Читать книгу 'n Belofte vir Bippie - Elsa Winckler - Страница 4
Twee
Оглавление“Dankie, tant Cora, maar ek –”
“Sit, kind.” Cora trek Riekert aan sy arm nader aan die stoel. “Ons het meer as genoeg vir jou ook. Bippie is veronderstel om vir twee te eet, maar dis so ’n gesukkel om haar sover te kry om soggens iets te eet. Sy raak net baie, baie knorrig as sy nie eet nie, vra vir Trina. Deurmekaar hormone en lae bloedsuiker, as jy my vra. Dalk eet sy meer as sy geselskap het.
“Toe, toe, sit, ek hoor haar aankom.”
Riekert sluk die kreun wat wou uitglip terug. Hoekom het hy hom laat ompraat om te kom koffie drink? Hy wou so gou moontlik in die huis verdwyn om te begin werk, maar het nie rekening met tant Cora gehou nie. Hy het skaars stilgehou, toe was sy en tant Trina daar om hom vir koffie te kom haal. En nou gaan hy sommer ontbyt ook kry.
Hy het een voorneme: bly so ver moontlik weg van Bippie Snyman. En kyk waar sit hy nou? In die kombuis van die huis waar sy woon.
“Vertel eers vir my hoe dit gekom het dat jy huise restoureer? Ek verstaan jy was ’n ingenieur in Johannesburg?” vra Cora. “Maar nou bly jy in die Paarl? Dit was seker nogal ’n aanpassing om skielik op ’n dorp te wees en nie meer in die gewoel van ’n stad nie?”
“Wel, een van die redes hoekom ek weg is uit Johannesburg, is juis sodat ek rustiger en eenvoudiger kan lewe,” sê hy. “Na skool het ek meganiese ingenieurswese geswot en by ’n maatskappy begin werk wat masjinerie vir die mynbedryf ontwerp, ontwikkel en bou. Maar na vyf jaar was ek lus vir ’n verandering. Ek sal iewers vorentoe seker weer teruggaan, maar op die oomblik geniet ek wat ek doen.”
Wat hy nie vir die tantes vertel, is dat geld nie vir hom ’n kwessie is nie, danksy die erfporsie wat hulle pa, asook hy en sy broer, na hulle geliefde oupa Alex se dood gekry het. Dit was dus vir hom nie nodig om dadelik finaal te besluit wat hy vir die res van sy lewe wil doen nie.
“Maar hoekom die restourasie van ou huise?” vra Trina.
“My oupa Alex het huise gerestoureer en hy het my lief gemaak vir houtwerk, vir bou, en om met my hande te werk. Hy het ook op Wellington gebly waar ek grootgeword het. My pa is ’n mediese dokter en het sy praktyk nog daar. Om te sien hoe ’n ou plek tot sy oorspronklike glorie gerestoureer word, was altyd vir my besonders.”
“So jou oupa het jou geleer?” wil oom Fred weet.
Riekert knik. “Op hoërskool en as student het ek hom dikwels gedurende vakansies gehelp met die restourasie van ou geskiedkundige geboue en huise. Ek is nog nie seker wat ek die res van my lewe wil doen nie, en tot tyd en wyl restoureer ek huise.”
“Het jy enige ander opleiding?” vra Cora.
“Ek het ’n kursus gevolg en restourasie is wat ek die afgelope twee jaar doen. Ek het ’n uitstekende span byeengekry, baie van die manne weet meer as ek daarvan af.”
“En Derek sê jy bly in die Paarl?”
“Cora, skei uit,” sê Fred. “Die man het nog nie eens koffie gedrink nie en jy peper hom al met die vrae.”
Riekert glimlag. “Ja, tant Cora, ek het ’n huis in die Paarl. Dis nie baie groot nie, maar ek bly lekker.”
Sy eie plek. Dis nog elke dag vir hom opwindend om daarin te stap. Dis netjies. Elke voorwerp is op sy plek en hy weet waar om wát te kry. Sy lewe is op die oomblik soos hy dit wil hê – rustig en ongekompliseerd. Die vae onrus en die gevoel dat sy voete jeuk, ignoreer hy op die oomblik. Hier is ’n werk waarvoor hy ja gesê het en een wat hy gaan klaarmaak voor hy besluit wat hy verder wil doen.
