Читать книгу Liefde in laslap - Elsa Winckler - Страница 5

1

Оглавление

“Onthou, dis weer ’n seuntjie,” glimlag Amelie en streel oor haar duidelike boepie. “So ek dink nie Pappa gaan baie van ’n pienk kombersie hou nie, maar andersins maak dit nie saak wat die kleurskema is nie.”

Natalie glimlag en kyk rond in die laslapwinkel. Die plaasopstal vol materiaal net buite die Paarl is een van haar geliefkoosde rondloopplekke. Die voorste twee vertrekke in die huis is in groot, vrolike uitstalruimtes verander. Op rakke wat tot teen die dak strek, lê rolle van die mooiste lap opmekaar gestapel. Elke rak spog met verskillende skakerings en patrone in ’n spesifieke kleur. Haar vingers begin sommer dadelik jeuk.

Sy trek Amelie aan die arm. “Ek het gisteraand so ’n bietjie op Pinterest geloer wat die nuutste gier vir babakamers is en oe, kyk, hier is net mooi die kleure waaraan ek gedink het,” sê sy ademloos en trek ’n paar rolle uit die rakke.

“Omdat ons vir klein Christo se kamer blou en rooi gebruik het, het ek na iets heeltemal anders gesoek. Kyk hoe mooi lyk die kombinasie van grys, turkoois en geel,” sê sy opgewonde. “En jy moet besluit wat jy daarby wil hê. Die tema in Christo se kamer is motortjies. Wat wil jy vir dié babatjie kies? Waarvan hou seuntjies nog? Motorfietse? Bote? Of diere, of voëls? Waarvan hou jy?”

Amelie lag. “Nats, jy kan so opgewonde raak oor lap! Is dit nie tyd dat ons vir jou ’n man kry oor wie jy in ekstase kan raak nie?” terg sy.

Natalie snork onvroulik. “Nee wat, lap is baie minder gekompliseerd.” Sy laat gly die materiaal deur haar vingers.

Amelie glimlag. “Dis net so wonderlik om getroud te wees!” roep sy uit. “En ek wens jy kan ook iemand spesiaals ontmoet.”

Natalie gee Amelie se arm ’n drukkie. “Ek is so bly jy het jou Chris gekry. Daar was darem oomblikke wat julle twee koppe wou stamp. Gelukkig het jy al jou issues laat staan en besef hoe lief die man vir jou is.”

“Is dit nie wonderlik nie?” Amelie druk haar hande teen haar bors vas. “Al my drome is bewaarheid, Nats. Ek is so gelukkig. Dis hoekom ek wens jy kan ook iemand besonders ontmoet.”

“Ek het baie besonderse mense in my lewe, soos jy, byvoorbeeld.” Natalie hou van die lap omhoog. “Wat dink jy van die kleure bymekaar?”

Amelie haal haar skouers op. “Ek is useless met naaldwerk, Nats. Kies jy. Ek het Chris se kredietkaart en sal betaal.” Sy begin in haar handsak soek.

Natalie lag. “Is jy seker jou man weet hiervan? ’n Kredietkaart en ek in ’n lapwinkel? Baie gevaarlike kombinasie.”

“Ek is nie haastig nie. Dis ’n lieflike Saterdag, en Christo is baie gelukkig by Pappa wat vandag in die tuin werk. Ouma Salomien sou ook vanoggend ’n handjie kom bysit. As jy nog wil lap soek, wag ek vir jou. Het jy al begin met die laslapkwilt wat jy vir jouself wil maak?” vra Amelie terwyl sy nog in haar handsak rondvroetel. “Jy weet, ek is baie nuuskierig oor wat dit is wat jy wil doen, veral omdat jy my nie daarvan wil vertel nie.”

“Ek het nog niks om te vertel nie. Ek het ’n paar idees, maar dis al. Intussen hou die illustrasies van die kinderboeke my so besig, daar is maar min tyd vir enigiets anders. En ek gaan nou eers weer ’n kombersie vir jou babatjie maak,” glimlag Natalie. “Julle laat nie op julle wag nie, nè?” terg sy.

