Читать книгу 'n Liedjie vir Anine - Elsa Winckler - Страница 6
Drie
Оглавление“Is jy seker jy wil nie maar oorslaap nie, jou bed is reg?” vra Lizet.
“Ek bly net ’n paar blokke van jou af, en jy weet mos ek slaap eerder in my eie bed.”
“Ja, ja, ek weet,” lag Lizet. “Maar jy kan maar so af en toe uit jou groef klim. Jy hoef nie altyd die regte ding op die regte tyd te doen nie, hoor! Soms kan ’n mens maar spontaan en op die ingewing van die oomblik toegee. Sommer oorslaap by jou sus al bly jy om die hoek.”
“Moet jy nie ook aan my karring nie,” brom Anine terwyl hulle uitstap na haar motor.
Sy probeer ongemerk op en af in die straat kyk. As Lizet agterkom sy is bekommerd iemand agtervolg haar, sal sy nooit die einde daarvan hoor nie. Die hele affêre is sekerlik net haar verbeelding.
“Wat bedoel jy? Wie anders het aan jou gekarring?”
“Niemand.” Anine sluit gou haar motor oop.
Lizet gryp haar hand. “O nee, so maklik gaan jy nie wegkom nie. Is dit Zander? Het iets tussen jou en Zander gebeur?”
Anine is dankbaar dit is donker buite. Die gloed wat teen haar nek opklim, kan sy glad nie keer nie. “Niks het gebeur nie. Hy wou weet wat ek van hom dink, en ek het hom gesê. En toe sê hy ek is bevooroordeeld. End of story.”
“Goeiste. Wat hét jy vir hom gesê?”
“Dat hy verwaand is en al wat ’n vrou is bed toe sleep. En dat sy liedjies sonder diepte is en …”
Maar Lizet het haar asem skerp ingetrek. “Wat? Wow, dis katterig. Ek ken jou nie so nie.”
Anine gooi haar hare oor haar skouer. As sy eerlik moet wees, voel sy ook ellendig oor die hele ding. “Ek … weet. Ek moes dit nie gesê het nie, maar hy’t begin. As hy my nie gesoen het nie, sou ek …”
“Waaat?” gil Liset. “Ek het gewéét daar is iets tussen julle twee aan die gang. ’n Mens kan die sparks behoorlik sien wanneer julle in dieselfde vertrek is. Ek en Anya sit lankal en wag dat iets moet …”
“Is jy nou heeltemal laf? Ek het die storie in Die Ster gelees. En hy is net verontwaardig omdat ek nie ook in sy arms spring soos al die ander poppies nie. Dis die enigste rede vir die soen, glo my. Daar is nie enige spark, of wat ook al, tussen ons nie. Niks op die aarde nie. En ek het hom nié teruggesoen nie. Al dink hy so.”
Lizet giggel. “ The lady doth protest too much, methinks. Maar op ’n ernstiger noot. Jy weet darem seker die jongste storie is pure bog?”
“Hoe weet jy dis bog?”
“Anine!” Lizet pluk aan haar arm. “Dis my man se broer van wie ons praat. Jy ken sy ouers. Hy is eenvoudig nie die tipe nie.”
“Hoekom sê hy dan nie so nie?”
Lizet gooi haar hand in die lug. “Ek en Stephen dink ook hy moet homself probeer verdedig, maar hy weier om verder met joernaliste te praat.”
“Weet jy wat regtig gebeur het?” vra Anine.
“Ja, ek en Stephen moes dit uit hom wurg. Die vroumens wat die storie versprei, het hy verlede naweek sonder ’n draad klere in sy hotelkamer gekry. Sy was by die show wat hy die aand gehou het en het aangevoer hy het van die verhoog af met haar geflirt.”
“Wel, het hy?”
“Jy was al by ’n konsert van hom, hy …”
“Ek was nog net by een en dis ook net omdat Evan ons saamgesleep het. Popsangers is net eenvoudig nie my scene nie.”
“As jy onthou, sing hy meestal met sy oë toe en wanneer hy kyk, sien hy die gehoor en nie individue raak nie.”
Anine snork. “Sê hy.”
“Sê ek. Anders as jy, woon ek sy konserte soms by.”
“Wat maak hy toe met die kaal vroumens in sy kamer?”
