Читать книгу 'n Brief vir Reina - Elsa Winckler - Страница 4
Twee
Оглавление“Dood? Sy kan nie dood wees nie, ek het môre ’n afspraak met haar. Een wat sy al drie keer verskuif het.” Derek druk sy vingers teen sy oë. Hy besef dadelik hoe belaglik sy aanmerking klink, maar frustrasie het by sy rasionele denke oorgeneem.
Die hoofpyn wat van vroegoggend af dreig, klop nou met mening. Wat kan nog verkeerd gaan? Dit is belaglik.
“Sy is gister skielik oorlede. Beroerte, sê die persoon wat die foon geantwoord het,” sê Santie, sy assistent.
Derek kyk vlugtig op. “Die persoon wat die foon geantwoord het, is dit familie? Dalk die kleindogter?” As dit is, is dit goeie nuus. Volgens die ou dame is haar huis in haar kleindogter se naam. Dit maak dinge aansienlik makliker en kan dalk die hele proses vinniger laat vorder as wat hy gereken het.
“Nee, maar sy sal skynbaar die naweek op McGregor wees.”
“Maak dadelik ’n afspraak, asseblief. Ek moet haar so gou moontlik sien. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie.”
Santie draai weg, maar nie voor hy sien hoe sy haar oë rol nie. Hy is mislik, hy weet en hy sal later om verskoning vra, maar terwyl paniek sy keel kort-kort wil toedruk, het hy nie tyd om nice te wees nie.
Santie werk vir hom vandat hy sy kantoor oopgemaak het. Sy is kort duskant sestig, as hy reg onthou, en sy hou almal in die kantoor op hulle tone. Wat hy die afgelope ruk sonder haar sou gedoen het, weet hy nie.
’n Maand gelede het hy nog opgewonde sy hande gevryf en het hy en Ron Benadé, sy sakevennoot, glasies geklink op die suksesvolle afhandeling van hulle vorige ontwikkeling by Bloubergstrand. Die laaste sleutels is afgegee, die kopers tevrede, hulle bankrekeninge stewiger.
Altans so het hy gedink.
Totdat hy die volgende dag uitgevind het Ron het spoorloos verdwyn met die grootste gedeelte van die wins in sy sak. Die bitter smaak van ontnugtering is nog steeds in sy mond.
In die afwesigheid van ’n rolmodel in die huis waarin hy grootgeword het, was hy as jong branderplankryer beïndruk met sy held, Shaun Tomson, se surfer’s code of conduct. Hy en sy broer, Gideon, wat ook lief is om branders te ry, het die legendariese branderplankryer tydens ’n geleentheid by hulle hoërskool hoor praat en hoewel die man se Christenpraatjies Derek, anders as sy broer, koud gelaat het, het die kode waarvolgens Tomson lewe, hom beïndruk en tot vandag toe, is dit die “kode” waarvolgens hy lewe, waarvolgens hy besigheid doen.
Maar toe laat sy kode hom in die steek met Ron. Hy het die jonger man probeer help, geglo hy “pass on his stoke to a non-surfer”, soos die kode sê, maar toe moes hy aanskou hoe sy droom amper gekelder word.
Hy moes geweet het. Het hy nie al as klein seuntjie geleer om niemand, nie eens sy eie pa, te vertrou nie? Hy het nog altyd alleen gewerk; hierdie keer was sy fout sy gierigheid. Hy wat nog altyd gedink het hy kan mense opsom, het hom lelik met Ron misgis.
Met sý hulp kon hy ’n groter stuk grond koop, luukser huise oprig en meer wins maak. En om geld te maak is vir hom belangrik. Genoeg geld sodat hy nooit weer van enige ander mens afhanklik hoef te wees nie.
Sy nuwe huis in Clifton is ’n maand voor Ron se verdwyning voltooi. Dis sy droomhuis. Dit verteenwoordig alles waarvoor hy die afgelope klompie jare gewerk het. Die huis is feitlik betaal. Hy het sover moontlik kontant vir die boumateriaal en arbeid betaal. Die probleem is net as die ontwikkeling op McGregor nie gou koers kry nie, sal hy moontlik sy huis moet verkoop. Die geld waarmee Ron vort is, is die geld wat gebruik sou word om die materiaal aan te koop vir die volgende ontwikkeling by Blouberg waarmee hulle ook reeds begin het.