“Ag, toe nou, hulle sal darem amper twee jaar verskil.” Amelie lag, sug en gee Natalie ’n drukkie. “Ek het ’n gesin! Ek het nie gedink dit sal ooit gebeur nie. Party oggende word ek nog wakker en dink ek is terug in die weeshuis. En dan onthou ek van my man, my kind, die familie wat ek bygekry het. En ek wil so graag hê jy moet ook—”

“Jy onthou jou ouers, onthou hoe dit was om deel van ’n gesin te wees. Dis waarna jy gesoek het.” Natalie glimlag en skud haar kop.“My ouers is dood toe ek nog ’n baba was. Ek het geen herinneringe aan hulle of aan ’n huis of familie nie. Vandat ek onthou, was ek maar in die weeshuis.”

“Jy sê altyd jy het nie ’n storie nie, want jy was te klein om iets te onthou. Wanneer jy iemand spesiaals ontmoet, kan julle saam ’n nuwe storie begin, dink jy nie so nie?” vra Amelie.

Natalie frons terwyl sy die materiaal uitsoek. “Ek moet eers my eie storie hê voordat ek aan een saam met iemand anders kan werk,” prewel sy ingedagte. Sy glimlag en tel die rolle materiaal op wat sy dink saam kan werk. “Jy het genoeg om jou oor te bekommer, jy kan my naam maar van jou lysie afhaal. Een van my grootste wense was altyd om my eie blyplek te hê en dit het ek nou. Ek sal altyd dankbaar wees dat ek jou skakelhuisie kon koop toe Chris vir julle ’n groter blyplek gekry het.”

“Ek is net so bly daaroor,” sê Amelie. “Ek was baie hartseer om daar uit te trek, maar dis wonderlik om te weet my beste vriendin is gelukkig daar.”

“Nou toe, daar het jy self gesê ek is gelukkig.” Natalie beduie vir die vrou wat agter die toonbank help hoeveel van die materiaal hulle wil hê.

“Daar is so ’n oulike ou aan wie ek jou wil voorstel . . .”

“Vergeet dit, Amie. Jy kraam oor twee, drie maande, jy moet nou daarop fokus. Kom, bring daai kaart van jou man en betaal. Is ek nie ook ’n middagete op Fairview belowe nie? Kom, kom,” vra Natalie en hoop van harte Amelie gaan nou oor iets anders as mans en babatjies praat. Sy is baie lief vir haar vriendin, maar dis asof haar getroude vriendinne nie kan verstaan ’n vrou kan gelukkig so op haar eie wees nie.

Dis nie asof sy nié ’n man wil hê nie. Inteendeel. Drome van iemand spesiaals, ’n sielsgenoot, was van haar eerste jongmeisiedrome. Maar sy het nog nooit een ontmoet wat haar knieë lam maak nie.

Sy frons. Wel, daar is een, maar hy maak haar knieë lam uit pure frustrasie, niks anders nie. Neethling Meyer, Amelie se swaer, ’n baie bekende skrywer van rillers.

Sy het hom die eerste keer gesien toe Chris en sy hele gesin vir Amelie in haar tuin kom help het. Sy was ook dié dag by Amelie om in die tuin te help; nie een van hulle twee het geweet die Meyers gaan op Amelie kom toesak nie.

Die een oomblik was sy en Amelie nog alleen aan die onkruid uittrek en die volgende oomblik was die tuin vol vreemde mense. Sy het opgekyk net toe Neethling buk om ’n plant op die grond neer te sit. ’n Netjiese paar boudjies het haar kortasem gelaat, en toe draai hy om. Sy was maar net nie voorbereid op die reguit kyk in sy bruin oë nie. Dis al rede hoekom sy haar dadelik wou vererg. Ja, oukei, hy is aantreklik en sexy en . . . Verdomp, sal sy nou jare later nog staan en kwyl oor die vent.

Hy lyk baie soos Chris, dalk ’n halwe kop korter. En hy is net so aantreklik. Maar waar sy Chris as net nog ’n nice ou beskou, maak Neethling haar – sy weet nie wat is die regte woord nie – onrustig? Ongedurig? Geïrriteerd? Al drie?

Dis asof sy glad nie aan iets sinvols kan dink om te sê wanneer hy in die rondte is nie. En dis asof hy heeltyd vir haar lag.

Al wat sy weet, is dit is beter vir haar as sy hom nie sien nie. Gelukkig is hy die afgelope jaar iewers in Europa, glo aan die skryf aan sy nuwe boek, en kon sy weer by Amelie en Chris kuier sonder dat haar hartklop verander.

Maar sy dink aan hom. Baie. En dit maak haar vies. Dis tog nie asof sy aangetrokke voel tot die man nie. Asseblief! Hy is in elk geval ’n baie gesogte vrygesel en die kere wat sy hom wel by Chris en Amelie gesien het, was daar altyd ’n ander pop aan sy arm.

