Читать книгу 'n Belofte vir Bippie - Elsa Winckler - Страница 5
Drie
Оглавление’n Pa vir Papawer? Omgekrap staar Riekert na Bippie se skraal figuur wat in die straat af stap op pad werk toe. Dis klaar warm, hoekom loop sy in dié hitte? Tant Cora het geskimp dat sy probeer petrol spaar. Sou sy finansieel sukkel? Die pa is blykbaar glad nie betrokke nie.
Hy vryf oor sy gesig en stap met lang treë oor die straat na die huis wat hy veronderstel is om te restoureer.
Niks met hom te doen nie. Het mos geweet hy moet uit Bippie se pad bly. Wanneer hy naby haar is, gebeur iets in sy binneste waarvan hy niks hou nie. Die besluit om nooit ernstig oor enige vroumens te raak nie, het hy lank gelede geneem. Trou- of pa-materiaal is hy nie. Maar Bippie het die onverklaarbare vermoë om hom te laat wonder oor sy besluit – ’n baie goeie rede om seker te maak hulle paaie kruis nie te gereeld nie.
Hy stuur ’n skietgebedjie op: Here, U weet ek kan haar niks bied nie. Help, asseblief!
Sy foon lui. Dis Lex. Hy antwoorde dadelik, hy het lanklaas met sy broer gesels. “Môre. Dis ’n verrassing om op ’n Maandagoggend van jou te hoor. Als oukei?”
“Ja, ek … uhm … ek het gedink ek moet jou waarsku.” Stilte. “Ma het my uit die bloute gebel. Na die spreekkamer toe.”
Alles om Riekert raak stil.
“Riekert?”
“Ek hoor jou.” Riekert probeer asemhaal, maar iets trek styf om sy borskas wat dit moeilik maak.
“Het sy al met jou kontak gemaak?” vra Lex.
“Nee.”
“Sy … sy wil ons sien. Ek het jou nommer vir haar gegee.”
Riekert wurg die woorde uit: “Ek het niks vir haar te sê nie.”
“Sy bly ons ma.”
“Iets wat sy vyf-en-twintig jaar gelede vergeet het toe sy ons net so alleen gelos en by die voordeur uitgestap het.”
Lex sug diep. “Sy het darem vir ouma Millie laat weet ons is alleen.”
“Ek was vyf jaar oud, Lex. Ek weet niks van kinders grootmaak nie, maar ek weet darem ’n ma los haar vyf- en sewejarige kinders nie alleen by die huis, klim in haar motor en ry net weg nie. Vir altyd weg nie.”
“Ek stem saam, maar ’n storie het altyd twee kante.”
Riekert druk sy vingers teen sy oë. “Weet Pa?”
“Ek het hom gesê.”
“Wat sê hy?”
“Jy ken vir Pa. Nie veel nie. Hy sal dit eers moet verwerk voor hy met ons daaroor praat.”
“Ek … moet gaan, dankie vir die bel,” sê Riekert. “Ons gesels later.”
“Ek laat weet jou wanneer ek haar gesien het.”
“Dis nie nodig nie. Totsiens.”
Hy druk sy foon met rukkerige vingers dood voor hy dit in sy broeksak druk. Sy ma wil hom sien. Om wat vir hom te sê? Niks wat sy nou sê, kan die afgelope vyf-en-twintig jaar verander of ongedaan maak nie. Wat gebeur het, het gebeur.
“Riekert?” roep Paul, een van die werkers, hom van die stoep af.
’n Mens het ’n knoppie wat jy druk en dan skakel jy eenvoudig af. Dit maak dit moontlik om emosies weg te bêre, die vrees te ignoreer wat jou keel wil toedruk, ander naamlose gevoelens toe te sluit en aan te gaan met wat gedoen moet word. Dis ’n meganisme wat hy lank gelede baie vinnig moes ontwikkel. Toe hy vyf jaar oud was om presies te wees. Dis nou weer tyd om daardie knoppie te druk.
Riekert stap stoep se kant toe. Hy kan nie wag om aan die huis te begin werk nie. Dis een van die oorspronklike huisies wat vroeg in die 1800’s gebou is. In daardie stadium was hier nie veel wonings nie, slegs ’n paar waar mense tuisgegaan het wanneer hulle vir Nagmaal dorp toe gekom het, asook ’n huis vir die meulenaar en een vir die sweepmaker. Aldus die navorsing wat hy tot dusver gedoen het.
