Читать книгу 'n Brief vir Reina - Elsa Winckler - Страница 7

Vyf

Оглавление

Derek staar die twee vroue agterna. Hy doen gereeld sake met mense, hy weet hoe om die sjarme aan te draai, vertel Santie hom gedurig, maar hy praat aanmekaar sy mond verby wanneer hy naby Reina Sauer is. Hy sê net mooi die verkeerde ding. Dis nie asof hy beplan het om ’n afspraak te probeer maak nie, hy kon net nie aan iets anders dink om te sê nie.

Jy kon weggestap het, treiter ’n stemmetjie hom van nêrens af. Ja, hy kon, maar dan …

Maar dan sou jy nie langer naby haar kon gestaan het nie.

Wat?

Met lang treë stap hy ontsteld terug na die teetafel. Hoekom hy aangebied het om die oumense aan te ry, weet nugter. Om uit sy pad te gaan vir ander mense is nie iets wat hy normaalweg doen nie; hy is gewoonlik te besig met sy eie dinge.

Sodat jy weer vir Reina kan sien, praat die stemmetjie weer.

Die tantes kwetter al die pad na Reina se huis. Dink hy nie dit was ’n besonderse diens nie? God is so goed, is dit nie wonderlik nie? Kyk nou maar vir hulle twee – as dit nie vir sy genade was nie, weet hulle nie wat sou van hulle geword het nie. En die tee was so lekker. Reina sou gehou het van die koeksisters; sy het so ’n soettand gehad. Is die dominee nie handsome nie? Het jy gesien ou Santjie Snyders het sowaar ook opgedaag? Sy kon so oor Reina skinder.

Voor langs hom sit Fred doodstil. Hy staar by die venster uit. Wat sou die man se storie wees? Hoe het hy op McGregor beland? Van wat Derek kon aflei, is Fred alleen. Die opknapwerk wat hy heeldag loop en doen, doen hy sekerlik nie omdat dit vir hom lekker is nie; hy doen dit heel waarskynlik omdat hy moet.

“Hoekom wil jy Reina se huis koop?” vra een van die tantes van agter af.

Derek loer in sy spieël. Dis die een wat die meeste praat. Cora, as hy reg onthou.

“Ek werk aan ’n behuisingsontwikkeling met sekuriteit,” antwoord hy. “Reina se huis is een van die eiendomme wat gesloop moet word voor dit kan gebeur. Ons het reeds die ander twee huise aan weerskante gekoop, ek moet nog net Reina se handtekening kry.”

“Sjoe,” sê Cora.

In sy truspieëltjie sien Derek hoe sy die ander tante se hand vasgryp. “Dis so ’n mooi ou huis, darem baie hartseer.”

“Maar noudat julle vriendin dood is, sal julle seker wil … uhm, teruggaan?”

“Teruggaan?” vra Cora. “Ons het nie meer ’n plek om na terug te gaan nie. Ons het by Reina gebly.”

Derek frons. Dit kan nie wees nie, hy het tog met Reina van Deventer oor die koop van die eiendom gepraat en sy … Hy probeer onthou wat sy gesê het. Sy het gesê die huis behoort aan haar kleindogter, maar sy het nie volstrek geweier om die plek te verkoop nie. Beslis het sy niks van gaste in haar huis gesê nie.

Sy gedagtes is nog by die ouma toe hy voor die huis stilhou. Die gekwetter van die tantes het opgehou, besef hy. Die drie mense wat uitklim, is bedeesd, bekommerd en ontsteld.

Omdat hy die huis wil koop. Maar verdomp, dis nie asof hy ’n keuse het nie. Die enigste ander opsie is …

Een wat hom nie pas nie. Hy kan sy huis in Clifton verkoop, die plan vir die ontwikkeling laat oordoen …

Gou klim hy uit die motor. Dis nou wat gebeur as ’n mens in ’n kerk sit: jy begin dink aan allerhande belaglike goed. Dit gaan hopeloos te lank vat om weer ’n plan te laat opstel en dit te laat goedkeur. Buitendien, die koop van sy huis is so pas deur. Om dit dadelik weer in die mark te sit is waansin. Hy kan net verloor. Daar is die oordragkoste, die vervoerkoste van sy meubels en … waarnatoe sal hy nou trek? Hy het geen ander blyplek nie.