Dis net die manier waarop hy na haar kyk wat haar so blootgestel laat voel. Altyd met so ’n ek-sien-wie-jy-werklik-is-glimlag. So asof hy verder kyk as net haar gesig, asof hy haar wil ontleed en daaraan dink om haar in een van sy stories te gebruik. En dit irriteer haar grensloos. Sy is nie ’n geval wat bestudeer word nie. As hy inspirasie vir een van die karakters in sy boeke soek, kan hy gerus maar eerder na een van die poppies aan sy arm kyk.

Neethling teug aan sy wyn en sit met ’n salige sug terug in sy stoel. Dis ’n wonderskone dag in Maart en hy is bly om terug in Suid-Afrika te wees. Daar is ’n frisheid in die lug wat beteken hy het die ergste hitte vrygespring. Maar ná die lang, koue Europese winter hoop hy om die aangename Bolandse herfs nog ’n hele rukkie te kan geniet.

“En toe? Is jy nie bly jy’t saamgekom nie? Ek moes darem sukkel om jou sover te kry,” lag sy suster Nicola terwyl haar kamera klik en klik. “Ek is mal oor Fairview. Dis so lekker naby aan die Paarl, maar ’n mens voel asof jy ver weg van al die dorpslawaai is. En hier’s wyn en lekker kaas – ek kan nie verstaan hoekom ek jou moes soebat nie.”

“Jy sal onthou ek het gisteraand eers geland ná ’n lang vlug uit Europa. En niemand anders behalwe jy weet ek is terug nie. Ek wou almal vanoggend gaan verras, maar sal dit nou maar later vandag doen.”

Sy laat haar kamera sak en lag vir hom. “Foeitog, ek het vergeet: jy is mos al oud – kan nie meer so kerjakker nie,” terg sy. “Jy’t wat? Sewe-en-dertig geword in die jaar wat jy weg was?”

“Dis reg, jy moet respek hê vir my,” glimlag hy.

Nicola sit haar kamera neer en lig haar glas op. “Op jou tuiskoms, ek is baie bly jy’s terug. En nou kan jy maar vir my vertel . . . ek wonder nog die hele tyd. Is jy weg Europa toe oor daardie simpel vroumens wat jou so na haar pype laat dans het? Serene, Selene? Ek kan gelukkig nie eens meer haar naam onthou nie.

Neethling glimlag en skud sy kop. “Selene. Nee, ek kan jou verseker my weggaan het niks met haar te doen nie. Ek is baie lankal oor haar. Sy het my eintlik ’n guns bewys, want ek het ’n dure les geleer. My lewe gooi ek vir g’n vroumens weer omver nie.”

“Ek kon nooit verstaan hoekom jy jou skrywery prysgegee het om te gaan klasgee nie, en dít vir haar. Nie dat daar iets fout is met klasgee nie, maar jy is ’n suksesvolle skrywer wie se boeke in hoeveel tale vertaal word. En dit was nie goed genoeg vir haar nie? Ek word sommer weer van voor af opgewerk.”

“Selene wou struktuur in haar lewe hê. En jy weet hoe ek is – wanneer die storie daar is, moet ek skryf, maak nie saak watter tyd van die dag of nag dit is nie. En tantieme betaal nie gereeld elke maand uit nie. Sy wou ’n man hê met ’n agt-tot-vyf-joppie, een wat elke maand geld huis toe bring. Volgens haar kon iemand met ’n doktorsgraad nie net ‘boekies’ skryf nie.”

“Nie een van ons kon verstaan hoekom jy toegelaat het dat sy jou so organiseer nie,” sê Nicola vies.

Neethling lig sy een skouer. “Ek het gedink ek voel iets vir haar.”

“En toe?”

“Toe besef ek op ’n dag wat ek vir haar voel, was niks meer as ’n kortstondige lyflike lus nie.”

“Wel, toegegee, sy is mooi. Maar sy’t sulke koue oë – ek het dit elke keer raakgesien wanneer ek ’n foto van haar geneem het. Ek is bly om te hoor dit is uit tussen julle.”

“Dit was twee jaar voordat ek oorsee is al uit, my liewe sus. Die geleentheid om in Toskane te gaan skryf, was ’n droom – een wat niks met Selene te make het nie. Wat ek wel ook nou weet, is in mý soort bestaan is dit beter om op my eie te wees. Dis beslis nie almal wat so kan of wil lewe nie, en die meeste vroumense hou van ’n man met ’n agt-tot-vyf-werk.”

