Читать книгу Ultrasatyn 2 - Elsa Winckler - Страница 9

6

Оглавление

“Ek het goeie nuus vir jou, Quinn,” sê Annabel. “Ons was vandag by die blommewinkel wat julle opgespoor het en …”

Sy praat verder, maar Alan kyk nie eens op nie. Doug en Annabel het hulle almal vir ’n braai genooi om die laaste reëlings van die troue te bespreek. Hy wil so gou moontlik klaar eet sodat hy hom kan gaan toesluit in sy kamer.

Hy het presies gekry wat hy wou hê – die belofte van ’n no-strings-verhouding met Corinne, die girl met die ketting om haar enkel en klingelende armbande wat hom uit sy slaap, uit sy werk en van sy verstand af hou. Hy behoort in sy skik te wees met homself. Maar hy is nie.

Tot by Doug se troue. Hy sal haar sien tot sy broer trou. Dis al waaraan hy kan dink. En wat dan? Sê nou dis nie lank genoeg nie? Na een aand saam met haar weet hy reeds hulle het meer gemeen as wat hy ooit kon dink.

“Alan!” roep Annabel en hy kyk op. “Ek praat met jou.”

“Jammer. My kop is by … by die werk.”

“Ek het vir Corinne en Ella van die blommewinkel ook na die troue genooi. Hulle bewys ons ’n groot guns en ek weet van minstens een van my aanstaande swaers wat baie opgewonde is daaroor.”

’n Hand vou om sy lugpyp. “Wie nogal?”

“Quinn.”

“Is jy nou simpel?” vra hy vies en gluur na Quinn. “Jy’s hopeloos te jonk vir haar.”

“Wat bedoel jy? Sy’s vir seker jonger as ek.”

“Van wie praat ons?” vra sy ma.

“Van Ella,” sê Quinn.

“Van Corinne,” sê Alan terselfdertyd.

Dis ’n oomblik doodstil om die tafel. Toe slaan Finlay met sy hand op die tafel en lag. “So, jy is nog nie oor die girl nie.” Hy beduie vir sy ma en Annabel. “Hy het haar sommer dadelik uitgevra, maar sy het skynbaar verstand, sy het nie ingestem nie.”

“Nie dat dit iets met jou te doen het nie, maar ek het haar gisteraand uitgeneem,” kners Alan uit. Eers toe die woorde uit sy mond is, besef hy wat hy gesê het.

Annabel en sy ma trek hoorbaar asem in.

Sy ma leun vorentoe. “Het ek reg gehoor? Het jy gisteraand vir Corinne uitgeneem?”

Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. Vir dié sirkus is hy nie verder lus nie. “Ons het gaan uiteet. Sy is oulik, maar nie die tipe girl oor wie ek ernstig kan raak nie, ons …”

“O?” vra sy ma, haar wenkbrou opgetrek tot bo teen haar haarlyn. “En hoekom nogal nie?”

“Sy … ek …” Hoe de hel beantwoord hy die vraag?

Edward lag. “Ma weet mos. Hy hou van vroumense wat sulke formele klere dra en wie se hare so styf om hul koppe gedraai is, hul oë trek behoorlik skrefies. Corinne is heeltemal te sexy vir ons Alan.”

“Dis nie stywe vroumense nie, hulle is net … stemmig,” sê hy vies. “En Corinne … ek …”

“Stemmig?” vra sy ma. “Sê asseblief vir my jy het dit nie vir die pragtige kind ook gesê nie?”

Alan vryf oor sy gesig. Hoe de hel het hy in die situasie beland? “Ek stel nie belang in ’n mooi pop met ’n leë kop nie.”

“Corinne is nie ’n pop met ’n leë kop nie – waar kom jy daaraan? Weet jy dat sy op universiteit was en ’n graad het? Nie dat dit iets sê nie. Jy het ook ’n graad en kyk hoe onnosel is jy!” Sy ma gee hom ’n vernietigende kyk.

Alan staar stomgeslaan na haar. Hy was ’n aand saam met die vroumens uit en sy ma weet meer van haar af as hy.

Hy hap in die lug. “Wat ek doen op ’n date, het niks …”

Sy ma gooi haar hand in die lug. “Hy het. Hy’t sowaar vir haar gesê sy’s nie stemmig genoeg nie. Kan jy dit glo? Alistair, wat het jy jou seuns geleer?” vra sy ontsteld vir sy pa.

“As hy onnosel is, is dit nie my skuld nie.” Sy pa gee hom ’n geamuseerde kyk. “Jy kan doen met ’n … minder stywe meisie.”

