Читать книгу Ena Murray Omnibus 36 - Ena Murray - Страница 6
Оглавление3
Zak beweeg die trappie op en kom staan voor haar. Sy moet haar kop agteroorgooi om hom in die oë te kan kyk.
“En wat presies beteken dit?” vra hy sag, sy oë stip.
Die glimlag is nog steeds om haar lippe, maar die groen oë lag beslis nie saam nie. “O, net dat ek u eintlik op ’n troon verwag het, septer in die hand, die lot.”
Sy oë flits ’n gevaarsein uit, maar voordat hy iets daarop kan sê, roep ’n vrouestem van binne af. “Waar is sy, Zak? Ek kan nie meer wag om haar te ontmoet nie. Bring haar in.”
’n Oomblik lank bly hul oë nog uitdagend kragte meet. Dan grim hy effens en met ’n sarkastiese buiging staan hy opsy en sê gedemp: “Stap binne, juffrou Cilliers. U is ten spyte van u swak maniere, nog steeds welkom op Rocklands. Ek hoop u sal u verblyf hier geniet, ondanks my onaangename teenwoordigheid. Ons sal ter wille van my ma ’n vriendelike front in haar teenwoordigheid moet probeer handhaaf. Ek wil haar nie graag ontstel nie.”
Sy verstyf by die aanhoor van sy reguit woorde en antwoord kil: “Natuurlik. Dis vanselfsprekend.”
’n Ferm hand druk haar by die voordeur in en haar blik val op ’n fyn vroutjie wat haar vanuit ’n rolstoel met gretige oë sit en betrag. Dis duidelik van wie meneer Zak sy diepblou oë geërf het, maar anders as syne, is hare oop en vriendelik, en nie bederf deur allerhande versluierde emosies nie.
Sy slaan haar hande saam en roep opgewonde: “O, maar sy is pragtig, Zak! Kom hier, my kind, dat ek jou kan groet.”
Isolde staan versteen. Meer as ooit tevore besef sy dat dit gemeen is om so ’n mens te bedrieg, al is dit ook net vir ’n klein tydjie en vir ’n goeie doel. Noudat sy Kobus se ma gesien en in haar vriendelike oë gekyk het, en ná so ’n gulle ontvangs, weet sy dat sy onvergeeflik teenoor haar oortree. Maar dis te laat om enigiets daaraan te doen, want ’n stewige hand agter haar rug druk haar effens vorentoe. Sy buk af en voel ’n paar sagte lippe teen haar voorkop druk. ’n Paar fyn, ou hande vou oor hare en die diepblou oë kyk haar innig aan.
“Ek is so bly jy kon kom, Martina. Ek was omtrent opgewonde vandat Kobus ons van jou vertel het. Ek is so teleurgesteld dat hy nie saam met jou kon kom nie, maar ek en Zak sal ons bes doen om jou tuis en gelukkig hier by ons te maak, nè, Zak?” Sy frons effens terwyl sy na die deurmekaar rooi krulle en die stof op die fyn gesig kyk, en Isolde vee selfbewus met haar een hand oor haar hare.
“Ek is jammer ek lyk so ... verwaaid en slordig, tannie. Die ... die wind was ’n bietjie sterk op pad hierheen.”
Die ou dame kyk fronsend op na haar seun. “Waarmee is sy dan op die stasie gehaal, Zak? Tog nie met die jeep nie!”
Isolde sê vinnig: “Dis niks, tannie. Ek het die rit vreeslik geniet. Daar is geen skade berokken wat seep en water nie gou weer kan regmaak nie.”
Sy kyk bestraffend na haar oudste seun wat met ’n onpeilbare gelaat die toneel staan en betrag. “Die arme kind is doodmoeg. Skaam jou, Zakkie.”
Sy breë skouers word ongeërg opgetrek en die sardoniese krul om sy lippe vertel Isolde dat dit hom die grootste plesier sal verskaf om haar die hele ent pad weer in die oop jeep terug te neem.
“Jammer, Ma, maar dit kon nie anders nie.” Hy kyk af na die meisie wat nog steeds gehurk voor die ou dame sit. Die oë wat hare vlugtig ontmoet, is nou staalblou. “Miskien is dit ’n goeie ding dat sake vandag so uitgewerk het. Martina sal ons lewe moet leer ken en besef dat dit ’n harde wêreld is. ’n Mens moet die stof en hitte en winde kan verduur, of jy sal bitter swaar kry. Maar u is verniet so bekommerd oor haar. Ons Martina is sterk. Ystersterk.”
