Читать книгу 'n Belofte vir Bippie - Elsa Winckler - Страница 6
Vier
ОглавлениеAandete is vir die eerste keer vandat Bippie by Cora en Trina ingetrek het, ietwat gedemp. Sy is oorbewus van die twee wat om die beurt beskuldigende en besorgde kyke in haar rigting stuur, maar niemand het nog iets gesê nie.
Fred verbreek die stilte toe hy opstaan: “Nou ja, ek gaan vroeg inkruip vanaand. Bippie, jy’t ons vandag laat skrik. Ek is bly jy het weer jou kleur terug. Ry jy nog môre Kaap toe?”
“Ja, oom Fred.”
Hy frons. “Jy sal na daai remme moet laat kyk.”
Voor Bippie kan antwoord, is hy by die deur uit.
Cora staan ook op en begin afdek. “Om hulp te aanvaar, is nie maklik nie, Bippie, ek verstaan dit. Jy bly hier omdat Reina nie wil hê ek en Trina moet alleen wees nie en sodat ons jou, waar nodig, kan help. Met ander woorde, ons bly saam hier sodat ons mekaar kan help. Die Bybel leer ons mos om mekaar se laste te dra.
“Riekert het my ’n guns gedoen om na jou te gaan soek. Hy wou net help, dit was nie nodig om met hom te raas nie.”
“Ek … is jammer.”
Cora glimlag. “Dis nie vir my wat jy om verskoning moet vra nie, hartjie. Ek is ook bly om te sien jy het weer rooi wange. Bietjie koffie vir jou?”
“Nee, dankie, tannie Cora.” Bippie begin ook afdek. “Ek het die koue boudvleis en slaai geniet, baie dankie.”
Cora draai om, gee vir Bippie ’n drukkie. “Ek’s bly, hartjie. Ons het gehoop jy sal daarvan hou.”
Vir ’n oomblik staan Bippie effe ongemaklik rond. Haar ouers het nooit sommer aan haar geraak nie. Van spontane drukkies het sy geleer by Reina en haar vriendin Larissa wat vir Reina as haar advokaat bygestaan het tydens haar egskeiding. En vir die twee tantes is dit deel van wie hulle is.
Sy vou haar arms om die skraal skouers. “Dis vir my so lekker om net te kom aansit, julle bederf my vreeslik. Ek … ek is nie gewoond dat mense my sommer net wil help nie.”
Cora snuif voor sy weer haar plek voor die wasbak inneem. “Jy help ons ook, kind. Jy maak gereeld die kombuis aan die kant as jy dink ons sien dit nie en jy is die een wat saans die badkamer skoonmaak. En net die feit dat jy hier is, is vir ons ’n groot hulp. Ons help mekaar. Môre gaan ek en Trina winkel-winkel speel terwyl jy by die dokter is; ons is al skoon opgewonde.”
“En Fred sal seker kom kyk of daar iets is wat hy kan regmaak,” voeg Trina by.
Cora kyk na die horlosie teen die muur. “Trina, dis al tyd vir ons storie!”
“Ja, ja, roer jou, ek skakel solank die televisie aan,” roep Trina oor haar skouer.
“Ek neem gou vir Riekert ’n bord kos,” roep Cora agter haar aan en skep van die koue boudvleis en slaai op ’n skoon bord. “Ek sien sy bakkie staan nog voor die huis.”
“Ek sal dit vir hom neem.” Bippie byt haar tong vas. Waar kom dít nou vandaan? Oukei, sy moet die man om verskoning vra en dis beter om dit te doen en klaar te kry. Dan hoef sy hom nie weer te sien nie.
“Dis nie nodig nie –”
“Ek moet om verskoning vra.”
Tant Cora se hande raak stil. “Dit sal goed wees.” Sy sit die bord op ’n skinkbord met ’n mes en vurk. “Daar is nog sap in die yskas wat jy ook kan saamneem. Of dink jy hy wil wyn hê?”
“As hy nog werk, dalk eerder sap.” Bippie haal ’n houer sap uit wat sy ook op die skinkbord sit. “Ek stap gou oor.”
“Hy’s ’n goeie man, Bippie.”