“Ek het oop kaarte met haar gespeel, soos wat ek altyd doen met iemand wat ek uitneem. Sy is heeltemal te vinde daarvoor dat ons uitgaan sonder enige verwagtinge. Wanneer ek trou, moet dit iemand wees …” Hy kyk hoopvol na Doug. “Jy weet waarvan ek praat. Dit moet tog iemand wees wat jou kan ondersteun en wat met ons kliënte kan gesels … nie iemand in ’n romp met lae en lae net nie!”

Sy ma trek haar asem skerp in. “Wel,” sê sy en kyk na Finlay en Edward. “Ek dink sy’s ’n pragtige kind en as jul broer te onnosel is om dit raak te sien, hoop ek een van julle maak ’n plan.”

“Boeta,” lag Doug en staan ook op. “Ek kan maar net vir jou sê, die kliënte is die laaste ding waaraan ek dink wanneer ek by Annabel is.” Hy gaan staan agter die stoel van sy aanstaande bruid en vou sy arms van agter om haar. “Ek weet nie waar jy aan jou idees kom nie, maar as ’n stemmige girl jou gelukkig maak – go for it. Die lewe is kort.” Hy buk af en soen Annabel teer.

Alan kyk weg. Die intieme oomblik tussen sy broer en sy aanstaande ontstel hom. Al waaraan hy kan dink, is Corinne.

“Wat is dit met jou en vroumense met stywe hare en stywe klere?” vra Quinn. “Ek skrik my morsdood vir sulke girls en kon nog nooit verstaan wat jy in hulle sien nie.”

“Ek dink net in ons bedryf is dit nodig om ’n vrou te kry wat jou kan ondersteun in wat jy doen. Een wat self ’n beroep het en nie vir jou sit en wag by die huis nie. En een wat jy nie skaam is om aan kliënte voor te stel nie.” Alan vryf vies oor sy nek.

Sy ma klap haar tong. “Jy kan jou ou skoene agter ’n vrou soos Corinne aangooi …”

“Ma, jy het haar nie gisteraand gesien nie. Sy het hierdie romp aangehad –”

“’n Tulleromp,” val Annabel hom in die rede. “Wat is so vreemd daaraan? Netsy is hoogmode en sy het die bene daarvoor.”

“Wie lyk so?” Hoekom verstaan niemand wat hy probeer sê nie?

Annabel grinnik. “’n Girl wat weet wie sy is en wat nie issues het nie. Presies die soort wat jy soek, klink dit my. Behalwe dat daar niks styfs aan Corinne is nie. Sy is warm en …” Annabel waai haar hande soos sy probeer beduie. “Real. Dis die woord. Wat jy sien, is wat jy kry. Dis natuurlik nie elke man wat so ’n vrou kan hanteer nie.”

Edward staan op en sit sy hand op Alan se skouer. “Daar het jy dit. Kry vir jou ’n stemmige girl. Los vir Corinne – sy verdien ’n volbloedman. Soos ek.”

Vies ruk Alan hom los. “Ek sien haar op die oomblik. Bly weg,” brom hy voordat hy hom met ’n wuif van sy hand uit die voete maak.

Beelde van Edward en Corinne flits voor hom en sy hande bal in vuiste. Magtig. By sy motor kyk hy ’n oomblik op na die hemelruim, bespikkel met sterre. Vandat Corinne in sy lewe gestap het, is alles ’n warboel en dis presies wat hy nog altyd probeer vermy het.

Maar die hemele help hom, hy moet by haar wees. Hy spring in sy motor en trap die petrolpedaal diep in. Môreaand is hopeloos te ver in die toekoms.

“Wel, ek is baie trots op julle,” glimlag Corinne vir die groepie hoërskoolmeisies in haar blommewinkel. “Julle het goed gedoen.” Sy beduie na die potte vol blomme voor elkeen. “Volgende Vrydag gaan ons ’n posie maak vir ’n goeie vriendin – blomme wat die een of ander emosie oordra. Iets soos swaardlelies wat dui op iemand se sterk karakter of laventel wat bewondering aandui – ek sal sorg dat hier genoeg blomme is. Nou toe, sien julle weer volgende week!”

Die tieners haal die blomme versigtig uit die houers waarin dit was. Al die afvaltakke is al weggegooi en hulle vat die potjies terug kombuis toe waar elkeen verantwoordelik is om haar potjie skoon te maak.

