Читать книгу Op liefde se drumpel - Elza Rademeyer - Страница 3
1
ОглавлениеToe die deurklokkie lui, gooi Suzanne Wagner die boek wat sy lees eenkant toe. Dalk is dit Phil wat besluit het om haar op die Sondagmiddag te kom verras.
Toe sy die deur oopmaak, is dit tot haar verbasing egter haar groottante wat op Riversdal woon wat voor haar staan.
“My wêreld, tannie Gertruida, jy is die laaste mens wat ek verwag het. Hoe het jy hier gekom?
“Middag, Suzanne. Met my motor, natuurlik. Jy verwag tog seker nie ek sou te voet al die pad Mosselbaai toe gekom het nie?”
“Nee, maar tannie het dan nog laas vir my gesê jy ry nie meer rond nie.”
“Nee wat. My katarakte is mos in die tussentyd verwyder, nou sien ek weer ’n barshou. Ek het jou nou nie laat weet ek kom nie, want dit het vanoggend so holderstebolder daar by my gegaan dat ek al amper hier was voor ek aan bel gedink het. Hoe gaan dit met jou?”
“Baie goed, dankie. Hoe gaan dit met tannie?”
“Ook heeltemal goed, dankie. Maar kom ons groet eers behoorlik.”
“Wat het gebeur dat dit so holderstebolder gegaan het?” vra Suzanne nadat sy ’n hartlike klapsoen van Gertruida ontvang het.
“Ons kan later daaroor praat. Ek is so dors soos ’n kameel in die woestyn.”
“Nou maar kom binne, ek skakel die ketel aan vir koffie.”
“Nee, wag so ’n bietjie. Kom ons gaan haal eers my tasse en goedjies uit die motor. Daar is so baie skelms in die wêreld, en ek kan nie bekostig dat my goed gesteel word nie.”
“Nou goed, kom ons maak so.”
By Gertruida se motor uit die jaar toet, kyk Suzanne verstom na al die bagasie. Die kewertjie is letterlik tot teen die dak volgepak van die tasse en bokse. “Waarnatoe is tannie op pad met al dié goed?”
“Jy moet sê as ek nie welkom is nie,” ruk Gertruida haar met ’n kwaai frons op.
“Natuurlik is jy welkom, maar ons het seker nie nodig om alles af te laai nie? Tannie kan die motor mos sluit. My kombuisvenster kyk op die straat uit, so ons sal kan sien as iemand hier kom peuter. Hoe laat wil jy weer ry?”
“Ry, waarnatoe?”
“Waarheen is tannie op pad?”
“Hier na jou toe. Ek het gekom om te bly.”
“O, gaan jy lekker lank by my kuier?”
“Ek sal dit nou nie juis ’n kuier noem nie. Hulle het my mos uitgesmyt uit die woonstel daar op Riversdal.”
“Uitgesmyt?” vra Suzanne onthuts. “Nou wat het jy aangevang?”
“Niks. Ek het niks aangevang nie. Die man van die vrou aan wie die woonstel behoort, is oorlede, en toe kom sê haar ongepoetste seun vir my ek moet skoert, want sy ma gaan in die woonstel kom bly. Glo te gevaarlik vir haar om vrou-alleen op die plaas aan te bly. Toe pak ek dadelik my goedjies, en ek loop, want ek laat my nie beledig deur ’n hardekoejawel-mannetjie wat nog nie eens droog agter die ore is nie.”
“Beledig? Het hy jou dan beledig?”
“Nee, hy’t mos vir my te vertel die bietjie huurgeld wat ek deur al die jare betaal het, is so min, hy sal kwalik die woonstel daarmee kan uitverf. Asof hy reken ek het die woonstel bemors. Jy ken my, ek is ’n netjiese mens. Al moet ek dit self sê. Dit was die een woord na die ander, tot ek vir hom gesê het dis geen wonder hy kry nie werk nie, want niemand sal vir so ’n lui bullebak van ’n vent soos hy werk gee nie. Toe moes jy hoor hoe gaan hy tekere! Praat toe sommer van my aankla vir naamskending, en ek weet nie wat alles nie.”
“Tannie kan darem ook nie sommer enigiets sê nie.”
“Ek het nie gejok nie! Net nou die dag het sy eie ma vir my gesê die maaifoelie is te lui om te werk, nou teer hy op haar. Voorverlede jaar al matriek geskryf. Vir die tweede keer.”