“Hy het sekuriteit gaan roep om haar te verwyder. Sy het hom gedreig, en die storie is haar wraak. Ek kry my skoonouers net so jammer. Hulle weet natuurlik wat werklik gebeur het, maar die meeste mense glo elke woord wat hulle in ’n koerant lees. Jy ook, klink dit vir my.”
“Wel, daar is stories oor hom. Was daar nie ook iemand wat gesweer het sy verwag sy baba nie.”
Lizet snork onvroulik. “Nog ’n storie. En jy glo alles?” roep sy beskuldigend uit.
“Wat het daarvan geword? Ek het nie weer iets daaroor gelees nie.”
“Zander het aangebied om ’n vaderskaptoets te laat doen. Toe het sy gou haar deuntjie verander.”
“Daarvan het ek nêrens gelees nie.”
“Jy sal ook nie. Zander gaan nie stories aandra nie en die vroumens bly natuurlik nou tjoepstil.”
“Ek …” Anine klim in haar motor en haal haar selfoon uit. “Sal jy asseblief Zander se telefoonnommer vir my insit? Ek … ek sal om verskoning vra.”
Lizet tik vinnig ’n nommer in en gee haar foon terug. “Ek sal bly wees. Hy wys dit nie, maar al die stories raak hom. Hy weet sy familie lees hulle ook. Stephen is bekommerd oor hom. Die songs vir sy nuwe album moes al klaar gewees het, maar Stephen sê hy dink nie Zander het al iets geskryf nie.”
“Ek gaan ry. Sien jou môre.”
“Ja, ek hoop ons kry dan ’n tydjie om te gesels, vanaand was so deurmekaar. Hoe gaan dit met jou roman? Jy het lanklaas daaroor gepraat. Is jy amper klaar?”
Anine skakel haar motor aan. “Ek wil liewer glad nie daaroor praat nie. Anya en Evan was nog nie eens getroud toe ek daarmee begin het nie – en intussen is jy ook getroud. En ja, oukei, die nuwe pos in die Kaap beteken ek kom later hier by die huis, maar dit behoort nie ’n verskoning te wees nie. Dis nie asof ek vreeslike sosiale naweke het nie. Ek het tyd om te skryf. Dis net … ek sukkel.”
“Ek weet nou nie watse soort roman jy skryf nie, maar miskien het jy na vanaand ’n bietjie inspirasie,” lag Lizet.
“Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel noudat jy gesoen is, het jy dalk net weer iets om oor te skryf.”
Anine klik haar tong. “Wat vanaand gebeur het, het my net geïrriteer. Dit bied beslis geen inspirasie vir my boek nie. Ek is mos met ’n ernstige roman besig, een wat diep vrae vra, nie ’n liefdesverhaal nie. Aardetjie tog!”
“Wel, miskien moet jy ’n slag uitgaan. Ons is almal so trots op die toekenning wat jy gekry het vir jou storie oor die moord deur die supermarkbaas. As dit nie vir jou bloedhondneus was nie, het die man nog op vrye voete rondgeloop. Maar sussa, ’n mens kan maar af en toe ook iets anders doen as net werk. Sê vir ’n verandering ja wanneer iemand jou wil uitneem. Wanneer laas was jy op ’n date?”
Anine hap in die lug. “Ek date.”
“Wanneer laas?” hou Lizet aan.
“Ek kan nie nou onthou nie, maar …”
Lizet dop haar hande om. “I rest my case. As ’n mens nie eens jou laaste date onthou nie, is dit hoog tyd. Belowe my jy sal ja sê vir die volgende man wat jou uitvra?”
Vies sit Anine haar motor in rat. “Ek het geen begeerte om te date nie. Mans is onvoorspelbaar.”
Lizet kyk haar stil aan. “Jy weet, noudat ek daaroor dink, jy het lanklaas ’n man in jou lewe gehad. Hoekom?”
Anine trek die truspieël reg en loer terselfdertyd of sy iets agter haar gewaar. Die straat is nog steeds stil. “Ek is net versigtiger as wat ek voorheen was. Daar is nie baie van jou Stephen se soort in die wêreld nie.
