Читать книгу Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler - Страница 5

2

Оглавление

“Sjoe,” giggel Ella en gryp die naaste vel papier om haar koel te waai. “Ek het lanklaas soveel manlike manne bymekaar gesien. Dis die ene …”

“Testosteroon?” skerts Corinne half uitasem, lig haar hare op met haar een hand en trek haar notaboek nader met die ander. Ook sy is die ene gloede. “Dié dat ek hulle uitgestuur het,” lag sy en begin kyk deur die telefoonnommers van haar verskaffers op haar foon. “Dis onmoontlik om te werk met daardie spul in die omtrek.”

“Die een wat agter jou aan in die gang af is …”

“Alan,” prewel Corinne, terwyl haar wysvinger oor die name op die lysie gly.

“So, jy het darem sy naam gehoor,” sê Ella. “Wat het in die kombuis gebeur? Jou wange was rooi en jy het ’n trui aangehad toe jy terugkom.” Haar oë rek. “Hy’t jou gesoen!” roep sy opgewonde uit.

“Ella!” raas Corinne ontsteld. Doug se piksoen was soos dié van ’n broer, maar net die gedagte aan Alan se lippe op hare, laat haar die trui weer styf om haar lyf draai. Goeiste aarde tog. Hulle was sentimeters van mekaar af, dit sou so maklik gewees het om op haar tone te staan en met haar lippe aan syne te raak.

Help! Ontsteld soek sy rond op die toonbank. “Niemand het niemand gesoen nie. Hierso,” sê sy en gee ’n boek met telefoonnommers van nog verskaffers aan Ella. “Begin bel jy hierdie name, ek bel dié op my selfoon. Ons het ’n bestelling om aan te werk. Daar is g’n tyd om oor ’n soenery te staan en praat nie.”

Ella trek die boek nader. “Jou wange gloei al weer,” terg sy voordat sy aan die werk spring.

Corinne druk ’n hand teen haar warm gesig. Sy het dalk iets onder lede. Seker ’n vreemde virus. Hierdie waansinnige geklop van haar hart is ’n heel ongewone ervaring. Sy moet iets makeer, haar hele lyf kan tog nie so vreemd koorsig reageer en dit net omdat sy naby ’n aantreklike man gestaan het nie.

Sy gryp ’n stuk papier en begin haar ook koel waai. Net die gedagte aan die man se geur, sy nabyheid, maak haar van voor af warm. Hy het die mooiste blou oë en ag aarde, daai kuiltjie in sy wang is genoeg om elke vrou se bene lam te maak.

“Wel, as ek so na jou kyk, is daar net een afleiding. Jy het ten einde laaste ’n man raakgeloop wat jou liggies aanskakel!” giggel Ella.

Corinne laat val haar papierwaaier en kyk verdwaas na Ella. “Waarvan praat jy tog?”

“Kyk na jou, jou oë blink, jy kan nie op jou werk fokus nie – en dit het alles begin vandat die Sutherland-broers in die winkel was.”

Corinne waai Ella se aanmerking weg. “Ek weet nie van watter liggies jy praat nie. Ek was nogal uit die veld geslaan oor die vyf mans in die winkel, maar selfs jy was ’n paar minute sprakeloos. Hulle is … ’n fees vir die oog, maar ek dink ek het iets onder lede.”

Ella stik in ’n giggel.

“Ek voel effens koorsig, maar dit het niks met die mans te doen nie,” kap Corinne vieserig terug.

Nou lag Ella kliphard. “Niemand het van mans in die meervoud gepraat nie, my liewe Corinne. Uhm … ek dink die koorsigheid is te wyte aan een baie spesifieke man. Die een wat netnou agter jou aangeloop het kombuis toe.”

Corinne trek haar asem verstom in. “Maar dis tog nie moontlik nie, is dit? Hy is ’n beeld van ’n man, ja, hulle almal is – en dis nie asof ek nog nooit mooi mans gesien het nie! ’n Mens kan nie so vinnig … kan ’n mens? Dis seker net …”

“… omdat hy jou liggies aanskakel. Is dit nie wonderlik nie? Net vanoggend het jy nie gedink daar is ’n man wat dit sal regkry nie, en kyk nou vir jou!”