“Almiskie. Ek wil nie hê Kobus se bruid moet sleg van ons dink nie.”
“O, asseblief, tannie, dis alles reg.” Sy glimlag met die ou dame. “Zak het natuurlik reg. Hoe gouer ek hierdie wêreld in al sy fasette leer ken, hoe beter, nè? En sy mense ...”
Die ou oë kyk haar liefdevol aan. “Ek kan nou verstaan hoekom Kobus halsoorkop op jou verlief geraak het. Jy is nie net pragtig nie, maar ook dierbaar. Ek is so jammer ons moes iemand stuur om jou op die stasie te kry, maar Zak is op die oomblik baie besig, en my ou hart was die afgelope paar dae weer ’n bietjie onstuimig. Toe wou hy natuurlik nie daarvan hoor dat ek moet saamry nie.”
Zak tree vinnig nader. “En nou moet u eers weer ’n bietjie gaan rus. Die opgewondenheid van die afgelope dae het u glad nie goed gedoen nie. Martina kan solank gaan bad en haar tuis maak en u kan haar weer vanmiddag verder leer ken.” Sy stem is beslis en die ou dame glimlag met Isolde.
“Zak is baie streng met my en keer altyd dat ek my nie ooreis nie. Hy is ’n dierbare seun. Maar ek moet sê ek voel ’n bietjie moeg. Ek was so opgewonde oor jou koms dat ek nie so goed soos altyd kon rus nie. Nou sal ek kan, noudat ek jou gesien het en weet dat my seun ’n goeie keuse gedoen het. Sal jy my verskoon, hartjie? Ons kan weer vanmiddag verder gesels. En dan moet jy my alles van jouself vertel, hoe jy en Kobus ontmoet het en al daardie dingetjies, hoor?”
“Seker, tante,” antwoord Isolde met ’n toegetrekte keel.
“Gaan bad jy nou en rus ’n bietjie soos Zak gesê het. Selfs ék praat nie teë as Zakkie iets só beslis sê nie,” lag sy goedig. “Maar moenie jou om die bos laat lei nie. Eintlik het hy ’n baie klein hartjie, nè, my seun?”
Haar seun glimlag vlugtig op die grys kop af en draai dan die rolstoel beslis om. In daardie glimlag sien Isolde die wedersydse verering tussen moeder en seun en haar keel trek nog meer toe. Zak Coetzenbergh gaan haar afslag en biltong van haar maak as hy van haar bedrog moet uitvind. Hy sal niemand wat sy ma bedrieg ongedeerd daarvan laat afkom nie. En wat Kobus se ma betref ... Haar oudste seun se woord is wet. Dis duidelik.
Sy staan nog op dieselfde plek toe hy terugkeer. “Kom, ek gaan wys jou jou kamer en die badkamer.”
Sy loop soos ’n mak skaaplam agter hom aan terwyl sy eerder daarna voel om suutjies om te spring en te voet terug te hardloop Skoonspruit toe.
Hy staan opsy toe hulle haar kamerdeur bereik. Sy stap binne en draai dan om. Hy staan in die deur, arms gevou. Weer hou hul oë mekaar gevange.
“Jy is uitermate vyandiggesind teenoor my. Is jy werklik só kwaad omdat jy in ’n jeep hierheen aangery is, of het daardie oujongnooisuster van jou jou so teen my vergiftig?”
Isolde voel haar nekhare rys. Haar ken druk uit. “My suster het my vertel van jou ... van julle gesprek oor die telefoon.”
“Hmmm. Ek begryp.” Sy oë flikker. “Hoe oud is sy, daardie suster van jou? Sy is ’n oujongnooi, dan nie?”
“Ja, sy is seker. Maar sy is beslis heelwat jonger as jy.”
Hy glimlag skielik. “En hoe oud is jy, Martina?”
Teen wil en dank voel sy ’n blos teen haar wange opstoot wat in die rooi van haar hare verdwyn. Hy lag saggies, geamuseer. “Ek begryp. ’n Dame is altyd fyngevoelig oor haar ouderdom ... veral as dit al ’n entjie begin aanstap het. Maar ek weet natuurlik hoe oud jy is. Kobus het my vertel. Maar ek moet sê, vir een en twintig lyk jy besonder ... sal ons dit maar volwasse noem?”
