Читать книгу Op liefde se drumpel - Elza Rademeyer - Страница 6
4
ОглавлениеToe Gertruida die volgende oggend vir haar koffie kamer toe bring, sê sy Herman was al daar om te kom hoor hoe dit met haar gaan. “Maar jy het so vas geslaap, ek kon dit nie oor my hart kry om jou wakker te maak nie. Hy sê as jy nie sieker is nie, en jy voel daarna, kan hy jou later kom oplaai om ’n entjie te gaan ry.”
“Te gaan ry? Waarheen?”
“Seker maar sommer net iewers heen. Ek het hom nie gevra nie.”
“Phil kom vanoggend hier ’n draai maak.”
“O. Hoe voel jy? Ek sien darem nog nie tekens van erge griep nie.”
“Nee wat, ek voel vanoggend sommer weer piekfyn. Die hoofpyn en gevoel van koorsigheid het gelukkig die wyk geneem.”
“Ek is bly om dit te hoor. Dan sal jy seker opstaan vir ontbyt?”
“Ja, ek sal daarmee kom help.”
Die oggend kom en gaan, maar geen teken van Phil nie.
Teen tweeuur die middag voel Suzanne soos ’n stoompot wat dreig om te ontplof. Ten minste kon hy gebel het. Verniet of sy hóm sal bel. Hy moet hom nie verbeel sy is verleë oor hom nie. As hy met haar woerwoer speel, kan sy dit ook doen.
Toe Gertruida later wil weet wat dan van Phil geword het, skiet die stoompot se deksel summier af: “Dit traak my nie wat van hom geword het nie. Ek gaan nie vanaand hier by die woonstel sit nie. As hy dalk nog die moeite doen om te bel, kan jy maar vir hom sê ek is uit, en ek gaan nie voor middernag terug wees nie.”
“Stadig nou, Suzanne. Dis seker sy werk wat hom ophou.”
“Werk, werk! Dis ál wat ek moet hoor. Hy gaan hom nog morsdood werk.”
“Ag nee, moenie jou so opwen nie. Hy is so ’n oulike man, netnoumaar voel hy jy plaas te veel druk op hom en dan los hy jou!”
“Snaaks, maar ek was onder die indruk jy hou nie van Phil nie?”
“Wat sou jou onder só ’n indruk gebring het? Ek dink hy is alles wat jy van ’n man kan verlang. Aantreklik, hardwerkend en welaf. Wat meer wil jy hê?”
“Dit kan dalk so wees, maar my vriendinne gaan almal naweke uit, en as húl kêrels nie opdaag nie, bel hulle ten minste en maak verskoning. Hier sit ek soos ’n aap en wag, en hy doen nie eens die moeite om my te bel nie.”
Net toe lui die voordeurklokkie.
“Jy’t te gou gepraat. Gaan nooi hom binne.”
Haar ongedurigheid het nog nie gaan lê nie. “Laat hy maar weer lui. Hy moenie dink ek gaan my bene agter hom aan breek nie.”
Tydsaam stap sy voordeur toe, reg om Phil te laat verstaan sy het reeds ander planne vir die middag gemaak, maar toe sy die deur oopmaak, is dit Herman wat op die drumpel staan.
“Ek is bly om te sien jy is op die been, Soes. Hoe voel jy?”
“Piekfyn, dankie. Wanneer gaan jy onthou wat my naam is?”
“Suzanne, voel jy nie lus om ’n entjie te gaan ry nie?”
“Dit sal lekker wees, dankie,” sê sy dadelik, weereens in die verwagting dat Phil tóg gaan opdaag. Miskien sal dit ’n boodskap na hom stuur dat hy nie moet dink hy is die enigste man op aarde nie. “Waarheen gaan ons?”
“Net waarheen jy wil.”
“Kies jy maar, ek kan nie nou aan ’n spesifieke plek dink nie.”
“Wat van Gouritsmond se kant toe?”
“Dit klink goed. Ek was lanklaas daar.”
“Gaan julle voor middernag terug wees?” kom Gertruida se stem vanuit die kombuis.
“Ja, ek sal haar voor donker terugbring,” gee Herman antwoord.
Gertruida kom te voorskyn. “O, dis jy, Herman. Ek dag dis haar kêrel wat opgedaag het.”
En dan: “Suzanne, wat moet ek vir Flip sê as hy hier aankom?”
“Enigiets. Net wat jy lus is om vir hom te sê.” Haar stem drup van die sarkasme. “Ek kry net my handsak, Herman, dan kan ons maar ry.”
“Ek is bly jy voel soveel beter,” sê hy toe hulle wegtrek. “Daar was hierdie week ’n hele paar kinders by die skool weens griep afwesig.”
“Ek het nie geweet daar is wel ’n virus in omloop nie. Ek bedoel dat daar skoolkinders is wat dit het nie.”
Gelukkig begin hy oor die besige verkeer praat en het hy waarskynlik nie gehoor sy het haar mond verbygepraat nie.
Dit word ’n aangename middag. Herman is ’n lekker maat met wie sy oor enige onderwerp kan gesels. Ook oor die kollega by haar werk wat bedank het, en dat daar Maandag ’n ander meisie in haar plek begin.
“Ek het haar nog nie gesien nie, maar sy kom van George af. Sy was glo ’n onderwyseres daar in een van die laerskole. Ek weet nie wat haar laat besluit het om nou vir ons prokureursfirma te kom werk nie, dalk het sy moeg vir kinders geraak.”
