Читать книгу Op liefde se drumpel - Elza Rademeyer - Страница 5

3

Оглавление

Gertruida is gaande oor die nuwe rok toe Suzanne die volgende oggend uit die kamer kom: “Jy lyk te fraai! Die kleur pas jou oë en lyk pragtig by jou swart hare.”

En toe hulle by Herman aansluit, vra sy ewe vrypostig vir hom of hy ook dink Suzanne lyk pragtig.

“Sy lyk soos ’n prentjie!” Hy kyk goedkeurend na haar. “Die koppe van die manne by die kerk gaan draai.”

“Ek hoop dis nie ’n jong dominee wat die kluts kwytraak as hy haar daar van die preekstoel af sien nie,” sê Gertruida tergend. “Netnoumaar verloor hy sy teks.”

“Wag maar tot julle my in ’n trourok sien,” spot Suzanne saam. Waar die kop van vol is, loop die mond van oor, beskuldig sy haarself onmiddellik.

By die motor aangekom, maak sy asof sy nie sien Herman hou die voorste deur vir haar oop nie, en glip gou agter in. As Joan in nommer vyf deur die venster kyk en haar voor sien inklim, dra sy dalk stories by Phil aan. Sy kan mos nie ophou om vir Suzanne te vertel hoe gelukkig sy is om so ’n aantreklike kêrel soos Phil te hê nie. Sy het haar weer onlangs voorgekeer: “Ek kon vinnig bietjie met jou kêrel gesels. Hy is darem so volwasse. Dit lyk asof hy welaf ook is, daarvan getuig sy klere en die motor waarin hy ry.” Nie dat dit ’n verskil sou gemaak het as hy arm was nie. Suzanne sou hom niks minder liefgehad het as hy ’n kerkmuis was nie.

Sy word nie verniet ’n skinderbek genoem nie.

Die leraar is nie meer so jonk nie, en sy preek raak Suzanne. Laat haar skuldig voel, want dit handel oor losbandigheid en die voorbeeld wat jy vir ander stel. Watter voorbeeld stel sy vir die jong meisies van vandag? Gaan sy nie ook maar saam met die stroom van almal wat dink voorhuwelikse seks met iemand wat jy liefhet, is geregverdig nie?

Op pad terug woonstel toe, praat Gertruida en Herman gelukkig so baie dat hulle nie agterkom sy is stil nie.

Gertruida nooi Herman weer om saam met hulle te eet, maar hy wys die aanbod van die hand. “Baie dankie, maar ek het ’n belangrike afspraak vanmiddag en is genooi om sommer ook daar te eet.”

Suzanne kan nie anders as om te wonder hoekom daar so ’n uitdrukking van tevredenheid op sy gesig is, en hoekom hy nie die naam noem van die mense wat hom genooi het nie. Waarom die geheimsinnigheid oor die belangrike afspraak? Is dit Patricia wat hom genooi het, of dalk die meisie van wie hy hou wat hom uiteindelik raakgesien het?

“Sal ons twee nie ’n entjie gaan ry nadat ons gerus het nie?” vra Gertruida vir Suzanne nadat hulle geëet en die skottelgoed gewas het.

“Waarheen?”

“Sommer George se kant toe. Ek was lanklaas in daardie rigting. Ons kan met die ou pad langs ry, dis so mooi daar met die berge langs. Jy hoef nie bang te wees om saam met my te ry nie. Ek sien nou baie goed en ek is ’n versigtige bestuurder.”

“Ons kan so maak, dan gaan drink ons sommer daar iewers koffie.”

Toe hulle George binnery, vra Gertruida: “Hoekom gaan drink ons nie sommer by Flip koffie nie?”

“Phil werk mos op Wildernis vandag.”

“Miskien is hy al terug by die huis. Dis al ná drie. Hy sal tog seker nie die hele dag daar besig wees nie.”

“Ek weet nie waar hy woon nie.”

