Читать книгу Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker - Страница 5
2
Оглавление“Selfmoord,” meen tante Helena toe Esperanza haar by haar aankoms vertel sy is hier om oor die oorlog verslag te doen. “Luanda gaan eersdaags ’n spookstad wees,” sê sy en trek haar kopdoek styf oor haar gladde swart hare. Om haar afgetakelde krom skouers gooi sy ’n tjalie. Sy lyk soos iemand wat in ’n vorige eeu vasgesteek het. Haar klein kothuisie tussen roosbome versterk die beeld met swaar horingou houtmeubels uit ’n vergange era, tafeltjies met kleedjies, die gesellige gemoedelikheid van hope ornamente en ’n opwengrammofoon. Hierop speel sy gereeld haar fado’s – treurliedjies oor die noodlot se wreedheid – en drink port in klein teugies.
“Jy moet teruggaan en trou. Wat maak ’n mooi meisie soos jy hier in die gemors? Dit is ’n begraafplaas,” raas die eensame ou matriarg. Al haar kinders het reeds vertrek. Vriende kom groet ook nog elke dag. ’n Hele nasie staan op reis.
Luanda is ’n stad aan die vlug. Die inwoners leef op die randjie van histerie oor ’n oorlog wat daagliks nader kruip.
Esperanza se drie dae word ’n week en dan twee. Sy oortuig Lee per teleks die groot nuus breek een van die dae. Elke aand beveel hy haar om terug te kom, maar sy ignoreer dit en stuur haar berigte deur.
Sy leer ken vir Elvira, die hotelbestuurder. Die eens beeldskone vrou trek in die styl van vervloë dae se dansmodes aan en stap met die uitdagende grasie van ’n eertydse danseres. Haar oë weerspieël vergete drome oor kort seisoene van glorie toe sy ’n aktrise was.
Sy het ’n uitgebreide kring vriende en kontakte. Esperanza besef gou sy kan haar help en maak vriende met haar. Die hotel word haar tweede tuiste.
Portugese van oraloor kom na Luanda as veilige poort na Portugal, Suid-Afrika of Suid-Amerika. Sy voer onderhoude met drie of vier generasie oue Angolese. Hulle drome is aan skerwe. Elke vliegtuig word toegeswerm deur moedelose reisigers wat betyds wil uitkom. Hulle is kwaad, wanhopig en hartseer.
“Ons sal nie November sien nie,” sê Helena. Sy sit nog ’n fado-plaat op, skink ’n port en sak neer in haar leunstoel om na die liedjies vol verlange en weemoed te luister. Sy maak nie aanstaltes om uit Luanda te kom nie. Esperanza verstaan dit nie, maar neul nie om die ou dame se ore om die land te verlaat nie.
Op ’n dag kom sy tuis en vind haar tante in die bed, haar liggaam krullend van pyn. Sy verdwyn klein en oud tussen ’n hoop vereduvets. Esperanza probeer om haar in ’n hospitaal te laat opneem en medisyne te kry, maar rig nie veel uit nie.
“Dit sal nie help nie. Ek het kanker. Ek wou jou nie vertel nie. Ek was bang jy bly net om my ontwil.”
Hierna is Esperanza nog meer vasberade om haar uit Luanda te kry, maar tante Helena is te swak om te reis. Al wat Esperanza kan doen, is om haar so goed moontlik te versorg.
Intussen maak haar berigte wêreldwyd opslae. Sy skryf oor hoe die Angolese die uittog ervaar, hoe vlugtelinge stadig maar seker die land verlaat en oor veldslae waarvan sy nuus kry. Sy laat haar foto’s by die plaaslike koerant se laboratorium ontwikkel en smokkel dit via Elvira se netwerk uit.
