Читать книгу Liefde in laslap - Elsa Winckler - Страница 7
3
ОглавлениеNatalie stap op en af in die sitkamer. Amelie sal seker nou-nou hier wees om haar te kom oplaai, en sy kan nie wag om vir haar van Francois te vertel nie. Sy het laas nag niks geslaap nie, net met wydgesperde oë na die dak lê en staar.
Sy is skepties. Baie skepties. Is hy regtig haar broer soos hy voorgee om te wees? Maar hoekom sou hy sê hy is? Om seker te wees moet sy wag tot Maandag. Die adminpersoneel van die weeshuis sal eers dan weer beskikbaar wees, en sy gaan sorg dat sy daar is.
’n Motor hou voor haar huis stil, en sy gryp haar sak en voordeursleutels. Sy storm voordeur toe, maak die deur oop en onthou van die poeding wat sy gemaak het. Sy draf weer terug kombuis toe. Amelie wil nooit hê sy moet iets saambring nie, maar sy moes iets doen om haar nag om te kry. Teen drie-uur vanoggend het poeding maak na ’n goeie idee geklink.
“Ek kom, ek kom,” roep sy vir Amelie toe sy voetstappe in die gang hoor. “Ek kry net gou die poeding.”
Sy sit die bak in ’n mandjie en draai deur toe. “Jy sal nooit raai wie gister by my opgedaag . . .”
Haar woorde droog op. Dis nie Amelie nie, maar Neethling wat nadergestap kom. En sjoe. Haar hart gaan vrolik aan die huppel. Hy het jeans aan met ’n ligte wit langmoutrui en lyk ongelooflik, onbehoorlik, onregverdig sexy.
“Waar is Amelie?” vra sy, sommer ergerlik. Sy is nie voorbereid om die vent nou al te sien nie. Sy sou nog die hele ent na Amelie en Chris se huis tyd hê om haar in te stel om hom weer te sien. En nou is hy hier!
“Goeiemôre, Natalie. Chris het gevra of ek jou sal oplaai, hy het Amelie laat laat slaap vanoggend, en nou is sy in ’n flat spin,” sê hy ewe rustig.
Natalie voel dadelik sleg. Sy weet Amelie word tydens haar swangerskap maar gou moeg en gister se rondlopery het sekerlik sy tol geëis. Sy moes seker gemaak het hulle kom vroeër terug.
“Dit was nie nodig om my te kom oplaai nie, ek het vir haar gesê dis julle familiedag, ek hoef nie ook daar te wees nie. Chris kon maar net laat weet het.”
“En sy vrou ongelukkig maak? Dan ken jy nog nie my broer nie. Jy is Amelie se familie, daarom is jy ons almal se . . . wel, Chris se familie ook,” sê hy en vat die mandjie by haar.
Natalie trek aan haar hare wat oor haar skouer hang. Sy sien nie kans om saam met die man in ’n motor te klim nie. Regtig nie.
“Kom,” sê hy en begin voordeur toe stap. “Hulle wag vir ons.”
Neethling stap vinnig by die voordeur uit. Familie, hel. Wat met hom gebeur naby dié vroumens het niks met familie te doen nie. Allesbehalwe.
Vandag het sy ’n gestreepte, lang romp aan. Hoewel dit haar lang bene wegsteek, weet hy presies hoe elke sentimeter van hulle lyk. Die groen toppie wat sy daarby aanhet, vou sag om haar bolyf en laat haar oë soos smaragde blink. Anders as gewoonlik, is haar hare vandag los, en sy vingers jeuk om daaraan te raak. Bliksem. Dit gaan ’n baie lang dag wees.
Hy maak vir haar die motordeur oop, wag dat sy inklim en dis eers toe hy omstap na die bestuurderskant dat hy onthou hoe klein die ruimte in die sportmotor van hom is.
Teen die tyd dat hy in die hoofpad glip, is hy deurtrek met haar geur. Hy draai sy venster halfpad oop, maar dit help nie. Hy trap die petrolpedaal in. Sy gryp die sitplek vas, en met ’n onderlangse swets lig hy weer sy voet.
Dis doodstil die hele ent pad tot voor Chris en Amelie se huis, maar dis asof hulle op ’n ander vlak kommunikeer. Hy weet sy is net so ongemaklik soos hy; hy weet sy is onrustig oor wat sy voel; hy is bewus van elke asemteug dat sy neem, elke beweging wat sy maak. Teen die tyd dat hulle stilhou, is sy enigste drang om haar nader te trek, sy vingers deur haar hare te trek en te proe of sy so soet proe soos wat hy dink, of haar lippe so sag is soos wat hulle lyk . . .
Natalie spring vinnig uit en stap aan voordeur toe nog voordat hy sy hande van die stuurwiel afhaal. Hy staar haar agterna en skud sy kop terwyl hy uitklim.