Duidelikheid oor sy toekoms het hy nog nie, maar hy is nie daaroor bekommerd nie. Hy hoef vir niemand anders te sorg behalwe homself nie, en hy kom met min reg. Die meeste van die wins wat hy die afgelope paar jaar gemaak het, spaar hy, en saam met sy oupa se erfporsie, het hy ’n stewige aandeleportefeulje.
En dis hoekom hy uit Bippie se pad bly. Een kyk in haar groen oë ’n paar maande gelede het hom so uitgeboul dat hy dae lank omgekrap was. Vroumense, het sy pa reeds vroeg by hom en sy broer, Lex, ingeprent, veroorsaak net moeilikheid.
Dis nie asof hy vroumense vermy nie, maar vroeër of later wil hulle oor gevoelens praat en sy gevoelens en emosies het hy lank gelede stewig agter slot en grendel toegesluit en dis waar hulle bly. Konflik en dramas vermy hy.
Hy neem vroue uit, soms selfs meer as een keer, maar hy maak telkens baie seker sy verstaan hy is nie van plan om ooit ernstig te raak nie en by die eerste teken van enige drama, maak hy hom uit die voete.
Maar toe maak hy die fout om vir Bippie in sy arms op te tel.
Dit was die dag dat hy kom kyk het na die huis wat hy gevra is om te restoureer. Derek en sy broer was ook hier en kort daarna het nog ’n voertuig stilgehou. Drie vroue het uitgeklim. Reina, wat intussen met Derek getroud is, haar vriendin Larissa en Bippie – skraal, asvaal en swanger.
Sy het teen die motor begin afsak toe hy haar optel. Groot groen oë het in syne opgekyk. Gefassineerd het hy probeer om die sproete oor haar neus te tel en binne sekondes het vreemde gevoelens en emosies van hom besit geneem. Tot sy ontsteltenis het hy selfs ’n duidelike prentjie van ’n klein dogtertjie met rooi vlegsels en sproete oor haar neus gesien, en dis toe dat hy geweet het uit dié vroumens se pad moet hy bly.
En kyk waar is hy nou!
Hy het ingestem om die huis aan die oorkant te restoureer voor hy nog van Bippie se bestaan geweet het. As hy besef het sy bly hier, in die huis regoor die een waaraan hy werk, sou hy die projek van die hand gewys het. En vandat hy weet hy kom hier werk en sal haar noodwendig sien, bid hy daaroor. Die liewe Vader weet tog baie goed hoekom hy nooit oor enige vroumens ernstig kan raak nie. Dié situasie verstaan hy, met ander woorde, glad nie.
“Toe, hartjie, sit gerus. Ek skep vir jou kos in,” sê Cora weer.
Nog voor hy sy stoel kan uittrek, stap Bippie die kombuis binne. Haar oë vlieg verbouereerd na syne. Binne sekondes sien hy alles raak – sy lyk minder bleek as die vorige keer, haar hare is nog dieselfde ligte rooi, haar agterdogtige oë die mosgroen wat hy onthou en die rits sproete oor haar neus nog net so fassinerend.
Vir die eerste keer kan hy nou ook sien sy is swanger. Onder die ligte somerrok wat sy aanhet, is die swelling van haar buik duidelik sigbaar. Ongenooide emosies keer sy binnegoed om.
Sy beduie na buite. “Riekert? Maar jy was in die straat …” Sy onderbreek haar sin en byt haar lip vas. Haar wange word rooi.
Mmm, so dit wás toe sy wat agter die kantgordyn na hom gestaan en kyk het.
“Ons het hom in die straat gaan haal, hartjie,” glimlag Cora breed. “Ek en Trina was so opgewonde toe ons die vragmotor sien, ons het dadelik oorgestap om Riekert vir koffie te nooi. Sit, sit julle,” beduie sy terwyl Trina vir hom spek en eiers inskep.
“Ek … het nie regtig tyd –”
“’n Mens eet nie lank aan ontbyt nie, maar dis tog belangrik om die dag reg te begin, dink jy nie so nie? Gee die man ’n drukkie, Bippie, julle is mos nie vreemdelinge nie, of hoe?”
Bippie se oë rek nog, toe druk Cora haar al liggies teen haar rug sodat sy verplig is om vorentoe te tree. Riekert lig sy arms op om te keer dat sy haar balans verloor, en die volgende oomblik is sy arms om Bippie. Haar hande beland op sy skouers. Vir een verbysterende oomblik staan hulle so.
“Tsskk!” klik sy haar tong voor sy teen sy skouers druk en wegdraai.