“Jy kan hom mos vra waar hy bly wanneer jy bel. Sê vir hom ons sal hom nie lank uit sy werk hou nie. Niks langer as ’n halfuur nie. ’n Rukkie se rus kan hom net goed doen.”

Opwinding vat in Suzanne pos. Hoekom sal sy hom nie bel nie? As hy by die huis is, sal hy mos bly wees om haar te sien.

Dit duur so lank voor hy die oproep beantwoord dat sy al begin dink het hy is nie naby sy foon nie, toe sy stem eindelik in haar oor opklink: “Hallo, my lief.”

“Hallo, Phil. Luister, ek en tannie Gertruida is hier op George. As jy my beduie waar jy woon, of sommer net die adres gee, dan gebruik ek die GPS en kom ons jou gou groet. Dalk ’n koppie koffie by jou drink?”

“Ek is op Knysna, my liefie.”

“O, ek dag jy het Vrydagaand gesê jy werk vandag op Wildernis. Toe dink ek jy is miskien al klaar en tuis.”

“Gister kon ek nie al my draaie op Knysna kry nie, toe moes ek vandag weer hierheen kom. Hoe lank gaan julle op George vertoef?”

“Seker nie lank nie. Ons sal nou maar net iewers in ’n restaurant gaan koffie drink voordat ons teruggaan.”

“Wel, ja, ek sal seker nie voor donker terug by die huis wees nie.”

“Dan is dit maar tot daarnatoe. Sien ek jou môreaand?”

“Gaan daardie preutse ou vrou nog daar by jou wees?”

Suzanne loer gou na Gertruida se kant toe, en voel hoe sy vuurwarm bloos van skaamte. Sy kan nie met sekerheid sê die ouer vrou het gehoor wat hy kwytgeraak het nie, maar dis moontlik.

“Ja.” En van skone senuweeagtigheid: “Ons was vanoggend kerk toe. Dit was ’n ouerige dominee, maar hy het mooi gepreek.”

“Lyk my jy doen deesdae vreemde dinge. In elk geval, ek kan nie lank gesels nie, my kliënt wag. Ek bel jou môre.”

Bang hy raak nog meer dinge kwyt wat haar in die verleentheid stel, kan sy nie gou genoeg totsiens sê nie.

“Wat sê hy?”

Gertruida se vraag klink so doodgewoon dat Suzanne aanneem sy het Phil se neerhalende opmerking nie gehoor nie. “Hy is nog op Knysna en sal eers vanaand laat terug wees.”

“Jy het toe seker nie sy adres gevra dat ons kan gaan kyk hoe sy huis lyk nie?”

“Nee, wat sal ons by sy huis gaan maak as hy nie daar is nie?”

“Ook weer waar, ja. Ons sal ons nuuskierigheid maar moet hou tot ’n ander dag.”

Die volgende dag by die werk wag Suzanne die hele dag dat Phil moet bel om te sê of hy kom kuier, maar toe hy teen sluitingstyd nog niks van hom laat hoor het nie, vererg sy haar.

Miskien moet sy vanaand sommer haar motor vat en iewers heen ry sodat hy voor dooiemansdeur te staan kom wanneer hy opdaag. Hy moet hom nie verbeel hy kan met haar gevoelens woerwoer speel, en dat sy net altyd daar sal wees wanneer dit hóm pas nie! Daar is baie vriendinne wat sy die afgelope maande afgeskeep het vandat sy hom ontmoet het. Sy sal sommer vir Santjie gaan kuier.

Dit sal vir hom ’n les wees.

Nadat sy dié besluit geneem het, sit sy op hete kole dat hy dalk sal opdaag voor sy weg is. So vinnig sluk sy haar kos weg dat Gertruida haar maan om stadiger te eet. “Vir wat jaag jy so? Jy sal ’n maagseer kry.”

“Ek wil vir Santjie gaan kuier. Sy is ’n goeie vriendin van my en ons het mekaar lanklaas gesien.”

“Nou wie klop daar aan die deur?”