“Was daar dan nie ’n kontrak wat bepaal dat hulle jou vooraf moes kennis gee wanneer jy moet trek nie?”
“Nee. Die vrou het die woonstel te goedertrou aan my verhuur. Ook maar nie verwag haar man gaan so onverwags lepel in die dak steek nie. Maar moenie bekommerd wees nie, ek is ’n maklike en vredeliewende mens. Jy sal nie moeite met my hê nie.”
“So tannie kom nou by my bly totdat jy weer ’n woonstel bekom? Toevallig gaan woonstel nommer twee se mense die einde van die maand trek. Dit is op die grondverdieping, en het selfs ’n tuintjie. Ons moet die opsigter gaan vra, dalk is daar nog nie ’n ander naam op die waglys nie.”
“Nee wat, waarom sal ons nou sukkel met nog ’n woonstel? Jou woonstel hét mos twee slaapkamers. As ons die huurgeld deel, kos dit ons albei net mooi die helfte minder. Jy’t laas vir my gesê die lewe is so duur, jy sukkel ook maar om kop bo water te hou.”
Suzanne is sprakeloos. Dis die heel laaste ding wat sy te wagte was, dat haar oorlede ouma se oujongnooisuster so onseremonieel sou aankondig dat sy by haar gaan intrek. “Tannie moes my gebel het. Dan kon ek voorberei het.”
“Voorberei vir wat? Ek sal my volle helfte van die huurgeld bydra, en sommer bedags vir ons kook ook, dan kan jy net kom aansit saans wanneer jy van die werk af kom. So was die een hand die ander.”
“My salaris is nie heeltemal so power nie. Ek kan die woonstel darem nog bekostig, want ek gebruik die tweede slaapkamer as stoorplek.”
Haar skimp val op dowe ore. Al wat Gertruida sê, is: “Gee daardie tas en boks vir my, dan dra jy die groter tas.”
En ’n rukkie later toe hulle die slaapkamer binnegaan: “Nee wat, hier is genoeg plek. Op die een enkelbed kan ek slaap, en op die ander een kan ek my tasse met die vernaamste klere sit. Die res kan ons onder die bedjies inskuif. Jou goed wat in die kaste is, kan maar net so daar bly, so ons sal nie nodig hê om met jou goed te trek nie.
“Dis eintlik baie beter vir my om op Mosselbaai as op Riversdal te woon. Hier is ek lekker naby die hospitale, krematorium en als, vir ingeval ek iets oorkom. Jong mense kan doodgaan, maar ’n ou mens móét mos doodgaan. Kom ons gaan haal die res van my goed.”
Suzanne se hele Sondagmiddag wat sy lekker rustig wou deurbring, is nou omgekrap. Dit kos pas en meet in die kamer om plek te maak vir haar groottante se pakkaas. Dan is daar nog eetgerei en potte en panne ook wat Gertruida ongevraag in die kombuiskaste inprop.
“Waarvoor is tannie lus?” vra sy later die aand toe dit etenstyd raak. Sy is moeg geluister na al Gertruida se skinderpraatjies oor die mense wat in die woonstelle op Riversdal bly.
“Wat het jy gedink om te eet?”
“Ek was van plan om sommer roereiers en roosterbrood te eet.”
“Dis goed genoeg vir my ook, dankie. Môreoggend sal ek gaan kos koop, en vir ons ’n lekker bord boerekos kook vir wanneer jy van die werk af kom.”
“Hier ís darem kos in die woonstel.”
“Ja, maar ek wil my deel bydra. Ek wil nie later hoor ek lê op jou nek nie. Soos dit vir my lyk, eet jy maar skraps. Hoekom is jy so maer?”
“Ek is nie maer nie. Vir my lengte is my gewig normaal.”
“Nogtans dink ek jy sal beter lyk met so ’n bietjie meer vet aan jou lyf, maar dit daar gelaat. Werk jy nog by daardie prokureursfirma?”
“Ja, ek werk nog daar.”
“Jy moet seker al taamlik hoog op wees, want werk jy nie al vyf jaar vir hulle nie?”
“Dit is maar gewone sekretariële werk, maar ek kom goed oor die weg met my base en kollegas. Ons voel amper soos ’n gesin.”