Lizet trek haar asem skerp in. “Wil jy vir my sê dis oor wat met Marina gebeur het? Ai, Anine, jy kan nie …”
“Hoe weet ’n mens jy kies die regte man? Is daar ’n manier om seker te maak hy is nie miskien ’n psigopaat nie?”
“Jy luister hier.” Lizet druk haar hand teen haar hart. “En jy luister wat die Here vir jou sê. Dan kan jy nie ’n fout maak nie. En jy kan tog nie dink omdat Marina die verkeerde keuse gemaak het, moet jy die res van jou lewe alleen wees nie. Jy was die een wat vir my gepreek het hoe om my eie lewe te leef, my eie drome na te jaag en kyk wat doen jy?”
“Ek hét my eie lewe en ek doen wat ek graag wil doen. Ek is net te besig, ek het nie nog tyd om ’n man ook te pamperlang nie.”
Lizet lag. “As jy die regte een kry, pamperlang hy jou. En praat met die Here oor jou storie. Dalk moet jy iets heeltemal anders skryf.”
Anine skud net haar kop en met ’n wuif van haar hand ry sy weg. Sy is baie lief vir haar mense, maar net soms wens sy sy is stokalleen op ’n eiland.
Sy ry met haar een oog op die truspieëltjie en slaak ’n sug van verligting toe die hekke van die woonstelblok waar sy bly, agter haar toegaan.
Agter haar ry ’n wit Mercedes verby.
Toe sy by haar woonstel instap, lui haar foon. Sy kyk af. Haar ma. Arrgh, kreun sy, en sny die oproep amper af. Lizet het hulle ma natuurlik dadelik gebel toe sy van haar af wegry.
“Naand, Ma. Hoekom slaap jy nie?” Sy sluit die deur agter haar.
“Hallo, my kind. Ek wil net seker maak jy onthou om die slaai môre te bring?” Haar ma klink ewe onskuldig.
“Ja, Ma. Soos ek reeds vroeër vandag gesê het, sal ek onthou. Ek weet goed Ma bel nou omdat Lizet jou so pas gebel het.”
“Ja, ek hoor van jou en Zander?”
“Daar is niks om te hoor nie, Ma. Hy’t my … gesoen om my te terg. Daar is op die aarde niks, hoegenaamd niks tussen ons nie.”
“Lizet sê jy protesteer so verwoed,” lag haar ma.
“Ek gaan nou slaap, oukei? Sien julle môre!” Anine probeer vrolik klink.
“Oe, ek is nou so opgewonde. Ons het lanklaas saam met die Breedts gekuier.”
“Maar dit sou net ons wees wat môre saamkuier, wanneer is die Breedts ook genooi?”
Maar haar ma het reeds die foon neergesit.
Anine gooi haar foon vies op die tafel. Haar ma en Lizet het natuurlik die afgelope paar minute besluit om die Breedts ook oor te nooi. Wat beteken Anya en Zander se ma weet nou van die soen. Ag nee!
En dit beteken Zander gaan ook daar wees.
Sy druk haar hand teen haar hart wat weer vrolik begin rondbons. Ai.
Diep in die nag skrik sy wakker, haar wange nat van die trane. Anine vlieg orent en skakel die bedliggie aan. Marina. Hulle pragtige suster wat wreed vermoor is.
Sy dink die laaste tyd weer so baie aan haar. Vreemd, sy is darem al ses jaar gelede dood.
Maar dis nou nog vir haar moeilik om aan die manier te dink waarop haar suster weg is. Hulle het nie een gehou van Ronnie Smit, die man in haar lewe nie, maar niemand kon voorsien het dat hy hulle mooi, lewenslustige suster se lewe sou neem nie. Oor redes wat net in sy kop bestaan het.
Sy en Lizet het hom besoek terwyl hy in die polisieselle was, en sý was die een wat vir Evan oortuig het om hom te gaan sien en om hom te vergewe.
Marina en hulle broer, Evan, was ’n tweeling. Hý veral het swaar gekry om die man te vergewe, om God te vergewe.
Lizet weer het haar eie drome verwaarloos en het probeer om Marina se drome te verwesentlik omdat sy nie meer hier is nie. Sy moes ook ’n pad stap om Marina se dood te aanvaar en te besef sy het haar eie lewe, haar eie drome.
