Читать книгу Ultrasatyn 2 in 1 - Elsa Winckler - Страница 8
Vyf
ОглавлениеHy kom terug met ’n glas in elke hand. “Jy kan maar drink. Dis net vrugtesap. Ek wil na alles nie hê jy moet vanaand op jou kop staan nie.” Hy vat ’n sluk van die sap en sit dit dan op die vloer neer. Toe leun hy nader om die glas by haar te vat. “Vertel my nou iets van jouself.”
Haar arms sluit om hom die oomblik toe hy terug na haar draai. “Wat wil jy weet?”
“Iets wat vir jou saak maak.”
“Jy is die eerste man wie se bed ek deel.”
Hy maak haar hande los en druk haar terug teen die kussings. Sy oë is stormagtig toe hy hom op een elmboog stut en lank na haar staar. Met sy een been pen hy haar vas. Toe sit hy regop en vat beide haar hande bokant haar kop in sy een hand.
Sy blik gly oor haar. “Jy is pragtig,” prewel hy voor sy vry hand die pad van sy oë volg. Hy streel oor haar lippe, haar sleutelbeen, haar borste. Vlindersag vee sy vingers oor haar ribbebene en dan af tot by die ronding van haar heupe. Hy vertroetel en ondersoek. Haar lyf word hoendervel in reaksie en hy glimlag. Sy vingers sirkel om haar naeltjie en toe sak sy hand laer tot by die warmte tussen haar bene. Hy maak sagte sirkelbewegings met sy wys- en middelvinger terwyl sy oë in hare brand.
Haar onderlyf begin lig en sy trek haar bene wyer oop toe haar vrouwees smagtend begin saamtrek. Sy hande gly om haar dye, trek haar bene op en dan lig hy hom tot bo-op haar. Met sy mond volg hy dieselfde pad as sy vingers flussies. Hy begin by haar mond, huiwer by haar tepel asof dit vir hom moeilik is om daarvan af te sien. Dan gly sy lippe laer af tot by haar naeltjie.
Hy kyk op met passievolle kykers en sy weet hy sien die begeerte in haar oë.
Weer nooi haar onderlyf hom uit. Vir oulaas terg sy tong nog oor haar naeltjie en toe sluit sy hande om haar knieë. Sy kop sak tot tussen haar bene en sy mond sluit sag om die intiemste deel van haar lyf. Haar vingers gryp die beddegoed krampagtig vas. Nie in haar wildste drome kon sy haar die genot om so deur hom geliefkoos te word asof sy breekbaar is, voorstel nie. Sy sper haar bene. Lig haar lyf sodat hy elke hoekie van haar vrouwees met gemak kan bereik. Haar rug trek hol terwyl sy tong ’n eie spel speel. Met sy tong streel en terg hy tot sy haar stywer teen hom vasdruk. Sy een duim vryf sag oor die tepel. Die werklikheid vervaag. Sy mond verlaat nie die sagtheid tussen haar bene nie. Sy voel die growwigheid van sy baard, sluit haar oë in vervoering. Haar lyf tintel en ruk terwyl elektriese strome deur haar golf.
Beheers en berekend du hy haar vrouwees nader en nader aan ’n klimaks wat haar gaan verswelg. Op die kruin daarvan lig hy sy kop en skuif bo-oor haar. Toe hy besit van haar neem, is sy reg vir hom.
Saam vind hulle die oeroue ritme wat hulle albei oor die grens van alle inhibisies stoot en hulle lywe word een toe sy klimaks tot in haar spoel. Sy hou aan hom vas. Die klimaks woed uit en hy val langs haar neer.
Hy laat haar asemskep voor hy haar tot bo-op hom trek sodat hy in haar oë kan kyk. “Verwag iemand jou terug by die huis vanaand?” vra hy en sy skud haar kop. Hy knik tevrede en rol op sy sy sodat sy in die kromming van sy arm lê.
Hulle lê lank so in die hitte van mekaar se lywe, êrens tussen nugterheid en slaap. Sy luister na Lukas se rustige asemhaling en skuif vaster teen hom.
“So ’n afskeidsgeskenk het ek nie verwag nie,” bring sy stem haar terug uit die slaapnewels. “Vroue is gewoonlik bereidwillig, maar niemand is jy nie.”
