Читать книгу Ena Murray Omnibus 36 - Ena Murray - Страница 7
Оглавление4
Hy sit en wag by die gedekte kombuistafel toe sy stomend van ergernis die kombuis binnestap.
“My kos is in die lou-oond.”
Sy plak dit voor hom neer, en hy kyk op. “Sit hier langs my.”
Sy gehoorsaam soos ’n robot, vou haar hande onder die tafel styf inmekaar en kyk stip voor haar op die tafelkleedjie.
Hy begin rustig eet, en later word die stilte byna onuithoudbaar. Maar sy byt op haar tande. Sy sál dit nie eerste verbreek nie. Dis hy wat geselskap soek, nie sy nie.
Hy skuif sy bord eindelik terug en sit behaaglik terug in die stoel. Dan pen sy oë haar vas, ernstig, bestuderend. “Uit daarmee.”
Sy is verplig om na hom te kyk, verwarring in haar oë. “Waarmee?”
“Wat byt jou?”
Sy sluk, antwoord versigtig. “Niks nie.”
“Komaan, rooikop. Iets pla jou geweldig. Dit skitter in jou groen oë en blink in jou rooi hare. Is dit ek? Wat is daar in my of aan my wat jou so omkrap?”
Die groen oë deurboor hom op hooghartige wyse. “Jy laat my heeltemal koud, meneer Zak.”
“Hmmm.” Die blou oë dwaal oor haar. “Goed. Laat ons dan liewer nie lykskouing hou nie. Maar een ding moet jy goed verstaan. My ma mag onder geen omstandighede ontstel word nie. Wat ook al die oorsaak vir jou afkeer van my, hou dit asseblief onder beheer wanneer jy in haar teenwoordigheid is. Dit sal haar hart breek as jy nie met my oor die weg kan kom nie, want sy sal dan weet dat Kobus se huwelik gedoem is tot mislukking. Ons hoop maar tyd sal hierdie ding uitsorteer en regstel. Kobus sal seker ’n hele ruk weg wees, en in die weke wat kom, hoop ek maar vir sy onthalwe ek en jy vind mekaar.”
“Hoe bedoel jy, Kobus sal ’n hele ruk weg wees?” vra sy vinnig.
“Dis vanselfsprekend. As hy die beeste koop, sal hy moet toesien dat hulle hier kom en dit neem lank. Die goed moet ook nog eers ’n ruk onder kwarantyn kom sodra hulle die land inkom. Ek verwag hom nie voor op die minste oor twee maande terug nie.”
“Twee maande!” Die groen oë is geskok. “Ek kan onmoontlik so lank hier bly. Ek gaan oor drie weke terug.”
“Nee, jy gaan nie. Jy bly hier tot Kobus kom.”
“Maar my werk ...”
“Dit kan gereël word. Jy is ’n onderwyseres, nie waar nie? Ek verbeel my Kobus het so iets oor die foon gesê. Ek sal die nodige reëlings tref. ’n Mens sal wel êrens iemand kry om jou plek in te neem wanneer die skole weer begin. Laat dit aan my oor. Dis afgehandel.”
Sy kyk hom verslae aan, en besef nie dat daar ook skrik in die groen oë weerkaats nie. Dan kry sy haar tong weer terug. “Dis nie afgehandel nie. Ek móét oor drie weke teruggaan. Ek kan onmoontlik langer hier bly.”
Sy tas wild in haar gedagtes rond na ’n rede wat grondig genoeg vir hom sal klink om te aanvaar. Sy durf nie toelaat dat hierdie man hom in haar sake inmeng nie. Hy sal onmiddellik haar bedrog agterkom. Die oomblik dat hy na Martina se skool toe bel, sal hy die waarheid uitvind.
Sy oë rus weer skerp op haar, en dis uit suiwere vrees dat sy losbars. “O, jy is onuitstaanbaar! Jy wil net almal se lewens reël en beheer. Jy los my persoonlike sake doodstil uit, hoor jy?”
“Jou persoonlike sake is nou ook my sake, en ek sal doen wat ek goeddink. Jy bly hier tot Kobus terug is op die plaas.”
“Maar my suster ...”
“Jou suster sal gewoond moet raak daaraan dat jy nie meer daar is nie. Sy is oud genoeg om vir haarself te sorg. Hoe oud is sy?”
“Ses en twintig, maar ...”
“Jonger as wat ek gedink het. Sy het soos ’n regte versuurde oujongnooi geklink. Ek het haar minstens veertig geskat.”
Isolde trek haar asem skerp in. Die vermetelheid van hierdie man! “As jy besig is om my en my suster te beledig ...”
“Kalmeer, Martina. Skink eers vir my koffie in, dan praat ons verder. Daar staan die fles.”
Sy wip op en werk taamlik hardhandig met die koppie en plak dit weer voor hom neer.
“Sit.”
“Ek gaan nou slaap.”
“Sit, Martina.”