Uiteindelik is almal klaar. “Dankie, Corinne!” roep die groepie en sy stap saam tot by die deur om hulle uit te laat. Dis al na nege, sien sy, maar die klomp het vanaand so gebabbel. Sy kyk hulle glimlaggend agterna en wuif toe die laaste een nog ’n keer omkyk om te groet.

“Hoekom is jy nog by die winkel?” vra ’n stem wat baie soos Alan s’n klink agter haar.

Sy draai vinnig om. Sowaar, dit ís hy.

“Alan! Ek het gesê môreaand, dan nie?” vra sy terwyl haar hart laf in haar binneste begin klop.

Hy knik, sy hande in sy broeksakke. “Jy het. Maar ek … môreaand is te ver weg.”

Sy sluk. Sjoe. “Ek was besig.” Sy beduie in die rigting waar die meisies om die hoek verdwyn het. “Vrydagaande is vir die groepie tieners. Een van hulle het op ’n dag hier ingestap en gevra of ek hulle sal help met blomme vir ’n funksie by hul skool en wel, dit het ’n weeklikse instelling geword om oor blomme te gesels.”

Sy babbel, maar kan nie anders nie. Hy sê niks nie, staar net na haar.

“Ek moet net die ligte afsit binne.”

“Ek sal jou help,” sê hy en hou die deur oop sodat sy kan instap.

“Dis nie nodig nie, ek sien jou mos môreaand.”

“Ek is nou hier.”

Help! Sy is nie voorbereid daarop om hom vanaand te sien nie. Sy sou nog ’n nag en ’n dag wou hê om haar te staal teen sy nabyheid, sy sexy, wilde reuk, sy …

“Ek … die kombuislig,” beduie sy en vlug die kort gangetjie af.

Alan skep ’n diep teug asem en staar Corinne agterna. Bliksem. Die vroumens steel elke druppel suurstof uit sy lyf en elke moontlike rasionele gedagte. Vanaand het sy ’n kort, wye rompie aan met ’n langmoubloes met klein knopies. Die moue is halfpad opgerol, haar armbande klingel vrolik soos sy wegstap. Sy vingers jeuk – hy kan nie wag om elke knopie los te maak nie.

Net die gedagte aan haar sagte vel onder sy vingers laat sy voete beweeg. Hy is by die voordeur voordat enige boodskap van sy brein by sy lyf uitkom. Met een draai sluit hy die voordeur van haar winkel en stap met lang treë tot by die kombuis.

Sy staan met haar rug na hom, op haar tone, besig om die laaste potjie hoog op een van die rakke te pak. Haar hemp lig op, hy kry ’n glimp van haar sysagte vel, die kettinkie aan haar enkel flits en toe kan hy hom nie meer keer nie.

Hy draai haar om en sy is in sy arms. Diep binne hom raak hy die eerste keer vandag werklik rustig. Sy is beautiful, sexy, haar armbande maak hom mal – dis die enigste rede hoekom hy nie sy hande van haar kan afhou nie.

Haar arms vou om sy nek en gewillig val haar kop agteroor. Aanbiddend, soekend, gly sy lippe oor haar gesig, af teen haar nek tot waar haar pols dawerend onder sy mond klop. Hy begeer, sy bloed kook vir haar. Hy verstaan sulke gevoelens, maar hierdie … Hy soen haar, voel hoe sy smelt teen hom. Hierdie allesoorweldigende passie, dís ’n ontembare drif wat hy nie ken nie.

Trane dam op agter haar ooglede. Niemand het haar nog ooit presies so gesoen nie. Weg is die dringende intensiteit van gisteraand. Sy aanraking is teer, so anders as voorheen. Passie kan sy hanteer, verwelkom, maar hierdie sagte, troetelende liefkosings – dit kan haar vernietig.

Haar arms gly om sy nek, hy lig haar op die kombuisrak en stap tussen haar bene in. Haar hart sug, breek oop en ’n traan ontsnap onderdeur een ooglid.

Sonder om sy mond van hare af te haal, maak hy die knopies van haar hemp los. Hy lig sy kop op en kyk.

“Jy’s beautiful,” prewel hy en laat gly sy hande oor haar borste.

Haar asem raak weg. Tydsaam, asof hy al die tyd in die wêreld het, gly sy een vinger oor die ronding van haar kurwes. Heen en weer, heen en weer, totdat sy bang is sy slaan aan die brand.

Daar is pyn waar sy vingers aan haar raak, ’n pyn wat saam met die ritme van haar hart klop. Nog nooit het sy so begeer nie, nog nooit was die behoefte aan iemand so skerp, so fel nie. Toe sy mond uiteindelik hare weer vind, wil sy huil van verligting.