Corinne druk haar hand teen haar hart. Sy het nog altyd geglo in haar instink, in haar eerste reaksies op situasies en op mense. Maar hierdie keer is sy onwillig … nee, bang is die woord as sy nou baie eerlik is, om na instink te luister. Want wat daardie stemmetjie vir haar sê, doen geen ordentlike vrou vroeg in die oggend nie! Die gevoelens wat deur haar bruis, is oorweldigend, intens, allesoorheersend en … en sjoe, stomend.

En sy wil nie so voel nie. Sy wil nooit, ooit soos haar ma alles los, haar kind inkluis, haarself elke keer probeer verander om te wees wat die nuwe man in haar lewe wil hê sy moet wees nie. ’n Mens kan mos darem jou gesonde verstand gebruik en goeie besluite neem.

Hoewel dit lyk asof haar gesonde verstand nie meer heeltemal so gesond is nie.

’n Blos dreig om weer teen haar nek op te kruip en sy kam haar hare agteroor met bewerige vingers. “Oukei, jy is dalk reg. Die man het my … die vent ís aantreklik. Maar ons het werk om te doen! Ons moet kyk of ons op kort kennisgewing verskaffers kan kry wat Skotse heide en distels betyds kan aflewer, ’n kwotasie uitwerk. Daar is nie nou tyd,” kreun sy en druk haar hand op haar maag, “om aan die vlinders hier binne te dink nie!”

Ella glimlag meewarig. “Gelukkig is ek nog oukei, al het die manne my ’n rukkie van stryk gebring. Ek sal heel eerste met ons gewone verskaffer praat en vra of hulle dalk ’n plan kan maak om Skotse heide in die hande te kry. Watter kleur moet dit wees? Wit of pers?”

“Wit,” sê Corinne en kyk na die foto wat Doug vir haar gegee het. “Wit heide beteken beskerming, en bring geluk vir bruide wat dit dra. Jy ken die mooi storie wat vertel word oor wit heide.”

“So, só romanties.” Ella sug en druk haar hand teen haar hart.

“Dit is spesiaal.” Corinne kyk vinnig deur die lysie. “Die Skotse distel behoort nie ’n probleem te wees nie, dis maklik om in die hande te kry. ”

Ella bel dadelik. Die verskaffer kan wit Skotse heide kry. Teen ’n prys, natuurlik, maar die bruidegom moet maar besluit of hy bereid is om dit te betaal. Corinne kan alternatiewe aanbeveel.

Uiteindelik het sy al die pryse. Daar is nog tien minute oor voor sy weer die Sutherland-broers sien, maar gelukkig werk sy vinnig kwotasies uit. Die fladdering op haar maag begin weer en sy voel die heerlike gloed van afwagting en opwinding teen haar nek opkruip. Sy gaan binne enkele oomblikke weer vir Alan sien.

Help! Die stemmetjie in haar binneste is al hees geskree.

Alan sou vinnig sy koppie koffie sluk en waai. Dis nie nodig om langer te sit en wag om te hoor van Doug en Annabel se blomme nie. Dit het op die aarde niks met hom uit te waai nie. Hy het sy ondersteuning gewys deur saam te kom, hulle het ’n bloemis gekry, sy plig as strooijonker en broer is afgehandel.

So, die rede hoekom hy nog hier in afwagting sit, beteken net een ding – hy wil weer die godin met die armbande sien. Corinne. In die paar oomblikke wat hy sentimeters van haar af was, het hy alles van haar raakgesien: haar helderblou oë, die vyf sproete op haar neus, die sysagtheid van haar koringblonde hare, die glimlag om haar lippe en, help hom, die klipharde puntjies van haar borste wat teen haar T-hemp druk. En toe kom die doodskoot – daai dun goue enkelkettinkie. Dat hy nie iets onbesonne aangevang het nie, soos om haar oor sy skouer te gooi en iewers heen te neem waar hulle alleen kan wees, waar hy kan voel …

Ongemaklik skuif hy op sy stoel rond. Hy wat skaars ’n girl se naam kan onthou na ’n date, het feitlik oombliklik elke detail van die vroumens opgeslurp. Net die gedagte aan haar stuur sy libido weer op ’n wilde weghol. En wat hy glad nie verstaan nie … sy lyk nie naastenby soos sy idee van die ideale vrou nie.