Suzanne se maag gee nou regtig ’n draai. Sy is nie seker of dit van blydskap is dat Phil tog opgedaag het, en of dit van teleurstelling is dat sy nog nie weg is na Santjie toe nie.

Maar toe sy die deur oopmaak, is dit Herman wat voor haar staan, ’n yslike bos blomme in die hand.

“En dit? Is die blomme vir tannie Gertruida?”

“Nee. Dis vir jou.”

“Hoe so? O, jy het dit seker gekoop vir die meisie wat jou nie wil raaksien nie, en toe wys sy jou die deur. As ek jy is, vergeet ek van haar.”

“Gaan jy dit in die water sit, of wat?”

“Kom in. Ek sal seker iewers ’n blompot hê. Tannie Gertruida, sal jy soek vir ’n pot of ’n ding en die blomme in water sit, asseblief? As ek nie nou ry nie, gaan dit laat word.”

“Waarheen is jy op pad?” wil Herman weet.

“Ek gaan vir ’n vriendin kuier. Jy kan saam met tannie Gertruida koffie drink. Geniet julle aand, ek is op pad uit.”

Toe sy inderhaas daar wegry, hoop sy Phil gaan by die woonstel na haar kom soek, maar hoe later dit in die aand word, hoe meer taan haar hoop. As hy daar aangekom het, sou hy haar tog sekerlik gebel het?

Nogtans word dit ’n aangename aandjie. Sy geniet Santjie se geselskap en is verbaas om te sien hoe vinnig die tyd aangestap het toe sy groet om terug te ry na haar woonstel.

Die woonstel is al donker toe sy ingaan. Net in die kombuis brand nog ’n lig.

Aan Gertruida se snorkgeluide kan sy hoor dat sy al slaap. Sy sluip kombuis toe om die lig af te skakel, maar aarsel ’n rukkie toe haar blik op die pot blomme val wat op die tafel staan.

Dis wraggies baie mooi blomme en moes Herman seker ’n fortuintjie gekos het. Darem ook maar lelik van die meisie om dit in sy gesig terug te gooi, die arme man.

Phil bel eers Woensdagoggend. Ondanks sy verduideliking dat hy Maandagaand ’n konferensie moes bywoon, Dinsdag weer Wildernis toe moes ry en nie die tyd gehad het om haar vroeër te kontak nie, voel sy wrewelrig.

“Toe maar, ek was Maandag- en Dinsdagaand net so bedrywig,” betaal sy hom in eie munt terug, “en ek het vir vanaand ook ’n afspraak.”

“Dan is ek bly, want nou hoef ek nie skuldig te voel oor ek jou verwaarloos het nie.”

Sy antwoord neem die wind uit haar seile. Minstens het sy verwag hy gaan jaloers probeer vis met wie sy ’n afspraak het, pleks daarvan om ewe luiters aan te kondig dat hy bly is sy loop saans rond.

“Wanneer sien ek jou weer?” Dis al waaraan sy kan dink om te sê.

“Ek het gedink om vanaand ’n draai te kom maak, maar jy sê mos nou jy gaan nie tuis wees nie. Kom ons hou dan maar by Vrydagaand.”

“Ek kán vanaand se afspraak kanselleer of aanskuif?”

“Nee wat, ek wil nie ongerief veroorsaak nie. Vrydagaand gaan ek vir ons by ’n hotel inboek. Ons kan nie so aangaan nie. Ek mis jou ontsettend baie. Ek wil jou soet lippe soen, die rondings van jou lyf …”

“Wag nou, Phil. Ek sit hier by die werk. Jy kan nie sulke praatjies maak nie.”

“Wel, dink solank daaraan. Ek kom laai jou halfsewe op sodat ons genoeg tyd het om te gesels en ’n rustige aand deur te bring.”

“Hier kom ’n kliënt. Totsiens,” bring sy summier ’n einde aan die gesprek.

Sy staar peinsend voor haar uit. Hy het vantevore ook al soortgelyke goed vir haar gesê, maar dan was hulle in die privaatheid van haar woonstel. Hoekom voel sy meer gebelg as gevlei?

