Читать книгу 'n Liedjie vir Anine - Elsa Winckler - Страница 5

Twee

Оглавление

“Tannie Anine! Tannie Anine! Mamma, dis tannie Anine!”

Anine glimlag vir die opgewonde stemmetjie aan die ander kant van die deur terwyl sy op die stoep wag. Sy vryf oor haar nek en kyk nog ’n keer om. Afgesien van ’n wit Mercedes voor die bure se huis, is daar geen ander beweging in die straat nie. Dis nou al ’n paar weke dat sy kort-kort die gevoel kry iemand hou haar dop. Maar sy verbeel haar seker net.

’n Neurotiese oujongnooi – dis wat sy word.

Die voordeur swaai oop. Haar suster, Lizet, het die jaar oue Marina op die heup; haar hare is in krullers en sy is nog in jeans en ’n T-hemp, terwyl klein Soekie opgewonde van die een been na die ander spring.

“Anine, kom in. Soos jy kan sien, is dit chaos hier,” glimlag Lizet. “Ek sien al so uit na my en Stephen se date-night …”

“Anine, Anine!” Klein Marina steek dadelik haar armpies uit. Anine neem haar laggend uit haar suster se arms. Sy vee oor die kleintjie se vuil gesiggie.

“Gaan maak rustig klaar, ek is mos nou hier. Dit lyk vir my ons moet nog bad?”

“En eet, asseblief, tannie Anine. Alles is reg in die kombuis, as jy net vir klein Marina sal help. Zander het vroeër vandag oorgekom, en hy en Stephen werk nog heeltyd aan een van die ander kunstenaars se songs. Dit klink my of dit baie langer neem as wat hulle gedink het, maar ek het tien minute gelede gehoor hulle is glo amper klaar. ’Skies dis so deurmekaar …”

Anine ignoreer die skoenlappers wat om ’n onverklaarbare rede op die krop van haar maag begin fladder. Zander is net nog ’n man, aardetjie tog! Een wat sy maande laas gesien het.

“Dis altyd deurmekaar by jou, Zet. Ontspan. Teen dié tyd weet ek wat om te verwag wanneer ek instem om vir julle te kom babysit. Toe, gaan maak jou mooi, ons gaan solank komb-”

“Is die babasitter al hier?” hoor sy Stephen se stem en toe sy opkyk, kom haar swaer uit die rigting van sy ateljee. En agter hom, groot, lank en belaglik aantreklik, is sy broer, Zander.

Anine se hart skop wild teen haar ribbes, ’n sensasie wat sy altyd voel wanneer die ellendige man in die ronde is. Goeiste, is dit nou nodig?

Sy het hom die afgelope jaar doelbewus probeer vermy, juis oor hierdie simpel reaksie op hom en, sowaar, die eerste keer dat sy hom weer na seker sewe, agt maande sien, skakel haar hart oor na die volgende rat.

Regtig verspot.

Ja, die man is aantreklik, onredelik aantreklik om presies te wees, maar hy is ’n bekende popster, een met ’n rits gebroke harte agter hom waarvan die pers gereeld vertel. En as joernalis weet sy van elke storie in die koerante, tydskrifte en sosiale media.

Nes sy van vandag se storie weet.

Sy is nog vies vir haarself omdat sy hoegenaamd die ponietydskrif gekoop het. Maar toe sy die banieropskrifte teen die lamppale lees, het sy by die eerste winkel ingetrek en een gekoop.

In die artikel vertel een of ander vroumens in kleur en geur van haar nag saam met Zander Breedt. In grafiese besonderhede. Baie grafiese besonderhede. Die sosiale media-platforms het ook oor die nuus gegons.

Platforms waarna sy natuurlik moes kyk.

Zander se reputasie onder vroumense is geen geheim nie, maar goeiste, het die man geen skaamte nie? Wat van sy ouers? Sy broer en suster? Wat moet hulle van die hele petalje dink?

Sy optrede is uiteindelik net nog ’n bewys dat die manlike spesie nie vertrou kan word nie.