“Wat van daardie huis?” vra Cora en beduie na nog ’n ou huis regoor Reina s’n. “Kan jy dit nie eerder koop nie? Daar is ook ’n kothuis agter wat die mense naweke uitverhuur.”

Derek kyk lank na die huis. Vreemde gedagtes kom by hom op. As hy sy Clifton-huis verkoop en dié plek koop …

Hy draai vervaard om. Waar op aarde kom die gedagte vandaan? Hy vermy die oë van die twee tantes wat hom angstig dophou.

Hulle is nié sy probleem nie.

“Ek wil net groet,” sê hy stroef en draf die paar trappies op tot by die voordeur.

Voor hy kan klop, gaan die deur oop. Larissa kyk hom koel aan.

“Ek het nie gedink jy wil afklim nie.”

“Reina …”

Larissa trek haar asem skerp in: “Jy kan haar beslis nie vandag oor besigheid spreek nie!” roep sy ontsteld uit.

“Ek was nie van plan om dit te doen nie, ek wou hoor hoe dit met haar gaan,” sê hy kortaf.

Reina verskyn agter Larissa. “Ek is fine. Ek maak vir ons tee, jy is welkom …”

“Nee, hartjie, gaan sit julle,” sê Cora dadelik. “Ek en Trina sal die tee maak. Kom, Fred, jy kan die skinkbord indra.”

______________

Reina vermy die vraagteken op Larissa se gesig. Nee, sy weet ook nie hoekom sy die man genooi het nie. Maar hy het die tantes en vir oom Fred huis toe gebring, dis seker net ordentlik.

Sy gaan sit by die eetkamertafel.

Larissa trek die stoel langs haar uit en gaan ook sit.

Derek bly staan, sy hande in sy broeksakke.

“Dankie dat jy die drie huis toe gebring het,” sê Reina.

Hy knik. “Jy is bleek.”

Reina trek haar mond. “Dit was ’n lang jaar.”

“Wil jy sit?” vra Larissa vir Derek.

Hy kyk in die rigting van die kombuis: “Cora sê vir my hulle bly hier. In die huis.”

Reina kyk vlugtig na Larissa voor sy antwoord: “Ja, dis ook iets wat ek dié week eers uitgevind het. Ek was lanklaas by my ouma.”

Hy bly ’n oomblik stil. “Dankie, ek sal nie vir tee bly nie, ek bel jou Maandag oor ’n afspraak. Jou telefoonnommer?” Hy haal sy foon uit en hou dit uit na haar.

Sy tik gou haar nommer in voor sy die foon teruggee. En sonder om nog iets te sê, is hy uit by die deur en hoor hulle die voordeur agter hom toegaan.

Net toe kom Fred met die skinkbord ingestap, die twee tantes reg agter hom.

“Waar is Derek?” vra Cora. “Ek wou verder met hom oor die huis praat.”

“Oor dié huis?” vra Larissa skerp.

“Nee, hartjie, oor die een oorkant die straat. Ek het gewonder of hy dit nie liewer vir sy ontwikkeling kan koop nie.” Sy gaan sit. “Ek en Trina weet nie …”

“Tannie Cora,” sê Larissa en leun vorentoe om haar hand te vat, “Reina sal julle nie op straat sit nie, julle kan ontspan. Maar daar is baie om oor na te dink. Die prokureur kom netnou met die testament. Ek en Reina sal daarna kyk en dan bespreek ons die saak.”

“Tot dan bly dit julle huis ook,” voeg Reina by.

Uiteindelik lyk die tantes rustig.

Reina kyk na oom Fred.

Hy sit doodstil, stokstyf gesnaar. “Oom Fred, ek het gewonder oor die pyp onder die kombuiswasbak – kan jy dit dalk stywer vasdraai of iets? Ek betaal jou natuurlik vir die werk,” sê Reina.

Hy staan dadelik op en glimlag selfs effens: “Ek gaan haal my gereedskap. Reina het ook gevra, maar toe …” Hy staan ’n rukkie hande gevou voor hy uitstap.

“Hy was so erg oor Reina,” sê tant Trina.

“Julle het gesê Fred bly hier naby?” vra Reina.

“Ja, die huis so skuins oorkant dié een het ook soos baie van die huise, ’n kothuis in die agterplaas. Hy huur dit by die mense. Hulle is min daar. In ruil vir sy blyplek, sien hy om na die tuin en die huis,” verduidelik tant Cora.