Magtig, hy is besig om dit te verloor, hy hoor die treiterende geklingel van daardie armbande al is sy nie eens naby nie.

“Hier is Corinne!” roep Doug uit.

Verlig staan hy saam met sy broers op. So, sy spook nie regtig by hom nie. Hy het reg gehoor; hy is darem nog nie heeltemal van sy trollie af nie.

Corinne beduie vir hulle om te sit. “Jul ma het julle mooi grootgemaak.” Sy skuif haar reg op die leë stoel langs hom en toe hulle inskuif, rus haar been ’n oomblik styf teen syne.

Hy voel die siddering wat deur haar lyf trek, maar voordat hy iets simpels kan doen soos sy hand op haar been sit, skuif sy haar stoel agtertoe.

Sy begin klik die pen wat sy in haar hand het en maak keel skoon. “Ek kan vir jou die Skotse heide kry; die wittes kom teen ’n prys, natuurlik. Daar is goedkoper alternatiewe.” Sy knipoog na Doug se kant, haar glimlag wyd. “Maar jy weet seker hoe spesiaal wit heide is. Dit dra so ’n besonderse boodskap oor en daar is ’n spesiale legende wat daaroor vertel word.”

Doug skud sy kop. “Nee, ek weet niks van blomme nie. Ek weet net Annabel soek ’n Skotse ruiker en ek sal oor warm kole loop om seker te maak sy kry wat sy wil hê.”

“Wow, jy’s ’n droombruidegom! Hier is die pryse.” Corinne oorhandig ’n vel papier aan Doug. “Blomme het hul eie taal. Die wit heide sê vir haar jy wil haar beskerm en hoop uit jou hart al haar wense sal waar word.”

Doug glimlag breed. “Ek hou daarvan. Maar ek het nie geweet blomme dra betekenis oor nie. Oukei, ek weet ’n rooi roos is liefde, maar jy leer my iets.”

“Ek het feitlik in my ouma se blommewinkel grootgeword en by haar geleer blomme ‘praat’ met jou. Elke blom het ’n betekenis, elke blom sê iets. Dis wonderlik om die uitwerking van die regte bos blomme op iemand te sien. Glo my, jou bruid sal mal wees oor haar ruiker.”

“Corinne, jy red my. Ek gaan hierdie lys vir Annabel gee, sy sal verder met jou onderhandel. Die prys maak nie saak nie, enigiets wat haar gelukkig maak.”

“Volgens die lysie wat jy my vanoggend gegee het, wil julle ook blomme in die onthaallokaal hê?”

Doug struikel effens oor die naam van ’n spogwynplaas buite Stellenbosch waar die onthaal gehou gaan word.

Corinne knik. “O ja, Plaisir d’Amour! Ek het al ’n slag die blomme vir ’n troue daar gedoen en weet presies hoe dit lyk. Pragtige plek. Goed, ek wag vir Annabel om my te bel.”

Sy begin opstaan en Alan sit vinnig sy hand op haar arm. Haar arm ruk onder sy vingers en hy laat sak sy hand.

“Die legende van die wit heide?” vra hy.

Sy kyk vinnig na sy broers voordat sy begin praat. “Volgens oorlewering was Malvina, die dogter van die Skotse digter Ossian, in die derde eeu verloof aan die Keltiese soldaat Oscar. Oscar is egter dood tydens ’n geveg en toe Malvina die nuus kry, het sy bitterlik gehuil. Daar word vertel die boodskapper wat die nuus gebring het, het ’n takkie pers heide aan haar oorhandig wat Oscar vir haar as ’n laaste teken van sy ewigdurende liefde gestuur het. Toe haar trane op die pers heide val, het dit wit geword. Sy het die wens uitgespreek dat die wit heide, hoewel die simbool van haar hartseer, geluk aan elke ontvanger daarvan sal bring.”