Die woedeliggies dans in die groen oë. “Ek het myself nog altyd as volwasse beskou, ja.”
“Ek het gesê jy lyk volwasse vir een en twintig. Dit volg nie vanselfsprekend dat jy dit is nie. Jou houding tot dusver bewys ongelukkig net die teenoorgestelde. Dis jammer. Kobus het ’n volwasse vrou nodig. Tot dusver kwalifiseer jy beslis nie. Maar ek sal redelik wees. Ek sal jou ’n kans gee. Daar is natuurlik altyd die moontlikheid op verbetering as ’n mens wil – en ek veronderstel jy wil met my broer trou?”
Isolde voel sy kan hom te lyf gaan. “Ja, ek wil, en gelukkig is dit net ’n saak tussen my en Kobus.”
Hy glimlag lui. “Dis waar jy die fout begaan. Dis ’n saak tussen jou en Kobus én my. Sonder my goedkeuring is dit neusie verby wat my broer betref, behalwe natuurlik as hy bereid is om sy erfenis vir jou in te boet.”
Daar is nie woorde wat Isolde se gevoel op hierdie oomblik kan beskryf nie. Die groen oë vertel hom presies wat sy van hom dink en toe kry sy eindelik haar asem terug. “Jy is in lewende lywe nog onsmaakliker as oor ’n foon.”
Dit amuseer hom net, te oordeel na die glimlag om sy lippe, maar sy blou oë kyk koel terug in die onstuimige groenes.
“Elke mens het die reg op sy opinie. Noudat ek jóú in lewende lywe gesien het, vertrou ek die skielike brandende liefde wat tussen jou en Kobus ontspring het, nog minder. Ek is nou meer oortuig as ooit dat my onervare broer in die kloue van ’n Johannesburgse fortuinsoekster beland het.”
Die skerp intrek van haar asem is duidelik hoorbaar. “Hoe durf jy ... Ek kom in elk geval nie van Johannesburg af nie, maar al het ek ook, gee dit jou nie die reg om so beledigend te wees nie.”
“Skoonspruit is so te sê in Johannesburg en dis beter as ons mekaar van die begin af goed begryp en weet waar ons met mekaar staan. Volgens my mening is jy gans en al nie die vrou vir Kobus nie. Wat weet ’n man van een en twintig in elk geval wat hy van die lewe wil hê?”
“En jóú mening is al wat tel, nie waar nie?” sê sy bitter en so ongelukkig dat sy kan sterf. Haar arme sussie! Hoe sal sy ooit geluk vind met ’n swaer soos hierdie monster?
Sy stem bly steeds gevaarlik emosieloos. “Nee, ek sal dit nie sê nie, maar ek het ’n plig teenoor my broer wat ek van plan is om uit te voer. Kobus is jonk en onervare en jy weet dit. Ek moet hom teen homself beskerm. Kobus is my ma se baba, en sy sal dit nooit oorleef as hy ’n ongelukkige huwelik moet hê nie, of ’n vrou wat haar glad nie by ons kan aanpas en inpas nie.”
“Jy is die redelikste mansmens met wie ek al ooit te doen gekry het,” laat sy sarkasties hoor, en sy wenkbroue spring omhoog.
“Dan erken jy dat jy al ’n goeie klompie ervaring met my geslag agter die rug het?” sê-vra hy en sy stamp haar voet uit skone radeloosheid.
“Ek erken niks van die aard nie. Jy verdraai my woorde om jou eie ego te streel, dat jou opsomming van my reg is.” Sy swaai haar van hom af weg en kyk deur die venster, maar op hierdie oomblik sien sy niks van al die mooiheid raak nie. “Hierdie gesprek bring ons nêrens nie.”
“Nee, ons moet dit liewer staak. Dit word al meer openbarend.”
Sy hoor hom wegstap, en sy byt hard op haar tande. Sy sál nie huil nie! Sy sal daardie ... daardie bees nie die satisfaksie gee dat hy haar tot trane gedwing het nie!
