dit afgehaale het toe sy gaan slaaps het.”
“Deksels! Dink jy sy is agter die Vlione aan? Dit sal gevaarlik wees! En ons is in die middel van ons toetsvlug! Kan jy die projek staak?”
“Jammer, professor. Soos jy weete, is die Vlione op selfbestuur, en hulle vlieges volgens hulle eie programmering. Hulle is geprogrammeers om reguit na hul bestemming te vlieges, ons kan hulle nie stops of laat omdraaies nie.”
“Skakel my deur na Ton se kamer!” beveel sy die rekenaar. Maks het dit reeds gedoen. Die beeld voor haar projekteer ’n slaperige Ton. Hy dra blou-en-wit gestreepte pajamas en vryf verbaas sy oë. Selfs sy kaalgeskeerde kop lyk effens gekreukel.
“Ton, maak seker dat Anna nie iewers in die huis is nie. Indien nie, moet jy haar gaan soek. Ek dink sy is agter ons Vlione aan.”
“Vlie-WAT?” vra Ton skaapagtig.
“Dit is ’n lang storie!” Professor Sabatina byt haar lip senuweeagtig. “Dit is klein bioniese drone wat GROEN ontwerp het om vulkaniese aktiwiteit dop te hou. Ek en Maks is besig om hulle uit te toets!”
“Drone?” vra Ton, steeds verbaas.
“Ja, man! ’n Droon is ’n onbemande vliegtuig, dit weet jy tog! Hierdie outjies is egter baie klein, net so oor ’n sentimeter lank. Hulle is toegerus met miniatuur-videokameras en sensors sensitief vir temperatuur en vibrasies …”
“Sowaar!” Ton is nou wawyd wakker. Hy is bitter lief vir enige elektroniese foefie, en dit is duidelik dat hy dodelik nuuskierig is oor hierdie klein bioniese drone. “Maar wat het dit met Anna te make?” vra hy dan.
Maks projekteer dadelik die video-opname van Anna se oog en haar kuif, wat Vlioon D36 minute gelede teruggesein het. Ton snap dadelik wat aangaan.
“Waar vlieg hulle heen?” wil hy weet. Maks projekteer ’n kaart wat ’n deursnit van MonPetit-eiland wys. Die grotte in die graniet is duidelik sigbaar onder seevlak: die professor se laboratorium waar die AardWag is, die klein kamertjie waar Maks se prosesseerders staan, en die ondergrondse meer waar die Onderwater-verkenner dobber. Maar dit is nie al nie: daar is ook ’n netwerk van tonnels wat vanaf die granietspits in die middel van die eiland lei. Een van die tonnels verdwyn aan die onderste rand van die kaart.
“Waarheen lei daardie tonnel?” wil Ton weet.
“Ons ken nie die presiese verloop van die tonnel nie, maar ons weet waar dit eindig. Ons het die samestelling van die atmosfeer in die tonnel getoets, en dit het dieselfde samestelling as … maar dit is ’n lang storie. Die netwerk tonnels onder ons eiland en die plato waarop dit lê, is juis wat MonPetit so ’n goeie plek gemaak het vir die Vlione se eerste vlug.”
“Daar is vulkaniese aktiwiteit hier nabys,” wei Maks uit. “Die Afrika- en die Indo-Australiese tektoniese plate ontmoets nie ver van hier af nie. Onthou die Chivonne wat vasgevange was onder die gestolde lawa?”
“Maar dit was tweehonderd jaar gelede!” roep Ton verbaas uit.
“’n Blote oogwinks in die tyds van die heelal,” sê Maks.
“Dit is nie nou die tyd vir aardrykskundelesse nie!” snou Sabatina. “Ons moet gaan kyk waar Anna is!”
Ton is reeds besig om sy groot voete in sy plakkies in te druk. “Ek sal gaan, professor. Die naglug is sleg vir jou, en dalk is dit beter dat jy dinge monitor vanaf die AardWag.”
Tektoniese plate en aardbewings
Die aarde se kors is saamgestel uit ’n aantal reuserotsplate waarop die groot vastelande soos Afrika, Asië en die Amerikas lê. Dit word tektoniese plate genoem, en daaronder word ’n laag gesmelte rots gevind wat magma genoem word. Hierdie vuurwarm rots vorm die lawa wat soms by vulkane uitborrel.
Daar is sewe groot plate, en natuurlik nog ’n klomp kleineres ook. Die tektoniese plate beweeg voortdurend, stadig maar seker, soos wat hulle ronddryf op die laag magma wat die kern van die aarde omhul. Aardbewings vind plaas wanneer hierdie tektoniese plate teen mekaar beur en skuur. Druk bou op, amper soos rugbyspelers in ’n skrum, en as iets iewers meegee, word energie skielik vrygestel, soms met katastrofiese gevolge.
Die grond onder jou voete is nie so stewig as wat jy dalk mag dink nie!
“Naglug sleg vir my?” vra professor Sabatina. Dit is nou haar beurt om skaapagtig te klink. “Daar is niks verkeerd met my vermoë om die naglug van MonPetit-eiland te hanteer nie!” Maar sy weet Ton is reg. Sy sal meer nuttig wees om die instrumente dop te hou hier vanaf haar laboratorium. Dalk kry sy Anna weer te sien op een van die Vlione se kameras. Dit is te sê as Anna nog naby die miniatuurdrone is! Dalk het sy al weer teruggekeer huis toe en is sy al terug in haar bed.
Waar sy hoort – want môre is ’n skooldag!