Читать книгу Speurhond Willem in Australië - Elizabeth Wasserman - Страница 6
2
ОглавлениеDie Victoria-kruis
Pa skuif sy bril vorentoe en frons. “Dis seker weer een van jou maats wat ons ’n poets wil bak. Wie stuur nou ’n brief aan ’n hond?”
Gewoonlik sorg ek dat ek eerste by die posbus uitkom, want in ons huis is pos vir die hond glad nie so vreemd as wat hy dink nie. Soms is dit pakkies, soms is dit groot bruin koeverte vol lugposplakkers. Willem het selfs sy eie e-posadres wat hy met ’n wagwoord beskerm wat ek net nie kan ontsyfer nie. Soms bestel hy goeters oor die internet en boonop gebruik hy dan my pa se kredietkaart vir sy aankope. My pa kom dit gelukkig nie agter nie. Of dalk dink hy dis maar net my ma?
Ek draai die brief om en dan sien ek dit: die rooi wasseël van die Britse koningshuis. My hart begin vinniger klop: waar Willem ter sprake is, weet mens nooit!
Ek skuif die brief onder my rekenaar se sleutelbord in. “Gaan jy dit nie oopmaak nie?” vra my pa.
“Dis seker maar net een of ander advertensie vir hondekos. Kom ons gaan eet eers,” sê ek. “Ek dink Ma is weer besig om een van haar spesiale geregte voor te berei.”
My pa sug.
Ná ete (geskroeide biefstuk met ’n groen sous, en ’n paar klonte kapokaartappel) gaan sit ek op my bed en trek die brief weer nader.
Ek lees dit blitsig en my asem slaan sommer bollemakiesie agter in my keel. “Willem gaan sowaar ’n medalje kry!”
My ma druk haar kop om my deur. “Wat sê jy daar, Adriaan, met wie praat jy?”
“Niks nie, Ma. Ek praat sommer met myself.”
Sy kom sit langs my op die bed en gee my ’n drukkie. Ek druk die brief vinnig onder my sitvlak in.
“Adriaan, ek en jou pa het gepraat. Miskien is dit tyd vir ’n nuwe hondjie?”
My hart klop nog steeds vinnig. Ek het ’n hond: een wat ’n medalje gaan kry, die Victoria-kruis nogal, en nou wil my ma vir my ’n ander een koop. My mond hang oop, en my ma dink dit is van blydskap.
Sy glimlag breed. “Môre! Of nee, oormôre. Môreaand is die kookwedstryd. Maar die dag daarna kan ons een gaan uitkies. Ná skool. Wat van ’n kleiner soort, dalk ’n Jack Russell? Nee, hulle kou alles … wat van ’n poedeltjie?”
’n Poedel? My ma wil sowaar vir my ’n poedel koop. Dit sal Willem ’n les leer!
“Ons kan een kry wat ’n bal gaan haal as jy dit vir haar gooi, ’n mooier een as Willem. Jy weet, Willem was maar knorrig, veral die afgelope tyd, en jammer om te sê, liefie, hy het nie altyd so lekker geruik nie.”
My ma babbel nou aanmekaar, maar my gedagtes skuif weg na die koninklike brief onder my boud. Ek moes vinnig lees, maar ek het klaar gesien wat ek wou sien: die medalje gaan in Sydney, Australië, oorhandig word.
Is dit dalk waar Willem is?