Daar is uitsonderings: haar pa, haar broer, Evan, en oukei, ja, Lizet se Stephen is ook heel aanvaarbaar, want hy is ooglopend dolverlief op haar suster.

Maar dan is daar die Ronnie Smits van die lewe. Die mans wat in plaas van beskerm, seermaak, en in haar sus Marina se geval, sommer doodmaak.

Hoe weet ’n vrou die man op wie sy verlief raak, gaan haar nie seermaak nie? Hoe weet mens sy liefde grens nie aan besitlikheid nie? Hoe herken jy ’n psigopaat?

Vandat haar suster, Marina, dood is, het sy nog nooit weer ’n man in haar lewe toegelaat nie. Min mans, het sy agtergekom, kan hulle humeur beteuel. En sy wil nie in vrees lewe soos Marina kort voor haar dood nie. Nee wat, sy is single en baie gelukkig, dankie.

Sy gaan in elk geval nie ’n woord teenoor Lizet rep oor die debakel rondom Zander in die tydskrif nie. Die storie moet hulle genoeg ontstel.

“Hallo, Stephen, Zander,” glimlag sy in hulle algemene rigting terwyl sy ’n hand uitsteek na Soekie. “Kom ons gaan eet, skattebol. Ek het ’n nuwe boek saamgebring vir dogtertjies wat hulle kos opeet!” sing sy.

Agter haar hoor sy Zander en Stephen praat, maar sy blokkeer hulle stemme en stap met die kleintjies kombuis toe. Al geselsende tel sy vir Marina in die hoë eetstoeltjie en gaan sit langs Soekie wat reeds op haar stoel geklim het.

Soekie begin land en sand gesels oor haar week by die skool en haar maatjies, en Anine is dankbaar vir ’n verposing om haar ekwilibrium terug te kry.

Sy het nie verwag om Zander vanaand te sien nie, dis hoekom sy so … simpel reageer. Skoenlappers op die maag, hart wat skop – op dertig is dit eenvoudig ’n verleentheid wanneer ’n man so ’n uitwerking op jou het.

“Kom jy reg, Anine?” vra Stephen van die kombuisdeur af. “Ek is jammer, ons het langer geneem …”

“Ons girls is gelukkig, gaan maak jy klaar. Jou vrou kan nie wag vir julle date nie.”

Stephen glimlag breed. “Sy’s amazing, weet jy?”

Anine sluk aan die skielike knop in haar keel. Stephen is skaamteloos mal oor haar suster. “Ek weet. En ek is so bly sy het jou gekry. Nou toe, gaan maak klaar …”

“Ek sien gou vir Zander af …”

Maar Zander stap by die kombuis in. “Ek kan ook help,” sê hy. “Ek is nou hier.”

“Ons kom heeltemal goed oor die weg, dankie,” probeer Anine keer.

Maar Soekie wink hom entoesiasties nader. “Kom help my, oom Zander. Tannie Anine help vir sussie.”

Anine kners op haar tande. Is dit nou nodig? Maar sy plak ’n glimlag op haar gesig en hou haar oë op Marina. Die kleintjie het gelukkig ’n gesonde eetlus en die mondjie gaan gretig oop vir die volgende happie.

“Dankie, julle!” roep Stephen verlig voordat hy verdwyn.

Gelukkig is daar geen ongemaklike stilte nie. Tussen Soekie se gebabbel en Marina se geluide deur is praat in elk geval nie moontlik nie.

Voor hulle nog klaar met die etery is, is Lizet en Stephen gereed en op pad. Lizet groet die kleintjies terwyl Stephen die motor gaan uittrek.

“Anine, ek het ’n groot bak boontjiebredie gemaak. Dis in die oond. Help jouself, asseblief. En daar is wyn, jy weet mos waar. Zander, jy het seker ander planne, maar jy’s welkom om eers hier te eet …”

“Dankie, ek sê nooit nee vir jou boontjiebredie nie.”

Anine stik aan die happie van Marina se kos wat sy geproe het om seker te maak dis nie te warm nie.