Terwyl sy in die bad lê, glimlag sy wrang. Haar regverdigheidsin laat haar nie wegkruipertjie met haar gewete speel nie. Sy weet sy is skuldig en dat haar houding aanleiding gegee het daartoe dat haar ontmoeting met Zak Coetzenbergh op ’n totale mislukking uitgeloop het. Sy moes haar humeur beteuel en niks laat blyk het toe sy vol sweet en stof hier op Rocklands aangeland het nie. Maar sy kon haarself nie help nie. Die spanning van die afgelope tyd, en toe nog die onsmaaklike rit plaas toe, het iets in haar laat meegee die oomblik toe sy meneer Zak soos ’n hooghartige koning na haar aangestap sien kom het.
Haar skuldgevoel word al groter. Sy is hierheen gestuur om die pad vir Martina en Kobus oop te maak. Sy moes die Coetzenberghs kom mak maak, soos Martina dit gestel het, en in plaas daarvan het sy sommer met die intrap die grootmeneer van Rocklands nog verder die harnas ingeja. Sy opinie van sy aanstaande skoonfamilie het sekerlik ná dese ’n laagtepunt bereik, en sy wonder of enigiets dit verander sal kry.
Wat het jy aangevang, vra sy haar spieëlbeeld af terwyl sy die deurmekaar hare uitkam. Die groen oë in die spieël kyk ontevrede na haar terug. Sy is die laaste een wat Martina moes gestuur het om hierdie mens – as jy hom onder daardie spesie kan klassifiseer – te kom beïndruk. Haar oë is te groen en haar hare te rooi. Sy kon vooraf geweet het sy sal van alles ’n gemors kom maak, want sy sal haar nie deur hierdie mansmens laat domineer nie.
Haar gesig versober verder. Ja, dis hoekom sy nog steeds op ses en twintig op die rak sit. Haar humeur en haar onafhanklikheid het haar al redelik diep op die rak ingeskuif. Mans hou van ’n vrou wat ja en amen sê op alles. Dit laat hulle groot en sterk en manlik voel.
Sy trek haar skouers op. So ’n vrou sal Zakkie natuurlik vir homself wil hê, en ook vir sy kleinboet. En hier kom sy en laat hom goed verstaan sy is nié een van daardie soort nie.
Ai, wat het haar ooit besiel om tot hierdie vergesogte plan in te stem? Sy is bevrees dat die baas van Rocklands nie eens gaan toelaat dat Martina haar voete op die plaas sit nie. En sy self ... Haar hart klop benoud. Sy gaan beswaarlik met haar lewe uit hierdie ding kom. As Zak Coetzenbergh net die vaagste snuf in die neus moet kry hoe die vurk werklik in die hef steek, sal hy ... Sy wil liewer nie dink wát hy alles sal doen nie.
En hy het klaar ’n vermoede dat alles nie pluis is nie, dink sy onrustig. Hy is reeds oortuig dat sy oor haar ouderdom jok. Hy is nie ’n uilskuiken nie. Dit moet sy hom toegee. Sy waarneming is baie fyn, en sy sal moet ligloop.
Isolde frons. Tot hiertoe het sy nog nooit ’n man ontmoet vir wie sy bang was nie, of wat sy gevoel het werklik haar meerdere is nie. Maar sy het nou daardie gevoel, en dis vir haar vreemd. Sy kon haar man nog altyd staan teenoor die ander geslag. Maar hierdie Zak ... Sy voel onseker van haarself en dit laat haar ergernis nog hoër styg.
Haar ken druk vanself uit. Sal sy haar van hierdie man laat onderkry? Wie is hy eintlik? En tog ... tog het sy so ’n nare gevoel dat sy dalk hierdie keer ’n man raakgeloop het in wie sy haar tier gaan kry.
Sy ruk haar skouers agteroor, maar die groen oë is nie meer heeltemal so selfversekerd nie. Sy onthou meteens wat een van haar vorige vriende eenkeer vir haar gesê het toe hy, ná vele vergeefse pogings, maar die aftog geblaas en vir hom ’n ander vrou gaan soek het. Hy het gesê: “Jy, Isolde Cilliers, gaan nog op ’n dag ’n man teëkom wat jou meerdere gaan wees en hy sal jou mak maak, jou rooihaar-, groenoogrissie.”
Toe het sy hom openlik uitgelag. “Daar bestaan nie so ’n man nie.”