Lee was reg – die somer begin en dit voel of sy in ’n tropiese hel rondswem. Smiddae bly sy tuis, want die son dwing elke asemteug uit haar lyf. Daar is al hoe minder om te eet. Gou is daar te min water. Tante Helena kreun en steun al hoe meer van pyn. Esperanza kan haar nie meer so gereeld afspons nie. Daar is geen dokters oor nie, geen enkele hospitaal of apteek oop nie. Soms sien sy hoe tant Helena uit ’n pynkoma kom en beduie sy moet ’n fado speel.
Esperanza hou die vensters toe. Die vullisverwyderingsdiens is gestaak. Smiddae ruik die lug na vrot vleis. Die smeulende hitte laat die stad na ’n groot komposhoop voel. Saans staan die huise sonder ligte, hul gebreekte vensters soos lewelose oogholtes in skedels. Die aarde se arms reik omhoog na ’n wolklose hemel.
Sondronk lê die wit stad. Een vir een maak die winkels toe. Daar is lankal nie meer restaurante of kafees nie. Verkeersligte werk, alhoewel daar nie meer ’n motor in sig is nie. Dié staan verroes en vol stof langs die sypaadjies. ’n Klein groepie bekendes begrawe tant Helena Oktobermaand in ’n begraafplaas vol sipresse.
Esperanza besluit om nie dadelik te vertrek nie. Sy wil voor Onafhanklikheidsdag na die oorlogsfront beweeg. Indien dinge te warm raak, kan sy Lee se kontak gebruik. Alec Mardon – klink soos ’n filmster. Sy weet waar in Luanda sy hom in die hande kan kry. Sy het daarvan seker gemaak. Hy is dalk nog haar reddingstou na die buitewêreld. Sy skryf oor die besonderhede van veldslae waarvan sy hoor, oor Roberto se aanslag uit die noorde en Jonas Savimbi van Unita s’n uit die suide. Oor fluisteringe om die MPLA en Kubane. Oor die kinders wat grootgemaak is om dood te maak.
Oor ’n vierhonderd jaar oue oorlog wat nie einde wil kry nie.
Die gebroke teerpad van Benguela na Luanda is seshonderd kilometer lank. Die pad is gebaken met omgerukte padtekens, kliphopies en padversperrings. In die droë seisoen stof die aarde op. Die son is dae lank bloot ’n veraf trom, en tamboer die dag se kom en gaan.
Met nat seisoene draal wolke oor die maanlandskap totdat buie neerruis. Deur die waas van stof of wolke verkleur die hemelliggame die maan tot amber, die son tot oker.
Skemer is ’n seisoen – lankal nie meer ’n dagewening nie.
Benguela, stad onder akasias, blom uit die geel barheid op. Esperanza klim verlig uit die trok. Sy is deel van ’n Portugese televisiespan op ’n frontbesoek. Sy het die spanleier in Luanda bevriend en oorreed om haar saam te neem.
Die reis was ’n nagmerrie. Jaag en wag, jaag en wag – dit was hul lot. ’n Dolle gejaag tussen padblokkades om uit die spervuur te kom. Daarna ’n eindelose gewag en sielkundige speletjie met wagte by die wagposte. Hier koop een sigaret vir jou ’n paar kilometer teerpad.
Een van Unita se kantore aan die front is gesetel in ’n luukse villa. Waar vrolike tuinpartytjies eens gehou is, staan nou kiste ammunisie. Soldate leunslaap teen groot onthaalvertrekke se mure. Esperanza se groep wag hier vir vervoer en nog ’n verslaggewer. Sy rus op die koel veranda met haar rug teen die dik muur. Sy laat tam haar kop agteroor sak en maak haar stofseer oë toe.
Waarin het sy haar begewe? Sy het ’n roekelose pad na die onbekende geneem sonder om aan haar bestemming te dink. Die koorsgevoel ken sy goed. Jare al plaas sy haarself onder sulke druk. Miskien het sy dit hierdie keer te ver gevoer. Wie kan sin maak uit hierdie mal oorlog? Haar oë knip oop.
