Читать книгу Op liefde se drumpel - Elza Rademeyer - Страница 4
2
ОглавлениеDinsdagmiddag na werk word sy by die woonstel ingewag met die nuus dat Gertruida hul buurman ontmoet het. “Wat ’n aangename man! Ons het te lekker gesels.”
“Watter buurman?”
“Het jy dan meer as een buurman?”
“Weerskante van my bly mans. In nommer agt en tien.”
“O, ek weet nou nie wat die nommer van sy woonstel is nie, maar sy naam is Herman Steyn. ’n Regte boerseun, as jy my vra. Jy is seker bly jy het hom as buurman.”
“O, Herman. Hy is ’n gawe ou, ja. Behulpsaam, altyd bereid om te help as ek in die nood is.”
“Watse nood?”
“Ag, hy het al vir my kraanwasters vervang, en nou die dag ’n nuwe prop vir my strykyster aangesit. Sulke lastige takies waarmee ek dom is.”
“Hy’t geluide hier in die woonstel gehoor en het toe kom kyk of hier nie dalk ’n inbreker by jou is nie. Toe nooi ek hom in vir koffie, en daar kom ons toe mooitjies agter hy is so verlangse familie van dokter Pieter Wasserman.”
“Wie is dokter Pieter Wasserman? Is ek veronderstel om hom te ken?”
“Nee, jy sal nie weet wie hy is nie, maar hy’t jou ma met haar geboorte gevang. En dit was ampertjies of ek was met hom getroud.”
“O? Nou hoekom het jy toe nie met hom getrou nie?”
“Oor ek gedag het ek is op ’n ander man verlief. ’n Skatryk man met ’n bek so glad soos seep. Amper te laat agtergekom hy is net agter my lyf aan. Toe ek hom los, was Pieter klaar verloof aan die meisie met wie hy later getroud is. Ja, jonkheid is dikwels ydelheid. As jy nie met oop oë loop nie, trap jy maklik in ’n strik.”
Tot Suzanne se stomme verbasing begin sy Gertruida se teenwoordigheid geniet. Dis lekker om saans met ’n bord lekker kos ingewag te word en geselskap te hê, maar toe die telefoon Vrydagoggend by die werk lui, en sy hoor dis Phil, raak sy opnuut benoud.
“Woon jou tannie nog by jou?” is sy eerste vraag nadat hulle gegroet het.
“Ja, en ek kan jou die versekering gee dat sy geen planne het om te verhuis nie.”
“Dan sal ons seker maar weer iewers heen ry.”
“Ons kan gaan uiteet, as jy wil.”
“Goed, ons kan op Albertinia gaan eet. Ek het gehoor die hotel daar maak baie lekker kos.”
Gertruida is nie ingenome met dié verwikkelinge toe Suzanne haar bel om te sê sy moenie moeite doen om die aand vir haar kos te maak nie. “Nee, goed dan maar, as Flip so baie geld het om te mors. Miskien is my boerekos te eenvoudig vir hom. Dalk is hy ’n man vir sjampanje en kaviaar. Ek sal maar vir Herman nooi om saam met my te kom eet.”
Suzanne is nie lus vir ’n argument nie, dus beëindig sy liewers die gesprek deur te sê daar het nou net ’n kliënt opgedaag aan wie sy moet aandag gee.
Toe Phil die aand by die woonstel opdaag, is Suzanne aanvanklik verras deur sy gemoedelikheid. Hy gesels land en sand oor allerhande onbenullighede met Gertruida, en al staan agterdog asof met ’n swart merker op haar gesig geskryf, sien hy dit skynbaar nie raak nie.
Hy wys egter ’n rukkie later Gertruida se aanbod om koffie te drink van die hand. “Dankie, maar ons gaan uiteet, en dit sal dalk net ons eetlus bederf. Wat gaan tannie vanaand doen?”
“Die buurman van hier langsaan kom by my eet. Ek weet nie of jy hom al ontmoet het nie?”
“Nee, hulle het mekaar nog nie ontmoet nie,” sê Suzanne, en wend haar onmiddellik tot Phil om aan te dui sy is gereed, hulle kan maar ry, want iets waarsku haar Phil se skielike vriendelikheid is vals.
Hulle is dan ook kwalik in die motor of hy begin lag. “Ek het die voete van daardie tannie van jou onder haar uitgeslaan deur so gaaf teenoor haar te wees, nè?”
“Ek het gedag daar is ’n slang in die gras. Hoekom het jy dit gedoen?”
