Читать книгу Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker - Страница 6
3
ОглавлениеHulle stop by ’n paar beskadigde brûe en ry deur ’n uitgebrande gehuggie na ’n plantasiedorpie. Hier wissel die gesag gereeld tussen verskillende oorlogsgroepe. Veraf klink skote op. Vanmôre nog was die dorp in besit van die MPLA. Nou is die bordjies verhang. Al die inwoners het gevlug. Die skelette van uitgebrande huise staan soos aasvoëls aan die dorpie se buitewyke.
“Dit lyk soos ’n soldatekamp, met dié verskil – die gewere word deur tieners gedra,” sê Gerard. Sy volg sy oë na waar ’n groep vyftienjariges speel.
“Die jong meisies lyk asof hulle die oorlog van hulle wil afwas.” Sy beduie hom na ’n groepie met blinknat hare. Tussen hulle knoop ’n band van menslikheid en ’n gedeelde hartseer oor vermorste jong lewens.
Terwyl die span films skiet, loop Francisco met die outomatiese geweer op gereed asof hy ’n aanval verwag. Uiteindelik het die span genoeg stof. Hulle klouter terug in die motor, maar Francisco besluit om te bly. Niemand kry hom omgekoop of oorreed om saam te kom nie.
Sy sak terug en raak aan die slaap op die donkerwordende pad. Haar kop kantel op Gerard se skouer, maar sy gee nie meer om nie. Sy kan nie langer stry teen die band tussen haar en die vreemdeling nie. Sy voel in haar lotsbestemming is ’n inskrywing gemaak. Hul lewensweë het geswaai om hier in die middel van nêrens te kruis. Vorentoe sal haar paadjie sy spoor dra. Sy kop rus teen hare en hy gee hom oor aan die dag se eise. Dit maak nie saak of hy sy opdrag oorskry nie. Die middag was ’n jaar lank.
“Ek skiet jou vir aandete,” spot hy toe hulle in Benguela kom. “Mineraalwater en beskuitjies.” Hy dwing haar om reguit na hom te kyk en sy blik te ontmoet. Sy stap weg om die klem te breek wat die vol dag om hulle geklink het. Ongeduldig trek hy aan haar kamerasak en draai haar na hom. “Ons het mekaar nodig.”
Sy weet hy is reg. Op hierdie dorpie onder die uitgedoofde sterre smag sy daarna om iemand teen haar aan te trek. Sy wil al haar vertwyfelinge en vrede teen die klam holtetjies in sy nek fluister.
“Kom,” neem hy die beskuit vir haar. Hulle stap na die dorp se enigste hotel.
Die gesette hoteleienaar met sy knypbrilletjie en yl haartjies sluit oop en neem hulle sonder kommentaar na ’n bedompige kamer. ’n Mosserige reuk kleef aan die lug. Teen die dak draai ’n stukkende plafonwaaier toe die wind effens opkom. Hulle sak neer op die nou enkelbedjie.
“My koningsmaal,” sê Gerard en haal eet- en drinkgoed uit. Hy bied haar die bottel eerste aan. Koel glip die lafenis in haar stowwerige keel af. Sy gee die bottel terug. Toe hy dit by haar neem, verenig hulle in ’n moedelose verlange. Vasgevang in die emosionele krag van die oomblik glip sy een hand oor hare. Dit is asof hy ’n klippie in die water gooi: kringe van gevoel sirkel oor haar. Sy plaas haar ander hand ook oor syne. Hulle is gestroop van oorbodige gevoelens en die mensemaskers van normale wêrelde. Hulle is geesgenote wat troos soek. Die uitmergelende dag, besoek aan die plantasiedorpie, selfs die voortslepende oorlog trek hulle in ’n kolk van emosies in. Die stil, koel hotelkamer is nou hul enigste werklikheid. Hier tred die tyd ligweg. Toekoms, verlede en hede is deur vandag gelykgemaak.