Haar kennis van mans is hoofsaaklik beperk tot ’n paar pêlle saam met wie sy gaan fliek, uiteet, of doodgewone alledaagse dinge gedoen het. Liefde was nog nooit regtig ter sprake nie. Is dit maar verliefde mans se manier om só met hul meisies oor ’n telefoon te praat? Sy hou glad nie daarvan nie, want dit skep die indruk by haar dat seks al is waaraan hy dink wanneer hy met haar praat.

Die fout lê by haar, besluit sy Donderdag op kantoor. Sy ken Phil immers goed genoeg om te weet vleitaal is sy manier om haar te laat verstaan hoe lief hy haar het. ’n Hotelkamer is ten minste ook veiliger as ’n piekniekplek in ruigtes waarvandaan hulle bekruip en aangeval kan word wanneer hy haar wil vra om te trou.

Die nag is sy egter weer in totale vertwyfeling toe sy aan die dominee se preek oor losbandigheid dink, en ook aan Gertruida se woorde: “Hy was net agter my lyf aan.” Hoekom is Phil so gedetermineerd om altyd alleen met haar te wees? Is daar dan nie ook ander maniere hoe hy sy liefde vir haar kan bewys nie?

Santjie het ’n kêrel en sy woon ook alleen in ’n woonstel, maar Deon kuier nie altyd net by haar in die woonstel nie. Hulle gaan gereeld fliek, uiteet of na gesellighede.

Miskien moet sy Phil toets, en kyk wat sy reaksie is as sy weier om saam met hom hotel toe te gaan.

Toe hy Vrydag bel, begewe haar moed haar egter. Al waaraan sy kan dink om die hotel-storie te omseil, is om voor te gee dat sy siek is. “Ek is jammer, Phil, maar ek voel glad nie goed nie. Van vanoggend af al is ek koorsig en dronk in die kop.”

“Is dit verkoue?”

“Ja, of nee, ek is nie seker wat dit is nie. Ek voel net goor. Miskien moet jy die bespreking by die hotel liewer kanselleer. Dit kan enigiets wees.”

“Jy het nie dalk aangesteek by iemand wat siek is nie?”

“Dit kan wees, ja,” gryp sy dadelik na uitkoms. “Noudat jy dit noem, een van my vriendinne het griep gehad, en ek het nou die aand by haar gaan kuier.”

“Dit is nou jammer, maar ek sal probeer om môreoggend ’n draai by jou te maak. Ek sal egter eers bel, want ek kan nie bekostig om nou griep of watter siekte ook al te kry nie.”

Suzanne weet nie hoe sy dit met haarself het toe sy die aand huis toe ry nie. Hoekom voel sy verlig en nie eens skuldig oor haar leuen nie? Is haar liefde vir Phil dalk aan die taan? Tog kan sy haar nie ’n lewe sonder hom voorstel nie, want wat bly daar dan oor om na uit te sien?

“Herman kom weer vanaand hier eet,” kondig Gertruida aan toe Suzanne die deur oopmaak.

“Gaan dit nou ’n vaste gewoonte raak dat hy elke aand hier kom eet?”

“Waarvan praat jy? Hy eet mos nie elke aand hier nie. In elk geval is hy baie nuuskierig om Flip te sien.”

“Ek wens tannie wil leer sy naam is Phil en nie Flip nie! In elk geval sal Herman sy nuuskierigheid maar moet los, want Phil kom nie vanaand kuier nie.”

“Moet hy werk?”

“Nee. Ek het hoofpyn en het gevra dat hy nie moet kom nie. Vir al wat ek weet, het ek dalk ’n aansteeklike siekte. Santjie het onlangs griep gehad, en ek het haar gesoengroet toe ek daar was.”

“Jy lyk en klink vir my gesond. Oorreageer jy nie dalk nie?”

“Ek weet nie, maar ek gaan nie kanse waag nie. As tannie nie omgee nie, gaan ek nou maar kamer toe. Jy hoef ook nie vir my moeite met kos te doen nie. Ek is nie honger nie.”