“Ja, hulle kan soms ’n handvol wees. Wat ek baie sal mis wanneer ek gaan boer, is die skool se sport. Ek het van die seuns al so goed leer ken tydens die rugby-afrigting dat hulle vir my soos familie voel.”
“Het jy broers en susters? Eintlik weet ek baie min van jou af.”
“Net ’n suster wat in Durban woon. Getroud en met twee kinders. En jy?”
“Ek was my ouers se enigste kind, en tannie Gertruida is die enigste oorlewende tante wat ek het, of wat ek altans ken. Van die res van my familie dra ek geen kennis nie.”
By Gouritsmond aangekom, klim hulle uit die motor en gaan stap kaalvoet op die strand. Daarna trek hulle weer hul skoene aan, en stap die strate van hoek tot kant plat. Nog later gaan geniet hulle koffie en koek by ’n restaurant, en toe Suzanne haar kom kry, is die middag om.
Dit is eers toe sy by die woonstel kom dat sy weer aan Phil dink, en wonder of hy dalk opgedaag het.
“Nee, maar hy het gebel,” lig Gertruida haar in. “Hy sê jy het nie jou selfoon beantwoord nie.”
“Ek het dit nie saamgeneem nie.”
“In elk geval, hy sê hy kon toe nie Mosselbaai toe kom nie. Daar het iets voorgeval wat hom die hele dag besig gehou het.”
“Seker weer werk.”
“Hy het nie gesê wat dit was nie.”
“Wou hy darem weet waarnatoe ek is?” Net so wel sy het haar sel by die woonstel vergeet. Dit kan hom net goed doen om te hoor sy het nie vir hom gesit en wag nie.
“Nee, hy het nie gevra nie.”
“As sy werk vir hom só belangrik is, moet hy liewer nie eens ’n meisie hê nie.”
“Dit kan Flip dalk afskrik as jy soveel druk op hom plaas. Konsentreer liewer op sy goeie punte.”
“Afskrik van wat? Ons is nog nie getroud nie. Ek verstaan nie hoekom jy so vir hom kant kies nie. As tannie jonger was, sou ek amper kon gedink het jy is op hom verlief.”
“Hy is ’n man met ambisie. Jy wil tog seker nie ’n ongeleerde leeglêer van ’n man hê wat meer kleintjies as iets anders maak, en vir wie jy jou in ’n krotbuurt moet afsloof nie.”
“Nee, maar Flip, agge Phil, is nie die enigste man wat iets beteken nie. Vat nou maar vir Herman. Hy het ook geleerdheid, anders sou hy die kinders nie kon geleer het nie. Hy onderrig die outjies in rugby en maak geld bymekaar sodat hy nie hoef te sukkel wanneer hy gaan boer nie. As ek ’n broer kon gehad het, sou ek gewens het hy moet soos Herman wees.”
“’n Broer soos Herman?”
“Ja, hy is sonder pretensies. Behalwe nou dat hy te dooierig is om vir hom ’n meisie uit te slaan.”
Gertruida kug effens. “In elk geval, Flip het gesê, kom wat wil, hy sien jou Maandagaand.”
“Ek het ’n good mind en vat my weg. Hy moet leer om my tyd nie langer te mors nie.” Sy voel kompleet nes Sagmoedige Twintigjarige.
“Hy hét dan gebel om verskoning te vra oor hy nie kon kom nie.”
“Ja, maar hy moes dit douvoordag al gedoen het.”
“Hoe was jou middag? Het Herman hom gedra?”
“Herman sal hom altyd gedra. Dit was ’n aangename middag. Baie lekkerder as wat ek hier op Phil sou gesit en wag het. Tevergeefs.”
“Wil jy hom nie gaan nooi om saam met ons te eet nie?”
“Nee, hy sal nie kan kom nie. Hy het genoem dat hy vanaand gaan huisbesoek doen.”
“O. Miskien kan ons môreoggend by die kerk hoor of hy nie middagete saam met ons wil kom geniet nie.”
“Miskien, ja,” antwoord Suzanne niksseggend voor sy die onderwerp sommer verander. “Ai, ek het nog klere nodig, maar ordentlike klere is net so vrek duur.”
“Ek dink nie jy sal ’n tekort aan geld vir klere hê as jy en Flip trou nie.”
“Daar begin tannie al weer met dieselfde storie. Ek het ’n idee daar gaan nog heelwat ‘asse’ in die see loop voor ek met Phil trou.” Sy is so vies dit voel of sy rooi sien.
“Nou kom ons los dan nou maar die onderwerp,” sê Gertruida sedig terwyl sy met die potte op die stoof werskaf. “Vertel my waar jy en Herman was en wat julle alles gedoen het.”
“Ons het die hele Gouritsmond van hoek tot kant verken.”
“Waaroor het julle gesels?”
“Ag, hy’t vir my ’n paar skoolstaaltjies vertel, en ek het hom vertel van my werk, en van Suurpruim se geskinder by ons base. Gewone dinge. Hoekom vra tannie?”
“Nee, ek het gedag miskien het hy vir jou vertel van die verbreekte verlowing.”
“Nee, hy’t niks gesê nie.”
“Hy het vir my vertel, ook hoekom hy nog nie vir hom ’n ander meisie aangeskaf het nie.”
“Wat het hy gesê?”
“Dis ’n geheim. As hy dit nie self vir jou sê nie, gaan ek dit ook nie vertel nie.”
“Dit het seker te doen met die meisie wat hom nie wil raaksien nie?”
“Dit baat niks om nuuskierig te wees nie. My mond is gesnoer.”
Suzanne lig haar skouers ergerlik. “Goed so. Hou maar julle geheim vir julself.”