Seuns opgeneem in ’n ander geslag se oorlogsdrifte, grootoogkinders voor wagposte, ontbindende lyke op teerpaaie en die verrottende, smetterige reuk van oorlog: dit is die nagmerrie waarvan hulle wil wegkom.
“Vandag het ek meer om te vergeet as om te onthou,” fluister sy hees.
“Dan het jy goeie herinneringe nodig.” Hy stoot haar moulose T-hemp se bande van haar skouers af.
“Ek het jou op die stoep sien uittrek,” sê sy.
Elke plooi op sy gesig ontspan. “Ek weet.”
“Hoekom het jy nie so gesê nie?”
“Jy het te weerloos en hartseer gelyk. Ek wou jou in my arms optel en op die beste manier denkbaar troos. Maar ’n stoep by ’n oorlogskantoor is nou nie juis die mees geskikte plek daarvoor nie.”
Sy moegheid verdwyn toe hy in ’n tergende minnaar verander. Hy maak haar haarbandjie los en bedek haar kopkroon met vlindersoene terwyl sy hande na haar middel glip en besit neem van die sweterige vlaktetjie tussen haar heupe. Hy trek haar T-hemp oor haar kop en gooi syne ook argeloos eenkant.
Sy kyk na hom met ’n glimlag van herkenning. Sy bolyf is in hierdie halflig vol van naakwees se nagnuanses. Nou weet sy hoe vurig sy hom begeer het. Met hierdie wete trek sy hom hard op haar af. In hul naakte liefkosing is ’n stille wanhoop. Kan hulle die pyn vir mekaar weghou? Sal hul lippe keer dat die nag hulle ook genadeloos aftakel?
Sy kruip teen hom op en druk haar vaster teen hom sodat sy warm palms se klamte in haar rug indruk. Sy ferm bors dein soos ’n brander oor haar bolyf terwyl sy fyngestemde vingers haar weerloos streel. Haar vertwyfelinge en vrese word een vir een opgehef deur die onteenseglike aandrang in sy gespierde liggaam se kragtige rondings totdat daar nog net een grens is om oor te steek. Maar voordat sy kan antwoord op sy gefluisterde “Mag ek?” jaag ’n klomp voertuie met skreeuende remme en flitsende ligte verby die hotel. Hy twyfel nie vir ’n oomblik nie, gryp haar vas en rol onder die bed in. Hulle wag op skote, maar toe net die waaier na ’n ruk voortklik, trek hulle vinnig aan en hardloop hand in hand gangaf.
Die gesette eienaar staan brilloos met deurmekaar hare voor die deur. Bebloede soldate peul uit die motors op die straat.
“Daar was ’n aanval op die plantasiedorpie,” vertaal sy vir Gerard. Haar gedagtes is dadelik by Francisco. Hoekom het hy tog agtergebly? Sy vind hom op ’n tuisgemaakte draagbaar by die frontkantoor. Sy jong gesig is vir ewig geskend. Francisco se seisoen van skemers het aangebreek. Hulle wil nie toelaat dat sy naby hom kom of die haastig ingerigte hospitaal binnegaan nie. Sy draai om en stap alleen af met die straat. Gerard val langs haar in. “As hy ons net nie geneem het nie,” prewel sy.
Hy skud sy kop en wil-wil aan haar vat, maar hy laat sak sy hande. “Ons het hom gevra om saam te kom, maar hy het verkies om te bly.”
“Ons het deel aan sy lyding. Tot nou toe het ek niks meer met hierdie oorlog te make gehad as om daaroor te skryf nie. Nou is ek aandadig aan iemand se pyn.”
Sy druk haar voorkop teen sy bors. Daar waar eens troos teen hierdie oorlog was, is skielik ’n verlatenheid so groot soos haar eie. Hul omhelsing is nou bloot ’n skuilplek. Hulle stap terug na die hotel en raak woordeloos langs mekaar aan die slaap.
Te sielsmoeg vir die eise van hul liggame.