In die stoep se hoek vroetel ’n donkerkopman sy natgeswete T-hemp ingedagte uit sy demin en trek dit oor sy kop. Sy gespierde rug is op haar gedraai. Hy vou sy hande agter sy kop en strek hom moeg uit.
Soepel spiere verstyf tot bondels krag. Sy bruingebrande bolyf staan stil teen die warm newelbeelde in die verte en die middaggloed hou hom bewend vas. Sy wil met haar lou hande die sweet op sy ruggraat afvee. So moet hy vir ’n ewigheid staan. Sy silhoeët draai na die huis. Hy maak sy denim se dik leergordel los en haal dit in ’n lang trekbeweging af. Met sy duim ingehaak in sy los broekband stap hy vir ’n rukkie heen en weer terwyl hy nadenkend oor sy hare vryf.
Deur haar halfgeslote oë soek sy na iets bekends aan hom. Dit is so al asof sy hom al iewers in ’n skare of op straat gesien het. Iets krap aan haar onthou. Wie is hy? Sy ritssluiter girts oop en hy trek sy denim uit. Sy sien sy bobene is nog sterker as wat sy gedink het. Sy het haar hom reeds kaal voorgestel toe hy sy T-hemp uitgetrek het. Verontrus moet sy erken sy begeer hierdie vreemdeling vandat sy netnou haar oë oopgemaak het. Verward sluit sy haar ooglede. Miskien is hy net ’n desperate droom, ’n skim van haar uitgeputte verbeelding. Toe sy haar oë weer oopmaak, is hy steeds daar, geklee in ’n kortbroek en ’n T-hemp.
Dan staan hy voor haar met sy hande op sy heupe. “Hoe lank kruip jy al daar weg?” vra hy geamuseerd. Sy maak asof sy nou net wakker geword het en haal haar skouers op, staan op en stap vinnig weg.
“Wag vir my!” skree hy en val langs haar in. “Nie so vinnig nie. Is jy op pad na die bevelvoerder?” Sy knik net kortaf. Sy Engels is goed, maar met ’n swaar aksent. Hy moet maar dink sy verstaan hom nie goed nie. Hier vertrou sy niemand nie. ’n Roekelose onverskilligheid spreek uit sy berekenende glimlag. Sy donkerblou oë het meer geheime as beloftes. Langs sy mond is diep vertikale lyne en op sy voorkop horisontales asof hy dikwels son-in kyk. Sy dag oue baard laat hom eerder sorgeloos as onversorg lyk. Donker krulle val oor sy voorkop sodat hy telkens nodig het om dit uit sy oë te skud. Sy wonder hoekom die man haar so roer. Miskien is dit die soort bui waarin sy is. Dalk wil sy ’n man blindelings begeer om te voel sy lewe nog. In die soeke na sin in hierdie oorlog maak die sintuie lankal nie meer saak nie. Nugter, aardse verlangens tel – soos rou, naakte hunkerings van die bloed. Later sou sy dit nog minder kon verklaar. Al wat sy weet, is op die koel veranda met die smeltwarm dag ver anderkant bougainvilleas, kurf elke stroompie sensualiteit soos nog nooit vantevore nie haar liggaamsrondinge vol. Hulle sluit by die televisiespan aan. “Gerard Jobert,” stel die donkerkop hom voor. Hy is die Franse joernalis op wie hulle gewag het.
’n Krulkoptiener in kamoefleerklere stap die vertrek binne met ’n outomatiese geweer oor die skouer. Op sy melkbaardgesiggie is reeds ’n soldaat se doelgerigtheid. Hy stel homself as Francisco voor en lei hulle na die motor. Hy sit langs die bestuurder met sy geweer skuins oor sy knie. Sy sit styf teen Gerard ingeprop op die agterste sitplek. Harde haartjies op sy voorarm skuur teen hare. Hy vertel haar meer van die front. Dit is lank nie sy eerste besoek nie. Sy luister aandagtig na hom, maak notas en leer hom aan sy gebare, idiome en gesigsuitdrukkings ken.