Oor die ander rede waarom hy weg is, rep hy liewer nie ’n woord nie. Nicola hoef nie te weet hy is weg om ’n ander vroumens uit sy brein te kry nie.

“Dis dan definitief tyd dat jy ’n ander tipe girl ontmoet – een wat bietjie meer tussen die ore het as die blonde, maer goedjies wat jy altyd na ons Sondagetes toe bring. Ek is in elk geval baie bly om te hoor die vroumens is uit jou sisteem. Hoe was Italië toe? Ons het maar min van jou die afgelope jaar gehoor. Hoe ver is jou boek?”

“Dit was ’n ongelooflike ondervinding. Dit het ’n bietjie langer geduur om te skryf as wat ek gedink het, maar ek kon dit uiteindelik klaarmaak. Die uitgewer beplan die boekbekendstelling in Junie in Suid-Afrika en die vertaalde werke in Julie. Ek vlieg dan weer Europa toe vir ’n boekbekendstelling in Nederland.”

“Ag nee, man. Jy was nou net so lank weg,” raas Nicola.

Hy glimlag. “Ek het hard gewerk die afgelope jaar, dis tyd vir ’n bietjie vakansie. Wanneer die bekendstelling klaar is in Nederland, vlieg ek daarvandaan eers Australië toe voordat ek weer huis toe kom. Ek weet nie of jy vir Peet onthou wat saam met my op universiteit was nie?”

Nicola knik haar kop. “Ek dink so. Bietjie windgat as ek reg onthou.”

Neethling lag. “Ag, dis maar sy manier. Hy bly deesdae in Melbourne, Australië, en hy besit ’n boekwinkel. Hy . . .”

“. . . wil graag vir jou daar hê vir die boekbekendstelling. Ja, ja, ek verstaan – my famous broer,” spot sy.

“Ek sien dit as ’n ruskans en wil eintlik net ’n bietjie ontspan . . .”

’n Beweging uit die hoek van sy oog trek sy aandag, en hy draai sy kop. En daar staan sy. Natalie Olivier. Die eintlike rede hoekom hy ’n jaar lank weg was van sy mense, weg was uit sy land. Sy asem raak min. Selfs op ’n afstand reageer sy lyf onmiddellik op haar.

Sy skoonsuster sien hom en Nicola raak, en haar gesig verhelder. Sy fluister iets vir Natalie, en Natalie skud haar kop heftig, maar Amelie gryp haar arm en trek haar met mening in hulle rigting.

“Is dit nou nie die lekkerste verrassing nie?” roep Amelie uit en val Neethling om die hals. “Ek het gedink jy kom eers volgende maand terug. Hoekom het jy niks laat weet nie?”

Hy lig sy een skouer en glimlag. “Dit was tyd,” sê hy. Oor die werklike rede vir sy vervroegde terugkeer, die skielike dringendheid om weer vir Natalie te sien, gaan hy beslis nie praat nie.

“Natalie, kom gee vir Neethling ’n drukkie!” roep Amelie uit en stoot haar vriendin vorentoe. “Ons is mos almal familie. Hoe gaan dit, Nicola?” vra sy, alles in een asem, voor sy gaan sit.

Voor hy hom kom kry, is Natalie teen hom, sy arms om haar en voel hy haar sagtheid teen sy lyf. Haar subtiele sitrusreuk wat hy so goed onthou, vou om hom en vir ’n oomblik wil hy haar styf teen hom vasdruk. Maar hy hoor die klik-klik van Nicola se kamera en gee vinnig ’n tree agteruit. Sy suster het die vermoë om dinge deur die lens van haar kamera te sien wat hy liewer nie aan die wêreld wil verklap nie.

“Natalie,” sê hy met ’n stywe glimlag en gaan sit.

Sy knik haar kop en stap om die tafel.

“Julle gaan darem sekerlik by ons sit?” Nicola trek ’n stoel langs haar uit vir Natalie.

“Natuurlik,” glimlag Amelie. “Chris gaan so vies wees wanneer hy hoor ons kuier sonder hom, maar hy en Ma maak vanoggend tuin by ons,” babbel sy vrolik.

Amelie en Nicola begin gesels, maar hulle stemme raak dowwer. Natalie se oë is op Amelie gerig, en Neethling kan haar rustig bekyk. Sy is nog net so bleddie mooi soos hy onthou en het nog steeds die vermoë om die laaste bietjie suurstof uit sy longe te pers.