Deesdae lyk dit asof die res van haar gesin Marina se dood verwerk het.
Haar ma en pa praat maklik oor hulle dogter. Evan en Lizet gesels graag saam oor dinge wat gebeur het toe Marina nog deel van hulle lewe was.
Maar die afgelope tyd kom Anine toenemend agter sy is nie so oukei soos wat sy gedink het nie. Waarmee sy worstel, wat vir haar moeilik bly om te verwerk, is dat die man wat veronderstel was om lief vir haar suster te wees, ook die een is wat haar lewe geneem het. Hoe werk dit?
En dit is die rede hoekom sy ’n man nog nie weer naby haar kon toelaat nie, want sê nou sy raak ook lief vir iemand wat haar seermaak?
Anine kam haar hare met haar vingers agteroor. Of dit begin het terwyl sy vir Lizet gehelp het om ’n plakboek oor Marina se lewe te maak en of dit daarna gebeur het, onthou sy nie. Sy weet net sy rou nog steeds oor haar suster.
Dis asof sy nou eers bewus geword het van ’n gat in haar lewe. Die een wat Marina gevul het, een wat sy al ses jaar lank probeer ignoreer.
En sy besef ook nou haar lewe het die afgelope ses jaar omtrent stilgestaan. Die nuwe werk wat sy vanjaar aanvaar het, is die enigste verandering en dit …
Anine frons terwyl honderde deurmekaar gedagtes deur haar flits. En toe kliek iets in haar.
Dis juis vandat sy met die nuwe werk begin het wat sy al hoe meer bewus word sy moet nog ’n pad stap om Marina se dood te verwerk. Maar dit is asof sy wil vashou aan die tyd, nie vorentoe kan beweeg nie. Hoe kan sy enigiemand vertrou na wat met haar suster gebeur het?
Hoewel sy weet haar besluit om geen man naby haar toe te laat, is nie rasioneel nie, was dit tot dusver geen probleem nie – sy het nog nie iemand ontmoet van wie sy regtig hou en wat sy meer dikwels wil sien nie.
Maar toe soen Zander Breedt haar. En sy hou daarvan. Baie.
En sy droom weer van Marina.
Wat hét sy nou weer gedroom? Hulle was saam in ’n groot vertrek. Sy en Marina en … Maar dit kan tog nie wees nie! Zander? Sy probeer die mansfiguur in haar droom oproep, maar hy bly net buite haar bereik.
Sy kreun hardop. Dis nou wat ’n skuldige gewete aan ’n mens doen. Sy het die man beledig en voel nou sleg daaroor. Lizet is reg. Sy was katterig. En sy is bevooroordeeld, nes Zander gesê het. Want, laat sy nou maar eerlik met haarself wees, sy hou nie van hoe sy voel wanneer sy by hom is nie.
Hier alleen in haar bed met net die naggeluide om haar, kan sy ten minste eerlik probeer wees. Hy krap haar om. En goeiste, sy kan nie ophou na hom kyk nie. Die man is bitter, bitter aantreklik. Lank, gespierd en … aargh! Dís die ware rede hoekom sy sommer na sy soen vanaand op die aanval oorgegaan het. Hy maak gevoelens in haar wakker wat haar onrustig maak.
En sy wil haar hart nie vir ’n man oopmaak nie, veral nie vir een wat bekend is daarvoor dat sy verhoudings met die teenoorgestelde geslag van korte duur is nie.
Maar sy skuld hom ’n verskoning. Haar aanmerkings van vroeër was onbillik en ja, bevooroordeeld. Wat sy van hom weet, het sy in koerantberigte gelees.
Oukei, dit is ook nie heeltemal waar nie. Hulle was al saam by heelwat familiebyeenkomste, en sy weet byvoorbeeld hy luister eerder as wat hy praat. Hy is baie erg oor sy ma en sy suster, Anya, en tree soos ’n ware heer teenoor al die vroue op.
Maar dit is makliker om vies vir hom te wees en om aan die koerantstories te dink as om te onthou hoe spontaan hy met sy suster en broer se kinders speel.
En sy moes geweet het die uitspattighede waarvan hy die naweek in die koerante beskuldig is, kan nie waar wees nie. En diep binne-in haar weet sy dit eintlik. Maar sy het die stories aangegryp, want dit het dit makliker gemaak om die man uit haar kop te kry.