Hy trek haar styf teen hom terwyl sy een hand rusteloos op en af teen haar bobeen gly. Diep binne haar span iets styf, wag haar lyf met oorgawe op wat gaan gebeur. Sy hand vou oor haar bobeen, die hitte raak ondraaglik, onuithoudbaar en haar lyf beweeg rusteloos teen hom. En toe vind sy hand haar kern, iets ontplof agter haar oë, daai sterre waaroor sy so gewonder het, verskiet weer en sy word saam weggeslinger tot op ’n plek ver anderkant die hemelruim.

Toe sy onder hom sidder, lig hy sy mond van hare af en kan net staar. Haar hemp hang oop, haar borste bult teen ’n pienk kant-en-satyn-bra. Hy het nog nooit in sy lewe iets so mooi, so onweerstaanbaar gesien nie.

Sy hart ruk tot stilstand en hy kry glad nie asem nie. Uiteindelik begin sy hart weer onreëlmatig klop en paniekerig gee hy ’n tree agtertoe. Hier moet hy vinnig wegkom. Hy moet beheer kry oor sy lyf, oor die orkaan wat binne hom woed.

“Ek … jy’s moeg. Dit was ’n lang dag. Ek sien jou môreaand.” Sonder om te wag dat sy iets sê, vlug hy in die gang af.

Corinne staar hygend na die kombuisdeur waar Alan oomblikke gelede nog was. Sy is stadig besig om weer aarde toe te kom. Sy pluk haar hemp heeltemal uit. Dis so warm, sy wil uitbrand. Dis amper asof sy koorsig is.

Haar vingers druk teen haar kloppende lippe. Sy kan hom nog proe, nog voel. Ontsteld druk sy haar hemp styf teen haar bolyf en staar met groot oë na die wasbak.

Met ’n snik-lag laat sak sy haar kop teen haar bors. Bleddie hel. Dis hoekom sy die ruiker gemaak het van magrietjies, rooi angeliere en yarrows – haar hart ís gebreek. Want, en sy kan dit nie glo nie, sy het sowaar haar hart op die Skot verloor.

Binne die bestek van vyf dae het sy verlief geraak op die sterk, sexy man. Maar toe breek hy haar hart, want hy dink sy is nie “stemmig” genoeg nie. Sy is veronderstel om hom ’n les te leer en kyk nou! Dis hoekom sy hom toegelaat het om haar te soen ’n uur nadat sy hom ontmoet het.

Seer gaan sy kry. Pyn gaan daar wees. Maar sy moet nou probeer fokus op die les wat sy vir hom moet leer. So, hy wil ’n stemmige girl hê? Ha. Sy kyk af na haar lyf waar sy met net ’n bra aan op die kas sit. Maar hy kan sy hande nie van hierdie baie “onstemmige” girl afhou nie.

Sy glimlag. Hy het tog iets om te leer.

Teen die tyd dat hy die Paarl inry, sing sy lyf nog steeds en het die paniekerige gevoel van vroeër nog nie heeltemal verdwyn nie.

Wat vanaand met hom gebeur het, het nog nooit vantevore gebeur nie. Hy is altyd in beheer wanneer hy by ’n vrou is. Hy kan al die tekens lees en weet wanneer ’n date hom saam huis toe gaan nooi. En alles wat daarna volg, is ’n netjies uitgewerkte choreografie.

Elke aanraking is vooraf beplan, hy weet wat werk, weet waarvan vroue hou. En wanneer alles verby is, trek hy aan, groet en ry huis toe, sy gedagtes lankal weer by die volgende dag.

Maar vanaand … Geeneen van sy vooraf uitgewerkte moves het eens by hom opgekom nie. Hy het op iets baie meer primitief gereageer. Instink het sy hande gelei, sy lyf het by sy brein oorgeneem. En beheer? Gmf. Daar was nie sprake van so iets nie.

Gelukkig het hy uiteindelik op die paniek in sy binneste gereageer en weggestap. Hy is veronderstel om op hete kole te sit oor ’n verskeping pruime wat op pad is na Londen. Hy ontspan nooit regtig voordat hulle gehoor het hul kliënte is tevrede met die toestand van die vrugte wanneer dit daar aankom nie.

Maar met die vroumens op sy brein is daar nie plek vir enigiets anders nie. En dis belaglik. Hy het ’n hele dag om hom voor te berei voor hy haar weer môreaand sien. Die belangrikste is dat hy nie weer soos ’n verdomde skoolseun op sy eerste date reageer nie. Magtag, hy is darem al dertig.

Ultrasatyn 2

Подняться наверх