Iemand klop aan die voordeur.

Larissa staan op. “Dis seker die prokureur.”

Terwyl sy uitstap, werk Reina se kop oortyd. Toe sy hoor van haar ouma se dood, was haar enigste gedagte om die huis so gou moontlik te verkoop. Maar selfs net die paar dae aan die voet van die Riviersonderendberge was goed vir haar deurmekaar siel. Alles hier beweeg teen ’n rustiger pas, mense het tyd vir mekaar.

Daar is niks wat sê sy moet die huis verkoop nie. Afgesien van Derek Retief, maar van wat sy aflei, het haar ouma nooit ingestem om die plek wel te verkoop nie. Sy kan die huis hou en die twee tantes hier los, miskien selfs vir oom Fred vra om ook hier te kom bly, maar wie kyk dan na hulle? Sy weet nie regtig hoe oud hulle is nie, en hulle klink nog baie aan die gang, maar hulle is broos; sy kan sien hulle staan moeilik op, die bewegings is stadiger.

Maar hulle is mos nie haar probleem nie, hoekom bekommer sy haar oor die mense? Sy het haar onderneming, haar lewe in die Kaap. Sy kan haar nie nog oor ander mense ook bekommer nie. En dan is Bippie ook nog daar.

“Kom binne, meneer Swanepoel, ons sit hier om die tafel,” sê Larissa van die deur af. Sy en ’n ouer man stap die vertrek binne. Reina herken hom van die begrafnis af.

Sy staan op en steek haar hand uit.

“Aangenaam,” glimlag hy. “Ek is jammer oor die omstandighede, maar dis goed om jou te ontmoet. Reina het so baie oor jou gepraat.”

Die tantes en oom Fred staan op en beweeg deur se kant toe. “Tee, meneer Swanepoel?” vra tant Cora darem eers.

“Nie nou nie dankie, Cora, ek gee die testament net af.”

Die drie stap omkyk-omkyk uit.

Reina weet nie of sy moet lag of huil nie. Of sy dit nou wil weet of nie, sy het so ’n idee tant Cora, tant Trina en oom Fred is nou haar probleem.

Laat sy tog sien wat haar ouma se testament sê.

Die prokureur haal ’n lêer uit en skuif dit oor na Larissa toe.

Dié maak dit oop, en beduie vir Reina om saam met haar te kyk.

“Dis ’n eenvoudige testament. Alles wat Reina het, kry jy. Ek het state aangeheg van haar belegging, asook van haar bankrekening. Die enigste ander ding is …”

“Die twee tantes en Fred?” vra Reina en beduie die gang af.

Hy frons en skud sy kop: “Nee, sy het nie enige voorsiening vir hulle gemaak nie. Sy was so ’n maand gelede by my en ons het weer deur die testament gegaan. Ek het haar gevra of sy iets vir hulle wil gee, maar sy het gesê jy sal die regte ding doen.”

“So wat … ?” begin Larissa.

Hy skuif ’n koevert oor die tafel na Reina toe. “Sy het ’n brief vir jou gelos, Reina. Geskryf die laaste week voor haar dood. Indien jy dink aan verkoop, onthou om die solder skoon te maak, het sy ook gevra. Nou ja, dames,” en hy staan op. “Dis Vrydag en ek het ’n vuur aan die gang by die huis en ’n tjoppie wat vir my wag. Lees deur die testament en die brief, en as daar enigiets is wat julle wil weet, bel gerus.”

Hy sit ’n visitekaartjie ook op die tafel neer.

Lank na hy weg is, sit Reina met die brief in haar hande terwyl Larissa die testament hardop voorlees. Soos die prokureur gesê het, bemaak haar ouma alles aan haar.

“Jy moet hierna kyk.” Larissa druk ’n dokument in haar hande.

Reina kyk af. Dis ’n beleggingstaat. Haar oë rek. “Sjoe,” snak sy na haar asem, “dis baie geld.”

“Sewe miljoen rand,” lag Larissa. “Ja, jou ouma het baie mooi met haar geld gewerk, lyk dit my. Dis dié dat sy seker kans gesien het om haar vriende ook by haar te laat intrek.”

Reina maak die brief oop. En lees dit hardop voor.

My liewe Reina,

As jy dié brief lees, beteken dit ek is nie meer hier nie. Moenie hartseer wees nie, ondanks die baie foute wat ek gemaak het, het ek ’n goeie lewe gehad.