Sy het haar vererg. Fred Jacobs is ’n swak verloorder, het sy toe gedink. “Jy sal nooit dáárdie voorreg hê nie, ou vriend. Ek laat my nie mak maak nie. Verder – as jy ’n vrou soek wat moet ja en amen sê op alles en soos ’n skoothondjie moet draf vir elke gril en gier, gaan soek haar elders, nie in hierdie woonstel nie. Ek het ’n persoonlikheid van my eie en dit sal die dag wees as ek net die skaduwee van ’n man moet word.”
“As jy so aanhou, sal jy nooit ’n man kry nie,” het hy volgehou.
Die groen oë het pragtig in hul verontwaardiging na hom opgeblits. “Dan bly ek sonder man, dankie. Ek kan na myself kyk. Tot hiertoe het ek heeltemal goed klaargekom.”
“Juis, maar daar gaan ’n dag kom dat jy gaan besef dat jy tog afhanklik is van ’n man.”
“Dit sal ons maar moet sien, Fred. Tot dusver het ek eerlik nog geen gemis gevoel nie,” het sy hooghartig geantwoord en Fred het gemaak dat hy wegkom voordat hy te veel kwytraak.
Isolde dink nou skielik aan daardie gesprek en sy roer rusteloos. Fred het gelyk gehad. Haar suster se geluk het haar tot hierdie besef gebring. Daar is dinge in die lewe wat net ’n man vir ’n vrou kan vervolmaak. Daar is dinge waarin ’n vrou afhanklik van ’n man is, al is sy ook hoe onafhanklik in ander opsigte. Die geluk in Martina se oë het haar vertel dat haar sussie iets gekry het wat haar ouer suster nog nooit gesmaak het nie en haar onafhanklike leefwyse het meteens baie vaal en oninteressant teenoor Martina se geluk vertoon. Sedertdien het Isolde baie beslis ’n gemis in haar eie lewe begin agterkom.
En toe stuur hulle haar Rocklands toe om Zak Coetzenbergh te kom mak maak. Asof daar ’n vrou kan bestaan wat daardie ... ding sal mak kry! As sy nie ligloop nie, gaan sy die een wees wat mak gemaak word.
Toe Isolde daardie middag by die ou dame gaan plaasneem, sommer in haar kamer waar sy nog ’n bietjie rus, besef sy dat sy ook hier in haar pasoppens sal moet wees. Kobus se ma ly aan ’n swak hart en is so te sê ’n totale invalide, maar haar verstand is skerp en die blou oë wat so baie aan dié van haar oudste seun herinner, is wakker.
“Vertel my nou alles van jouself. Van hoe jy en Kobus ontmoet het.”
Die vrae reën op Isolde af en sy doen haar bes om almal bevredigend te beantwoord, hoewel sy elke woord eers twee keer oorweeg voordat sy iets sê.
“O, jy sê jou suster se naam is Isolde? Wat ’n pragtige naam. Is sy ook so pragtig soos jy?”
Isolde glimlag verleë. Die ou tannie se bewondering vir haar skoonheid is so opreg dat sy nie daaraan kan twyfel nie. “Sy is baie mooier as ek. Sy het nie hierdie aaklige rooi hare nie, maar is donker en fyner as ek.”
“Maar kind!” Sy is opreg geskok. “Jy het nie aaklige rooi hare nie. Dis te pragtig! So besonders. Ek is so bly Kobus gaan ’n rooikop Rocklands toe bring. Hier was nog nooit ’n rooikop op Rocklands nie. Jy sal die eerste een wees. Jy weet, die eerste oomblik toe my oë op jou geval het, het ek gedink, o, maar sy sal pragtig hier op die groen grasperke met haar rooi kop lyk. Jy pas so volkome hier in die prentjie in, Martina.”
Isolde sluk. Laat u seun dit hoor, is sy lus om te sê, maar swyg liewer. Asof dit telepatie is, stap hy op daardie oomblik die kamer binne.
“Wat sal volkome in die prentjie pas?” wil hy dadelik weet, en sy niksvermoedende ma herhaal wat sy so pas gesê het. “Dink jy nie ook so nie, Zak? Daardie groen oë van haar pas by die groen grasperke en in die herfs sal die populierblare dieselfde roesrooi as haar hare wees. Dis of sy gemaak is vir Rocklands.”
