Читать книгу Amber maan, oker son en ander verhale - Elize Parker - Страница 7
4
ОглавлениеIn Luanda gaan sy onmiddellik na tante Helena se huisie en slaap byna agt en veertig uur lank. Gerard het in Benguela agtergebly.
Sy word van dors wakker en onthou die toue wagtende inwoners by die waterpunte. Toe sy die krane oopdraai, snork hulle lug uit in haar gesig. ’n Strooptog op haar noodkas lewer ’n blikkie kola op. ’n Bad is ’n vergete luukse. Sy kry koers deur die strate na die hotel. Sy hoop die teleksmasjien werk nog.
Elvira staan met haar styfgespuite krullers in ’n mooi satynrok agter die toonbank en hardloop uit op pon-pon-pantoffels toe sy haar gewaar: “Ek het jou amper vir dood opgegee. Jou mense soek jou elke aand op die teleksmasjien.”
“Maak die masjien nog kontak?” vra Esperanza verbaas.
Elvira knik instemmend. Sy draai die groot diamant aan haar ringvinger om en om. “Kan jy dit glo? Ons het nie polisie, water of kos nie, maar die masjiene werk.”
Esperanza skuif voor die teleks se toetsbord in en knip dit aan. Sy voel of sy na ’n lang reis tuisgekom het. Oos wes, teleksmasjien bes. Die toetse se bekende patroon, lae gesteun en tikke-ketik laat haar in beheer voel. Teleksmasjiene sal nooit weer vir haar vanselfsprekend wees nie. In hierdie stad vol gebroke mense, ’n vervalle infrastruktuur en ineengestorte regering is die masjien se werkende toestand ’n wonderwerk.
5676 Luanda AN, vra sy in kode. 3451UNA, antwoord die masjien. Is Lee daar? Tik sy. “Moenie bang wees nie, asseblief,” bid sy hardop. Kom daar uit gou Lee tik die masjien rukkerig. “Wonderlik!” skree sy en tik soos ’n besetene haar berigte. Bel Alec en kom huis toe Lee. Dan word die kontak verbreek.
“Dit gebeur die hele tyd,” sê Elvira.
“Werk die telefoon?” vra Esperanza.
“Die masjiene lewe!” Elvira lag haar diep laggie en lig die telefoon se mondstuk.
Esperanza skakel Alec se nommer en laat ’n boodskap by ’n man met ’n bewerige stem.
“Het jy gehoor die Afrikaners is op pad na Luanda?” vra Elvira. Haar hande met fyn sproete en gemanikuurde naels maak ’n paniekerige gebaar. Waar kry sy sulke naelpolitoer midde-in ’n oorlog?
Esperanza knik. “Ek moet in die suide kom. Kan jy my help?” Sy het geleer Elvira se netwerk vriende is goud werd. Baie mense skuld haar ’n gunsie of twee.
“Wanneer wil jy gaan?”
“Nou, môre – net wanneer jy dit gereël kan kry.”
“Gee my ’n oomblik kans. Ek het ’n kontak by die lughawe.”
Esperanza wag in stilte terwyl sy haar oproepe maak. Dit is Elvira se leuse: “Ek het ’n kontak.”
“Dit is ’n risiko, maar daar is ’n Portugese vliegtuig by die lughawe. Hulle gaan vlugtelinge op Tataquero optel. Jy kan saam met hulle ry.”
“Dankie, Elvira. Jy’s ’n skat.”
“Wat sê ek as hulle jou op die teleks soek?” skree sy agterna en gooi haar hande in die lug toe Esperanza net haar skouers ophaal. “Kom veilig terug, jou mal rabbedoe!”
“Kom aan boord,” nooi die vlug se Portugese loods.
Esperanza sluimer in ’n hoekie totdat hulle land. Wagtende vlugtelinge sak daarop toe. Die enjins luier voort terwyl sy uitklim. Die versengende hitte laat die droë aarde oopbars. Sy trek ’n pet oor haar kop en steek haar krulle daaronder in. Met ’n skok besef sy: wanneer die vliegtuig vertrek, is sy vasgepen in die oorlogsone.
“Kom saam,” sê ’n soldaat in kamoefleerdrag en neem haar na Unita se frontkantoor. Haar kamera dien soms ’n ander doel. Die bevelvoerder vind haar dokumente in orde.