Wel, hy het ’n dure les geleer, sy allerlaaste. Dit is die laaste keer wat hy iemand anders vertrou. Nou moet hy net vasstel hoe hy Reina van Deventer se huis in die hande kan kry.
Ron is die een wat hom omgepraat het om ’n ontwikkeling op die klein dorpie McGregor aan te pak. Baie stadsmense koop daar, het Ron hom verseker; hulle gaan baie geld maak, het hy belowe. Hy het hom ook verseker hy het die koopkontrakte laat teken van drie huise wat gekoop en gesloop moet word voor die ontwikkeling kan begin.
Al drie huise is in ’n treurige toestand en, volgens Ron, was dit maklik om die verkopers te oorreed om te teken.
Omdat hy persoonlik by die ander ontwikkeling in Blouberg betrokke was, het hy Ron vertrou om die finale plan te laat opstel vir die ontwikkeling op McGregor. ’n Plan wat die stuk grond waarop Reina van Deventer se huis staan, insluit.
Volgens Ron het die Langeberg-munisipaliteit, waaronder McGregor val, die planne goedgekeur. Eers na Ron verdwyn het, het hy tot sy skok ontdek daar is nie ’n kontrak vir die Van Deventer-huis en die projek is juis daarom nooit deur die munisipaliteit goedgekeur nie.
Om ’n ander plan in dié stadium te laat opstel, is nie ’n opsie nie, daarvoor is daar nie geld en ook nie tyd nie. Die Bloubergontwikkeling het hy eers gestaak, dis heelwat groter. As die ontwikkeling op McGregor suksesvol is, sal hy weer daarmee kan voortgaan.
Hy moet eenvoudig op een of ander manier die kleindogter se handtekening kry en gou ook. Die goedkeuringsproses neem ook ’n rukkie.
Hy tel die telefoon op en bel vir Santie: “Kon jy die kleindogter al in die hande kry?”
“Ek het vir Cora Verwey op die ander lyn, sy is die een wat vroeër die foon geantwoord het en …”
“Skakel haar asseblief deur,” val hy Santie in die rede.
“Ek skakel haar deur,” sê Santie met ’n byt.
“Dis Cora Verwey wat praat, wie is jy, hartjie?” hoor hy die volgende oomblik in sy oor.
“Derek Retief van Kaapstad en ek wil graag uitvind …”
“Retief? Haai, hartjie, ek het in die laat vyftigerjare Retiefs op Hartswater geken, is jy dalk familie van hulle? Dit kon ook Marydale gewees het, ek onthou nie …”
“Mevrou Verwey …, ” probeer hy die stortvloed keer.
“Nee, hartjie, ek is nog ’n juffrou,” giggel Cora. “Sien, ek was verloof, maar hy is – ”
“Mejuffrou Verwey,” val Derek haar in die rede, “ek het gehoor mevrou Van Deventer is oorlede en – ”
“Ja. Ai, ons weet nou nie watter kant toe nie, maar Reinatjie kom die naweek. Sy sal weet wat om te doen. Dis Reina se kleindogter, sien, en sy – ”
“Het u miskien vir my ’n telefoonnommer vir die dame?”
“Telefoonnommer? Trina, het ons ’n telefoonnommer vir Reinatjie? Jy weet ook nie? Hoor bietjie by Fred.”
Derek druk sy vingers weer teen sy oë. Met wie praat die vrou? Is sy stapelgek of … ?
“Hartjie, nee. Nie ek of Fred of Trina het haar nommer nie en ons kry Reina se foon nie oop nie, maar Reinatjie kom Donderdagoggend, want ons hou Vrydag begrafnis. Foeitog, haar ouers is sommer nou die dag oorlede, ek is so jammer vir die kind. Hulle was op pad van een van haar ma se konserte toe ’n dronk bestuurder in hulle vasry. Haar ma was ’n pianis. O, sy kon so mooi speel! Ons bly maar die afgelope vier maande by Reina, ek dink nie Reinatjie weet eens – ”
“Dankie, mejuffrou …”
“Sê tog vir my Cora, hartjie, ek – ”
“Goed, Cora, ek sal Donderdagmiddag by julle ’n draai maak. Sal jy vir die kleindogter laat weet ek wil haar dringend spreek? Ek en haar ouma sou mekaar môre gesien het.”
