Читать книгу Liefde in laslap - Elsa Winckler - Страница 9

5

Оглавление

Met haar hart in haar keel maak Natalie haar voordeur oop. Francois is betyds. Sy het nogal gewonder of hy sou opdaag en nie dalk intussen terug Johannesburg toe is nie.

“Hallo,” groet sy met ’n bewerige glimlag.

“Dag, Sus,” glimlag hy en oorhandig ’n kleinerige boks aan haar.

Sy kyk verbaas af.

“Foto’s,” sê hy. “Ek het vir myself afdrukke gemaak, so jy kan dié maar hou. Ek kon al die jare na hulle kyk. Jy het ons ouers nooit geken nie, ek hoop die foto’s help om jou iets van hulle te wys.”

Natalie sluk aan die knop in haar keel. “Dankie. Ek sal vanaand hierdeur kyk. Ek kon vir ons ’n afspraak kry by die maatskaplike werker en wil nie laat wees nie.”

Sy sit die boks op die tafel in die voorportaal en stap uit. Francois vat haar aan die arm.

“Is jy oukei? Ek kan my indink watse skok dit vir jou moet wees. ’n Wildvreemde man klop aan jou deur en sê hy is jou broer.”

Natalie knik en kyk op na hom. “Jy’t ook groen oë.”

Hy glimlag. “Skynbaar ons ma s’n.” Hy lig sy hand en streel oor haar wang. “Jy lyk baie na haar. Wanneer jy na die foto’s kyk, sal jy sien.”

Natalie knip-knip teen die klammigheid in haar oë.

“Kom hier,” prewel Francois en trek haar in sy arms.

En dit voel so natuurlik. Dis asof sy hom ken en sy geur bekend is. Sy lag en gee hom ’n druk voordat sy omdraai.

“Kom ons ry. Ek wil baie graag meer weet.”

“Ons ry sommer met my motor.” Francois maak die hekkie vir haar oop.

Sy stap glimlaggend uit en kyk op. Haar asem slaan weg. Aan die oorkant van die pad staan Neethling langs sy motor: arms gevou, sy oë verskuil agter ’n donkerbril. Dit lyk asof hy van die gym af kom, want hy het ’n paar tekkies aan, ’n gymbroek en ’n T-hemp wat styf om sy gespierde bolyf span. Haar hart slaan sommer bollemakiesie.

Natalie kreun hardop. Dis nie moeilik om te raai wat hy dink nie.

“Verskoon my,” sê sy vir Francois en met ’n vinnige kyk op en af in die straat, draf sy na die oorkant.

“Neethling . . .”

“Jy kon maar reguit vir my gesê het daar is ’n ander ou in jou lewe,” sê hy deur stywe lippe. “En jy beskuldig my dat ek al om die ander week ’n ander girl het. Ten minste het ek nie twee op een slag nie. Weet hy jy soen ander ouens?” vra hy in ’n harde stemtoon.

Natalie voel hoe ’n gloed teen haar wange opstoot.

“Ek kan verduidelik,” probeer sy weer. “Hy is my . . .”

Neethling ignoreer haar en klim terug in sy motor. “Dis nie nodig nie. Jy het gesê jou lewe is deurmekaar, ek het net nie geweet dit beteken daar is iemand anders in jou lewe nie.”

Toe ry hy weg.

Ontsteld, vies, stap Natalie terug na Francois wat in sy motor sit en wag. As Neethling so vinnig sulke simpel afleidings wil maak en haar nie kans gee om te verduidelik nie, kan sy niks daaraan doen nie. Wat het hy buitendien hier kom maak?

Sy probeer die dowwe seer in haar binneste ignoreer en klim by Francois in die motor.

“Als oukei?” vra hy.

Sy knik. “Ja wat, kom ons ry.”

Hoekom sal alles nie oukei wees nie? Sy het tog self besluit sy wil niks met Neethling te doen hê nie en het dit ook vir hom gesê. Hoekom is sy nou ontsteld?

Toe sy en Francois laatmiddag voor haar huis stilhou, sit en wag Amelie en klein Christo in haar motor voor in die straat.

“Dis Amelie,” sê Natalie en beduie na haar vriendin wat vir hulle wuif.

“Die een wat saam met jou in die weeshuis was?” vra Francois terwyl hulle uitklim.

“Einste. Sy weet ons was vandag daar en het so ’n halfuur gelede vir my ’n SMS gestuur om te vra wanneer ek by die huis is. Sy is net so opgewonde soos ek.”

“En net so skepties oor my?” glimlag Francois.

“O ja,” lag Natalie.

Amelie kom nadergestap. “Ek gaan nie inkom nie, Nats. Chris het al die vuur aangesteek, maar ek moes net eers kom hoor wat julle kon uitvind. Hallo, ek is Amelie,” sê sy alles in een asem en steek haar hand uit na Francois toe.

Klein Christo steek sy armpies uit na Natalie. “Nats, Nats!” roep hy opgewonde. Sy lig die wriemelende lyfie hoog in die lug voordat sy hom styf teen haar vasdruk.