Hoe’s daai vir eerlik met jouself wees?
Sy sug en tel haar foon op. Hy sal al slaap. As sy die boodskap nou stuur, kry hy dit eers môreoggend en hoef sy nie verder daaroor te dink nie.
Teen drieuur sit Zander op die stoel in sy ateljee, sy kitaar in sy hand. Sy oë staan stokstyf in sy kop. Hy het seker al vyf bekers koffie in, maar hy het nog nie een konkrete konsep vir ’n song nie. Die snippermandjie is vol opgefrommelde stukke papier.
Sy foon bliep. Wie stuur dié tyd van die nag ’n boodskap? Dis ’n nommer wat hy nie ken nie. Hy maak die boodskap oop. Dis … nou toe nou! Anine Vos met die lang bruin hare.
Jammer oor my aanmerkings van vroeër. Anine.
O, sy vra om verskoning? Uit ervaring met sy ma en suster begryp hy genoeg van vroumense om te weet dit gebeur nie maklik nie. Waarvoor presies sou sy om verskoning vra? Wat het sy nou weer gesê? O ja, hy sleep vroumense bed toe, hy sing goedvoel-liedjies sonder diepte omdat hy ryk wil word. Maar, noudat hy daaraan dink, was daar nie ook ’n “aantreklik” en ’n “sexy” iewers ter sprake nie?
Hy grinnik en begin tik: Oor watter aanmerkings is jy jammer?
Dis lank stil voordat ’n nuwe boodskap bliep.
Alles.
Hy tik.
Ook die aantreklik en sexy?
Dié keer duur dit nog langer voor hy ’n boodskap terugkry.
’n Gesiggie met oë wat rol.
Hy lag hardop en die D-majeurakkoord van vroeër weerklink om hom, en hy sien ’n glimp van die eerste reël van ’n liriek.
Onsekerheid en twyfel …
Gou sit hy die foon neer en tel sy kitaar weer op. Sy vingers druk die akkoord, hy neurie die wysie terwyl hy die versreël van netnou probeer onthou.
Maar dis weg. Net só.
Weer druk hy die akkoord, neurie saam, maar die woorde het iewers vasgesteek en die musiek bly net-net buite sy bereik. En toe is die akkoord ook weg en word die note onhoorbaar.
Moedeloos buig hy oor die kitaar, maak sy oë toe soos hy die afgelope paar maande gereeld doen. Here, waar is die musiek? Wat ís dit wat U vir my wil sê? Die tyd is reg vir ’n nuwe song, hoekom is dit so ’n gesukkel om een te skryf?
Maar al wat hy voor hom sien, is Anine se viooltjieblou oë.
Here, help my? Wat wil U vir my sê? Wat moet ek doen? Wat wil U hê moet ek sing?
Moet ek ophou sing?
Weer flits Anine se gesig voor hom en gefrustreerd sit hy sy kitaar eenkant. Daar is vanaand nie vir hom antwoorde nie. Hy het ’n vroumens op die brein en kan niks anders hoor of sien nie.
Anine staar na die selfoonskerm. Maar geen boodskap kom terug nie. Sy druk haar gesig in haar hande. Sy kan nie glo sy het die woorde “aantreklik” en “sexy” in haar sin ingewerk toe sy Zander vroeër vanaand beskuldig het nie.
Wat op aarde moet die man van haar dink?
En hoekom maak dit hoegenaamd saak wat hy van haar dink? Vir ’n oomblik wil sy haar voete soos ’n kind stamp. Sy wil nie aan Zander Breedt dink nie. Sy wil nie wonder of wat oor hom geskryf word, waar is of nie. Sy wil nie oor hom dink nie, punt.
Sy wil nie ’n man in haar lewe hê nie. Sy wil nie …
’n Geluid laat haar vinnig opkyk. Kom dit in die rigting van die straat? Sy stap tot by die venster en trek die gordyne effens weg. Daar is op die oomblik geen beweging nie, afgesien van die rooi agterliggies van ’n voertuig wat om die hoek verdwyn.
’n Rilling gly langs haar ruggraat af. Goeiste, sy is regtig verspot. Nou gaan sy slaap.