“Wat bedoel jy?” Sy draai haar kop effens teen hom toe sy woorde tot haar deurdring. Sy oë is toe en hy gee haar ’n drukkie.
“Afskeidsgeskenk,” prewel hy. “Jy is besonder vaardig.”
Sy maak haar oë oop, skielik wawyd wakker. Die emosie van afgryse wat deur haar spoel, is onbeskryflik, net so onbeskryflik soos vantevore, net aan die teenoorgestelde punt van die spektrum.
Ander vroue? Bereidwillige vroue? Natuurlik sal hulle wees. Wie sal vir Lukas Strauss kan weier? Sy het nog altyd geweet hy laat ander damestudente én dosente se koppe draai. Het sy ’n tweede keer in dieselfde strik getrap? Verblind deur verliefdheid gedink sy is die enigste een, net om agter te kom sy is darem anders as die ander? En vaardig? Dis nie asof sy vooraf vir vanaand geoefen het nie. Wat sy gedoen het, was vir hom, nét vir hom.
Ontnugtering pyn deur haar lyf. Sy het haar siel gegee, en vir hom was dit niks meer as ’n afskeidpartytjie nie. Was nie een van die ander bereidwillige vroue vanaand beskikbaar nie? Miskien was sy die eerste een wat ingestem het. Sy het een keer tevore uitgevind hoe dit voel wanneer bereidwillige vroue instaan wanneer sy nie beskikbaar is nie en sy het haarself belowe nooit weer nie.
Skielik verstaan sy Lukas se bedoeling. Hy het haar gebruik om hom te plesier sonder dat hy bereid is om iets in ruil daarvoor te gee. Hoe dom was sy nie om te dink hy gaan haar die maan en die sterre gee ná vanaand nie!
’n Afskeidsgeskenk! Môre gaan hy Johannesburg toe, sonder enige gewetenswroeging. Sonder die belofte om haar weer te sien.
Maar kan sy werklik kwaad wees vir hom? Het hy nie net gevat wat sy op ’n skinkbord aangebied het nie? Is sý die een wat nie tred met die samelewing hou nie? Ervare vroue sal haar seker uitlag oor haar naïwiteit.
Hulle sal haar jammer kry omdat sy nie die reëls van die spel geken het nie.
Sy wag tot sy seker is hy slaap voor sy haar onder sy arm uitwurm. Op haar tone sluip sy uit die kamer uit. Sy kry die kombuislig maklik genoeg en skakel dit aan. Haar klere hang oor die rugleuning van die stoel. Hy het dit seker vroeër opgetel toe hy hulle sap kom skink het.
Op haar handsak lê ’n besigheidskaartjie. Haar vergoeding? Die gehalte van die papier val haar op, maar sy laat dit op die vloer val sonder om te lees wat daarop staan. Lukas Strauss kan sy inligting hou. Sy sal werk kry sonder sy hulp en sonder om haar pad oop te slaap.
Karla antwoord haar selfoon byna onmiddellik en Leila slaak ’n sug van verligting.
“Hei, waar is jy?” Leila kan hoor haar vriendin is goed die hel in. “Jy is halfvyf hier weg om ’n dosent te gaan sien en dis die laaste wat ek van jou hoor. Weet jy hoeveel keer het ek vanaand al uitgefreak? Dis ná twaalf. Jy kon ten minste laat weet het dat jou planne vir vanaand verander het. Ek het die polisie amper laat weet jy word vermis.”
“Jammer, Karla. Ek het jou niks gesê nie omdat ek self nie geweet het ek gaan uit nie. Maar ek sal later verduidelik. Ek kan nie nou praat nie. Ek wou net weet of jy my asseblief kan kom oplaai.”
“Praat harder. Ek kan skaars hoor wat jy sê. Waar is jy?” Agterdog kleur Karla se stem en sy weet sy gaan nie wegkom sonder om te verduidelik wat vanaand gebeur het nie.
“By Lukas Strauss se huis. My kar is nog by die fakulteit.”
“Goeie donner. Hoekom bring hy jou nie terug nie?”