Francois neem Amelie se hand. “Francois Olivier.” Hy buk af en soen haar wang.

“Mmm, ’n charmer,” lag Amelie.

“Dít het ek ook vandag agtergekom,” vertel Natalie met Christo op haar heup. “Sy sjarme het beslis daartoe bygedra dat ons antwoorde op die meeste van ons vrae kon kry. Alleen sou ek beslis nie die hele tyd so nice gewees het nie.”

Sy kyk na Francois. “Sjoe, ek weet eintlik nie waar om te begin nie.”

Francois sit sy hand om Natalie se skouer. “Ons is beslis broer en suster, ons het vandag bevestiging daarvan gekry. Ons geboortesertifikate bevestig dit deels, maar die spoor wat die huidige maatskaplike werker gevolg het, het haar teruggelei tot by die persoon wat destyds verantwoordelik was om ons uit te plaas. Natalie sê sy het al vir jou vertel ons was veronderstel om in dieselfde weeshuis te wees. Niemand is seker waar die fout ingesluip het nie. Ek onthou net hoe ek my sussie gesoek het, en niemand kon vir my sê waar sy is nie.”

Amelie se oë blink van die trane. “Dis verskriklik hartseer.”

“Ek kon self na haar begin soek toe ek eers werk. Ek en die maatskaplike werker het min of meer op dieselfde oomblik na mekaar uitgereik. En nou het ek my sus opgespoor. Ek hoop jy glo my?” vra hy vir Amelie.

“Al was ek hoe skepties, het jy Nats se groen oë. Julle lyk na mekaar.” Amelie kyk op haar horlosie en vat klein Christo by Natalie. “Ek wil so graag lank gesels, maar nou moet ek spore maak, anders kry ek raas,” sê sy.

“Asof jou man ooit met jou sal raas,” lag Natalie.

“Ek kom maak later die week by jou ’n draai en sal seker maak ons kan langer gesels.” Amelie begin wegry, maar stop en loer by die venster uit.

“Tot wanneer is jy hier?” vra sy vir Francois.

“Ek het môre en Vrydag vergaderings in die Kaap, en het gedink om nog die naweek hier te bly. My vlug is Sondagaand.”

“Wonderlik, dan kan jy Sondag by ons kom eet,” roep sy en met ’n wuif ry sy weg.

Natalie onderdruk ’n kreun. Sy sien nie kans om so gou weer vir Neethling te sien nie.

“Sy lyk baie nice.”

“Sy is. Ons was maar altyd daar vir mekaar.”

“Ek is bly jy’t iemand gehad,” sê Francois stil.

Natalie sluk teen die knop in haar keel. “Ek is nie ’n vreeslike kok nie, maar kan vir ons pasta aanmekaarslaan, wat dink jy?”

Francois glimlag. “Ons eerste gesinsete saam.” Hy sit sy arm om haar skouers.

Omgekrap en geïrriteerd klop Neethling aan sy broer se voordeur. Dis laatmiddag en hy het nog die hele dag net geskryf. Vandat hy weggery het voor Natalie se huis om presies te wees.

Demmit. Hy wou haar konfronteer, haar herinner sy het hom teruggesoen. En toe is daardie vent daar. Dit was vir hom duidelik sy het lankal van die soen vergeet. Waar sou sy aan die man kom? As sy iemand in haar lewe gehad het, sou een van sy mense hom gesê het – nie een van sy susters kan oor so iets stilbly nie.

Terug by sy huis het hy nie eens gaan stort nie, maar dadelik voor sy rekenaar gaan sit en begin tik. Al die naamlose emosies wat in hom rondwoed, het hy op papier probeer neerpen. Hy sal maar môre lees watse twak hy vandag alles geskryf het.

Maar nou is hy lus vir ’n bier en hoop Chris en Amelie kan help om sy gedagtes weg te vat van die ellendige vroumens wat in sy brein nesgeskop het.

Die deur vlieg oop. “Dis ’n lekker verrassing,” sê Chris met ’n breë glimlag. “Kom in. Amelie en Christo is gou oor na Natalie toe. Ek het al ’n vuurtjie aangesteek. Eet jy saam?” Al geselsend stap hulle deur tot in die ruim kombuis.“Kry vir jou ’n bier, ek maak net gou die slaai.” Chris begin goed uit die yskas haal.

Neethling glimlag en haal vir hom ’n bier uit die yskas. “Maar jy is handig in die kombuis, ek is beïndruk. Ek kan nie onthou dat jy ooit aangebied het om slaai te maak nie.”

“Met twee susters in die huis was dit nie nodig nie. Maar ek help hier waar ek kan. Amelie wil dit nie weet nie, maar sy word gou moeg. Dis ’n bietjie anders om swanger te wees as daar ’n peuter om jou rondhardloop. En ek het leer kosmaak toe ek alleen gebly het. Jy seker ook?” vra Chris terwyl hy ’n bak nadertrek.

“Ek koop maar iets wat ek kan opwarm. As ek eers begin skryf, vergeet ek om kos te koop, wat nog te sê maak.” Neethling stap na die groot deure wat op ’n agtertuin uitloop.