“Ons ry vanmiddag suid. Jy kan saam met die ander verslaggewer in ’n voorraadtrok sit. Ek moet jou net waarsku, ons ry die pad van die dood. Die Suid-Afrikaanse inval het begin.”
Sy steek haar bewende hande in haar sakke en voel nat sweetdruppels in haar handpalms. Wat die man sê, is wêreldnuus – voorblad-eksklusief. Maar skielik gee die wete haar nie meer die tinteling van ’n paar dae gelede nie. Sy is te oorlogsmoeg. Hulle neem haar na die eertydse dorpshotel. Troepe sit op kratte en ou kroegstoele.
Die bevelvoerder neem op ’n leunstoel plaas. “Waar is die tenks?” vra hy aan ’n senuweeagtige Portugese vlugteling.
Teen die muur dui ’n kaart met pennetjies sy eenheid aan. ’n Dun swart lyn is die pad na Luanda. Bosareas word met kruisies aangedui en woestynareas met kolletjies. Iewers daar sit sy, net so verlore en verlate soos hierdie vlugtelinge, met dié verskil: hy het sy eie vervoer, al is dit net die oorlaaide trok hier buite.
“Wat dink jy vang jy aan? Hier is ’n oorlog aan die gang. Ek het jou gesê ek sal jou in Luanda kry,” hoor sy ’n bekende stem met ’n Franse aksent agter haar fluister.
Sweet kielie in haar nek onder sy asem. Haar keel trek toe met ’n ou opgewondenheid. So voel sy wanneer ’n belangrike voorbladstorie breek. “Moenie jouself vlei nie. Ek het nie agter jou aangeloop nie. Die storie van die dekade is besig om te breek. Dit is nie eksklusief joune nie.”
Hy draai sy gespanne rug op haar, stap vinnig weg en gaan leun teen ’n deuringang. Sy stoot haar ken uit en gaan staan langs hom. Stemme dryf uit die hotelkamer na hulle.
“Dit het niks met professionele jaloesie te maak nie. Jy moet hier wegkom.”
“Baie dankie, maar nee dankie.” Waar is Benguela se toorkrag nou? Sy het gedink hul weersiens sal iets daarvan inhou.
Op sy strak gesig is daar nie ’n teken van nie. “Van alle fronte sak oorlogsfaksies op Luanda toe. Oor ’n paar dae is dit ’n beleërde stad. Verstaan jy? Jou lewe is in gevaar. Dit is nie nou tyd om aan scoops te dink nie.”
“En wat van jou?”
“Ek kom saam.” Hy haal diep asem en stap terug na ’n ou huis, waar hy sy rugsak en notaboeke ingooi. Hulle stap vinnig na die bevelvoerder se kantoor en kom ná ’n rukkie uit. Haar bestemming is binne ’n uur verander. Sy is nie meer op pad Namavale toe nie, maar wel na Luanda. Sy is op hierdie doellose omweg gestuur net om weer by hom uit te kom. Sy het nie krag om met Gerard daaroor te baklei nie. Haar hart oortuig haar sy teenwoordigheid is ’n teken. Hul paadjies het nie verniet weer gekruis nie.
Buite sit soldate sluimerend onder die bome. Sommige leun vaak en verveeld teen mure. Smiddae staan die oorlog op rus.
“Luiz,” stel die bebaarde bestuurder homself voor en help haar om in te klim. Gerard neem langs haar plaas.
“Raoul,” sê die maer soldaat by die oop venster. Hy maak sy ammunisieband vas en laat sy outomatiese geweer se loop by die venster uithang.
Die trok karring aan die gang en hulle laat die dorpie agter; sukkel voort deur ’n plat, bosserige landskap teen vyftig kilometer per uur.
“Kan die trok nie vinniger nie?” vra sy mettertyd. Teen dié pas gaan hulle Luanda nie voor Onafhanklikheidsdag bereik nie.
Luiz vryf nadenkend aan sy baard. “Jy sal geduldig moet wees. Ons moet buitendien netnou stop. Die gevaar word nou met elke meter van die pad groter.”
Raoul stel sy geweer op gereed. Met die sakkende son verkoel die kajuit, maar die olie- en sweetreuk verdwyn nie.