Die dorpie is eers in 1862 geproklameer en toe in plotte van twee en ’n half hektaar opgedeel. Mense was gretig om grond te koop, want in daardie stadium is nog gereken daar sou ’n pad tussen McGregor en Greyton gebou word, iets wat nooit gebeur het nie.
Dis ook die hoofrede hoekom so baie van die oorspronklike sjarme van die dorpie behoue gebly het.
Die afgelope paar weke het hy ou foto’s bestudeer om te kyk hoe die huis oorspronklik gelyk het. Hy het ook lank met Derek en Reina gesels om seker te maak wat presies hulle uiteindelik wil hê.
McGregor se argitektuur is in werklikheid Victoriaans en nie Kaaps-Hollands nie. Baie nuwe eienaars wat huise in die dorpie gerestoureer het, het die fout gemaak om stoepe aan te las met soliede pilare wat nie strook met die oorspronklike Victoriaanse styl nie. Verandas is tipies van Victoriaanse platdakgeboue, maar is gesteun deur fyn hout- of ysterpilare, gewoonlik dekoratief van aard. Deel van sy opdrag is om die pilare wat die vorige eienaar aangebring het, te vervang sodat die huis weer sal inpas by die oorspronklike styl.
Die rietdak is reeds deur die vorige eienaar gedek en is nog in ’n goeie toestand, maar die hele huis moet herbedraad word en die rioolpype vervang word. Hy hoop die elektrisiën en loodgieter daag vandag op soos hulle belowe het. Terwyl hulle besig is, wil hy die vensterrame en die vloer nagaan sodat hy kan vasstel wat vervang moet word.
Die buitemure sal uiteindelik weer met strooiklei of “cob”, soos dit in die omgang bekend staan, gedek en afgewit word soos lank gelede. Beide Derek en Reina wil die buitekant van die huis graag so na aan oorspronklik as moontlik laat lyk. Volgens sy beraming behoort hulle die huis binne so vyf, ses maande te kan aflewer. Aan die binnekant sal egter moderne verf gebruik word wat langer hou en nie afgee nie.
Net voor hy by die huis instap, kyk hy weer in die straat af. Daar is geen teken van Bippie nie, sy het reeds om die hoek verdwyn.
Die sonbesies sing al van vroegdag af lustig in die hitte. Sal Bippie oukei wees? Dis nogal ’n hele ent dorp toe en …
Hy pers sy lippe opmekaar. Nie sy probleem nie. Sy is in elk geval so hardekwas, wee die stomme man wat vir haar probeer voorsê wat sy moet doen!
Kopskuddend stap hy in die gang af. In watter toestand sou die houtvloere en vensterrame wees? As die kewers tog net nie intussen die pragtige geelhout van destyds bygekom het nie.
Ou huise is gewoonlik so gebou dat die vloer hoër as die oppervlak buite lê. Dan is daar vir ventilasie gesorg aan die kant waar die heersende winde waai om seker te maak daar kom nie klammigheid onder die houtvloer in nie, so hopelik is verrotte hout nie deel van sy probleem nie.
“Môre, môre,” groet stemme van die voordeur af.
Die elektrisiën en loodgieter het opgedaag, dankie tog. Hiervandaan kan dinge net beter raak. En besig.
Miskien moet hy tog verneem of Bippie …
Hy pers sy lippe opmekaar. As sy in die hitte wil rondloop, is dit nie sy saak nie.
Bippie snak behoorlik na asem toe sy laatmiddag die winkel se deur agter haar sluit. Dis vyfuur, maar steeds snikheet buite. Die gebou binne is heerlik koel, danksy die lugversorger waarop Reina en Derek aangedring het, en tuis sal haar kamer ook heerlik koel wees. Tant Cora sit die lugversorger gewoonlik aan ’n rukkie voor Bippie opdaag.
Sy het haar skootrekenaar saamgebring en gehoop sy kan begin skryf aan haar voorstel vir ’n navorsingsonderwerp, maar ’n paar kliënte het ingekom en die tye dat dit stil was, het sy oor die gebeure aan die ontbyttafel getob. En môre ry sy deur na die ginekoloog in die stad – nog ’n dag dat sy nie sal kan skryf nie.