Ek vertrou teen dié tyd het jy ontslae geraak van die vent met wie jy getrou het. Jy verdien ’n goeie man, een wat jou op die hande sal dra. En ja, voor jy jou oë rol, daar is sulke mans.

Werk sag met jouself, Reinatjie, die onvoorsiene gebeur desondanks ons beste pogings. Daar is ook dinge wat in my verlede gebeur het wat ek miskien anders sou doen indien ek weer die kans gegun sou word, maar wat gebeur het, het gebeur. Daaraan kan ons niks doen nie. Oor al die môres wat voorlê, het ons ook geen beheer nie. Daar is net vandag, net nou – leef elke oomblik voluit.

Jy is kwaad vir die Here, ek verstaan jou woede, maar moenie jou rug op Hom draai nie, my liewe kind. Hy is die een wat jou dra wanneer jy nie self kan stap nie. Soos wat ek lank gelede moes uitvind.

Wees gelukkig. Waag. Hê lief. Die lewe is so verskriklik kort.

Totdat ons mekaar weer sien.

Met so baie liefde,

Ouma Reina

Reina se wange is sopnat toe sy klaar gelees het. Wees gelukkig. Waag. Hê lief. Hoe kan sy ooit weer gelukkig wees?

Langs haar snuif Larissa ’n paar keer. “Weet jy waarna sy verwys? Die dinge wat sy anders sou gedoen het?”

Reina skud haar kop: “Nee, ek weet nie waarvan sy praat nie. Wie weet, dalk kom ek op een of ander geheim van my ouma af wanneer ek haar goed opruim. Miskien iets op die solder. Ek was as kind laas daar bo. Ek en die bure se kinders het ure daar gespeel. Daar was ’n kis met my oumagrootjie se klere in; ek wonder of dit nog daar is? Ek moet in elk geval gaan kyk sodat ek kan uitgooi en skoonmaak.”

“Jy gaan beslis nie nou in die stof rondkruip nie,” sê Larissa. “Kom ons gaan kyk wat die tantes vir ete maak. Môre is nog ’n dag.”

“Wat maak ek met die tantes?” vra Reina weer.

Larissa glimlag. “Wel, volgens die prokureur het jou ouma gedink jy sal weet wat om te doen. Hulle gaan nie vanaand iewers heen nie. Volgende week …”

Reina stap saam met Larissa tot in die kombuis, maar sy luister nie meer nie. ’n Plan wil vaagweg in haar kop vorm aanneem, maar dis so belaglik, sy wil nie verder daaraan dink nie.

“Ek dink ek gaan Sondag saam met jou terug Kaap toe,” sê sy vir Larissa.

Larissa gaan staan. “Maar moet jy die huis nie begin opruim nie? Derek se aanbod is baie ruim en as jy aan hom verkoop, hoef jy jou nie verder oor die huis te bekommer nie.”

“Ek wag vir ’n belangrike aflewering van Christie’s uit Londen en wil maar self by die winkel wees wanneer goed aankom. En dan is daar Bippie. Ek is so jammer vir haar. Jy het gepraat van al haar opsies – wat het jy bedoel?”

“Sy kan die baba laat aanneem of sy kan doen wat haar ouers en die boyfriend glo wil hê, ’n aborsie ondergaan. Dis nie iets waarmee ek normaalweg werk nie, maar kom ek maak seker van al die wetlike aspekte, ensovoorts. Kry jy haar sover om volgende naweek hier te kom kuier, dan gesels ons. Ek dink dit sal goed wees as sy uit die stad wegkom.”

“Dit klink vir my goed. Maar ek wil die week alleen wees, ek het baie om oor te dink. Ek wil ook seker maak daar is niks meer van Bert in die huis nie.”

“En die tantes?”

“Hulle bly net hier. Ek sal môre kos vir die week vir hulle gaan koop. Teen Vrydag behoort ek meer duidelikheid te hê.”

Larissa kantel haar kop: “Wat se planne maak jy? Jy vergeet ek ken jou al baie lank.”

“Ek het nog nie planne nie, dis hoekom ek tyd alleen nodig het.”

Larissa knik: “Nou maar goed, maar moenie nou groot besluite neem voor jy met my gesels het nie, oukei?”

“Oukei.”

'n Brief vir Reina

Подняться наверх