Читать книгу 'n Brief vir Reina - Elsa Winckler - Страница 6
Vier
ОглавлениеHy weet nie hoekom hy hier is nie. Derek skuif in die agterste ry van die kerkbank in. Die kerkgebou op McGregor is ’n pragtige, statige, ou gebou met ’n kloktoring en besonderse afwerking, maar die kerkterrein is verwaarloos wat seker net een ding beteken – geld is ’n probleem.
Hy het vroeg hier aangekom en het die tyd gebruik om deur die dorpie te ry. Die enigste vorige keer wat hy hier was, was toe Ron die potensiaal van die dorpie aan hom uitgewys het. Dit was toe ook al wat hy raakgesien het.
Vandag kyk hy anders na die plek.
Ja, dis ’n sjarmante, ouwêreldse dorp met leivore en groot vrugtebome, ’n plek waar mense kaalvoet oor die strate na mekaar toe stap soos hy vanoggend gesien het. Maar die hoofstraat is stil, heelwat winkels is leeg.
Die hol kol op sy maag vertel hom die projek gaan sneuwel nog voor dit begin het.
As die pad tussen McGregor en Greyton destyds voltooi is, was die dorpie heel waarskynlik ekonomies baie sterker, maar dan kon die plek ook heelwat van sy sjarme verloor het.
Dis Vrydag, hy het so baie werk, so baie vure om nog ná Ron se verdwyning dood te slaan: hy moet eintlik net agter sy lessenaar bly. Maar hy was heel oggend kriewelrig totdat Santie later oor haar bril vir hom geloer en gevra het wat aangaan. Dis toe wat hy sy motorsleutels gryp en die pad vat.
Hy kan nie onthou wanneer laas hy in ’n kerk was nie. Sy ma het hom en Gideon Sondae kerk toe geneem. Hy het gegaan, want dit het ten minste ’n uur weg van sy pa beteken. Gideon het altyd aandagtig geluister, maar niks wat die predikant gesê het, het vir hom wat Derek is, sin gemaak nie.
God die Vader. Al wat hy van ’n “vader” geken het, was woede, afbrekende opmerkings en vernedering. Die idee van ’n Vader wat omgee, wat liefdevol is, wat jou “toets”, was nie iets wat hy ooit verstaan het nie, en ná sy ma se dood het hy nie weer sy voete in ’n kerk gesit nie. Hy was toe in matriek, Gideon in graad elf.
Dis ook deels die rede hoekom hy en Gideon nie kontak het nie. Of liewer, hoekom hy nie met Gideon kontak hou nie. Gideon laat hoor gereeld van hom, Derek weet net nie wat om vir hom te sê nie. Gideon glo in die God van wie sy ma hulle vertel het; hy glo ná alles wat in hulle huis gebeur het, onwrikbaar in sy God se liefde en vergifnis, en eerder as om van hom te verskil bly Derek stil. Sy broer kan so vurig oor sy Christenskap raak.
Gideon het eers gaan werk, elke sent gespaar en hom toe as mediese dokter bekwaam. Presies waar in die wêreld hy in dié stadium is, weet Derek nie, maar dit sal wel wees waar ellende is: waar ’n sikloon ’n land getref het of op ’n plek waar mense mekaar uitmekaar skiet, want dis wat sy broer kies om te doen. Anders as vir Derek, het geld vir hom geen waarde nie. Wat hy verdien, gebruik hy om ander te help – iets wat nie vir Derek sin maak nie. Die lewe het hom geleer as jy nie na jouself kyk nie, is daar niemand anders wat dit gaan doen nie.
Soos die hele gemors met Ron net weer bevestig het.
Derek kyk om hom rond. Daar is baie mense in die kerk, die tante was skynbaar geliefd. Wie sal sy begrafnis eendag bywoon? Sal daar iemand wees wat oor hom treur? Hom sal mis? Daar is een of twee mense wat hy seker vriende kan noem, maar hy werk sulke lang ure dat daar nie regtig tyd vir sosialiseer is nie.