Haar deurmekaar geskommelde hormone – dis húlle wat sy blameer. Hoekom anders dink sy nou al die hele dag aan hoe presies Riekert se hemp oor sy skouers pas? En hoekom wonder sy oor die skakering blou van sy oë? Hormone – dis al logiese antwoord.
Hoekom sou sy nou ewe skielik aan niks anders as Riekert Tredoux dink nie? Sy is swanger en die pa van haar baba stel nie eens belang in haar nie, waarom sal ’n vreemde man nou by haar wil wees?
“Arrggh,” kreun sy terwyl sy seker maak die deur is gesluit. Hoekom dink sy hy wil by haar wees? Al rede hoekom hy vanoggend by die huis was, is omdat die tantes hom gaan haal het.
Maar daar is iets in sy oë, piep ’n ou flou stemmetjie. Blote verbeelding, plus natuurlik al daai simpel hormone.
Die hitte vou soos ’n dik kombers om haar. Miskien moes sy maar vir oom Fred gebel het. Maar, ag wat, dis darem net twee blokke, sy kan loop. Sekondes later leun sy kortasem teen die naaste boom, effens naar en duiselig, met swart kolletjies voor haar oë. Haar rug is ook vandag nogal seer. En goeiste, dis behoorlik asof die son nét op haar skyn.
Oom Fred het al verskeie kere aangebied om haar te kom haal, maar afgesien daarvan dat sy petrol spaar, is die oefening ook goed vir haar. Sy is mal oor stap en het saam met die universiteit se voetslaanklub die meeste paadjies op en rondom Tafelberg al gestap. Watse pieperigheid is dit nou? Sy is fiks, sy is jonk, sy kan dit doen! In haar hele lewe het sy nog nooit flou geval nie, maar vandat sy Papawer verwag, voel sy gereeld flou soos ’n wafferse outydse heldin. Soos sy vir Riekert vanoggend gesê het, is sy swanger, nie siek nie.
Sy teug gou water uit die botteltjie wat sy altyd by haar dra, voor sy weer begin stap. Dis somer, dit moet warm wees. Honderde vroue is swanger en kry warm, en niemand anders val flou nie. Een tree voor die ander.
Die volgende boom is ’n entjie laer af in die straat, amper by die volgende blok. Daarna is dit nog net drie huise voor sy by Reina se huis is. Sy kan dit doen. Met haar oë op die boom, trek sy haar skootrekenaar stywer oor haar skouer en begin stap. Dis nie naastenby so erg soos sy dit maak nie.
Sy is amper by die boom. Nog net een tree.
Cora staan handewringend in die pad voor hulle huis, toe Riekert laatmiddag uitstap om sy rekenaar in die bakkie te gaan haal. Hy verwag ’n e-pos van ’n plek in Kaapstad wat skaars houtsoorte aanhou. Een vensterraam is meer beskadig as die ander en ’n stuk sal vervang moet word. Hy hoop hy kry goeie nuus.
Sedert hy twee jaar gelede met die restourasie van huise begin het, koop hy gereeld hout op wat uit ou huise kom. Hy het ’n stuk geelhout vir kleiner laste, maar sal ’n groter stuk nodig hê om hierdie spesifieke raam reg te maak.
“Als reg, tannie Cora?” Hy het hom voorgeneem om so ver moontlik uit die pad van die mense van die huis oorkant te bly, maar dis duidelik die tante is oor iets besorg.
Sy kyk vlugtig na hom voor sy weer in die straat af kyk. “Ek is net bekommerd oor Bippie, hartjie. Dis so warm vandag. Haar ou geldjies is mos maar min, so sy stap eerder werk toe as om haar motor uit te trek, maar sy moes al hier gewees het. Fred werk vandag by ’n ander huis, maar miskien moet ek hom maar gou bel –”
“Dis nie nodig nie. Ek sal gou gaan kyk waar sy is.” Riekert haal sy bakkie se sleutels uit.
Cora glimlag verlig. “Sal jy? Ag, kind, baie dankie. Moet tog nie sê ek het jou gestuur nie, sy is so ’n onafhanklike enetjie.”