“Mmmm.” Isolde voel sy kan in die aarde sink en weier om haar oë na hom op te slaan. Sy hand kry egter haar hare beet en hy trek haar kop agteroor. Sy is verplig om in die duiwelse glinstering van sy oë op te kyk.
“Nogal ’n goeie vergelyking, Ma. Sy sal nogal nie sleg onder ’n herfsgetinte boom lyk nie. Maar soms speel ’n mens se verbeelding jou parte en stel jy vir jou ’n ding mooier voor as wat dit werklik is. Ons sal maar tot die herfs moet wag om te sien of sy aan die droombeeld reg laat geskied. Maar dit erken ek darem: Haar oë ís so groen soos Rocklands se grasperke.”
Sy probeer ongemerk haar kop van sy woelende vingers af wegkry, maar ’n moedswillige duiwel het skielik op sy skouer kom sit. Hy weier om sy hand weg te trek en gaan familiêr voort om met sy vingers deur die rooi drade te woel. Dan gee hy dit ’n stewige pluk wat haar ’n vinnige “eina!” laat uitroep.
“Jammer. Ek wou net seker maak of dit werklik jou eie is en nie miskien ’n pruik nie.” Hy neem teenoor haar plaas en sy oë terg haar openlik, en sy skielik veranderde houding maak haar nog meer senuweeagtig. Sy wens die man wil gaan werk. Het hy nie ’n groot plaas om te bestuur nie? Maar hy het blykbaar besluit om ook te bly vir die ondervraging en strek hom gemaklik uit.
“Goed, Ma. U kan maar voortgaan. Ek wil ook weet.”
Sy ma kyk hom verward aan. “Wat bedoel jy?”
Hy glimlag. “Voortgaan met die inkwisisie. Ek het geweet u gaan hierdie rooikop nou aan ’n deeglike kruisverhoor blootstel, en ek wou dit nie misloop nie. Sien, ek is net so geïnteresseerd om alles van ons aanstaande rooikop te hoor.”
“O, Zak, hou op met terg! Martina sal dink ons is vreeslike mense.”
“As sy dit nie reeds dink nie,” sê hy vlugtig, en glimlag dan weer breed. “Jy het ons nog nie vertel hoe jy en Kobus ontmoet het nie – of het sy Ma al vertel?”
“Nee, nog nie. Hoe hét julle ontmoet, Martina?”
Isolde sluk. “Wel, hy het een aand saam met Richard Latsky daar by die woonstel aangekom.” Sy weet nie hoekom nie, maar dis of sy nie lus voel om Richard se naam voor hulle te noem nie, en die oombliklike frons op Zak Coetzenbergh se gesig vertel haar dat sy nie verniet so voel nie.
“Jy bedoel Richard Latsky van die buurplaas?” Ook die ou dame frons effens en Isolde voel verward. Sy kan iets in die atmosfeer aanvoel wat nie reg is nie.
“Ja, ek veronderstel so. Richard het vertel dat sy ouers ook in hierdie geweste boer.”
“Sy ouers is ons bure.” Zak se stem klink kortaf en sy oë is skerp. “Hoe goed ken julle hierdie Richard? Is julle vriende?”
Sy kyk hom onseker aan en weet nie wat om te antwoord nie. Zak, en so ook sy ma, hou nie van Richard nie. Sy kan dit aanvoel. “Wel ...”
“Ja?”
“Ons ken hom redelik lank. Hy is al lank prokureur op Skoonspruit.”
“Is hy ’n huisvriend van julle? Of iets meer?”
Hy het skielik self die ondervraging oorgeneem en sy kyk hom vererg aan. Goed, as hy dan wil weet ...
“Ja. Hy is my suster se kêrel.”
Daar heers ’n stilte en sy kyk vraend van die een na die ander. Dis duidelik dat hierdie stukkie nuus hulle glad nie aanstaan nie. Dan kyk sy weer vas in Zak se blou oë en lig haar ken uitdagend. “Iets verkeerd daarmee?”
“Ja. Jou suster is ten spyte van die feit dat sy ’n oujongnooi is, blykbaar nie ’n baie goeie mensekenner nie.”
“Ek begryp nie.”