“Om haar sag te maak voordat ek haar laat verstaan sy moet ander blyplek gaan soek. Jy sal dit nie doen nie, so ek sal dit moet doen.”
“Moenie glo sy gaan daarvoor val nie. Ek kon sien sy was agterdogtig oor jou aangeplakte vriendelikheid.”
“Gee my ’n kans dat ek net eers haar vertroue wen, dan gesels ons weer. Sy kan nie verwag jy moet haar vir die res van haar lewe versorg nie.”
“Ek sorg nie vir haar nie. Inteendeel, sy sorg eerder vir my. Sy kook kos, hou die woonstel aan die kant, en het gister selfs my wasgoed ook gewas.”
“Daarvoor kan jy ’n huishulp kry.”
“Teen betaling, ja, maar tannie Gertruida doen dit verniet, en boonop betaal sy die helfte van die woonstelhuur.”
“Hoe lank gaan jy in dié omstandighede tevrede bly?”
“Daarvan is ek nie seker nie, maar tans geniet ek haar nogal. Sy kan soms die kostelikste goed kwytraak. Eintlik kom ons baie beter oor die weg as wat ek verwag het.”
“Gaan ons dan nooit weer saam wees nie?”
“Wat bedoel jy? Ons is dan nou saam,” hou sy haar dom.
“Ek wil vir jou iets sê, my lief, maar ek wil dit nie hier in die restaurant doen nie. Ons moet alleen wees.”
Haar hart gee ’n sprongetjie. Phil se gesig is ernstig. Wil hy haar vra om verloof te raak of om te trou?
“Jy kan dit mos maar in die motor vir my sê.” Sy probeer nonchalant klink.
“Nee, dit sal nie werk nie. Ek wil jou styf vashou en jou soen wanneer ons daaroor praat.”
“Ek sal jou sê wat ons doen. Ons kan teruggaan na my woonstel toe, dan kry ek my motor en ry agter jou aan na jou huis op George.”
“Nee, ek kan nie toelaat dat jy in die nag alleen van George af terugry Mosselbaai toe nie. Dis gans te onveilig.”
“Jy ry dan alleen in die nag van Mosselbaai af George toe.”
“Onthou, ek is ’n man. Dis anders.”
“Dan moet jy my maar kom haal en weer terugbring.”
“Dis ’n veiliger opsie.” Hy kyk op sy horlosie. “Miskien moet ons dit maar laat oorstaan tot ’n volgende keer.”
“Ja, ek werk darem nie môre nie, maar wil in elk geval nie te laat by die huis kom nie. Waar werk jy môre?”
“Op Knysna, so ek sal vroeg moet opstaan as ek die werk daar wil afhandel, want Sondag moet ek weer Wildernis toe.”
Gertruida is nog wakker toe sy die woonstel binnegaan nadat Phil met ’n hartstogtelike soen by die voordeur van haar afskeid geneem het.
Haar groottante kan nie uitgepraat raak oor hoe lekker sy en Herman gekuier het nie: “Ons het tot kaart gespeel ook. Hy het my omtrent elke keer gewen en is netnou eers hier weg, net ’n rukkie voordat jy opgedaag het.”
Suzanne gee ’n lang gaap om Gertruida te laat glo sy is vaak. “Ek gaan nou slaap.”
“Ja, ek gaan ook nou kamer toe. Eintlik is ek nie meer gewoond daaraan om so laat te gaan slaap nie, maar sal darem ook nie die aand vir ’n bed wou verruil het nie.”
In haar kamer steek Suzanne voor die spieël vas, allesbehalwe vaak. Hoe sal sy lyk in ’n wasige wit trourok met ’n lang sleep? Wie sal sy vra as haar strooimeisie?
Die volgende oggend vaar sy die winkels in en koop vir haar die mooi blou rok waarop sy al so lank ’n ogie het. Met dié dat Gertruida die helfte van die woonstelhuur gaan betaal, kan sy darem ook ’n slag ietsie op haarself spandeer.
Daarna draal sy eers deur ’n winkel wat allerhande dinge vir troues verkoop. Waar gaan sy ’n dogtertjie en seuntjie in die hande kry om as blommemeisie en hofknapie op te tree?
Terug by die woonstel, moet sy hoor Gertruida het vir Herman genooi om saam met hulle te eet.
“Hy het dan gisteraand hier geëet.”
“Ja, maar toe was jy mos nie hier nie. Hy’t dadelik ingewillig, seker maar dankbaar hy hoef nie self kos te maak nie.”
“Ek hoop nie hy het so baie fiemies met kos soos met meisies nie.”