Riekert pers sy lippe opmekaar en met ’n wuif van sy hand ry hy weg. Onafhanklike enetjie. Goeie beskrywing. Voeg daarby hardekwas, moeilik, beautiful … Hy skrik so groot vir die woord dat hy die stuurwiel eenkant toe ruk en die bakkie se neus in ’n oogwenk in die rigting van die watersloot langs die pad staan. Net betyds kry hy die voertuig weer onder beheer en ry om die hoek.
Waar ís die vroumens? Sy het tog sy kaartjie, hoekom bel sy hom nie? Of vir oom Fred?
Hy soek aan weerskante van die pad en wil net omdraai, toe hy haar sien. Sy sit. Plat op die grond met haar rug teen ’n boom. Sy hart gee ’n ruk. Is sy oukei? Met ’n blik in sy truspieëltjie, maak hy ’n U-draai en hou langs die boom stil.
Haar kop leun teen die boom, haar oë is toe, die sproete duidelik sigbaar op haar wasbleek gesig.
Bekommerd spring hy uit en stap met lang treë tot by haar. “Bippie, is jy oukei?” Hy hurk en druk sy hand teen haar voorkop.
Haar oë fladder oop. “Riekert? Hoekom is jy hier?”
“Tannie Cora is bekommerd oor jou.” Hy tel haar in sy arms op.
’n Frons keep tussen haar oë. “Ek kan self stap.” Haar arms vou om sy nek.
“Ek dink jy het genoeg gestap vir een dag.” Hy dra haar tot by die bakkie en sit haar versigtig neer sodat hy die deur kan oopmaak.
“Ek wou net ’n bietjie rus, dis nie asof ek –”
“… te sleg gevoel het om verder te stap nie?” vra hy terwyl hy haar in die bakkie help. “Jy’s wasbleek, Bippie.” Sy stem is harder as wat hy bedoel het, maar sy het hom so laat skrik. Hy maak die deur toe en stap om na die bestuurder se kant.
In stilte ry hulle.
Bippie maak keel skoon. “Ek sou uiteindelik by die huis gekom het.”
“Teen donker?”
“Ek is jammer, oukei? Ek’s nie gewoond mense wag vir my of is bekommerd oor my nie.”
“Wel, mense is bekommerd oor jou en wag vir jou. Raak gewoond daaraan.” Hoekom hy so opgewerk is, weet hy nie. Dit het hoegenaamd niks met hom uit te waai of sy teen ’n boom sit of langs die pad flou word nie. Bippie Snyman is nie sy verantwoordelikheid nie.
Sy lyk al effens minder bleek, maar sit nog met haar kop agteroor teen die sitplek terwyl haar hand beskermend oor Papawer lê.
“Het jy water?” vra hy effens sagter.
Sy knik. “Dankie, ja.”
Hy hou voor Reina se huis stil. Nog voor Bippie kan uitklim, is hy by haar deur. Sonder om te vra, tel hy haar weer op.
“Riekert, seriously,” sê sy al wriemelend, “ek kan stap, sit my neer!”
Die voordeur vlieg oop.
“Kind, wat het gebeur?” vra Cora.
“Bring haar kamer toe, assseblief, Riekert,” nooi Trina. “Ons het die lugversorger al aangesit, dit behoort nou heerlik koel te wees. Siestog, kyk hoe bleek is sy.”
Hy loop in die gang af agter Trina aan, oorbewus van Bippie se oë op hom. In die kamer gly sy so gou uit sy arms dat hy haar amper laat val. “Magtig, vroumens, ek probeer net help!”
“Ek het jou gesê ek het nie jou hulp nodig nie,” sê sy deur stywe lippies.
Hy swaai op sy hak om en storm die kamer uit. Behoede hom van hardekwas vroumense. Dis hoekom hy so ver moontlik van die spesie af wegbly: die afgelope paar minute is hy ontsteld, kwaad en het hy sy stem verhef, wat selde gebeur.
Terwyl hy hom oor die straat haas, kyk hy boontoe: Regtig, Here?
Hy het gebid en gevra hy wil uit Bippie se pad bly. Nou raak hy glad opgewerk omdat sy daarop aandring om in die hitte huis toe te stap!
Eers in die gang onthou hy hoekom hy hoegenaamd na sy bakkie toe is. Sy skootrekenaar. Vies draai hy om. Sy pa was reg – vroumense is net moeilikheid.