Sy skuif haar stoel agteruit en staan op. “Mooi, nè?”

Alan kyk vinnig na sy broers. Almal het dieselfde verdwaasde uitdrukking op die gesig, wat seker ook op syne is. Die girl kan ’n storie vertel.

Hulle spring weer almal op. “Dankie, Corinne,” sê Doug duidelik beïndruk.

“Kom ek stap saam met jou terug,” sê Edward en vat haar hand.

Voordat Alan kan dink oor wat hy aanvang, het hy haar ander hand in syne. “Ek sal saam met haar stap,” sê hy kortaf en druk Edward eenkant toe.

Sy broers se skaterlag agtervolg hom tot om die hoek.

“Jy hoef nie saam te stap nie, ek …”

Hy swaai haar om sodat sy voor hom staan. “Ek wil jou sien. Vanaand. Of … enige ander aand.”

Sy kantel haar kop, ’n frons op haar voorkop. “Ek dog Annabel gaan my bel oor die blomme?”

Iemand stamp agter teen hom en met ’n swets trek hy haar by die naaste deur in. Dis die een of ander kantoor, maar hy kyk nie rond nie.

“Ek wil jou sien,” sê hy weer, maar sy bly frons, so asof sy geen benul het waarvan hy praat nie. Magtig, het hy so lanklaas ’n vroumens uitgeneem? Hy moet sy slag verloor het. “Ek wil jou uitneem. Vir ete of … iets.”

Hy sien die presiese oomblik toe sy verstaan wat hy nou eintlik vra. Haar wenkbroue skiet die hoogte in en haar mond vorm ’n koeëlronde “o”.

“Vanaand?” vra hy.

Verdwaas knik Corinne.

“Sewe-uur?”

Sy knik weer.

En toe kan hy met die beste wil ter wêreld nie meer die donderende boodskap van sy brein of sy lyf, of albei, ignoreer nie. Hy vou haar gesig toe in sy hande. Haar mond val oop in ’n snak en hy duik af vir ’n soen.

’n Man soen nie ’n girl wat hy van g’n kant af ken nie. Dis sy laaste intelligente gedagte. Want toe sy lippe aan hare raak, kom sy hele lyf in opstand teen hierdie verlangse stemmetjie wat hom wil kapittel.

Haar lippe is sag, warm en nooi hom uit om te proe. Hy drink haar in, maar die dors in sy binneste raak nie geles nie, inteendeel.

Iemand maak hard keel skoon agter hulle.

“Kan ons help?” vra ’n geamuseerde stem.

Vervaard ruk hy sy kop op. Corinne knip-knip haar oë. Hy kyk om na waar die stemme vandaan kom. Agter die ontvangstoonbank staan twee vroue met breë glimlagte na hulle en kyk, maar dit duur ’n paar oomblikke voordat hy besef wat so pas gebeur het. Hy het wragtig ’n wildvreemde vrou by die eerste die beste deur ingetrek en haar gesoen sonder om een oomblik te dink wat hy doen en waar nogal.

Corinne lag, haar armbande klingel uitgelate.

“Hallo, julle!” groet sy die twee vroue vrolik. “Ek kan hom beslis aanbeveel – die man kan soen!”

En voordat hy iets kan sê, is sy uit by die deur.

“Wel, meneer, as jy soene aan die uitdeel is …” giggel die een vrou, maar Alan luister nie verder nie en stap met lang treë by die deur uit agter Corinne aan.

Binne die bestek van ’n uur is hy uitgedop en omgedop deur die vroumens. Hy soen vroue, maar darem eers na ’n paar dates, nie sommer enkele minute nadat hy een ontmoet het nie. Sy instink – en libido – het sy normaalweg analitiese linkerbrein heeltemal oorgeneem – dis al verklaring vir sy bisarre optrede.

