Читать книгу Speurhond Willem in Australië - Elizabeth Wasserman - Страница 5
1
ОглавлениеWaar is Willem?
Willem is weg, en ek sukkel om gewoond te raak aan die lewe sonder hom.
Dit is nou al drie weke vandat hy vertrek het.
Een oggend, toe ek opstaan, was hy net weg. Op my lessenaar was net ’n briefie.
Moet jou nie oor my bekommer nie.
Sê asseblief niks vir Servin nie.
Ek kom binnekort terug. Wees soet.
Hy het duidelik die briefie op my rekenaar getik en dit uitgedruk, maar onderaan was sy pootafdruk en ’n smeersel ink wat tot op die blad van my lessenaar gedrup het.
Ek was eers vies, en toe hartseer. Hoe kon my goeie ou vriend my net so los?
Dit was die eerste keer dat Willem iewers heen gaan sonder om my saam te vat. Dit het gelyk asof hy baie haastig weg is, en waarom moes hy so geheimsinnig wees?
Boonop was my ma vreeslik vies oor die inkgemors.
Ek het Willem maar ’n paar jaar gelede ontmoet: net nóg ’n rondloperhond in een van die staalhokke by ons plaaslike Dierebeskermingsvereniging. My ma en pa was van plan om vir my ’n oulike babahondjie uit te kies: ’n geskenk vir my negende verjaardag. Ek wou nog altyd so graag ’n hond gehad het!
Ek onthou goed hoe opgewonde ek daardie dag was. Min het ek geweet hoe Willem my lewe sou verander. Ons was van die begin af onafskeidbaar. Saam het ons allerlei avonture beleef, en die hele wêreld vol gereis. Ons was al selfs in die ruimte! Vra maar vir hoofkommissaris Servin. Hy weet van alles.
Die hoofkommissaris het ons al op vele avonture gestuur. “Willem is my regterhand,” het hy eenkeer gesê. “En jy, Adriaan, is sowaar my linkerhand!”
Dit is waar. Willem is seker die slim een van ons twee. Hy is die opgeleide speurhond, terwyl ek net ’n gewone seun is.
Maar my lewe saam met Willem was allesbehalwe gewoon.
Nou is hy weg – drie weke al!
Ek sukkel om op my huiswerk te konsentreer. Die somme maak net nie sin nie …
Iets val en breek in die kombuis. My ma se stem klink skril op. Wat vang sy nou weer aan?
Vet weet wat kry ons vanaand vir aandete, want my ma oefen. Sy wil haar inskryf vir een of ander kookkompetisie. My ma! Sy kan skaars spinasie kook sonder om die water te laat brand. Gisteraand was dit ’n sampioengedoente wat platgeval het met ’n duik in die middel, soos ’n ruimteskip op pad na Mars. Sy het dit voorgesit met vars kappertjieblomme en ’n sous met die geur van ou sokkie. En boonop is die televisie deesdae heeltyd op ’n kookkuns-kanaal. My pa glimlag net en sê dis goed dat sy uiteindelik iets gekry het om haar mee besig te hou.
Sy sê sy doen dit om my onthalwe: lekker kos sal my opbeur, want ek is bekaf oor my hond wat weg is.
Lekker kos sal help, ja: ’n pizza of spaghetti met kaas of selfs ’n hamburger van die wegneemplek op die hoek. Maar die goed wat sy deesdae saamflans in haar kombuis? ’n Man kan nie die sokkerspan haal met ’n maag vol taai risotto nie.
Ek haal ’n sjokoladestafie uit my wegsteekplek agter in my sokkielaai en skeur dit oop. Ek vrees dat ek vanaand weer half honger gaan slaap!
Die garagedeur dreun oop – my pa is by die huis. Soos gewoonlik loop hy eers ’n draai deur die tuin om sy koninkryk te inspekteer en seker ook om sy gedagtes bymekaar te kry voordat hy inkom om sy gesin te kom groet. Mens het moed nodig om my ma in haar kombuis te trotseer! Boonop is al twee vas oortuig dat hulle enigste seun nou aan depressie ly. Hulle probeer alles om my aandag af te lei van my verlore hond, maar …
“Adriaan!” Pa se stem klink op in die gang. “Het jy al weer vergeet om vandag die pos uit die posbus te haal?”
“Jammer, Pa!” brul ek en zap blitsig ’n zombie op my rekenaarspeletjie met ’n kanonkoeël. Veel meer pret as somme!
My kamerdeur gaan oop.
“Hoe lank sit jy al so in die donker?”
Ek kyk op. Die son het reeds gesak en al lig in my kamer is die rekenaarskerm. Ek druk die space bar en die zombies op die skerm vries. Ek sug. Hier kom nog ’n preek.
“Het jy nie huiswerk nie?”
“Klaar gedoen,” jok ek.
“Het jy sokker gaan oefen vanmiddag?”
“Dit het gereën.”
“In my dae het ons ons nie laat afsit deur ’n paar druppels reën nie.”
Ek sug weer.
My pa kom sit op my bed. Hy lyk moeg. “Ek’s jammer, seun, daar is nog steeds geen nuus nie.”
“Moenie worry nie, Pa, Willem sal terugkom. Ek weet!”
“Ek het weer al die diereskuilings gebel. En ek het ’n nuwe advertensie in die plaaslike koerant laat sit. Met ’n beloning, dié keer. ’n Klomp geld!”
My ouers is nie ryk nie. Ek meen, my pa het ’n goeie werk en als, maar ons is nie die soort gesin wat ’n klomp geld op ’n verlore brak kan uitgee nie. “Dis gaaf, dankie, Pa,” sê ek en bedoel dit regtig. Hoe moet my ouers weet dat Willem nie sommer net ’n hond is wat sal wegdwaal nie? Nee, Willem is iewers besig met iets, en dít sonder my. Ek voel skielik sommer vies vir hom. Hoe kan hy my net so los?
“Hy is ’n mooi hondjie,” probeer my pa verder troos. “Dalk het iemand hom net opgetel langs die pad en …”
Nou kan ek myself nie keer nie: ek giggel.
“Wat is so snaaks?” vra Pa, half vies. Dat hy hom ’n “mooi hondjie” noem, natuurlik. My Willem, wat karate ken en al ’n hele bondel internasionale boewe laat les opsê het! Maar ek sê liewer niks nie. My ouers moet liewer nooit agterkom wie Willem regtig is nie.
“Wat is dit, Pa?” vra ek en wys na ’n vet, roomkleurige koevert wat hy in sy hand hou.
“Dít was in vandag se pos – en nogal geadresseer aan Willem.”
Voor hy kan keer, gryp ek dit. Sowaar, in krullerige drukskrif staan daar Willem Senekal, met ons adres onder sy naam.