Een ding is in elk geval nou kristalhelder – ’n jaar in ’n ander land het nie gehelp om hom van Natalie te laat vergeet nie. Dis tyd om ’n ander alternatief te oorweeg om haar uit sy gestel te kry.
“Wat sukkel jy so om uit die motor te kom?” roep Chris van die voordeur af.
Neethling glimlag, haal die wyn wat hy saamgebring het uit en stap nader. Dis lekker om weer by sy mense te wees. Hy en Chris het nog altyd goed oor die weg gekom, en hy het hulle gereelde kuiers gemis.
Hy en Chris klop mekaar se skouers en stap geselsend deur die huis tot aan die agterkant waar Amelie se tafel onder die groot pekanneutboom staan. Die res van hulle gesin is al daar en die twee seuntjies van sy suster René en haar man, Neil, is al moeg gespeel en het klaar elk ’n vuil streep oor die wang.
Sy oë soek na Natalie nog voordat hy weet wat hy gaan doen. Sy en Amelie staan eenkant en gesels. Amelie se oë is wyd oopgerek en sy hou haar een hand teen haar hart. Natalie praat en beduie opgewonde. Nicola se kamera klik-klik vrolik sover soos wat sy beweeg.
Vir die eerste keer onthou hy wat Natalie vanoggend gesê het toe hy in haar kombuis stap. Iets van iemand wat by haar opgedaag het, as hy reg onthou. Dis duidelik sy is baie opgewonde oor wie dit ook al was.
“Neethling!” Sy ma staan op om hom te groet. “Dis lekker om te weet jy is weer naby aan ons. Gister se kuiertjie was so vinnig, ek het nog nie kans gehad om jou uit te vra nie. Kom sit hier by jou ma en vertel.”
Natalie sien uit die hoek van haar oog hoe Neethling langs sy ma gaan sit en slaak ’n sug van verligting. Sy moet nou net seker maak sy kry ’n stoel ver van hom af, anders gaan sy nie deur die dag kom nie. Die pad na Chris en Amelie se huis was nog nooit so lank nie.
Sy was die hele tyd oorbewus van die groot man langs haar, en elke keer wat hy die ratte verwissel het, het sy vingers so net-net aan haar geraak. En selfs net daardie ligte aanrakings was genoeg om haar kortasem te maak.
“Natalie?” vra Amelie. “Jy het in die middel van ’n sin ophou praat. Kom, stap saam met my kombuis toe, ek wil die slaai gaan haal. Die man wat by jou aangekom het, sê hy is jou broer? Maar hoe is dit moontlik? Hoekom het jy nog nooit van hom gehoor nie? Hoekom het niemand by die weeshuis ooit vir jou gesê jy het tog familie nie?”
Natalie skud haar kop. “Ek weet nie. Hy ook nie. Ek het nie vir jou daarvan vertel nie, maar ek het so ’n paar maande gelede e-posse begin uitstuur. Ek is terug weeshuis toe en het gevra of hulle enige rekords het wat aandui waarvandaan ek kom. Ek het darem altyd geweet ek is op Graaff-Reinet gebore en my ouers is in ’n motorongeluk dood, maar niemand het verder iets van hulle geweet nie. Daar was nie enige foto’s van hulle of van myself toe ek klein was nie. Jy sal onthou ek het ook navraag gedoen toe ons universiteit toe is, maar in daardie stadium kon ek niks uitvind nie.
“Daar is nou ’n nuwe maatskaplike werker by die weeshuis en sy het, lyk my, baie moeite gedoen. Sy het my niks daarvan gesê nie, maar volgens Francois het sy die vrou opgespoor wat met my oorspronklike opname in die weeshuis te doen gehad het. En dié het geweet ek het ’n ouer broer. Hoekom niemand dit ooit vir my kon sê nie, sal ek seker nooit weet nie. Daar was een of ander deurmekaarspul: ons was veronderstel om in dieselfde weeshuis te beland wat toe nie gebeur het nie. Maar sy kon die maatskaplike werker op Francois se spoor sit. Hy het skynbaar onthou van ’n babasussie, soek al lank na my en sy soektog en die maatskaplike werker s’n het hulle uiteindelik bymekaar gebring. Hy het vir die maatskaplike werker gevra om niks vir my te sê nie, hy wou my self kom verras. Dis in elk geval wat hy sê.”
Kopskuddend stap Amelie voor haar uit tot in die kombuis. “Nats, ek weet nie wat om te sê nie. Hoe is dit moontlik dat niemand ooit vir jou vertel het nie? Daar was wel ’n paar verskillende hoofde in die tyd wat ons daar was, maar dis sekerlik die soort inligting wat oorgedra word na ’n volgende hoof? Dis krimineel!” roep sy uit.