Die ou dame verduidelik vinnig. “Dis nie nodig om jou te ontstel nie, hartjie. Maar ek is bevrees Zakkie het reg. As ek ’n dogter gehad het, sou ek nie graag wou sien dat sy ernstig met Richard Latsky word nie.” Die ou oë lyk ongelukkig. “Dit klink so asof ons wil skinder, Martina, maar ... Richard is nie ’n goeie kind vir sy ouers nie en ... daar was al praatjies in die omloop oor hom.”
“Dit was nie praatjies nie, Ma. Dit is feite. Maar as hy dan so ’n intieme vriend van Martina se suster is, moet ons liewer swyg. Dan het jy en Kobus deur Richard Latsky ontmoet. Ek sien.” Sy stemtoon vertel haar dat dit haar, en dus Martina, in ’n nog slegter lig stel. Dis ook asof hy meteens alle belangstelling verloor, want hy staan op en sê kortaf: “Ek sal vanaand laat terug wees, Ma. Ons gaan na Vaalhoek om ’n pomp reg te maak. Moenie vir my vir ete wag nie.”
Toe hy uit is, heers daar ’n ongemaklike stilte wat Isolde probeer verbreek deur te vra: “Is Vaalhoek ’n ander plaas?”
“Nee, dis deel van Rocklands, maar elke kamp het ’n naam, aangesien die grond so groot is.” Die ou dame kyk haar verskonend aan. “Ek is jammer oor netnou, hartjie. Jy moet dit nie te veel ter harte neem nie. Ek en Zak het nie die reg om ons medemens te oordeel nie. Dis net ... Ag, kom ons vergeet van Richard Latsky en vertel my van ...”
“Nee, tannie. Ek wil nie van hom vergeet nie. Vertel my, asseblief. Wat weet u van Richard af? Hoekom het u gesê hy is nie ’n goeie seun vir sy ouers nie?”
Die ou dame vou haar hande. “Wel, Martina, hy is totaal van hulle vervreemd. Sy ouers hoor nooit iets van hom nie, hy kom hulle nooit besoek nie. En hy is hul enigste seun. Hulle het nog net ’n dogter. Die twee ou mense treur oor hom, maar hy is blykbaar vir hulle verlore. Dis hard vir ’n ouer om jou lewe vir jou kind op te offer en dan so behandel te word. Maar Richard was maar altyd ’n moeilike entjie mens. Hulle het maar altyd probleme met hom gehad.”
“Soos wat, tannie?”
“Ag, hartjie, ek wil liewer nie daaroor praat nie, veral noudat jy sê hy is ’n spesiale vriend van jou suster. Miskien het hy ook intussen verander ...”
“Maar dan moet u my juis vertel, tannie,” sê sy dringend. “Ons ken hom maar net van Skoonspruit se dae af. Ons weet niks verder van hom af nie. Eintlik het ek my verkeerd uitgedruk netnou. Hy is nie ... Isolde se kêrel nie. Hy neem haar maar net soms uit, maar ek weet sy sal nooit met hom trou nie.”
“Ek is bly om dit te hoor, Martina. Nee, hartjie, ek sal niks verder sê nie. Ons praat liewer oor jou en Kobus. Wanneer is julle van plan om te trou?”
Weer skiet die skuldgevoel in haar op, maar sy is verplig om te antwoord: “Ons moet nog besluit.”
“Hy het oor die foon gesê jou ouers is reeds oorlede en dis net jy en jou suster. Dan trou julle uit hierdie huis. Ons sal vir julle die troue gee.”
“O nee, tannie, ons verwag dit nie.”
“Dit sal my grootste plesier wees, hartjie, en ’n voorreg. Ons praat weer later daaroor.”
Isolde is dankbaar toe die ou tannie sê sy wil ’n bietjie rus en sy na buite kan vlug om alleen te wees met haar gedagtes. Daar is baie om oor na te dink terwyl sy deur Zak se pragtige tuin wandel.
Die Coetzenberghs weet iets van Richard af, meer as wat sy weet. Iets wat Zak se lippe in ’n wit lyn laat saampers het en sy ma ontstel om net daaroor te praat. Wat kan dit wees? Sy onthou wat sy vir die ou dame gesê het, dat Isolde nie van plan is om met Richard Latsky te trou nie. En tog is een van die redes hoekom sy vandag hier op Rocklands is juis dat sy hier finaal moet kom besluit of sy Richard se huweliksaanbod gaan aanvaar of nie. Maar ná enkele ure hier op Rocklands weet sy intuïtief wat haar antwoord gaan wees as sy teruggaan.