“Gaan jy nie saam met my en Herman eet nie?”

“Nee, ek wil julle nie ook siek maak nie. Ek werk nie môreoggend nie. Suurpruim, agge, juffrou Brink, het met my geruil, want sy wil graag volgende Saterdag haar vry dag neem.”

“Suurpruim?”

“Dis ’n oujongnooi wat daar by ons werk. Sy verkla al wat leef en beef en is bang haar lippe sal bars as sy dalk lag.”

Suzanne is al in die bed toe sy ’n geklop aan die voordeur hoor. Sy spits haar ore.

Nee, dis maar net Herman wat opgedaag het. Toe hulle kombuis toe gaan en die stemme vervaag, tel sy die tydskrif op wat sy op pad van die werk af gekoop het, maar haar gedagtes spring rond en bont totdat sy by ’n artikel kom waar mense oor hul persoonlike probleme aan ’n berader skryf.

Die eerste brief trek haar aandag.

Ek wonder of my kêrel my aan ’n lyntjie hou? Hy sê wel dat hy my liefhet, maar dit gebeur net wanneer ons saam in die bed is.

Ons gaan al ses maande uit, maar hy het nog nooit vir my ’n geskenk gegee nie, ook nie eens met my verjaardag nie. Hy praat ook nie van verloof raak en trou nie. Wanneer ons gaan dans, sal hy dalk twee keer met my dans, en die res van die aand dans hy met ander meisies. Hy sê as ons net met mekaar wil dans, kan ons dit sommer by my ouers in die sitkamer doen.

Ek het ook al agtergekom sy klere ruik soms na parfuum, en dis nie die soort wat ek gebruik nie. ’n Week gelede het een van my vriendinne my vertel sy het hom saam met ’n ander meisie in die park gesien, en hulle het soos verliefdes gelyk. Toe ek hom konfronteer, het hy gesê hy het saam met sy niggie gaan draf, en my van jaloesie beskuldig. Ek voel of ek misbruik word. Wat moet ek doen om seker te maak hy is regtig lief vir my?

– Sagmoedige Twintigjarige

Suzanne laat sak die tydskrif.

Skielik weet sy nie so mooi of sy die berader se antwoord wil lees nie. Aan die ander kant gaan sy en Phil nog net drie maande uit. Hy weet nie eens wanneer sy verjaar nie. Sy het darem nog nooit stories oor hom gehoor nie. Hulle het ook nog nooit gaan dans nie. Tog voel dit asof sy haar kan vereenselwig met die meisie se gevoel dat sy misbruik word.

Liewe Sagmoedige Twintigjarige

Ek gaan nie doekies omdraai nie. Jy het oorgenoeg rede om bedenkinge oor jou kêrel se opregtheid te hê.

Jy moet dit oorweeg om met ander mans bevriend te raak. Jy sal sien dat iemand wat jou regtig waardeer, nie jou tyd gaan mors nie. Belangriker nog, hy sal nie sy tyd en aandag aan iemand anders wil wy nie.

Dit deug nie om voort te gaan met ’n verhouding waarin jy voel jy word misbruik nie. Jy is dit aan jouself verskuldig om jou jonkheid te geniet en nie altyd oor iemand se lojaliteit bekommerd te wees nie.

Soos sy te wagte was, is die berader se antwoord allesbehalwe bemoedigend.

Haar omstandighede is darem heeltemal anders as dié van die meisie, soek Suzanne verskoning. Phil se klere het nog nooit na parfuum geruik nie. Inteendeel, hy het haar al gevra om nie sterk parfuum te gebruik nie, want dit laat hom nies. Al rede wat sy het om oor te kla is dat sy werk hom so besig hou dat hulle mekaar min sien, en nooit naweke nie. Aan die ander kant verkies sy tog sekerlik ’n man met ambisie bo iemand wat te lui is om hard te werk.

Hoekom voel sy dan so omgekrap?

’n Kloppie aan haar kamerdeur laat haar die tydskrif gou toemaak. “Kom maar binne, tannie.”