Gewoonlik kyk hy ook die spreekwoordelike kat eers baie goed uit die boom voordat hy eens daaraan dink om ’n vrou uit te neem. Hy stel baie vinnig vas in watter kategorie ’n vroumens val – is sy ’n geldjagter, dalk loopbaangerig, of op soek na ’n trouman? Van laasgenoemde bly hy vir eers so ver moontlik weg.

Die loopbaangerigtes werk vir hom, hulle is altyd te vinde vir sy no-strings-beleid. En gewoonlik is sy nommerpas-date ’n aantreklike, lang donkerkop met ’n netjiese kapsel wat tuis is in snyerspakkies, ’n dame wat stemmige juweliersware soos pêreloorbelle verkies. Dalk sal hy wel eendag met só ene trou – ’n vrou wat ’n bate vir sy beeld in die sakewêreld sal wees – maar daarvoor is hy nog glad nie gereed nie.

Hierdie girl wat hy vanoggend ontmoet het, die een met die koringblonde hare, pas in geen boksie nie. Haar lang, amper deurskynende romp is allesbehalwe stemmig. En hy kan sy oë nie van haar ritselende en beslis onstemmige armbande afhou nie. Hel, as hy eerlik is, alles aan haar fassineer hom.

En verdomp, ’n paar verskietende oomblikke het sy hom teruggesoen. Maar sy kon ewe koeltjies wegstap met ’n breë glimlag terwyl die vuur in sy lyf dreig om hom te verteer.

Hy druk die deur oop en stap ’n tweede keer die dag haar blommewinkel in. Dié keer is sy lyf tot in sy tone gepantser teen die tornado wat wag, dié keer sal hy nie weer …

En toe sien hy haar. Sy gesels glimlaggend met ’n netjies geklede ouer vrou aan wie sy ’n ruiker oorhandig.

“Dankie, kind,” sê die vrou, haar stem sag en vol emosie. “Dis pragtig. Wat skuld ek jou?”

“Dis ’n geskenk van my en Ella, Rita. Baie geluk met jou verjaardag, ons wens jou net geluk toe. Dis wat hierdie lelies-van-die-dale vir jou sê,” sê Corinne en raak aan die wit blomme in die ruiker.

Die ouer vrou snuif. “Dankie, Corinne. Ek is so dankbaar vir iemand soos jy in my lewe,” sê sy en ruik waarderend aan die bos blomme. “Jy helder altyd my dag op.”

En nee, besef hy, al was hy dié keer voorbereid daarop om haar te sien, sy kry dit weereens reg om sy hart vinniger te laat klop. Sy ís presies so beautiful soos wat hy onthou. En sy het ’n hart vir ander – die vrou voor haar is amper in trane oor die ruiker.

Hy staan nog half oorbluf by die deur toe die vrou aangestap kom, haar kosbare blomme in albei hande vasgehou. Hy maak die deur vir haar oop en sy glimlag vir hom.

“Corinne,” roep sy en loer oor haar skouer terug. “Kyk net hierdie beeld van ’n man! En dan het hy nog maniere ook.” Met ’n wuif van haar hand is sy uit by die deur.

Corinne het werktuiglik opgekyk toe Rita na haar roep. Hy hou haar blik vas totdat hy reg voor haar tot stilstand kom.

“Alan, was daar nog iets?”

“Jou adres?”

Sy skud haar kop en kam haar vingers deur haar lang hare. “Ek … het weer gedink en …” Sy maak ongemaklik keel skoon. “Ek dink nie dis ’n goeie idee as ons tyd saam deurbring nie.”

“Hoekom nie?” vra hy en gee nog ’n tree nader sodat hul gesigte sentimeters van mekaar is.

’n Effens verbouereerde uitdrukking kruip in haar oë voordat sy wil-wil wegdraai. “Jou broer is ’n kliënt van my …” begin sy, maar hy gryp haar hand voordat sy kan wegstap.

“Twak,” sê hy. “Dis nie ’n verskoning nie.”

Haar een wenkbrou lig en haar armbande tart hom toe sy haar ander hand op haar heup sit. Heeltemal onbepland raak sy vingers met hare verstrengel.