“Ek sal piekfyn wees alleen met die kleintjies; dis nie die eerste keer wat ek dit doen nie.” Sy kyk vies na haar suster.

Lizet lyk ewe onskuldig, maar haar oë vonkel.

“Wel, ons gaan nou, dankie, julle!” roep sy, en die volgende oomblik is sy weg en is dit net Anine en die twee dogtertjies en Zander Breedt in die kombuis.

Great!

Zander stap op sy tone uit Marina se kamer. Sy slaap uiteindelik rustig. Hy maak die deur agter hom toe. Uit Soekie se kamer hoor hy Anine se stem. Sy is nog besig om ’n storie te lees.

Hy stap kombuis toe, draai die oond laer en haal ’n bottel wyn van die kas af. Hy skink twee glase wyn en stap deur sitkamer toe.

Hoekom hy nog steeds hier is, is ’n baie goeie vraag. Een wat hy nie regtig kan beantwoord nie. Anine Vos wil hom nie hier hê nie; dis duidelik. En dis nie asof hy niks dringends het om te doen nie. Hy moet songs vir sy nuwe album skryf en het nie tyd om te sit en wyn drink en oor ’n mooi vrou te wonder nie.

Stephen het hom juis ook vanmiddag gepols oor sy vordering met die nuwe CD. Hy kon die vraag vir die oomblik wegpraat, want hy het nog nie een song geskryf nie. Zilch. Zip. Nada.

En vroeër of later sal hy vir Stephen moet sê hy sukkel.

So op hierdie Vrydagaand het hy vir ’n verandering nie ’n show nie. Hy het nie planne nie, en vreemd genoeg, kan hy nie aan ’n ander plek dink waar hy eerder wil wees as net hier nie. Al is Anine Vos hier.

Hy staar minute na sy glas terwyl iets nameloos in sy binneste stoei. Laat hy nou maar eerlik teenoor homself wees, dis juis omdat sy hier is wat hy ook hier wil wees.

Hy frons. Hoe het dít gebeur? Die afgelope jaar het hy haar min gesien. Sy naweke was besig, want daar was altyd êrens ’n show. Hy het geweet die moontlikheid bestaan dat hy haar hier sal sien en het gedink hy is voorbereid daarop.

Maar toe stap hy vanaand in die gang af in sy broer se huis en daar staan sy, baba op die heup, haar lang, donkerbruin hare vir ’n verandering nie styf agteroor gekam en in ’n bolla vasgemaak nie, maar los oor haar een skouer.

Niks kon hom voorberei het op sy instinktiewe reaksie op haar nie.

Hy was opgewonde. Vandat sy ma vanmiddag teenoor hom genoem het sy is die kinderoppasser, het hy onbewustelik gewag om haar te sien.

Sy het stywe jeans aan met ’n viooltjieblou T-hemp – die presiese blou van haar oë. Dit is die eerste keer dat hy haar in iets anders as haar formele pakkie en toeknoophemp sien. En haar hare … Lang, donkerbruin hare hang laag oor haar rug af. Hy het nie geweet haar hare is so lank nie.

En toe kyk sy in sy rigting, die afkeur in haar oë duidelik te lees. Hy hoef nie te wonder of sy die storie in Die Ster gelees het nie; hy kan in haar oë sien sy het en, wat meer is, hy kan ook sien sy glo elke woord wat daar staan.

En dit pla hom. Hoekom?

Hy staar voor hom uit terwyl sy gedagtes heen en weer vlieg. En uiteindelik maak dinge sin: hoekom hy nog heeltyd probeer om Anine te vermy, hoekom hy redes uitdink om nie van haar te hou nie.

Die vroumens doen iets aan hom.

Dit is asof sy hart vinniger klop, sy bloed harder bruis, sy binnekant hol word – al die verspotte simptome waaroor hy so graag sing, maar wat hy nog nooit regtig ervaar het nie en wat hy hom sekerlik verbeel. Dis heeltemal belaglik om op drie-en-dertig soos ’n tienerseun op ’n mooi vrou te reageer.