“Ons het mekaar nog net ’n paar keer gesien, tant Cora,” sê Bippie met ’n stywe glimlag. “Dis nie asof ons boesemvriende is nie.”
“Iets wat reggestel kan word, of hoe? Kyk of jy vanoggend bietjie meer kan eet, hoor! Ek het vir jou vrugte ingepak vir die dag, want dit gaan warm word. En hartjie, ek wil nou nie vir jou sê wat jy moet doen nie, maar ek wonder darem of jy in die hitte moet winkel toe stap? Dis reeds so warm. Oom Fred kan jou neem as jy petrol wil spaar. Gelukkig het Reina en Derek lugverkoelers vir ons in die huis laat insit. En in die winkel.”
“Derek het daarvan gepraat. Waar is die winkel?” vra Riekert.
“Naby die kerk. ’n Lieflike ou huisie. Reinatjie en Bippie het van vroeg Januarie af begin uitpak. Hulle gaan net kleinerige meubelstukke hier aanhou en porseleinware, messegoed, linne, ensovoorts. Dis ’n pragtige ou dubbelverdieping-geboutjie, jy moet gaan kyk. Die winkel is in die onderste gedeelte, op die oomblik is die boonste vloer leeg.”
“Is Derek en Reina nog in die ronde?” wil Riekert weet.
“Nee, hartjie, hulle is gisteraand terug stad toe, maar sal die naweek weer hier wees. Van vandag af is Bippie alleen in die winkel, maar jy gaan darem iemand kry om te help skoonmaak?” vra Trina vir Bippie.
“Ek sal kyk hoe besig dit raak. Ek moet ook iemand soek wat die bestuur van die winkel by my kan oorneem wanneer ek iewers vorentoe ’n ander pos kry.”
“Sy wil mos eintlik by die universiteit klasgee,” beduie Trina.
“En wanneer Papawer hier is,” voeg Cora by.
“Papawer?” vra Riekert.
“Vertel hom van Papawer, hartjie. Ek en Trina en Fred gaan ons tee op die voorstoep drink. Dis nog lekker koel daar,” sê Cora, en die volgende oomblik is hulle met ’n skinkbord uit by die deur.
Dis doodstil in die kombuis. Bippie wens die aarde gaan oop en sluk haar en Papawer heel in. Sy sal met tannie Cora oor grense moet praat. Goeiste, die vrou is dierbaar, maar om haar darem sommer in Riekert se arms te druk, is eenvoudig onaanvaarbaar.
“Ek is jammer –”
“Bippie, ek is jammer, ek …” begin Riekert terwyl hulle al twee opstaan. Hy kom nader en beland reg voor haar.
Wat ’n belaglike situasie. Bippie probeer die lag wat wil-wil opborrel, terugsluk, maar pure verniet. Haar mondhoeke lig, en ondanks haar irritasie, glimlag sy.
Te oordeel na die verstomming op sy gesig, is dit die eerste keer dat hy haar sien glimlag. Die vorige paar kere was sy óf aan die val óf vies oor iets. Gewoonlik omdat hy so oorvat.
Sy gooi haar poniestert agtertoe. “Kom ons eet. Maar ek moet jou waarsku. Die twee tantes is op soek na ’n pappa vir Papawer. So ek dink jy moet seker maak hulle sien jou nie gou weer nie.”
Riekert lyk verstom. “Jy bedoel hulle reken ék –”
“Hulle dink énige hubare man is ’n moontlike pappa vir Papawer,” val sy hom in die rede. “Hou jou net skaars, want ek kan jou waarborg, hulle gaan planne beraam om ons gereeld saam op dieselfde plek te kry.”
“Wie is Papawer?” Hy is duidelik ongemaklik.
Sy sit haar hand op haar buik. “Babatjie. Aanvanklik was dit net so groot soos ’n papawersaad, het die dokter gesê …” Onder haar vingers is daar duidelik weer ’n beweging.
“H’m,” trek sy haar asem in. “Hier skop Papawer weer! Voel!” Voor sy dink wat sy doen, gryp sy sy hand en druk dit teen haar buik.
“Voel jy?” Ademloos kyk Bippie op.
Met ’n verwonderde uitdrukking op sy gesig kyk hy af en draai sy hand teen haar buik. “Is dit Papawer?”