Sy ruik vrees, dink Esperanza. Deur rooierige stofwolke skyn ’n vae oker son. Skemer breek aan, die oorlogsuur. Nou kry die vyand stamina om uit die bosse te kom en hinderlae te stel.
“Gelukkig behoort die pad aan ons,” sê Luiz.
“Dit het nie verlede maand veel gehelp nie. Vyf van ons trokke was in hinderlae,” antwoord Raoul gespanne. Die kajuit word stil. Bo die trokgerammel en singende bande klink veraf outomatiese geweervuur op.
“Ons sal eers moet stop,” sê Luiz. Hy trek af by die wrak van ’n uitgebrande trok. Rondom lê blikke, bande en mensebene.
Esperanza steier weg na ’n sloot. Hulle moet lewend verbrand het. Gerard trek haar uit die sloot en teen hom aan. Hy vee haar krulle agter haar oor in. Trane van skok vloei oor haar wange.
“Oorlog maak mense monsters,” prewel sy. Niks kry die grubeelde uit haar kop nie. Genadiglik sak die donker toe. ’n Amber maan gooi geel skynsels oor die eentonige landskap.
“Ek gaan op die padskouer probeer ry met die ligte af. Ons moet aanstaltes maak. Daeraad is weer oorlogstyd,” sê Luiz. Die oorlog van skemers: amber mane, oker sonne.
Gerard sit sy arm om haar skouer en vryf haar skouerknop gerusstellend. Hulle is weer op hul Benguela-golflengte. Gedeelde angs is ’n sterk band. Niemand slaap nie. Hulle rol gespanne die duisternis in met net ’n dowwe maan as flou naglamp. Uiteindelik vergeel dagbreek die taan wêreld. Geweervuur bars veraf in los sarsies uit.
“Miskien is hier water,” sê Luiz en stop op ’n verlate dorpie. Steenkoolgebrande bome en daklose ruïnes staan swart teen die daglig. Eenkant waai ’n verskroeide rooi kinderhempie.
“Ek haat oorlog en al die agente van oorlog,” sê sy. “Net die onskuldiges ly. ’n Geweerloop bring nooit iets goeds tot stand nie.”
“Soms bring dit vrede,” sê Gerard.
“Julle moet maar bietjie rondstap,” sê Luiz. “Ons ry eers weer wanneer dit te warm word.”
Raoul verken die omgewing met sy outomatiese geweer oorgehaal.
Sy gaan sit lusteloos teen ’n muur. Die slaap ontwyk haar vir eers. “Hoekom maak mense oorlog?” vra sy vir Gerard.
“Soms om vryer te word. Soms om regte te kry.”
“Dit is die grootste misdaad.”
“Nie wanneer regverdigheid seëvier nie.”
Sy kyk verbaas na hom, want sy het gemeen hulle dink dieselfde hieroor. Sy maak haar oë toe en sluit die wêreld weg.
“Word wakker. Dit is middag,” hoor sy veel later Raoul se stem. Luiz rek hom uit en hulle klim in die warm trokkajuit. ’n Entjie van die dorpie staan daar skielik ’n paar mans in die pad met wapens op hulle gerig. Esperanza se keel en bors brand van vrees. Sy duik vooroor en voel skaars die pyn toe sy haar kop stamp. Raoul haal sy geweer se veiligheidsknip af. Niemand vuur nie. Luiz ry al hoe stadiger nader. Sy lig haar kop toe ’n soldaat sy geweer hemelwaarts draai en ’n rondte ammunisie vuur. Raoul skiet verlig met sy pistool ’n lugskoot.
Dit is hul eie wagpos. Die bevelvoerder ken vir Luiz en kyk vinnig na hul dokumente. “Dankie, Vader,” bid sy saggies. Gerard help haar op. Sy spiere ontspan sigbaar, die frons tussen sy oë versag en hy blaas ’n lang teug lug uit.
“Hoe lyk die pad vorentoe?” vra Luiz.
“Oop. Julle kan laat waai,” kom die welkome antwoord. “Dis goeie nuus,” sê Luiz en groet. Die groepie maak plek sodat hulle kan deurkom.
“Vanaand sien ek my vrou vir die eerste keer in ’n jaar,” gesels hy en vertel haar van sy gesin.