“Reg so, hartjie, ek maak so. Wat – ”
“Totsiens,” val hy haar gou in die rede en sit die foon neer.
Goeie aarde, maar die vrou kan praat. In elk geval het hy nou ’n afspraak.
______________
Larissa het al uit die motor geklim, en Reina hoor die motor se bagasiebak oopgaan, maar sy sit nog en staar na die mooi ou huis van haar ouma. Hoekom was sy so lanklaas hier? Ja, Bert wou nie kom nie, maar sy kon alleen gekom het. Hoekom het sy so lank gewag?
Sy klim stadig uit. Sy weet hoekom – ouma Reina wou altyd bid en wou met haar oor haar ouers se dood gesels, en sy wat Reina is, het net nie kans gesien daarvoor nie. Ouma Reina het geglo soos ’n kindjie, sonder om vrae te vra en het alles wat met haar gebeur het, gelate aanvaar en die God wat sy aanbid het, bly loof en prys. Selfs ná haar man se dood. Selfs ná die dood van haar enigste kind, Reina se ma.
Wel, sy is dalk haar ouma se naamgenoot, maar sy kan nie blindelings glo in ’n God wat soveel seer toelaat nie. Sy het haar ouma nou nodig, verdomp. Watter soort God neem die een mens weg wat haar sou kon gehelp het?
Die rou seer oor haar ouma se dood lê vlak onder haar vel. Sy het nog nie eens heeltemal van haar ouers se dood herstel nie, en môre moet sy weer in ’n kerk sit terwyl almal vroom gesels oor die Here se wil.
En sý wil haar woede, haar pyn, haar wanhoop uitgil.
“Het jy ’n sleutel van die huis, Reina?” wil Larissa weet.
Reina grawe in haar handsak. “Ek het, maar die prokureur se sekretaresse het ’n boodskap op my foon gelos in verband met mense wat hier is; ek is nie heeltemal seker wie dit is en …”
Voor sy haar sin kan klaarmaak, vlieg die voordeur oop en twee tantes met spierwit hare en ’n gryskopoom, kom uitgestap. Die een tante kom die paar trappies met uitgestrekte arms af.
Oorbluf staar Reina na die twee vroue. Sy knip haar oë, maar hulle is nog steeds daar. Toe eers herken sy hulle: “Tannie Cora, tannie Trina, is dit julle? Hoe het julle so gou hier gekom?”
“Hartjie,” sê tant Cora uitasem en vou Reina toe in haar mollige arms, “ons het jou jare laas gesien. Jy lyk nou presies soos jou ouma gelyk het toe sy jonk was.”
Tant Trina se oë blink, sy staan ook nader en gee Reina ’n drukkie.
“Maar hoe … ?” begin Reina weer.
“Ek is so, so jammer oor jou ouma. Sy het maar swaar gekry na jou ma se dood, ai!” Tant Cora kyk na Larissa. “En jy, hartjie? Wag, wag, moenie sê nie, ek onthou vir jou, jy en Reina was van kleins af maatjies. Lara?”
Larissa buk af en druk die twee tantes: “Larissa, tannie Cora, Larissa Schoeman. Ek onthou julle twee, maar ek en Reina was nog op universiteit toe ek julle laas gesien het.”
“Het julle ook pas hier aangekom?” vra Reina, steeds uit die veld geslaan om die jare lange vriendinne van haar ouma hier te sien. Die ouer man hou hulle steeds van die bokant van die trappies af dop. Hom het sy beslis nog nooit gesien nie.
Cora vryf haar hande senuweeagtig: “Ek het gewonder of Reina jou vertel het, maar dit lyk nie so nie. Ek en Trina bly die afgelope vier maande hier by haar. Trina se kinders is almal oorsee, en ek het mos nooit getrou nie, en wel, Reina het gesê sy is alleen, ons moet hier kom intrek.”