“Nou ja toe, gee vir my die eiers, dan klits ek hulle solank vir jou.”
Suzanne het nog nooit slaapprobleme ondervind nie, maar dié aand wil die vaak nie kom nie. Dit voel asof die wêreld met haar bolmakiesie geslaan het. As sy ’n ander soort mens was, kon sy seker vir Gertruida die deur gewys het, maar hardvogtigheid is eenvoudig nie in haar aard nie.
Haar gedagtes keer terug na die verlede. Sy was pas klaar met matriek en op die punt om drama op universiteit te studeer, toe haar pa in ’n motorongeluk omgekom, en haar ma ’n parapleeg geword het. Haar drome van die verhoog moes sy net so laat vaar. Sy was dom met haar ma se versorging, en die plaas het ook baie aandag geverg.
Drie maande nadat haar ma uit die hospitaal ontslaan is, het Gertruida vir die dag by hulle kom kuier.
Twee dae later het sy weer opgedaag en, net so ongevraag soos vandag, sak en pak by hulle ingetrek. Dadelik het sy Suzanne se ma se versorging op haar skouers geneem, drie jaar lank, tot haar dood toe. Boonop het sy ook ’n ogie oor die plaaswerkers gehou nadat sy, Suzanne, die werk by die prokureursfirma bekom het. Nee, sy sal dit nooit regkry om onbeskof teenoor Gertruida te raak nie.
Wat Phil te sê gaan hê, is natuurlik ’n ander saak. Hoe op aarde gaan sy dit aan hom verduidelik? Gelukkig kom hy nie vanaand kuier nie, maar wat van môreaand? Hy sal net niks daarvan hou dat sy haar woonstel met iemand deel nie.
Hy hou van privaatheid. Daarom neem hy haar selde uit. Boonop vereis sy werksomstandighede dat hy net so twee keer in ’n week kan kom kuier. Gewoonlik op ’n Maandag- en ’n Vrydagaand. Dan hou hy daarvan om hier by haar in die woonstel te ontspan. “Om sy batterye te laai”, soos hy dit stel, want naweke werk hy op die omliggende dorpe. Dan is daar nie vir hom kuiertyd nie.
Intuïsie waarsku haar hy en Gertruida gaan nie om een vuur sit nie. Phil sal gans te byderwets wees na Gertruida se sin, en hy gaan op sý beurt niks hou van die ouer vrou se nougesette uitkyk op die lewe nie.
Sy het haar tannie ook nog nie van Phil vertel nie, want haar nuuskierigheid het nie perke nie. Phil se lewensgeskiedenis sal sy eenvoudig van A tot Z uit hom trek. Boonop is sy lief om lastige vrae te vra …
Hoewel sy en Phil mekaar slegs drie maande ken, weet sy hy is die man vir haar. Hy is iemand wat seker is van wat hy wil hê en nie skroom om te wys wat hy vir haar voel nie.
Sommer uit die staanspoor uit was sy smoorverlief.
Wanneer Suzanne aan hul verhouding dink, voel sy wel ’n bietjie skuldig omdat sy toegelaat het dat haar emosies sommer binne ’n maand na hul ontmoeting handuit geruk het. Sy is streng grootgemaak. Haar ouers het geglo voorhuwelikse seks is taboe. Al het die lewe en tye verander, besef sy dat haar keuse nie hul goedkeuring sou weggedra het nie.
Gertruida saag lankal balke in die kamer langsaan, toe rol Suzanne nog van die een sy op die ander. Twee lang balke, twee kortetjies, en so tussendeur snakgeluide wat dit laat klink asof daar iets by haar keel ingevlieg het.
Dit voel ook asof sy pas ingesluimer het, toe sy Gertruida se stem hoor: “Nou toe, moet jy nie gaan werk nie? Weet jy hoe laat is dit al?”
Onthuts vlieg sy orent. “Hoe laat is dit?”
“Dis al halfsewe. Hier is vir jou koffie, maar jy sal vinnig moet drink. ’n Baas dink nie veel van ’n werker wat op ’n Maandagmôre laat by die werk opdaag nie.”
“Halfsewe? Ek moet eers halfnege op kantoor wees. Gewoonlik staan ek eers halfagt op. Dis net vyftien minute se ry tot by my werk.”
“O. Hoe kom julle dan met alles deur die dag as julle so min ure op ’n dag werk?”