Bippie skud haar kop. “Ek weet, tannie Cora. En ek belowe ek gaan om verskoning vra.”
“Hy … hy kyk vir jou.”
Bippie sluk ’n kreun in. “Tannie Cora, ek verwag ’n baba. ’n Ander man se baba. Los dit, asseblief.”
Met ’n effense glimlag stap Cora by haar verby. “Ek sê net wat my eie oë sien. Die liewe Vader werk op onverklaarbare maniere.”
Kopskuddend steek Bippie die straat oor. Sy gaan om verskoning vra. Dis al. Of Riekert vir haar kyk of nie.
Kyk hy regtig vir haar? Ai, hoekom het tant Cora dit nou gesê? Dit is reeds vir haar so moeilik om met die man te praat.
Riekert trek sy handskoene uit en laat gly sy hande oor die hout van die gedeelte van die skuifraam wat hy afskuur. Die son sit al laag en dis genadiglik heelwat koeler as vroeër vandag.
Die werkers is lankal huis toe gestuur, maar self is hy nie haastig nie. Dié week slaap hy in ’n gastehuis hier op McGregor, maar hopelik sal hy môre tyd kry om vas te stel of daar ’n plekkie is wat hy die volgende paar maande kan huur.
Die vensterrame is meestal in ’n goeie toestand; hulle moet net goed geskuur word voor hy alles deeglik seël. Hier en daar is van die hout verrot, dele sal versigtig uitgesaag moet word. Hy het gelukkig ’n paar stukke ou geelhout wat hy kan gebruik om daardie dele te vervang.
Die ander groot uitdaging is die vervanging van die toue en gewigte en teenwigte wat die skuiframe in posisie hou wanneer hulle op- en afgeskuif word. Van die lood wat vir die gewigte gebruik is, het voete gekry en moet vervang word, nes die toue waaraan hulle hang. Dis ’n groot werk en een wat hy graag self doen. Die gewigte moet baie presies gemaak word om in die gleuwe te pas.
’n Geluid laat hom omdraai.
Iemand klop aan die voordeur. Hy gaan kyk. Tog nie weer die twee tantes wat ’n verskoning soek om hom oor te nooi net wanneer hy uiteindelik weer kalm en rustig is na die onderonsie met Bippie nie.
Hy maak die deur oop. En hier staan die einste vroumens wat sy kop so besig hou voor die deur met ’n skinkbord in haar hande. Sy oë gly dadelik oor haar, bekommerd. Sy hart sug.
Bippie druk die skinkbord sonder meer in sy hande. “Tant Cora stuur vir jou kos. En sap. Ek het aangebied om dit te bring, want ek … ek moet jammer sê. Oor vanmiddag.” Sy sit haar hand op haar buik en glimlag skeef. “Papawer is klaarblyklik ook bly ek is hier.”
Neem die skinkbord en groet haar, maak die deur toe en gaan aan met die werk, sê hy vir homself. Dis die slim en regte ding om te doen.
“Kom in,” is die woorde wat by sy mond uitborrel. “Daar is ’n mankolieke tafel en stoele onder ’n boom hier agter.” Hy draai om en stap agtertoe.
Buite beduie hy na ’n stoel en sit die skinkbord op die tafel neer. “Sit gerus. Hoe voel jy nou?”
“Ek voel goed, dankie. Vanmiddag … die hitte was oorweldigend. Ek wil nie bly nie. Dankie vir vanmiddag. Ek’s jammer ek was –”
“… knorrig? Moeilik?” Sy lig haar ken. ’n Duidelike teken sy het haar klaar weer vir hom vervies.
Hy wag vir die flitsende oë en skerp woorde, maar sy sug en waai met haar een hand in die lug.
“Jy’s reg. Al daai. Ek is jammer. Ek’s nie gewoond aan mense wat my sommer net help nie. Ek leer, maar dis nie maklik nie. Gewoonlik kom ek self baie goed reg.”
Sy foon lui. Met sy oë nog op haar, antwoord hy: “Tredoux.”
Doodse stilte. Hy haal die foon van sy oor af. Nie ’n nommer wat hy ken nie.
Net voor hy kan afsny, praat ’n vrouestem: “Riekert? Dis … dis jou ma.”