“Sy slaap,” sê Anine van die deur af.

“Ek het die oond laer gestel. Kom sit, hier’s ’n glas wyn vir jou.”

“Zander, dis regtig nie nodig dat jy langer hier bly nie, ek …”

“Daar’s boontjiebredie. Jy sal maar nog ’n rukkie jou gewone irritasie met my moet onderdruk, want ek gaan eers eet.”

Sy gaan sit en tel haar glas wyn op. “Waar kom jy daaraan? Ek het nog nooit gesê jy irriteer my nie, dis net …” begin sy heftig, maar hou toe op praat.

“Ja? Jy het nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat ek nie jou gunstelingpersoon is nie, ek wil net graag weet hoekom.”

Sy staan op. “As jy wil eet, kom ons eet. Ek skep op.”

Hy kyk haar vir ’n rukkie agterna voordat hy opstaan. Dit kan nog ’n interessante aand word. Hoewel hulle al dikwels saam met van die familie gekuier het, was hy en sy nog nooit alleen in mekaar se geselskap nie.

Sy het die bakke reeds op die tafel gesit toe hy instap en is besig om haar eie kos in te skep. Toe sy klaar is, skuif sy die bak in sy rigting, maar hy hou sy bord uit na haar. “Ek hou van die rys …”

“… eenkant en die bredie eenkant.”

Verbaas kyk hy na haar. “Hoe weet jy?”

“Ons eet die afgelope drie jaar gereeld saam, onthou?” Sy gee sy bord vir hom aan.

Hy hou sy hand uit na haar. “Sal ons bid?”

Sy kyk na sy hand vir ’n oomblik voordat sy haar hand huiwerig oorskuif na hom toe. Maar hy vou nie net sy hand om hare nie, hy vleg sy vingers deur hare.

Sy trek haar asem skerp in.

Hy buk vooroor en bid. Vir die kos, vir die wyn, vir die geselskap.

Sy woel haar hand dadelik los en begin eet.

“Jy wou sê? Dis nie dat ek jou irriteer nie, dis net …?”

Sy rol haar oë. “Zander, seriously. Ek is bewus daarvan ek is nie jou gewone Vrydagaand-date nie, kom ons eet sodat jy kan gaan.”

“En wat is my gewone Vrydagaand-date, dink jy?”

“Jy vergeet ek is ’n joernalis. Ek lees of gaan minstens deur die meeste koerante en tydskrifte. Ook vandag s’n.”

Hy glimlag skeef. Hy het mos geweet. Daarom behoort dit hom nie te pla wat sy dink nie. “Glo my, ek weet jy’s ’n bekróónde joernalis. Ek het jou artikel oor Ted Venter gelees. Dit klink asof jy ’n beter begrip van die situasie as die polisie gehad het.”

“Dit was al ’n ruk gelede,” sê sy kortaf.

Mmmm, so sy hou nie daarvan dat daar oor haar gepraat word nie. “Wel, as bekroonde joernalis, glo jy alles wat jy in koerante en tydskrifte lees?”

“As dit nie waar is nie, hoekom sê jy nie so nie?”

“As ek alles moet probeer verdedig wat koerante en tydskrifte opdis, sal ek nooit iets anders gedoen kry nie. Mense wat my ken, weet wie ek is. Die res moet glo wat hulle wil glo.”

“So, wil jy my sê die storie van die girl wat sê sy het … sy was ’n nag … by jou …” Sy begin stotter en ’n blos kruip teen haar nek op.

So die hardekwas joernalis kan skaam raak? Interessant.

“Ek bedoel, wil jy my sê die storie is nie waar nie?”

“Ek wil hoegenaamd niks daaroor sê nie.”

“So dit is waar?”

“Dis nie wat ek sê nie.”

“Maar as dit nie waar is nie, hoekom stel jy nie jou kant van die saak nie? Het nie een joernalis met jou probeer praat voor die berigte verskyn het nie? Wat van die sosiale media? Kan jy jou kant van die storie nie dáár vertel nie?”