Sy knik. “Dis Papawer. Die dokter het gesê ek behoort beweging enige tyd van so sestien weke af te voel. Ek is nou twintig weke swanger en het my al verbeel ek voel iets, maar netnou toe ek jou in die straat sien, het ek vir die eerste keer ’n definitiewe beweging gevoel.”
Hy kyk op. Hulle gesigte is sentimeters van mekaar af.
Wat op aarde het haar besiel om die man se hand op haar maag te sit? Seker al die deurmekaar hormone.
“Toe jy my in die straat sien?” herhaal hy fronsend.
“Papawer het nie beweeg omdat ek jou gesien het nie. Dit het net op dieselfde oomblik gebeur. Uhm … jy kan maar jou hand wegvat.”
“As jy dit los, sal ek.” ’n Sweem van ’n glimlag speel om sy mond.
Vinnig los sy sy hand en draai weg. Wat op die aarde moet die man van haar dink? “Kom eet. Ek moet by die werk kom.”
Riekert stap stadig terug na sy stoel en gaan sit. Hy tel die mes en vurk op, sit dit weer neer.
Sy gaan sit gou.
“Sal ons bid?” Hy hou sy hand uit.
“Dis nie nodig nie.”
Hy gryp haar vingers vas en buig sy kop. “Dankie vir die voedsel, Heer. Seën hulle wat minder as ons het.”
Bippie begin haar hand uit syne trek, maar hy hou net stewiger vas. “En wees asseblief met Bippie vandag. En met Papawer.”
Hierdie keer pluk sy haar hand weg en begin eet. “Jy is vreeslik oorvatterig.”
“Ons moet albei gaan werk. Ek wou bid, jy wou baklei.”
“Tsskk. Ek wou nie baklei nie, ek het net gedink dis nie nodig om jou hand vas te hou nie.”
“Ek het al ’n paar keer hier geëet. Julle vat altyd hande.”
“Ja, ons doen dit, maar –”
“… jy wil nie my hand vashou nie?”
Nee, sy wil nie sy hand vashou nie, sy hou glad nie van wat in haar binneste aangaan wanneer hy aan haar raak nie. Maar dit hoef hy nie te weet nie. Sy sit haar mes en vurk op die bord neer. “Ek moet gaan werk.”
“Hoe voel jy?”
Sy lig haar ken en staan op. “Ek is swanger, nie siek nie. Ek voel goed, dankie.”
“Het jy al iets gehoor van die eksaminatore oor jou M-verhandeling?”
Verbaas kyk sy na hom. “Hoe weet jy daarvan?”
Hy lig ’n skouer. “Derek het eendag genoem jy wag vir die uitslae.”
Sy staan op en stoot haar stoel terug voor sy haar bord optel. “Ek het vanoggend gehoor. Die eksterne eksaminatore is tevrede.”
“So jy kan graad kry?”
“Ja, hoewel die plegtigheid natuurlik eers teen die einde van die jaar is.”
“Dis baie goeie nuus, ek is bly. Baie geluk.”
“Dankie.” Sy was haar bord gou by die wasbak. “Ek wil sommer dadelik met my PhD begin.”
Agter haar hoor sy Riekert sy stoel terugstoot. “By dieselfde universiteit?” Hy stap met sy bord tot by die wasbak.
“Ja. Ek sou graag my PhD by Wits wou gedoen het; my belangstelling is die Blombos-grot. ’n Span van Wits is daar in beheer, maar ek kan by Ikeys registreer en net ’n medepromotor by Wits kry. In beginsel het ek reeds goedkeuring gekry. Die Universiteit van Kaapstad is net makliker in dié stadium.” Sy vat sy bord by hom en was dit.
“Blombos? Dis mos naby Stilbaai? Iewers het ek iets gelees oor wat hulle daar ontdek het.” Hy begin afdroog.
“Die argeologiese terrein bevat artefakte uit die Middel-Steentydperk soos seeskulpkraletjies, implemente van been en van klip, die stoflike oorskot van mense en diere en ’n werkplek waar oker geprosesseer is. Die uitgrawings het belangrike nuwe inligting opgelewer wat veral daarop dui mense het in daardie stadium al simboliek gebruik. Die ontdekkings is belangrik in die huidige debat oor die kognitiewe en kulturele oorsprong van die eerste mense en dra by tot begrip van waar en wanneer sleutelveranderinge in gedrag gedurende die Pleistoseentydvak by Homo sapiens in Suider-Afrika plaasgevind het.”