“Dis tyd dat jy ’n vrou kry,” lag Chris. “Een wat kan seker maak jy eet reg. Maar jy sal moet verder kyk as die maer poppies wat jy saamsleep na ons Sondagetes. Hulle skrik vir kos.”

Neethling stap stadig terug na die kombuistafel en gaan sit op een van die kroegstoeltjies wat gesellig om die toonbank staan.

“Hoe’t jy geweet?” vra hy terwyl hy in sy bier staar. “Hoe’t jy geweet Amelie is die een?”

Neethling kom na ’n rukkie eers agter dis doodstil. Hy kyk op. Chris het ’n breë glimlag op sy gesig.

“Wie is die girl?” vra Chris.

Vies neem Neethling ’n sluk van sy bier. “Ek het nie gesê daar is iemand nie. Ek wonder net.”

“Jy vergeet ek ken jou,” sê Chris.

Neethling ignoreer hom en speel met sy bierblik.

“Ek moes eers ’n ongeluk maak en in ’n hospitaalbed lê voordat ek besef het hoe ek oor Amelie voel.” Chris glimlag skeef. “As ek reg onthou, het jy baie daarmee te doen gehad. Jy’t mos gedreig om haar af te vat.”

Neethling snork. “Teen daardie tyd het ons almal geweet jy is gaga oor die girl. Ek moes iets doen om jou dit te laat insien.”

“Wel, ek het geweet ek sien nie kans vir ’n lewe sonder haar nie. Sy is in elke prentjie van my toekoms. Dit het my ’n rukkie geneem om haar te oortuig ons moet trou. As weeskind het sy nie haar eie waarde besef nie.”

“Dit moet moeilik wees om groot te word sonder ouers, sonder ’n ma en pa. Wie is jy as jy nie weet waarvandaan jy kom nie?” vra Neethling ingedagte.

Chris sit die slaai in die yskas en beduie vir Neethling na buite. “Kom ons sit buite. Na vanoggend se reën het die dag gelukkig vriendeliker geword.” Neethling gaan sit, en Chris karring aan sy vuur.

“Wel, Amelie onthou haar ouers. Sy was tien toe hulle verongeluk het. Natalie is die een wat haar ouers glad nie geken het nie. Sy was ’n baba toe hulle dood is en . . .” begin Chris en draai vinnig om na Neethling. “Natalie?” vra hy, sy wenkbroue tot teen sy haarlyn opgetrek.

“Waarvan praat jy?” skerm Neethling.

“Is Natalie die girl oor wie jy wonder?” vra Chris stadig en duidelik.

Neethling maak sy mond oop om sy deurmekaar gedagtes te probeer verduidelik, maar Amelie se vrolike stem roep van die kombuisdeur af.

“Neethling! Wat ’n heerlike verrassing,” lag sy en stap op hom af, klein Christo in haar arms.

“Oom Neet, oom Neet!” Klein Christo steek sy armpies uit.

Neethling lig die kleinding hoog bo sy kop voordat hy hom op die grond neersit. Hy hardloop dadelik na sy pa.

“Pappa, Pappa!” Hy lig sy armpies op.

Amelie stap nader en vou haar arm om Chris se lyf terwyl hy die seuntjie vashou. En net vir ’n oomblik sien Neethling ’n ander prentjie. Hy en Natalie staan net so, met ’n dogtertjie met haar groen oë in sy arms.

Hy knip sy oë en probeer fokus op sy broer en sy gesin. Sal hy nou helder oordag gesigte sien.

“Neethling, is jy oraait?” vra Amelie bekommerd, en hy besef hy staar na hulle.

“Hy’t ’n vroumens op sy brein,” glimlag Chris. “Vra hom bietjie wie sy is,” terg hy.

“Daar is niemand,” sê Neethling vies en sit sy bierblik neer. “Jy het afleidings gemaak wat nie bestaan nie.”

“Wie?” vra Amelie asof hy glad nie gepraat het nie.

“Dis nie . . . ek het nie oor ’n spesifieke vroumens gepraat nie. Ek het vir Chris gevra hoe’t hy geweet jy’s die een. Toe besluit hy sommer ek praat van . . . van . . . Natalie.”

Amelie trek haar asem vinnig in en haar oë rek. “Natalie?” Sy klap haar hande. “Oe, Neethling, dis wonderlik!” roep sy uit. “Ek het al so gehoop, maar toe’s jy oorsee en . . .”

“Ek het nie gesê daar is iets nie . . . buitendien, sy het ’n ou,” sê Neethling hoogs geïrriteerd. “Jy weet dit seker.”

Amelie frons. “Natalie? ’n Ou?” Toe glimlag sy. “O, jy praat seker van Francois? Nee, hy is . . .”

“Ek moet gaan.” Met ’n wuif van sy hand storm Neethling die gang af voordat iemand iets verder kan sê. Mompelend pluk hy die voordeur oop. Dit sal hom leer om iets vir sy broer te vertel. Hy wil niks meer weet van die vent wat hy by Natalie gesien het nie.

Liefde in laslap

Подняться наверх