Dis egter Herman wat die kamer binnekom. “Nou toe, is jy behoorlik deur die siekte platgeslaan?”

“Is jy nie bang jy steek aan nie?”

“Nee wat. Ek sal kan doen met ’n bietjie siekverlof. Hier, ek het vir jou sjokolade gebring.” Hy sit die boksie op die spieëltafel neer.

“Dankie. Miskien moet jy vir die meisie wat nie jou blomme wou aanvaar het nie, ook sjokolade koop. Dalk is sy allergies vir blomme.”

“Sover ek weet, is sy nie allergies vir blomme nie, en ek hét vir haar sjokolade gekoop.”

“Het sy dít darem aanvaar?”

“Ja.”

“Hoe lank ken jy haar?”

“So ’n paar maande.”

“Shame. Dan het ek nie veel hoop vir jou nie. By wie was jy nou die dag toe jy so blinkoog vir ons kom vertel het van die afspraak wat jy het?”

“O, dít! Ek was genooi na ’n universiteitskennis se verjaardagpartytjie toe. Ons het mekaar jare laas gesien.”

“Ek het gedag die afspraak was met ’n meisie.”

“Sy is toevallig ’n meisie.”

“O. Is dit die een wat jou nie wil raaksien nie?”

“Nee.”

“Moet jy dan nie maar liewer by die universiteitsvriendin aanlê nie?”

“Ek sal dit nie waag nie. Haar man sal my foeter.”

“Jy kan darem snaaks wees, weet jy! Hoekom het jy nie van die begin af vir my gesê sy is ’n getroude vrou nie?”

“Jy’t my nie gevra nie. In elk geval, tannie Gertruida het gesê ek moet jou vra of jy iets sal eet?”

“Ja, maar nie baie nie. Ek is nie honger nie.”

Dis weer Herman wat ’n rukkie later vir haar ’n skinkbord met kos bring. “Jy moet maar eet sover jy kom. Jou tannie het opgeskep, en sy ken nie ’n maat nie.”

“Ja-nee, dis ’n allemintige klomp kos. Ek sal maar kyk hoe ver ek kom.”

Dit is ook hý wat weer later die skinkbord kom haal. “Ek sien jy het darem goed geëet,” sê hy toe sy die skinkbord met die leë bord vir hom aangee.

“Tannie Gertruida hou nie daarvan ’n mens moet kos mors nie,” is die enigste verskoning wat sy kan aanvoer, want sy het nie eens agtergekom sy het alles verorber nie. Dit was oor sy aan ander dinge gedink het. Aan die sagmoedige meisie van die artikel wat voel sy word misbruik. Dit sou tog goed gewees het as sy en Herman mekaar kon ontmoet het. Dalk is sy die soort meisie wat hy soek.

“Waarmee hou jy jou besig? Het jy iets om te lees?”

“Ja, dankie. Ek het genoeg leesstof.”

“Enigiets anders wat ek vir jou kan doen?”

“Niks op die oomblik nie, dankie.”

“Dan sê ek maar goeienag, en lekker slaap.”

“Jy ook.”

Herman is nie ’n onaardige ou nie. Nie onaantreklik nie, maar ook nie die aantreklikste wat sy al gesien het nie. Hy lyk meer soos ’n boer as soos ’n onderwyser. As sy hom moet opsom, sal sy sê hy lyk ietwat grof met sy ruie wenkbroue, groot hande en die dik bos swart hare wat lyk asof ’n kam niks daaraan kan doen nie.

Sy sien hom nou nie elke dag nie, maar die paar keer wat sy hom ordentlik aangetrek gesien het, kan sy omtrent op haar vingers tel. Net kerk en skool toe. Verder boer hy in ’n ou verslete sweetpak. Maar hy is ’n rustige man, en sy glo hy het ’n goeie hart. Dit sou regtig gaaf gewees het as hy en die briefskrywer by mekaar kon uitgekom het.

Op liefde se drumpel

Подняться наверх