Natalie trek aan haar hare. “Ek weet nie hoe dit gebeur het nie en ek neem niemand kwalik nie. Dié soort goed gebeur seker maar. Ek wil in elk geval eers seker maak of hy regtig is wie hy sê hy is. ’n Mens hoor sulke vreeslike stories. Ek wil môre deurry soontoe . . . ag, tog, ek onthou nou ek kry my motor seker eers Woensdag.” Gefrustreerd kam sy haar vingers deur haar hare.
“Ek sal jou vat,” sê Amelie dadelik.
“Nee, jy gaan dit beslis nie doen nie. Jy is moeg na gister se rondlopery, jou man sal my nooit vergewe as ek jou weer wegsleep nie.”
“Waarnatoe wil jy my sleep?” vra Chris agter haar, en toe sy omdraai, staan hy en Neethling daar.
“Sommer niks.”
Amelie maak haar mond oop om te praat, maar Natalie maak vir haar groot oë en skud haar kop effentjies.
“Julle is net betyds om te help.” Amelie druk ’n bak slaai in elkeen se hand.
“Dankie,” sê Natalie verlig toe die mans uitstap. “Ek wil nog nie daaroor praat nie. Kan ons dit eers vir onsself hou?”
Amelie kantel haar kop en kyk ’n paar tellings na Natalie. “Oukei, ons hoef nie nou daaroor te praat nie, maar ek gaan vir Chris daarvan vertel. Ek sal vra hy moet stilbly daaroor. Maar ek verstaan nie hoekom jy nie daaroor wil praat nie . . . As die man regtig jou broer is, is dit mos wonderlik.”
“Ek weet, maar ek wil eers seker maak. Dis dalk glad nie waar nie.”
“Hoekom jou kom opsoek as hy nie ’n rede het nie?” vra Amelie. “Dis nie asof jy ’n ryk weduwee is by wie hy kan geld kry nie.”
Natalie lag. “Jy’s seker reg, ek is onnodig paranoïes. Ek wil net eers self met die maatskaplike werker gesels.”
“Wat weet jy van die man?” vra Amelie.
“Hy is ’n ouditeur. Soos vir my, was daar ook ’n studiebeurs wat hom in staat gestel het om te gaan swot. Hy is nog enkellopend en woon in Johannesburg. Hy het al die jare onthou hy het ’n sussie, Natalie, en sê hy soek al baie lank na my.”
Amelie se oë blink. “Nats, ek is so bly vir jou. Ek hoop hy is lank genoeg hier sodat jy hom aan ons kan voorstel?”
“Laat ek nou eers môre agter die rug kry . . .”
“Laat my nou asseblief toe om jou te neem? Ek sal dit baie rustig vat, ek belowe,” sê Amelie.
Natalie glimlag. “Ek het intussen aan ’n plan gedink. Ek gaan vir Francois vra om my te neem. Ons kan die maatskaplike werker saam uitvra en ek sal wel kan agterkom of hy werklik my broer is.”
Kos word neergesit, die kleintjies hardloop nog vir oulaas ’n draai voordat René en Neil hulle sitgemaak kry. En toe hy ’n sitplek soek, is die enigste oop een reg langs Natalie.
“Kom ons vat hande,” sê Chris. “Pa, sal jy bid?’
Almal vat hande, en Neethling staal hom voordat hy sy hand na Natalie uitsteek. Sy hand vou styf om hare, en haar vingers fladder vir ’n oomblik soos ’n klein, verskrikte voëltjie. Hy verstewig sy greep, en haar hand ontspan.
Nicola sit aan sy ander kant en gee sy hand ’n drukkie. Dis goed om terug te wees. Die oomblik is gou verby, en Natalie trek haar hand vinnig uit syne. Hy lig sy hand op om oor sy gesig te vryf – en ruik ’n sweem van haar geur. Bliksem.
“Het julle gehoor van die Maleisiese vlug wat gister net spoorloos verdwyn het?” vra Nicola.
“Ja, is dit nie vreeslik nie? Niemand weet wat van die vliegtuig geword het nie,” sê Chris.
“Die arme familielede wat agterbly – ek weet nie hoe ’n mens so iets verwerk nie,” sê sy ma.
Neethling frons. Maleisiese vlug? Peet het gister vir hom die inligting in verband met sy vlug van Amsterdam af na Melbourne gestuur. As hy reg onthou, is hy ook op ’n Maleisiese vlug, een wat oor Kuala Lumpur gaan.
“Het jy al vir Ma vertel jy is weer een van die dae op ’n vliegtuig?” vra Nicola en stamp aan hom.
Sy ma kyk op. “Is jy al weer op pad?” vra sy effens moedeloos.
“Eers in Julie, Ma.” Hy vertel hulle van sy planne. Oor die feit dat hy ook op ’n Maleisiese vlug gaan wees, bly hy tjoepstil. Sy ma bekommer haar genoeg oor haar kroos. En die kanse dat nog ’n vliegtuig van een lugredery weer kan verdwyn, is darem seker nul.
“Wel, dis gelukkig nog ver in die toekoms.” Sy pa vat sy ma se hand.