Sy beduie na die ouer man. “En die handsome ou is Fred Bouwer. Hy maak goed reg. Hy bly hier naby en maak elke dag hier ’n draai om iets te fix. Met so ’n ou huis is dit mos maar nodig. Jy sal ver moet gaan om ’n handyman soos Fred te kry. Ek weet jy het ons nie verwag nie, maar ons sal nie in jou pad wees nie en ons kan na die huis kyk.”
Reina weet nie of sy moet lag of huil nie. Die idee was om vir ’n week of wat hier te bly om haar ouma se sake af te handel en die huis skoon te maak sodat dit verkoop kan word. Wat maak sy nou met die tantes en met Fred?
Oorbluf kyk sy na Larissa asof vir raad en hulp. Haar vriendin het ’n diep frons op haar voorkop, maar voordat Reina kan praat, tel sy hulle twee tasse op. “Ek stel voor ons gesels binne. Waar kan ek en Reina slaap?”
“Kom, ek sal vir julle wys.” Tant Trina praat heelwat sagter as Cora, haar glimlag is ook senuweeagtig. “Ons het kamers vir julle reggemaak.”
Cora vat aan haar arm: “En, o ja, hartjie, ’n man wil jou vanmiddag sien. Hy het glo ’n afspraak met jou ouma gehad, ek weet nie waaroor nie, maar hy sê hy moet dringend met jou praat. So ’n mooi stem wat die man het, ek het glad hoendervleis gekry. ’n Retief, as ek reg onthou. Ek het nog vir hom vertel ek ken Retiefs van Hartswater se wêreld. Ek het gedink hy was dalk van Marydale, maar ek het intussen onthou dit was beslis Hartswater. Trina, onthou jy nie vir Dik Hans Retief nie? Hy was mos …”
Reina stap agter tant Trina en Larissa die huis in en luister nie verder nie. Hoekom sou haar ouma haar twee vriendinne genooi het om hier by haar te bly? Was sy werklik eensaam?
Die trane dam sommer weer op. Dis omdat haar enigste kleinkind nooit meer kom kuier het nie.
Sy het haar ouma se vriendinne altyd vreeslik geniet, maar hoe sê sy vir hulle sy wil die huis verkoop? Wat haar aanbetref, moet dit so gou moontlik gebeur. Haar lewe en winkel is in Kaapstad; McGregor assosieer sy met ouma Reina, maar nou is sy dood.
Tant Trina beduie in die gang af: “Reina, ons het gedink jy sal in jou ouma se kamer wil bly, en Larissa, jy kan die kamer in die hoek gebruik. Ons is aan die onderkant van die gang.”
“Kom kombuis toe wanneer julle uitgepak het, hoor?” roep tant Cora. “Trina het skons gemaak. Het julle ooit tyd vir middagete gehad? Foeitog, julle is seker lekker honger. Trina, miskien moet ons …”
Reina trek Larissa aan die arm tot in haar ouma se kamer en druk die deur toe. “Wat maak ek met die oumense?” vra sy.
“Op die oomblik niks nie. Kom ons wag tot ná die begrafnis, dan gesels ons weer. Ek is seker daarvan ons sal ’n oplossing kan vind.”
Terwyl sy praat, laat gly sy haar hand oor die pragtige spieëltafel. “Sjoe, dis mooi. Ek was nog net altyd in jou ouma se sitkamer en daar is sulke mooi meubels, maar dié stuk is besonders, nè?” Sy buk af en vryf oor die blink houtvloere. “En kyk die lieflike hout, dis die mooiste, mooiste huis. En die meubels is pragtig, hulle maak nie meer sulke goed nie.”
Reina gaan sit op die bed en vryf haar slape: “Van ouma Reina se meubels kom nog van háár ma af. Dié was ook ’n Reina en sy en haar man het die huis op McGregor gekoop.”
“Watter jaar was dit, weet jy?”
Reina glimlag skeef. Larissa probeer haar aandag na iets anders as haar hartseer lei. “Ek sal weer moet seker maak, maar ek het 1935 in my kop. Oumagrootjie het skoolgehou in die plaaslike skooltjie van daardie tyd.”
“So McGregor bestaan al so lank?”