“Fiemies met meisies, hoekom sê jy so?”
“Ek het al afsprake vir hom gereël met drie van my vriendinne, maar hy neem hulle net een keer uit, dan sien hulle hom nie weer nie. Die fout lê altyd by hulle, nie by hom nie.”
“Wat is dan fout met hulle?”
“Dis nie wat ek bedoel nie. Hý is te foutvinderig. Sandra praat te veel, Ester praat te min, en Patricia, ek weet nie watse foute sy het nie, maar hy het haar ook net een keer uitgeneem.”
“Wel, jy kan seker nie verwag hy moet ’n meisie bly uitneem as hy nie van haar hou nie? Het jy geweet hy was verloof?”
“Wie? Herman?”
“Ja, maar die verlowing is al ’n jaar of wat gelede verbreek.”
“Nou toe nou, stille waters diepe grond, onder draai die duiwel rond. Dis dan seker hoekom hy nie vattigheid aan my vriendinne kon gekry het nie.”
“Hy sê hulle het in elk geval nie by mekaar gepas nie. Sy kon seker maar nie aan sy verwagtinge voldoen nie.”
“Hoekom doen hy dan nie die moeite om ’n meisie raak te loop wat aan sy verwagtinge voldoen nie? Daar gaan nie een uit die lug val as hy handjies gevou sit nie.”
“Hy sê hy hou nog net tot die einde van die jaar skool, dan gaan hy boer. Sy pa is nie meer so jonk nie en wil op die dorp gaan aftree. Hulle het glo ’n groot appelboerdery op ’n plaas in die Langkloof. Was jy al daar?”
“Op hulle plaas? Nee, wat moet ek daar gaan maak?”
“Ek bedoel, in die Langkloof. Die plek is mos bekend vir sy lekker appels.”
“O. Ek en ’n vriendin het een keer daarlangs gery toe ons vir haar pa se begrafnis Port Elizabeth toe was. Ek kan nie onthou dat ek appelbome gesien het nie. Ek het seker maar nie so opgelet nie.”
“Wanneer trou jy en Flip?”
“Phil, tannie. Hy het nog nie van trou gepraat nie, maar ek vermoed dit sal nie meer lank wees voor hy my vra nie.”
“Hoe lank ken julle mekaar?”
“Drie maande.”
“So kort. Waar het jy hom ontmoet?”
“Ek was genooi na die verjaardagpartytjie van ’n oudkollega van my wat op Wildernis woon. Hy was ook daar, en ons was die enigste persone sonder metgeselle, toe raak ons aan die gesels en toe kliek ons.”
“Bly hy in ’n woonstel, of het hy ’n huis?”
“Hy’t ’n huis.”
“Hy trek goed aan en ry met ’n duur motor, so hy is seker welaf. Hoe groot is sy huis?”
“Ek het sy huis nog nie gesien nie.”
“O, jy sê mos julle ken mekaar nog nie so lank nie. Kom hy môre weer kuier?”
“Nee. Hy werk naweke op omliggende dorpe.”
“Werk hy dan Sondae ook?”
“Sommige Sondae, ja. Hy werk vandag op Knysna en Sondag op Wildernis.”
“Dit klink na ’n flukse man. Daar klop Herman. Gaan maak gou die deur oop en nooi hom sitkamer toe. Ek sal julle kom roep wanneer die kos reg is.”
“Hy kan hier in die kombuis kom sit. Ek weet nie wat om met hom te gesels nie.”
“Nou ja toe, maak dan maar so.”
’n Rukkie later sit Suzanne verveeld en luister na die ander twee se gesprek oor boerdery. Vrugte wat te vroeg of te laat ryp word, ’n boorgat wat aan die opdroog is, ’n bees wat sonder rede gevrek het, allerhande plaasdinge.
Sou Phil sy werk op Knysna klaargekry het? Sy is nogal nuuskierig om te sien hoe sy huis lyk. Hy het al gepraat van ’n boom op sy erf wat so blare afgooi dat sy tuinier nie kan voorbly om die grasperk skoon te hou nie. Sou hy ’n huishulp hê? Moet wees, want as hy so hard werk, gaan hy nie tyd hê vir huiswerk nie. Sy kook seker vir hom kos ook.
“Wat sit jy so stil daar, Soes?” Herman moet haar twee keer aanspreek voordat sy agterkom daar word met haar gepraat. “Dit lyk kompleet asof jy op ’n ander planeet sit en droom.”
“Hoeveel keer moet ek jou nog sê my naam is Suzanne? Ek ís op ’n ander planeet. Een waar nie met windpompe, beeste en vrugte geboer word nie.”