Alles om hom en binne-in hom raak stil. Verbete hou hy sy emosies in toom.
“Ek weet ek het nie die reg nie, maar ek wil tog vra: Ek wil jou graag sien. Asseblief?”
“Hoekom? Ek het niks vir jou te sê nie. Totsiens.” Hy verbreek die verbinding en sit sy foon sommer terselfdertyd af. Al mens wat hom dalk nog vanaand kan bel, is Lex en met hom wil hy nou glad nie praat nie.
“Riekert?”
Asof hy lank onder water was, word Bippie se stem geleidelik duideliker. Hy kyk op. Sy staar hom grootoog aan. Hy gooi die foon op die tafel en stap ’n ent weg.
Binne sekondes is hy in die veld, want die huis is aan die kant van die dorp. Hoekom bel sy hom nou? Na vyf-en-twintig jaar. Wat wil sy vir hom sê wat sy vyf-en-twintig jaar lank nie kon gesê het nie?
“Ek … ek loop eers weer,” sê Bippie agter hom.
Sonder om na haar kyk, knik hy. Hy lig sy kop op na die berge. Here, hoekom nou? Nou kan ek vir myself sorg, nou het ek haar nie nodig nie, hoekom nou?
’n Hand raak aan sy skouer. Hy ruk sy kop om. Bippie staan agter hom.
“Ek dog jy’s huis toe.”
“Jy’s ontsteld.”
“My probleem,” sê hy kortaf.
Bippie draai dadelik weg. “Natuurlik.” Stil begin sy wegstap. “Totsiens.”
“Dit was my ma wat gebel het,” kry hy uit net voor sy om die hoek van die huis verdwyn.
Bippie gaan staan stil.
Riekert skep ’n diep teug asem. “Ek het haar vyf-en-twintig jaar gelede laas gesien. Sy het my en my broer net so gelos en weggeloop.”
Bippie draai stadig terug. “Het jy by jou pa grootgeword?”
Hy knik. “Ja. Dit was maar altyd net ek en my pa en my broer, Lex. En toe bel Lex vanoggend om te sê ons ma wil ons sien.”
Sy knik stadig. “Ek kan verstaan dat jy ontsteld is. Weet jy wat destyds gebeur het? Hoekom sy weg is?”
“Weet ek hoekom sy my en my broer by die huis gelos het toe ek vyf was en hy sewe en by die voordeur uitgestap het? Nee, ek weet nie. Ek wil ook nie weet nie.”
Riekert vryf oor sy gesig en gaan op een van die stoele sit. Hy het nog nooit met iemand oor sy ma gepraat nie. Toe Lex bel om te sê hulle ma het hom gebel, was dit die eerste keer in ’n lang tyd dat hy en sy broer oor haar gepraat het.
“Ek kan my nie in jou situasie indink nie.” Sy lig haar skouers. “My ouers … ek is hulle enigste kind. Een wat hulle glad nie verwag het nie,” sê Bippie terwyl sy stadig naderkom. “Hulle is albei akademici, hulle enigste prioriteit is hulle werk.” Sy glimlag skeef. “Hulle het regtig nooit geweet wat om met my te maak nie.” Sy beduie na haar boepie. “En Papawer het hulle lewe net weer kom omkrap.” Sy laat rus haar hand op haar maag. “Ek het nog nooit verstaan hoekom hulle so is nie, maar ek kom al hoe dieper onder die indruk van hoe groot ’n ouer se taak is. En ek moet vir jou sê, die afgelope ruk wil-wil ek oorweldig word. Papawer gaan geheel en al afhanklik wees van my en sê nou net ek’s ’n useless ma? Sê nou sy, of hy, huil, en ek kan nie troos nie? Sê nou ek weet glad nie wat om te doen nie?” Sy gaan sit op die punt van ’n stoel. “Wat my laat wonder: dalk is daar ’n rede hoekom jou ma weg is.”
“Watter ma los haar kind net so en stap weg?” vra Riekert bars.
Stilte.
Uiteindelik: “Een wat om watter rede ook al dink sy is nie ’n goeie ma nie.”
Riekert kyk op. “Maar sy was! Sy het ure lank vir ons stories gelees, saam met ons buite onder die bome gespeel. En toe op ’n dag stap sy by die voordeur uit.”