“Iewers van die middel van 1800 af, het ouma Reina altyd vertel. Die dorpie is eers Lady Grey genoem, maar omdat dit verwarring veroorsaak het met die Lady Grey in die Oos-Kaap, het die gemeentelede vroeg in 1900 besluit om die plek na hulle pastoor te vernoem, vandaar die McGregor. Die pastoor was Andrew McGregor.”
“Jy onthou goed,” glimlag Larissa.
“Dit was my slaaptydstories wanneer ek by ouma Reina kom kuier het.” ’n Knop vorm weer in haar keel. “Ek kan nog nie glo sy is nie meer hier nie. Dit voel vir my sy gaan enige oomblik by die deur instap.”
“Wat gaan jy met alles doen? Die meubels kan seker na jou winkel toe gaan, maar jy kan tog nie alles hou nie. So hartseer.”
Reina kyk na die mooi meubels in die kamer. Elke vertrek in ouma Reina se huis lyk so. Wat maak sy met die goed?
“Ek kan nie vandag verder planne maak nie. Ek het gedink ons is die naweek rustig saam hier en volgende week wanneer jy terug is by die werk, maak ek die huis skoon. Maar nou is die drie oumense hier.” Reina gooi haar hande moedeloos in die lug.
Larissa kom sit langs haar op die bed. “Dink jy die stomme Bippie is oukei so alleen by die winkel?”
“Ja, ai, sy sou mos saam met ons die naweek gekom het, maar toe is Ouma weg.” Reina trek haar asem in om van die lastige knop in haar keel te probeer ontslae raak. “Ek het vir Frans, wat vir ons aflewerings doen, gevra om die week ook in die winkel te help. Die arme Bippie, ek is nie heeltemal seker wat om vir haar te sê nie.”
“Ek sal so gou moontlik navraag oor haar onderskeie opsies doen. Miskien moet sy volgende naweek saam met my McGregor toe kom; ek dink dit sal haar goed doen, dan kan ons rustig gesels: “Wel,” glimlag Larissa en beduie die gang af, “so rustig soos wat die tantes ons toelaat. Verder bid ek vir Bippie, jy kan gerus ook. Ons sal wel antwoorde kry.”
Reina sug. “Ek wag nog steeds op antwoorde. As daar moeilikheid kom, is ’n mens alleen.”
“Tsk, Reina, jy is nié alleen nie. Jy vergeet die Here is elke oomblik van elke dag by ons en ja, goor goed gebeur, maar dit beteken nie Hy los ons alleen nie. Inteendeel.”
“My ouers is ’n jaar gelede oorlede. Op dieselfde dag wat ek skei, hoor ek my ouma is dood. En jy wil vir my kom sê God is ‘liefdevol’?” voeg sy sarkasties by en maak die aanhalingstekens met haar hande. “Hoekom moet alles met my gebeur?”
“Hoekom nié jy nie? God ‘skuld’ ons nie ’n lewe sonder lyding nie. Om seer te kry, om geliefdes aan die dood af te staan, gebeur. Jy was nog altyd koppig. Wat ek wel weet en ja, ek gaan dit weer sê,” voeg sy by toe Reina kreun, “jy kan ophou bid, ophou glo, maar ek gaan nie. Ja, al die dinge het gebeur en dis verskriklik, maar kyk vir jou – jy is hier, jy is aan die gang, jy het nie ineengestort nie. Hy hou jou vas, Hy stap elke hartseer tree saam met jou, dis hoekom jy regop kan bly.”
Reina skud haar kop, stom van seer en skok en bekommernis.
Larissa hou haar hand uit. “Maak ’n lysie van alles wat met jou gebeur het, praat en baklei met die Here daaroor, maar moenie twyfel in sy liefde nie, diep binne-in jou weet jy tog jy kan altyd daaraan vashou. Iewers vorentoe wanneer jy gereed is, kan ons jou lysie weggooi. Oukei, klaar gepreek, ek gaan nie verder met jou baklei nie.”
Reina knik en vat Larissa se hand.
Larissa trek haar op. “Kom, skons klink nou vir my baie lekker. Een ding is seker, in dié huis gaan ons nie honger ly nie. Ek onthou hoe die tantes kan kosmaak. Ek hoop hulle gaan ’n bietjie vet om jou bene sit, jy is gans te maer. Vergeet nou van alles tot ná die begrafnis.”