“Ons kom deur, moenie bekommerd wees nie.”
“Wel, ten minste gaan jy darem nou tyd hê vir ontbyt voor jy ry. Ek het klaar pap gemaak. Vat jy toebroodjies saam?”
“Nee, ek koop sommer vir my iets te ete by die restaurant regoor my werkplek. Ek eet ook nie ontbyt nie. Net ’n koppie koffie is genoeg.”
“Geen wonder jy is net vel en been nie. Die pap is nou klaar, so jy kan dit net so wel eet. Ek gaan vir jou ’n paar toebroodjies ook insit. Genoeg om jou deur te sien tot vanaand. Jy kan baie geld so spaar. Restaurantkos is duur.”
“Ek dink tannie moenie vir my moeite vir aandete doen nie. My vriend kom kuier, en miskien sal hy wil hê ons moet gaan uiteet.”
“O, jy het ’n vriend. Nou wie is hy?”
“Phil Peach.”
“Hoesenaam?”
“Sy naam is Phil en sy van is Peach.”
“Peach! Praat hy darem Afrikaans?”
“Ja, tannie. Jy sal hom vanaand ontmoet.”
“Ek sal genoeg kos vir hom ook kook. Uiteet is ’n duur storie, so dis onnodig.”
Suzanne draai met opset tot feitlik op die laaste minuut in haar kamer voor sy moet ry. Dis die enigste manier waaraan sy kan dink om Gertruida se nuuskierigheid oor Phil te ontduik.
Haar vrae sal waarskynlik begin met: “Wie is sy ouers? Waar is hy gebore? Hoe oud is hy?” Sy gaan nie antwoorde op al die vrae hê nie. Familiegeskiedenis is net mooi die laaste ding waaroor sy en Phil gesels wanneer hulle by mekaar is.
Heeldag sukkel sy om haar aandag by die werk te bepaal. Gertruida se koms het nie net haar woonstel onderstebo gekeer nie, dit is klaar besig om haar daaglikse roetine ook omver te werp. Nie net moes sy plek vir ’n toebroodjieblik in een van die laaie in haar lessenaar maak nie, in haar handsak is ook ’n inkopielys van goed wat sy vanmiddag na werk moet gaan koop. Items waarvan daar glo baie min, of glad niks in die koskas is nie.
Wat sy darem moet toegee, dink sy die aand toe sy die woonstel binnegaan, is dat Gertruida kán kosmaak. Die heerlike geure is genoeg om enige mens se aptyt te wek. Dit herinner haar weer aan die jare op die plaas toe sy soms saans, pootuit gesukkel met moedswillige diere, die kombuis binnegestap het.
Eintlik het sy lanklaas ’n goeie bord kos geëet. Kitskos is net soveel minder moeite.
Sy kyk op haar horlosie. Phil daag gewoonlik so teen agtuur se kant op. Vir die eerste keer vandat sy hom ken, wens sy die tyd wil stadiger verbygaan.
“Wat draai jy so daar by die venster rond?” vra Gertruida naderhand.
“Ek kyk sommer of ek nog nie vir Phil … Daar kom hy nou net in die straat af.” Met dié haas sy haar uit die woonstel sodat daar nie vir Gertruida kans is om enigiets te sê nie.
Phil se motor het kwalik tot stilstand gekom, toe klim sy langs hom in.
“Aitsa, dit lyk asof jy na my verlang het,” sê hy laggend toe sy die deur toeklap.
“Iets verskrikliks het my getref, jong.”
“Wat?”
Sy kan die verbasing in sy stem hoor nadat sy hom van haar groottannie se ongenooide intrekkery vertel het. “Jy bedoel, sy het nie net kom kuier nie?”
“Nee. Toe ek my oë uitvee, trek sy sak en pak by my in, om te bly.”
“Hoe oud is sy?”
“Naby die tagtig, en glad nie so ’n maklike mens om oor die weg mee te kom nie.”
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Hoe sal ek dit stel? Eksentriek, preuts, en sy meng haar met almal en alles in. Niks gaan soos vroeër wees nie. Sy sal nie toelaat dat ons in die woonstel maak soos ons wil nie. Ag, jy weet wat ek bedoel.”
“Hoekom sê jy nie net vir haar sy is onwelkom en moet vir haar ander blyplek kry nie?”