Hy neem af en toe ’n vrou uit, maar vroue wil gewoonlik meer van hom weet as wat hy wil of kan vertel, so hy vermy die spesie sover moontlik. Buitendien, trou en kinders kry, is nie dinge wat hy ooit sal oorweeg nie. Hy dra ook sy pa se DNS in hom en wat aan hom gedoen is, wil hy aan geen kind doen nie.
Daar is ’n beweging by die deur, en hy kyk om. In die paadjie kom Reina, haar vriendin en die drie ouer mense wat hy gister ontmoet het, afgestap.
Soos toe, steek sy oë weer vas by Reina.
Haar gesig is stroef, haar oë rooi. Haar hare is vandag los en hang teen haar rug af. Hy onthou weer die seer in haar oë, haar weerloosheid. Wat het Cora oor haar gesê? O ja, haar ouers is ook onlangs oorlede. En sy is nie getroud nie. Sy is nie meer getroud nie, het sy gesê. So sy was getroud.
Wat sou gebeur het? Hoekom?
Die predikant het begin praat, en Derek probeer fokus op wat hy sê. Hy is hier omdat hy sy respek aan haar ouma wil betoon. Hy het haar nie geken nie, maar sy was ’n kliënt.
Wel, amper.
“Welkom almal,” sê die predikant en glimlag. “Reina sou van die mooi blomme gehou het.” Hy beduie na die groot ruiker voor die preekstoel. “Ons neem vandag afskeid van ons vriendin, ’n besonderse mens …”
Derek draai sy kop en sien weer die kleindogter raak waar sy in die voorste ry langs haar vriendin sit. Haar kop is vooroor gebuig, haar vingers teen haar oë gedruk. So asof sy nie wil raaksien wat om haar aan die gang is nie. Haar skouers is smal, haar hande fyn. Soveel hartseer vir een mens om te dra.
Hy ruk sy kop weg. Ander mense se moeilikheid is hulle saak, dit het niks met hom te doen nie. Die vroumens moet ’n koopkontrak teken, dis al wat hy van haar wil hê. Haar probleme is nie syne nie.
“Ek het ’n boodskap voorberei vir vandag, maar op pad hiernatoe, het ek van plan verander,” sê die predikant. “Reina se dood het ons onkant betrap; ons harte is seer, ons het mekaar juis nou nodig. Dis moeilik om altyd te verstaan hoekom sekere dinge gebeur, hoekom daar soveel hartseer en lyding op aarde is, maar daar is sekere Bybelse waarhede wat tog vir ons lig op die onverstaanbare kan werp.”
Derek het kleintyd al geleer om uit te sny, om in sy gedagtes op iets heeltemal anders te fokus as op die storietjies wat die man op die preekstoel te vertel het.
Maar vandag sukkel hy om op iets anders te konsentreer, die dominee se stem dring deur sy gedagtes.
“… ’n tweede ligpunt: Hoewel lyding nie goed is nie, kan God dit gebruik om iets goeds te bereik. In Romeine 8 vers 28 lees ons dat ‘God alles ten goede laat meewerk vir dié wat hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is’. Jy sit dalk vandag hier en dink niks goeds kan uit jou omstandighede kom nie. Die skade is te veel, jou seer te groot. Maar dink aan wat God gedoen het: Hy het die ergste wat nog gebeur het, sy Seun se kruisdood, verander in die beste ding wat nog gebeur het: almal wat in Hom glo, kan hemel toe gaan.”
Derek sluk aan die wrang smaak in sy mond. Goed? Sy pa se woede en afbrekende woorde het niks goeds tot gevolg gehad nie. Inteendeel, sy ma is heeltemal te vroeg dood, sy broer swerf oor die aardbol en probeer goed doen op plekke waar die bose lankal oorgeneem het en hy wat Derek is? Die goeie het by hom verbygegaan.
Derek kruis sy arms en kyk af na die punte van sy duur skoene. Die gemors waarin hy op die oomblik is, is sy eie skuld en hy sal self hier uitkom. Daar is niemand wat hom kan help nie. En al is daar ’n God, hoekom sal Hy hom help? Toe hy as klein seuntjie gebid het, gesoebat het om hulp, het niemand kom help en het niks verander nie.