“O, joernaliste het gebel. Glo my. Sonder ophou. Hulle het my op die lughawe ingewag. Dis net, ek het niks vir hulle te sê nie. Ek probeer lankal nie meer om stories op sosiale media verkeerd te bewys nie.”

“Hoekom?”

“Ek was baie nuut in die bedryf toe ek al agtergekom het wat ek sê en wat uiteindelik in ’n koerant verskyn, is twee verskillende dinge. Selfs al beantwoord ek vrae per e-pos, word my woorde nog verdraai. Die koerante en tydskrifte, soos jy goed weet, moet verkoop. En ’n vervelige storie maak nie geld nie. Nee, dit is baie beter as die sanger of akteur of wie ook al so hard moontlik van sy troontjie afgestamp kan word. En ’n mens se woorde op sosiale media word verdraai sodat dit aanpas by wat die joernalis wil skryf.”

Sy lig haar ken gesteurd. “Dis nie waar van alle joernaliste nie. ’n Joernalis wat sy of haar werk ordentlik doen, sal nie bevooroordeeld wees nie en ’n gebalanseerde berig skryf, een wat die standpunte van almal betrokke in ag neem. ”

Hy eet sy kos rustig verder. “Jy het nog nie gesê hoekom ek jou irriteer nie.”

Haar oë bly op die bord kos voor haar. “Jy irriteer my nie, Zander. Om die waarheid te sê dink ek nie vreeslik baie aan jou nie. Ek weet dit moet ’n groot slag vir jou ego wees, maar daar het jy dit. Ek is nou maar eenmaal nie die groupie-tipe nie.”

Sy lig haar kop op en kyk hom vas in die oë.

Net vir ’n breukdeel van ’n sekonde is die emosie in haar oë onmiskenbaar … onsekerheid. Sy kyk feitlik dadelik weer af na haar bord, maar hy weet wat hy gesien het.

Dis ’n baie interessante uitdrukking. Afkeur sou hy verstaan het, selfs irritasie, maar onsekerheid?

’n Heerlike, vol majeurakkoord weerklink deur sy wese. Dít het hy lanklaas gehoor. En skielik is hy haastig om by die huis te kom. Miskien, net miskien, kan hy vanaand nog ’n song uitwurg.

Hy skuif sy stoel terug, tel sy bord en glas op en sit hulle in die wasbak. “Ek is op pad, jy kan ontspan. Jy hoef nie langer in my bakkies vas te kyk nie. Kom, sluit asseblief die voordeur agter my.”

Die verligting op haar gesig is net vir ’n oomblik daar, maar hy sien dit. Halfergerlik stap hy voordeur toe. Sy hoef nou nie in sy arms te spring elke keer wanneer hulle mekaar sien nie, maar om so opsigtelik verlig te lyk omdat hy waai, is …

En toe onthou hy weer die onsekerheid in haar oë. En instink neem oor by rasionele denke. Hy is al by die voordeur, maar hy draai skielik om.

Sy gee verskrik ’n tree agtertoe. Haar mond val oop, haar blou oë word donker.

Gefassineerd, gee hy ’n tree nader aan haar.

“Zander, wat …?”

Hy ignoreer die dawerend vrolike D-majeurakkoord in sy binneste, die rooi flikkerligte, die stemmetjie wat hom wil keer, en hy soen haar.

Dit sou sommer ’n piksoentjie gewees het, net een om haar te bly hinder, te terg, ene wat haar ’n bietjie aan hom sou laat dink.

Maar haar mond is warm en sag, en sy soen hom terug. En net daar vergeet hy al die redes hoekom hy haar wou terg en hinder.

Die D-majeurakkoord raak voller, daar is nou glad strykinstrumente ook by, die klank vul sy ore.

Hy verdiep die soen. En op die een of ander manier raak sy vingers verstrengel in die sysagtheid van haar lang hare. Hy weet hy moet ophou, hy moet sy kop oplig en goed, hy sal nou-nou …

Sy druk hom hard weg, trek haar asem vervaard in. “Wat dóén jy?” vra sy ontsteld.