Riekert glimlag, want Bippie se hande swaai en beduie; dis duidelik haar vak is haar passie.
“Ek het by Derek gehoor jy was in die Kalahari vir navorsing vir jou M?”
Sy knik en vee die wasbak skoon. “Ja, ek het gekyk na die vroeë aanpassing van mense in die Kalahari-kom. So vir my PhD wil ek die navorsing uitbrei na die kusstreke van Suid-Afrika om vergelykings te kan tref. Ek moet probeer om ’n voorstel so gou moontlik by die promotor in Kaapstad te kry om te hoor of hulle dit so sal aanvaar. Sodra ek weet dis goedgekeur, kan ek begin planne maak. Maar om tyd te kry om te skryf, is op die oomblik maar ’n gesukkel.” Sy vou haar hand oor haar boepie.
“Jy is deur ’n moeilike tyd.”
“Vandat ek net na Kersfees hier ingetrek het, het ek en Reina en Derek die oudhedewinkel begin regmaak. Jy weet seker van die huisie naby die kerkgebou en ou poskantoor wat Derek raakgeloop het?”
“Ja, hy het so iets genoem.”
“Dis so ’n mooi plekkie. Die onderste ruimte is reeds voorheen in ’n winkel omskep, so ons kon net intrek. Ek hoop ek sal binnekort aan my voorstel vir die PhD kan begin skryf.”
“Sterkte. En Bippie?”
Sy kyk vinnig op.
Hy haal ’n besigheidkaartjie uit en stop dit in haar hand. “As jy iets nodig het, laat weet my. My huis is in die Paarl, maar ek gaan tydelik ’n plek hier op McGregor huur terwyl ek aan die huis werk. As jy of die tantes iets nodig het, bel my.”
Sy druk die kaartjie in haar roksak. “Dit sal nie nodig wees nie, want ons kom goed reg, maar dankie vir jou aanbod. En onthou, jy is gewaarsku omtrent die tantes se planne om ’n pa vir Papawer te kry, so as ek jou kan raad gee, bly uit hulle pad. Wel, totsiens, ek moet stap.”
“Kan ek jou gaan aflaai?”
“Nee dankie!” Sy beduie na haar buik. “Swanger. Nie siek nie.” Ken omhoog stap sy by die kombuis uit.
Bippie is skoon bewerig terwyl sy kamer toe stap om haar tande te borsel en haar handsak te kry. Riekert is net nog ’n man. Oukei, ’n baie aantreklike man, maar die allerlaaste ding waaraan sy nou moet dink, is ’n man. Enige man.
Belangrike besluite oor haar toekoms moet geneem word; tyd vir swymel oor aantreklike mans is hier nie. Sedert Reina en Derek se troue is dit asof sy in ’n soort borrel leef, een waarin tyd geen faktor is nie, maar nou het die nuwe jaar begin en is dit tyd vir aksie.
Finansies gee haar hoofbrekens. Reina vra nie huur vir haar om hier te bly nie, want sy reken Bippie doen haar ’n guns om by die twee tantes te woon. Reina betaal haar ook ruim vir die bestuur van die winkel, maar Bippie raak al hoe meer bewus van die uitgawes waarvoor sy binnekort verantwoordelik gaan wees: medies, klere vir Papawer, ’n bababed en al die honderde ander kleiner dinge wat babas klaarblyklik nodig het.
Haar ouers het dit duidelik gemaak hulle sal vir haar studie betaal, maar is nie bereid om finansieel te help as sy die baba gaan hou nie. Nie dat sy dit van hulle verwag nie. Papawer is haar verantwoordelikheid. Finansieel en andersins. Sy het lankal geleer om nie van haar ouers enige emosionele hulp te verwag nie.
Die voorneme is om soveel moontlik van haar maandelikse salaris te spaar; later sal sy moet sorg vir ’n blyplek vir haar en Papawer. Sy kan nie vir altyd hier op McGregor in Reina se huis bly en in die winkel werk nie. Hopelik kan sy ’n pos by ’n universiteit kry of by ’n navorsingspan aansluit. Wanneer dit moontlik is, stap sy dus en hou geld vir petrol vir die kere wanneer sy dokter toe in die Kaap moet gaan.
Sy borsel gou haar tande en gryp haar handsak. Hopelik het sy vandag tyd om aan haar voorstel te werk. Solank sy besig bly, kan haar gedagtes nie na lang mans met mooi blou oë dwaal nie.