“Ekskuus, man. Ek en jou tannie gesels so lekker, ek het skoon vergeet jy is ’n stadsjapie wat nie in boerdery belangstel nie.”
“Jammer, maar jy sit die pot mis. Ek is op ’n plaas gebore, so ek is allesbehalwe ’n stadsjapie.”
“Waarmee het julle geboer?”
“Ons het ’n wildplaas gehad wat na my ma se dood verkoop is.”
“Ja, totaal onder die plaas se waarde,” vat Gertruida die gesprek oor. “Daar was maar min geld oor nadat haar ma se mediese onkoste en die skuld gedelg is. Hulle het mos nie aan ’n mediese fonds behoort nie, en daarby was daar nog drie jaar van droogtes en allerhande pessiektes onder die wild ook.”
“Dit sal seker nou nie meer lank wees voordat tannie vir Herman vertel presies hoeveel geld ek in die bank ook het nie,” vererg Suzanne haar. “Ons ellendes is niemand anders se besigheid nie.”
“Ag, kyk hoe klim sy op haar perdjie! Verskoon tog maar, Herman. Dié dinge is seker net vir haar aanstaande se ore bedoel. Gelukkig is hy darem welaf, so sy sal niks hoef te ontbeer nie.”
Suzanne merk dat Herman se wenkbroue lig toe hy vra: “Is daar al ’n troudatum?”
“Nee.”
“Hoe verlig voel ek nou!”
“Verlig, waaroor?”
Hy glimlag onverwags. “Omdat ek bang was jy trou sonder my toestemming.”
“Jou toestemming! Van wanneer af het ek jóú toestemming nodig om te trou?”
“Om seker te maak jy trou met die regte man. Ek het jou Phil nog nie ontmoet nie. Vir al wat ek weet, is hy dalk ’n vroueslaner.”
“Jy soek skoor, en ek is nie lus daarvoor nie. Hoekom het jy nog nie weer vir Patricia uitgeneem nie? Het jy dalk ontdek sý is ’n ongure karakter?”
“Nee, allesbehalwe. Sy is een van die bestes van al die meisies wat jy aan my opgeveil het. Stil en op haar plek.”
“Ek is bly daar is darem een meisie met wie jy nie kon fout vind nie.”
“Daar is nog ’n meisie met wie ek nie fout vind nie, maar sy sien my nie raak nie. Ek weet nie wat ek moet doen om haar van my bewus te maak nie.”
“Koop vir haar blomme en sjokolade,” raai Gertruida hom aan. “Geen meisie kan mooi blomme en ’n soetigheidjie weerstaan nie. Nou ja, die kos is reg. Julle kan kom aansit sodat Herman vir ons die seën kan vra.”
Die ander twee gesels tydens die ete land en sand oor sake soos politiek, dwelms in die skole en jong mense wat sukkel om werk te kry, maar Suzanne sit en wonder watter soort troue Phil sal verkies: ’n Groot troue of dalk ’n klein intieme byeenkoms? Toe vra Gertruida onverwags vir haar hoe laat die kerk Sondae begin.
Gelukkig is dit Herman wat sê dit begin halfelf, voordat sy nodig het om te antwoord, want as Gertruida moet weet wanneer laas sy in die kerk was, sal sy nooit die einde van die storie hoor nie.
“Dis ’n goeie tyd,” sê Gertruida. “Dan hoef ons nie vroeg op te staan nie. Ry jy sommer saam met ons, Herman, of ry ons saam met jou?”
“Julle kan saam met my ry, maar ek ry ’n bietjie vroeër. Die kerkraad kom mos eers vir so ’n kwartier of wat in die konsistorie bymekaar voor die diens.”
“O, is jy ’n diaken?”
“Ja, tannie.”
“Dis reg met my. Ons kan maar saam met jou ry. Ek hou daarvan om vroeg te gaan sit, dan kan ek my instel vir die diens. Of wat sê jy, Suzanne?”
“Dit sal seker reg wees.”
“Goed dan. Ons sal sorg dat ons gereed is wanneer jy wil ry.”
Gelukkig kuier Herman nie lank nadat hulle klaar geëet het nie, want dit voel vir Suzanne asof die woonstel nie meer aan haar behoort nie. Waar is tog die dae toe sy kon kom en gaan soos sy wou, ook waarheen sy wou?
Dit voel kompleet asof sy soos ’n marionet aan ’n toutjie hang. Gertruida trek die toutjies en sy moet spring. Dit frustreer haar.