Vandag het sy wit skinny jeans aan wat haar lang bene beklemtoon, ’n stywe liggrys toppie met ’n los, dunnerige, wit trui met grys strepe bo-oor. Om haar nek is ’n sagte pienk serp ’n paar keer gedraai en aan haar voete het sy ’n paar pienk sandale. Haar lang, blonde hare hang in ’n dik vlegsel oor haar een skouer. Prentjiemooi.

Hy gryp sy glas wyn en neem ’n groot sluk. Wat de hel is dit met die vroumens? Ja, sy is beautiful, maar hy ken baie mooi vroue. Vroue met opsigtelik minder issues as hierdie enetjie.

Omdat hy weet hoe vinnig sy ma iets kan optel, het hy doelbewus nog nooit een van sy gesinslede oor Natalie uitgevra nie. Vandat Chris getroud is, is dit sy ma se missie om vir hom wat Neethling is ook ’n vrou te kry. So hy maak seker hy praat glad nie oor enige vroumens voor haar nie. Veral ná die eskapade met Selene maak hy ’n punt daarvan om hulle te laat glo hy vry in die bondel en dat daar niemand besonders in sy lewe is nie.

Wat hy van Natalie weet, is die brokkies wat hy hier en daar in geselsies optel. Soos Amelie, die vrou van sy broer, Chris, was sy ook ’n weeskind. Sy is universiteit toe om Grafiese Kuns te swot en is ’n bekende illustreerder van kinderboeke. Van die illustrasies het hy toevallig uitgevind tydens ’n boekefees twee jaar gelede toe hy haar daar opgemerk het.

Hy weet sy praat nie baie nie, maar luister eerder; hy weet sy eet haar kos stadig en geniet elke happie ooglopend. Hy weet sy speel met haar hare wanneer sy ingedagte is; hy weet haar oë is ’n skakering van groen wat hy nog nooit gesien het nie.

Hy kan dae lank wonder oor haar oë. Groen is skynbaar die kleur van balans, van orde, van harmonie. Maar wat hy voel wanneer hy hom in ’n onbesonne oomblik in haar oë verdiep, het hoegenaamd niks met orde of harmonie uit te waai nie.

Die eerste keer wat hy haar gesien het, was toe hy saam met die res van sy gesin vir Amelie in haar tuin gaan help het. Natalie was ook daar. Sy het met haar rug na hom gestaan toe iemand haar roep. Sy het laggend omgedraai. En ’n vuishou begeerte het hom in die maag getref.

Sy eerste reaksie was: hy ken haar. Hy moes haar al iewers gesien het, want sy het so bekend gelyk. Maar hy het gou besef hy sou haar beslis onthou het as hy haar voorheen ontmoet het.

Die res van die middag het hy soos ’n zombie meganies gedoen wat sy pa en Chris hom beveel het.

Dit was net ’n week nadat hy Selene uit sy lewe gestuur het. Hy was onmiddellik de hel in. Hier was nog ’n vroumens wat hom dadelik soos ’n idioot laat optree het en hy het besef: van haar af moet hy so ver moontlik wegbly; in elk geval tot die belaglike reaksie wat sy ontlok, verby is. Want die gevoel wat sy in hom wakker gemaak het, was iets heeltemal anders as wat hy vir Selene gevoel het, iets baie meer basies, baie meer intens. En hy gaan sy lewe vir g’n bleddie vrou omdop nie.

Vir twee jaar het hy haar gereeld by Chris en Amelie raakgeloop, en elke keer het sy dieselfde uitwerking op hom gehad. Hy het selfs later al wat ’n vroumens is saamgesleep na die kuiers, maar selfs nie die mooiste girl aan sy sy het sy begeerte na Natalie verminder nie. Daarom, toe hy die kans kry om saam met ander skrywers ’n jaar in Toskane te gaan skryf, het hy dit aangegryp. Teen die tyd dat hy terugkom, sou hierdie belaglike gevoel weg wees.

Maar die afgelope maand was daar ’n dringendheid in hom om terug te kom, om haar te kom opsoek om te kyk of sy nog dieselfde uitwerking op hom het. En nou weet hy – sy mond is droog, sy polsslag belaglik vinnig en die onmiddellike begeerte wat hom lighoofdig maak wanneer hy haar sien, is nog steeds daar. Dis net erger.

Niks het verander nie. Inteendeel.

Liefde in laslap

Подняться наверх