Sy trek haar asem in. “Alan,” sê sy, die kenmerkende glimlag meteens weg, “dis te … veel, te vinnig, jy’t my sommer gesoen!”

“Hoe de hel dink jy voel ek? Ek stap hier in om my broer te help en daar is jy – blond, sensueel, jou hare los, jou armbande al klingelend en jy laat my vergeet wat my bleddie naam is!”

“Presies, ek weet!” Sy trek haar asem vinnig in en gluur hom verontwaardig aan. “Ek het ’n doodgewone dag gehad totdat jy hier ingestap het – groot, sexy, aantreklik. En binne ’n uur soen jy my en ek wou nie hê jy moes ophou nie! Dis belaglik. Ek ken jou glad nie en doen nooit so iets nie. Wel, natuurlik soen ek mans, maar nie binne die bestek van ’n uur nie!”

’n Rooi blos kruip teen haar nek op. Sy kreun hardop, ruk haar hand uit syne en druk haar gesig in haar hande. “En ek kan nie glo ek het dit hardop gesê nie,” fluister sy terwyl sy deur haar vingers na hom loer.

Haar woorde het ’n onmiddellike uitwerking op sy lyf en met ’n swetswoord trek hy sy broek reg. Sy laat sak haar hande en beweeg vinnig tot agter die toonbank.

“Soos ek gesê het, dis nie ’n goeie idee nie. Ek …”

Die foon lui. “Ek moet antwoord,” pleit sy. “Gaan asseblief … weg? Ek … jy … moenie so vir my kyk nie!” fluister sy half desperaat en tel die gehoorbuis op.

Soos die spreekwoordelike skim verskyn Doug meteens van agter ’n rak. Hel, wanneer het hy ingeglip? Dis die allerlaaste mens wat Alan nou wil sien.

“O, hier is jy! Ons het gewonder wat van jou geword het. Ons is op pad. Wat maak jy nog hier?”

Voordat sy broer verder kan praat, is Alan reeds by die deur uit. Die laaste ding wat hy nou nodig het, is aanmerkings van sy broers. As hulle moet agterkom hoe die girl met hom toor, sal hy nooit die einde daarvan hoor nie.

Toe hy voor in die motor klim, slaan Quinn hom van agter op die skouer. “Het jy sowaar die hots vir die vroumens? Al wat ek kan sê, is sy is ’n groot verbetering op die kantoorjuffers wat jy gewoonlik uitneem. Sy lag maklik en lyk nie of sy honger ly nie.”

“Ja, seriously. Ek het al baie gewonder hoekom hou jy so van vroumense wat so teringmaer is en sulke vreeslike formele klere dra,” sê Edward. “Dis onnatuurlik!”

“En dan praat ek liewer nie van die stywe bollas wat hulle dra nie. Kry jy ooit kans om hul hare darem bietjie deurmekaar te krap?” terg Finlay.

Alan brom net onderlangs.

“Julle mos gesê,” skaterlag Finlay. “Watch this space – ons het wragtig nog ’n troue voor Krismis.”

“Is jy nou heeltemal besimpeld?” snou Alan sy broer oor sy skouer toe.

Doug skakel die motor aan. “Jy het nie die uitgeboulde uitdrukking op jou gesig gesien toe jy agter die girl aangeloop het nie – ons het.”

Alan vryf gelate oor sy gesig. “Sy’s ’n oulike girl en ja, ek het probeer om haar weer te sien, maar sy wil nie, einde van storie. Soos julle so pas opgemerk het, sy is in elk geval glad nie my tipe nie. Julle weet van al die moeilikheid by die werk – kan ons asseblief eerder daaroor praat?”

“Dalk dié dat jy nie so ver kom om te trou nie – jy moet dalk ’n ander tipe girl probeer uitneem,” raas Doug gemoedelik voordat hy oor die probleme met hul verskaffers begin praat.

Alan kyk by die venster uit en probeer sy lyf, sy hartklop, sy libido in beheer kry. Die hele situasie is so onwerklik. Die vroumens is reg – hulle twee saam is beslis nie ’n goeie idee nie.

Ultrasatyn 2

Подняться наверх