Sy sal nie meer met hom trou nie. En hierdie keer is dit finaal. Dan bly daar nou nog net oujongnooiskap vir haar oor, dink sy meewarig. Zak het dus nie verkeerd nie. Martina het ’n oujongnooisuster.
Mevrou Coetzenbergh gaan saans vroeg slaap – sy het haar persoonlike bediende, Kaaitjie, wat na haar omsien – en hoewel Isolde die ou dame verseker het dat sy self vanaand graag vroeg in die bed sal wil kom, voel sy nie lus om nou al kamer toe te gaan nie en sy stap op die ruim stoep uit. Maar toe sy die bakkie se ligte met die pad sien aankom, vlug sy vinnig kamer toe. Sy wil so min moontlik in hierdie man se geselskap wees.
Sy is egter net gereed om in die bed te klim, toe daar ’n klop aan haar deur opklink. Sy staan nog en twyfel of sy daarop moet reageer, toe sy sy bevelende stem aan die ander kant van die deur hoor opklink.
“Martina, jou lig brand nog, dus kan jy nie al slaap nie. Trek jou kamerjas aan en kom sit by my in die kombuis terwyl ek eet. Ek haat dit om alleen te eet.”
Die voetstappe sterf weg en Isolde frons vererg. Daar bestaan blykbaar by hom geen twyfel dat daar aan sy bevel gehoor gegee sal word nie. Sy gooi die beddegoed oop en klim in die bed. Wat maak dit aan haar saak as hy dit haat om alleen te eet?
’n Paar oomblikke later swaai haar kamerdeur oop en sy sien sy silhoeët in die deuropening.
“Sit aan die lig. Ek weet jy slaap nie.” Sy gehoorsaam en frons ontevrede toe sy sien hoe hy eiegeregtig haar kamer verder binnestap.
“Wat wil jy hê?” Haar stem klink byna onbeskof, en sy antwoord is weer gevaarlik kalm.
“Geselskap terwyl ek eet. Kom. Opstaan.”
“Maar ...”
Hy hou haar kamerjas vir haar uit en weer is daar daardie krul om sy mond wat haar laat rooi sien. “Moenie maak asof jy te preuts is om voor my in jou nagklere uit die bed te klim nie. Ons is albei ouer as twaalf. Kom. Ek sal, ter wille van Kobus, my oë toehou tot jy jou kamerjas aanhet.”
“Jy is laf, mansmens. Ek gaan g’n nou opstaan om jou geselskap te hou nie.”
“Jy gaan, hartjie.” Die volgende oomblik word die beddegoed blitsvinnig van haar afgetrek en sy voel hoe sy arms onder haar bene inskuif en sy opgelig word.
Haar groen oë peul byna uit. “Jy ... jy ... Sit my neer! Wat dink jy sal jou ma sê as sy ...”
“Ma slaap lankal. Sy neem elke aand ’n slaappil. Hmmm.” Sy blik gaan genadeloos oor haar. “Ek moet sê ek kan my kleinboet nie heeltemal verkwalik dat hy so gou kop verloor het nie. Jy is pragtig, hartjie.”
“Sit my neer, jou gemene ... buffel!”
“Op voorwaarde dat jy soet jou kamerjas sal aantrek en saam met my kom. Anders dra ek jou net so kombuis toe. Daar hang ’n stuk rou riem agter die agterdeur. Ek sal jou sommer daarmee aan die tafelpoot vasmaak. Wel?”
“Probeer jy snaaks wees?” Die groen oë blits asof sy hom wil vermoor.
“Nee. Ek probeer jou net leer om te gehoorsaam. Dis een ding wat jy sal móét leer as jy met Kobus wil trou – om te luister wanneer ek praat.”
“Ek trou met Kobus, nie met jóú nie!”
“Dis waar jy ’n fout maak, rooikop. Die vrou wat met Kobus trou, trou met sy hele familie – en ek is die belangrikste van hulle almal. Dus ...” Hy laat haar grond toe sak. “Trek aan jou kamerjas en kom kombuis toe soos ek gesê het.”