Hy glimlag en laat sak sy kop weer. “Wel, as jy nie weet nie, moet ons dalk weer probeer …”

“Nee!” roep sy uit en druk hom by die voordeur uit. “Jy kan my nie soen nie!”

Hy blaas sy asem uit en druk sy hande in sy broeksakke. “Ek weet. En ek is … ja,” hy skud sy kop, “nee, ek is nie jammer ek het jou gesoen nie. Dit was … jy soen baie lekker, Anine Vos. Dit was ’n D-majeurakkoord.”

“Waarvan praat jy?” vra sy geïrriteerd en vee haar hare ergerlik uit haar gesig.

Haar hande is rukkerig. Nè?

“Toe ek jou soen, het ek net ‘good notes’ gehoor.”

Sy frons nog steeds.

“Het jy nooit die fliek The Holiday met Jack Black en Kate Winslet gesien nie?”

“Ja, ek het, maar …”

“Die karakter wat Jack Black speel, skryf ’n song vir Kate Winslet se karakter. En, sê hy vir haar, hy’t net die ‘good notes’ gebruik. Net majeurnote. Sodat dit mooi klink. Dis wat ek hoor wanneer ek jou soen. Good notes.”

Die uitdrukking op haar gesig is een van totale verstomming. Met ’n amper desperate beweging begin sy die deur toemaak. “En dié soort lines werk vir jou?”

Hy het al begin wegstap, maar gaan staan en kyk oor sy skouer terug. “Dis nie ’n line nie. Dis waar. Ek sukkel nou al maande om weer ’n song te skryf. Dalk kan ek vanaand nog.”

Sy rol haar oë. “Yeah, right. G’n wonder die koerante is vol van jou eskapades nie.”

“Net vir die rekord, jy’t my teruggesoen. As jy so graag wil weet van my ‘eskapades’ soos jy hulle noem, hoekom doen jy nie ’n onderhoud met my nie?”

Hy het nie bedoel om die vraag te vra nie, maar toe dit uit is, klink dit na glad nie na ’n slegte idee nie.

“Moenie simpel wees nie. Ek is ’n politieke verslaggewer. In jou bedstories stel ek nie belang nie.”

“Eina. Jy’s reguit, nè?” Hy besef hy klink vies, maar aarde tog!

“Ja, ek is. Jy wil weet hoekom ek nie van jou hou nie? Goed, ek sal jou sê. Jy is ’n sanger. ’n Sexy, aantreklike een, toegegee, maar verwaand, vol van jouself en oortuig daarvan jy kan enige vrou bed toe kan sleep as jy so voel. Jy sing goedvoel-liedjies sonder diepte net sodat jy kan ryk word. Ek hoef nie ’n onderhoud met jou te voer om dit te weet nie.”

Sy kake trek styf. “Hoe het jy nou weer gesê? ’n Goeie joernalis ignoreer sy of haar vooroordele. En jy reken jy’s ’n goeie joernalis?”

En toe haas hy hom na sy motor toe. Voordat hy iets totaal onbesonne aanvang. Soos haar weer soen.

“En ek het jou nie teruggesoen nie!” roep sy agter hom aan.

Dié keer antwoord hy nie. Sy kruip so agter haar irritasie weg dat sy nie eens wil erken sy het hom teruggesoen nie.

Maar sy het. Heel entoesiasties … as hy reg onthou.

Hy word bewus van die glimlag op sy gesig. Asof hy nie genoeg probleme het nie, sit hy nou hier en dink aan ’n vroumens.

Hy ry stadig weg. Liewe Here, help. Waar is die musiek? Waar is my note?

Die mineur-klanke van ’n D-kruisakkoord klink in sy ore. Dít is nie wat hy wil hoor nie. Hy probeer die suiwer majeurklank van vroeër hoor, maar verniet.

Al klanke wat die hele pad tot by sy huis in die motor hang, is die hartseertoon van die mineurakkoord.

'n Liedjie vir Anine

Подняться наверх