“Dis nie heeltemal só maklik nie. Ek het jou mos vertel dat my ma ’n parapleeg was. Dit was hierdie einste tannie wat haar versorg het. Ek sal nie met my gewete kan saamleef as ek haar vra om uit te trek nie.”
“Ek kan my eintlik nie voorstel hoe dit gaan wees om in die teenwoordigheid van ’n preutse tannie op te sit nie, maar ons kyk maar hoe gaan dit.”
“Sy het kos gekook en sê jy moet saam met ons kom eet.”
“Ek kan seker maar so maak. Gaan ons dan na ete ’n entjie ry, of wat stel jy voor?”
“Dis reg met my. Enigiets om onder haar oë uit te kom.”
Soos Suzanne te wagte is, kyk Gertruida Phil onbeskaamd van kop tot tone deur toe sy hulle aan mekaar voorstel. Daarna begin sy hom uitvra. Waar hy gebore is, wie sy oupa en ouma was? En, en …?
Al skaam sy haar vir Gertruida se blatante nuuskierigheid, kom sy self feite te hore waaroor sy en Phil nog nooit gesels het nie.
“Nou hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?” wil Gertruida ’n ruk later weet. “Jy is mos darem nie ’n onaansienlike man nie.”
“Voorheen het ek nog net nie die regte vrou ontmoet nie.”
“Nou dink jy Suzanne is die regte vrou vir jou?”
“Tannie!” keer Suzanne gebelg. “Dis persoonlik. ’n Mens vra nie sulke vrae nie. Hoe ver is die kos? Ons wil na ete ’n entjie gaan ry.”
“Die kos is gaar. Dek jy die tafel, dan skep ons op. Flip kan op die kop sit, dan sit ons hier weerskante van hom.”
“Sy naam is Phil, tannie.”
“Ag, dis seker net ’n afkorting vir Philip. My oorle broer se naam was ook Philip, maar ons het hom sommer Flip genoem.”
Die ete is vir Suzanne erg ongemaklik.
Gertruida se uitvraery kry nie einde nie, en Phil se gesig verraai naderhand duidelik dat dit hom irriteer. Wat traak dit Gertruida in elk geval waar in Zimbabwe hy grootgeword het, wanneer hy Johannesburg toe getrek het, en hoeveel motors hy al gehad het?
Toe Gertruida na ete sê hulle kan maar gaan ry, sy sal alleen die skottelgoed was, voel Suzanne nie eens skuldig nie. Hoe gouer sy en Phil van haar nuushonger tannie af wegkom, hoe beter.
“Ek sien wat jy bedoel het toe jy gesê het jou tannie is die inmengerige soort,” sê Phil toe hulle in die motor klim. “Haar nuuskierigheid ken geen perke nie.”
“Ja, ek weet nie hoe ek dit met haar gaan uithou nie.”
Toe sy haar kom kry, het hy by ’n piekniekplek op pad na Albertinia stilgehou. “Ons het nou genoeg oor jou tante en nuuskierige mense gepraat,” sê Phil. “Nou behoort die tyd aan ons. Wat het jy die naweek gedoen?”
“Ek het Saterdagmiddag tot vieruur gewerk. Nie dat dit nodig was nie. Ek kon eenuur geloop het, maar ek hou daarvan om Maandae met ’n skoon lessenaar te begin. En gistermiddag het my tannie net na eenuur opgedaag. Daarna was alles in ’n warboel. Waar het jy die naweek gewerk?”
“Saterdag was ek op Oudtshoorn en Sondag moes ek Knysna toe.”
“Dis darem jammer jy is naweke so vas. Dit sou so lekker gewees het as ons soms naweke ook kon gekuier het.”
“Natuurlik sou ek dit ook verkies het, maar dit kan nou ongelukkig nie anders nie. Kliënte wil nie wag nie. Ek sal nooit klaarkry as ek naweke nie werk nie.” Hy trek haar nader, lig haar kop om haar te soen en fluister: “Maar ek sal sommer nou daarvoor vergoed.”
Suzanne probeer haar oorgee aan die genot van sy soen, maar kan eenvoudig nie meegevoer raak nie.
Hy kom dit agter, want toe hy haar laat gaan, kyk hy haar deurdringend aan: “Hoekom is jy so gespanne? Wat is fout?”
“Dis die teenwoordigheid van my tannie wat op my senuwees werk. Dit voel vir my haar oë het saamgery hierheen, en nou word ons beloer.”