“Maar sy is nou terug.” Bippie se stem is sag. “Miskien moet jy luister na wat sy sê, anders sal jy altyd wonder.” Sy staan op. “Ek moet gaan. Uhm … ek sal vir jou bid.”
“Dankie,” kry hy moeilik uit.
Sy draai om, maar hy sluit sy vingers om haar elmboog. “Ek stap saam tot voor, hier lê heelwat rommel rond. Jy kan val.”
“Ek kan self –”
“Ek weet jy kan self.” Hy druk ’n vinger op haar mond. “Maar jy leer mos nou om hulp van ander te aanvaar, of hoe? Of het ek jou verkeerd verstaan?”
Haar ken lig weer parmantig eenkant toe, maar sy ruk nie los nie.
Dit is nou al sterk skemer en moeilik om te sien waar hulle trap. Hy vou sy hand om hare sodat hy haar makliker kan help indien sy sou struikel. Haar hand is heelwat kleiner as syne en fladder vir ’n oomblik paniekerig onder sy vingers voor haar vingers ontspan.
Hulle stap in stilte tot aan die voorkant van die huis.
“Dankie, ek sal regkom hiervandaan.” Sy trek haar hand los.
“Sê vir tant Cora dankie vir die kos, ek bring die bord môre.”
“Ek sal sê.” Sy wuif terwyl sy wegstap.
“En Bippie?” roep hy.
“Ja?” Sy kyk oor haar skouer.
“Jy sal nie ’n useless ma wees nie.”
Sy skud haar kop, lag sag. “Ek wens ek kan seker wees daarvan.”
“Ek sal vir jou bid.”
“Riekert.” Vir ’n oomblik verbeel hy hom haar oë blink van die trane, maar sy draai om en stap vinnig oor die straat.
Eers toe sy die voordeur agter haar toemaak, draai hy om en loop stadig terug na die tafel onder die boom waar hy gaan sit en begin eet. Die sap is heerlik koud, die kos lekker. Hy’s honger. Binne minute is die bord leeg.
Hy leun agteroor op die stoel en kyk op. Dis nou amper donker en in die hemelruim blink die sterre. Sjoe! In Johannesburg het hy nooit na die sterre gekyk nie. Afgesien daarvan dat dit onmoontlik is om sterre tussen al die liggies te sien, was daar nooit tyd nie. En omdat hy meestal net gewerk het, het dit hom ook nie gepla nie.
Sy ma het altyd saam met hom en Lex na die sterre gekyk. Daar is die Suiderkruis, dáár die aandster, sou sy beduie. Meteens frons hy. Waar was sy pa dan? Hy het so ’n helder herinnering van hoe hy en Lex en hulle ma op someraande op ’n kombers lê en na die sterre kyk, al was hy maar vier of vyf, maar snaaks, hy onthou nie dat sy pa daar was nie.
Hoekom wil sy ma nou met hom praat? Watter soort ma los haar kinders net so? Een wat dalk dink sy is nie ’n goeie ma nie, hoor hy weer Bippie se woorde.
Van kleins af het hy homself gedwing om sy aandag op iets anders te fokus wanneer gedagtes aan sy ma by hom opgekom het. Eers het hy baie gehuil, maar sy pa het gou van alles in die huis ontslae geraak wat hulle aan haar kon laat dink het. Pa sou net altyd wegstap wanneer een van hulle oor haar praat sodat hulle geleer het om nie oor haar uit te vra nie.
Hy haal sy foon uit en staar lank na die laaste nommer waarvan daar gebel is. Sy ma se selnommer. Hy stoor die nommer en druk sy foon terug in sy sak voor hy opstaan. Dis tyd om eers weer die “af”-knoppie te druk, sy emosies weg te bêre en op sy werk te konsentreer.
Hy wil vanaand nog ’n paar e-posse uitstuur en hoop die firma wat die skaars houtsoorte aanhou, het gereageer. As dit moet, ry hy sommer môre deur Kaap toe om die hout te gaan haal. Dan kan hy miskien sommer ook by Derek ’n draai maak om oor hulle eerste werkdag te praat.