“Omdat hy slaap. Hy het vroeër gevra of ek terug huis toe wil gaan, maar ek het intussen van plan verander en wil hom nie wakker maak nie.” Onverklaarbaar voel sy verplig om verskonend namens Lukas te wees.
Sy gee die aanwysings vir Karla en hoop dié kan alles hoor, want sy fluister in die telefoon omdat sy bang is sy maak Lukas wakker. Dit sal ’n rukkie duur vir Karla om tot hier te kom en sy gaan sit op een van die stoele om te wag. Nou weet sy wat mense bedoel wanneer hulle sê hulle voel leeg. Dis asof haar hart en siel uit haar geruk is. Hoe kon sy tog gedink het hy voel oor haar soos sy oor hom?
Karla behoort nou amper hier te wees. Sy staan op en stap na buite. Die voordeur gaan met ’n sagte klik agter haar toe. Dis warm en die paar minute wat sy buite wag, is nie onaangenaam nie. Net die doodsheid in haar is. Die aand is so vars in haar geheue dat dit haar seermaak al probeer sy aan ander dinge dink. Sy hoor die aankomende voertuig en begin na die uitgang stap. Die sekuriteitswag kyk haar vreemd aan toe sy verby hom loop, maar sy groet met ’n glimlag wat so aangeplak is soos die verloorders s’n by ’n skoonheidskompetisie.
Karla stop langs haar. Verligting bring die trane die eerste keer die aand na die oppervlak. Sy moet veg om kalm te bly. Sy haal eers diep asem voor sy die deur oopmaak en langs Karla neersak.
Karla gee haar een kyk en skud haar kop dan simpatiek. “Moet ek vra?”
Leila skud haar kop woordeloos en Karla knik net voor sy wegtrek.
“Sal jy asseblief by die fakulteit omry sodat ek my motor kan kry?” vra sy saaklik toe hulle by die eerste verkeerslig stop.
Sy klim in haar motor en ry terug huis toe. Karla wag vir ’n verduideliking toe hulle die huis instap, maar sy is nie nou lus vir gesels nie.
“Lekker slaap, Karla.” By die deur draai sy om na haar vriendin. “Dankie dat jy oor my welstand bekommerd was en my kom haal het.”
In haar kamer kry sy haar slaapklere. Onder die stort was sy haar sistematies, droog haar af en borsel haar tande. Sy voel nie juis beter toe sy terug na haar kamer stap nie. Wat het haar besiel om te dink hy voel ook iets vir haar? En sy het tog geweet hy vertrek môre Johannesburg toe. Dis alles haar skuld. Sy kan nie vir Lukas kwaad wees nie, want hy het haar geen rede gegee om te glo hy wil iets meer hê as een aand tussen die lakens nie. Boonop was sy maar te gewillig. Het nie eens ’n oomblik gestop om oor die gevolge te dink nie.
Karla torring tydens ontbyt aan haar sodat sy nie anders kan as om haar vriendin in haar vertroue te neem nie. Sy vertel net die breë trekke sonder om besonderhede te gee.
“Die bliksem,” vaar Karla onmiddellik uit. “Tipies mansmens. Dis hoekom ons nie emosioneel betrokke raak nie, Leila. Ek het jou dit tog al gesê. Vry in die bondel. Gebruik mans wanneer jy hulle nodig het en beweeg aan. Anders gaan jy net seerkry.”
“Dis nou te laat. Ek het gedink ek het my les in Londen geleer, en dat ek nie weer dieselfde fout sou maak nie omdat ek weet hoe dit is om gebruik te voel. Nou is dit soveel erger. Wat ek tóé gevoel het, is ’n fraksie van die teleurstelling wat ek nou ervaar. Ek het gedink dié keer is anders omdat ek ouer en meer volwasse is. Dat ek Lukas reg opgesom het. Jy is reg, ek moes geweet het mans soek eintlik net een ding: seks sonder enige verbintenis.”
Karla vryf simpatiek oor haar rug. “Toemaar, vriendin, oor ’n paar weke groet jy die plek finaal en dan wag daar ’n nuwe wêreld op jou. Jy gaan Johannesburg rooi verf. Het hy jou toe die kontaknommers van die maatskappy gegee?”
“Ja, maar ek het dit nie gevat nie. Ek het hom nie nodig om werk te kry nie. Ek sal self regkom.”