Hy gee ’n laggie. “Ons kan altyd ’n plan maak daarmee. Daar is ’n kombers in die kattebak. As ons na die agterste sitplek verskuif en ons toemaak met die kombers, sal daardie oë niks kan sien nie.”
“Nee! Boonop is dit onveilig hier met al die bosse om ons.”
“Ons sluit die motor se deure.”
“Dit sal nie help nie. Dis maklik om ’n motor se ruit stukkend te kap.”
“Nou wat stel jy voor moet ons doen?”
“Ek stel voor ons gaan drink iewers koffie en gesels sommer net. Daar is baie dinge van jou waarvan ek niks weet nie.”
“Soos wat?”
“Wel, ek het vanaand eers danksy tannie Gertruida se nuuskierigheid gehoor dat jy in Zimbabwe gebore is en daar grootgeword het. Jy het eendag genoem dat jy ook in Johannesburg gewoon het, maar ek het nie eens geweet jy is nog maar net ’n jaar op George nie.”
“Dis mos nie belangrik nie. Die hede, nóú, en die toekoms is belangriker. Wat gaan jy omtrent jou tannie doen?”
“Wat kán ek doen?”
“Jy sal haar beslis moet sê jy verkies dat sy op haar eie gaan bly. Soos ek haar opsom, gaan jy nie deur mooipraatjies van haar ontslae raak nie.”
“Ek sal dit nie oor my hart kry om haar weg te jaag nie.”
“Sien jy dan kans om jou woonstel die res van jou lewe met haar te deel?”
“Miskien kom daar later een of ander vorm van uitkoms.” Suzanne hoop dat hy dalk iets oor hul toekoms sal sê, maar hy trek haar net nader om haar weer hartstogtelik te soen.
“Het jy nie na my verlang nie?” wil hy afgehaal weet toe sy hom na ’n rukkie afweer.
“Ek het, ja, maar ek voel nie heeltemal myself nie.”
Hy skuif terug op sy sitplek. “Nou goed, kom ons gaan drink koffie op Albertinia.”
Suzanne voel nie gelukkig toe sy halftwaalf haar woonstel binnegaan nie. Die aand was ’n mislukking, al kan sy dit nie ’n spesifieke naam gee nie.
Phil was net besonder stil in die restaurant. Daar is glo probleme by sy werk wat hom kwel, maar ’n stemmetjie sê vir haar hy is eerder onvergenoeg omdat hy nie sy sin by die piekniekplek gekry het nie.
“Nou toe, jy is vroeg terug,” word sy deur Gertruida vanuit die kombuis begroet. “Ek het gedag julle sal eers na middernag opdaag.”
“Dit is nie ver van middernag af nie. Onthou, ons werk môre, en Phil moet nog terugry George toe.”
“Wat is sy nering?”
“Bedoel tannie sy beroep?”
“Ja, is dit dan nie dieselfde ding nie?”
“Hy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en doen etlike firmas se boeke. Op George, maar ook op ’n paar van die omliggende dorpe.”
“So hy is ’n man met ’n kop vir syfers. Somme is nie iets waarmee ek goed is nie. Kon nooit op skool die tafels in my kop kry nie. Geen wonder ek het in Matriek se middeleksamen ’n F-simbool gekry nie. Gelukkig kon ek darem die eindeksamen deurskuur.”
“Ek het gedink tannie sal al slaap.”
“Ja, ek ook, maar toe kom ek op dié boek daar in jou boekrak af. Ek kon hom net nie neersit nie. So ’n mooie storie. Skoon liefdesverhale is mos nie meer volop nie. Deesdae is dit omtrent net bedspring-stories wat jy te lees kry, asof die liefde net om seks draai. Nou wat van ’n koffietjie voor ons gaan slaap?”
“Nie vir my nie, dankie. Ek en Phil het ’n rukkie gelede koffie gedrink. Ek gaan nou maar inkruip.”
“Dan is dit reg. Ek dink ek moet ook nou maar die lesery los en gaan slaap.”
Suzanne lê weer lank wakker. Wat hou die toekoms in? Gaan Phil se liefde vir haar nie kwyn as sy geduld met Gertruida opraak nie? Nooit kon sy gedink het daar sal ’n dag kom dat sy haar in so ’n moeilike situasie bevind nie.