Die ontwikkeling? Wat gaan hy doen as die kleindogter om een of ander rede besluit om die huis nié te verkoop nie? Een oplossing, een waaraan hy nie wil dink nie, is om sy huis in Clifton te verkoop. Die huis wat alles verteenwoordig waarvoor hy tot dusver gewerk het.
Paniek slaan sy kloue om sy lugpyp en hy skep ’n diep teug asem.
Weer dring die dominee se stem tot hom deur: “Die vierde ligpunt: Ons lyding is niks in vergelyking met die goeie dinge wat God vir sy volgelinge belowe nie. Paulus wat vervolging verduur het, geslaan is, gestenig is, in die tronk gegooi is, praat in Romeine 8 vers 18, ‘van die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek’.”
Derek staar na die predikant. Die man se mond beweeg en hy beduie met sy hande, maar dis asof Derek onder water verdwyn het, want hy maak nie meer uit wat die man sê nie.
Weer die woord. Goed. Goeie dinge? Met hom? Hy knip sy oë en die dominee se stem kom terug.
“… is lyding op hierdie aarde deel van menswees. Ek kan baie teologiese redenasies aanhaal, maar wat geliefdes van Reina van Deventer nou nodig het, is die werklike en vertroostende teenwordigheid van Jesus in hulle lewens. En dis ons elkeen se opdrag – wees daar vir hulle, wees jy as’t ware ’n Jesus vir almal wat dit nou nodig het.”
Derek se oë val weer op die smal skouers van die kleindogter. Van Reina. En vir een waansinnige oomblik wil hy opstaan en haar vertroos.
“Ek sluit af,” sê die dominee. “Die Engelse vertaling van Psalm 116, vers 1 en 2, sê dit vir my so mooi: ‘I love the Lord because he hears my voice and my prayer for mercy. Because he bends down to listen, I will pray as long as I have breath.’ Hy buig af na ons om te luister wat ons sê. Ons God is goed, sê Nahum 1 vers 7 vir ons: ‘Hy is ons toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir die wat by Hom skuil’.”
In Derek se binneste stoei honderde gedagtes. Beelde uit sy verlede wil hom mal maak. Hy wil hardop skree, sy woede, sy seer uitgil – waar was die goeie waarvan die predikant vandag praat toe hy dit nodig gehad het?
Waar was God toe?
______________
Reina kan haar kop nie optel nie. Sy wil die dominee nie hoor nie; niks wat hy sê, kan die gat in haar binneste ooit weer opvul nie.
Maar die woorde val meedoënloos op haar ore: “Waar daar lyding is,” dreun die dominee se stem, “is daar oorlog – daar is ’n stryd om jou siel te wen. Dis jou keuse of jy bitter word en of jy na God toe draai, meer liefdevol word, meer deernis het vir ander se swaarkry. Jy kan die keuse maak om óf weg te hardloop vir God óf jy kan na Hom toe hardloop. Hy verseker ons Hy het die wêreld reeds oorwin. Tragedies, pyn, lyding – dié dinge sal gebeur, maar by God kry ons vrede om ons huidige probleme te hanteer, moed om toekomstige pyn aan te pak en op die koop toe, die belofte van die ewige lewe in die hemel.”
Here, hoe doen ek dit?
“En wanneer jy deur jou eie pyn gewerk het, kan jy ook ander mense help, want dan het jy eerstehandse ondervinding van sy genade en planne. Hy het jou deur jou lyding vasgehou, Hy het jou gebrei om meer soos sy beeld te wees, so nou is jy in staat om aan ander te gee wat God aan jou gegee het.”
Ander mense help? Goeiste, ek kan myself nie eens help nie!
Om haar begin die mense sing.
Reina beur orent. Sy het sowaar met die Here sit en praat. Hoekom sal Hy nou na haar luister? Waar was Hy toe haar ouers dood is, toe Bert in haar lewe gestap het? Hoekom het Hy nie toe vir haar gesê sy maak ’n fout nie?
Larissa neem haar arm en druk haar voor haar uit in die paadjie af na buite.
Uit die hoek van Reina se oog sien sy ’n beweging en toe sy opkyk, is Derek Retief se oë op hare.
Sy kake is styf opmekaar vasgeklem, sy hande in sy broeksakke gedruk.
Sy kyk vinnig weg. “Wat soek hy hier?” vra sy onderlangs.
“Van wie praat jy?” fluister Larissa.
“Die vent wat die huis wil koop. Agterste sitplek.”
“O, ek sien hom. Seker net ordentlik. Hy het jou ouma geken.”
“Gmf. Hy wil net seker maak hy kan besigheid doen. Hoekom sou hy my ouma se huis so dringend wil hê, wonder ek.”
“Moenie jou nou daaroor ontstel nie. Kyk, daar is die tantes, hulle sal wel weet waar ons ’n koppie tee kan kry.”
“Wat maak ek met die twee oumense, Larissa?”
“Ons gaan nie vandag daaroor praat nie, daar is nog baie tyd. Die prokureur kom later vanmiddag om vir jou ouma Reina se testament te gee. Dis skynbaar heel eenvoudig, so daar is niks waaroor jy jou hoef te bekommer nie. Kom ons gaan drink tee en kry iets om te eet. Ek is behoorlik flou na die diens.”
Dis nie so maklik om by die teetafel uit te kom nie; kort-kort spreek iemand haar aan om iets oor ouma Reina te vertel. Teen die tyd wat Larissa haar ’n koppie tee in die hand stop, is die knop in haar keel so groot dat sy sukkel om te sluk.
“Reina,” sê ’n stem langs haar.
Sy hoef nie op te kyk om te weet dis Derek Retief nie. Versigtig sit sy haar koppie terug in die piering. “Meneer Retief,” sê sy sonder om op te kyk.
“Derek, asseblief. Ek is werklik jammer oor jou ouma. Ons het net oor die foon gesels, maar sy was ’n interessante mens.”
“Ja, sy was. Ek … mis haar.”
Stilte.
Hy maak keelskoon. “Ek is nie vandag hier vir besigheid nie, maar die saak is dringend. Wanneer sal dit jou pas dat ek jou kom sien?”
Reina kyk die man ergerlik aan: “O, jy het nie kom besigheid doen nie, maar jy praat darem daaroor?” Sy is vaagweg bewus daarvan dat mense se koppe draai, want haar stem het taamlik geklim, maar sy kan nie glo die man is so onsensitief nie.
“Reina?” vra Larissa langs haar. “Alles oukei?”
“Hy wil besigheid praat.”
“Dis nie wat ek gesê het nie,” sê Derek kortaf.
“So wat het jy gesê?” vra Larissa koel.
“Ek wou ’n afspraak maak vir volgende week, maar ek sal bel.” Hy sit sy koppie neer.
“Simpel vent,” brom Reina toe hy wegdraai.
“Kom, ek vat jou huis toe, jy is glad te bleek.”
“Maar wat van tant Cora en …”
“Ek sal hulle bring,” sê Derek wat teruggedraai het.
Reina maak haar mond oop om te sê dis nie nodig nie, maar Larissa begin praat voor sy ’n woord uitkry: “Dankie, dit sal gaaf wees. Kom, Reina.”
Op pad na Larissa se motor, keer mense hulle nog voor en moet Reina wag totdat hulle in Larissa se motor sit voor sy kan praat. “Ek kan nie glo jy het gesê daai man kan die tantes kom aflaai nie. Dit gee hom die geleentheid om weer te begin besigheid praat.”
“Die tantes gaan sy ore van sy kop af praat van die kerk tot by die huis,” sê Larissa, met onderdrukte lag in haar stem. “En dit gee tant Cora darem ’n kans om weer na die mooi man te kyk.”
“Gmf, jy weet wat ek van mooi mans dink.” Reina leun terug in haar stoel en maak haar oë toe.
“Dit was ’n spesiale diens, dink jy nie so nie?” vra Larissa wat stadig in die stil straat afry. “God is goed, Hy doen goed, Hy is goed – dis die boodskap wat ek vandag gekry het. Nare dinge gebeur, maar dít verander nie.”
Reina antwoord nie. Sy het gehoor wat die predikant sê, maar sy is sonder ouers, sonder haar liewe ouma; daar is min van die goeie in haar lewe oor.