Sy voel verbyster toe sy weer op die stoel terugsak. Geen man het al die voorreg gehad om haar op dáárdie toon aan te spreek nie, en nog minder sou enige man dit regkry om haar teen haar sin te laat gehoorsaam. Wat gaan met haar aan vandat sy op hierdie plaas aangekom het? Wie is hierdie vreemdeling wat haar met ’n enkele blik van sy blou oë en ’n sekere stemtoon dwing om hom te gehoorsaam?
Tog bly sy sit, kyk net strak na hom, beskou hom vir die eerste keer met aandag.
Hy is ’n groot man, bonkig. Sy gelaatstrekke is te oneweredig om mooi te wees, maar dis miskien juis dit wat hom so aantreklik maak. Jy kry mos mense wat amper mooi is van lelikheid en hierdie Zacharias is een van hulle. Dis of hy amper te veel van alles het, te veel grofheid, te veel manlikheid, te veel krag en te veel trots en, natuurlik, te veel verwaandheid en eiedunk. Sy oë is ook te blou, besluit sy, sodat hulle hard voorkom, sy mond te streng, sodat dit amper wreed vertoon. Sy kakebeen is te vierkantig, sodat dit ongenaakbaarheid weerspieël.
Sy besef op hierdie oomblik dat sy nog nooit tevore so ’n man ontmoet het nie. Hy behoort tot ’n kategorie met wie sy nog nooit te doen gekry het nie. Daar is iets in hom wat haar vertel dat hy heeltemal genadeloos en selfs roekeloos kan wees as hy te ver gedryf word. Maar terselfdertyd weet sy, het sy reeds gesien hoe hy teenoor sy ma optree, dat hy ook tot tere emosies in staat is. Daar is ’n vae rusteloosheid in hom en ’n gloed in sy oë wat haar vertel dat hy geen halwe maat ken nie. Sy was van die eerste oomblik af in sy slegte boekies, maar sy wonder meteens hoe dit moet voel om in sy goeie boekies te wees ...
Sy ruk haar gedagtes weer tot die hede terug en toe sy in sy oë vaskyk, voel sy ’n gloed teen haar hals opstoot.
Sy stem is op ’n lae toonhoogte – soos dit meestal is. “Ek sal liewer nie waag om jou bevinding te verneem nie. Ek kan in jou oë sien dat dit geensins vleiend is nie.” Toe sy hom net sit en aankyk, glimlag hy skielik en om ’n onverklaarbare rede mis haar hart ’n slag of wat. “Toe maar. Ek het jou ook beskou. Wil jy nie my opinie hoor nie?”
Sy kyk hom vererg aan, maar sy glimlag bly en skielik voel sy nie meer lus om haar man teen hom te staan nie. Nog altyd het sy dit geniet om haar kragte teen dié van ’n man te meet, maar met hierdie een is dit vermoeiend, vind sy ná net ’n paar uur uit. En as Zak glimlag, gebeur daar iets met hom wat die wind onwillekeurig uit jou seile neem. Jou woede en verontwaardiging word soos ’n koek wat platgeval het. Sy kyk op haar hande af en frons weer, haar ergernis nou teen haarself gemik. Van wanneer af word sy deur ’n man se glimlag beïndruk?
“Ons het op ’n slegte voet begin, rooikop. Ons was albei bevooroordeeld toe ons vanoggend ontmoet het. Kom ons begin van voor af. Ek is bereid om alles te vergeet en te vergewe, selfs die verkeerde opinie wat jy van my gevorm het.” Sy kyk vinnig na hom op en hy trek sy wenkbroue omhoog. “Jy hét ’n verkeerde opinie van my, weet jy? Jy sien my as ’n soort diktator wat net wil maak en breek, en dit terwyl Ma jou tog die versekering gegee het dat ek ’n groot man met ’n ou klein hartjie is.”
Voordat sy kan keer, plooi haar lippe. Klein ou hartjie, inderdaad! Maar die spanning is meteens gebreek en sy knik styf. Dit sal beter wees om liewer ’n wapenstilstand met hierdie man aan te gaan, al is dit dan ook net tydelik. Oor drie weke gaan sy tog weg. Hoekom nou hierdie paar dae vir haarself moeilik maak?
“Nou goed. Kom ons begin van voor af,” stem sy in en hy gee haar ’n mooi glimlag wat weer ’n vreemde reaksie in haar veroorsaak, maar sy weier om aandag daaraan te gee. Sy weet tog die glimlag kom nie uit sy hart nie, en dat hy dit maar net doen ter wille van sy ma en Kobus. Maar ter wille van die vrede sal sy hom maar tegemoetkom.
“Gaaf. Dan begin ons van hierdie minuut af. Jy weet, Martina, ek kan net nie begryp hoekom jy met Kobus wil trou nie.”
Dadelik is haar oë weer waaksaam. “Hoekom? Wat is verkeerd daarmee?”
“Baie. Jy is nie die vrou vir hom nie, so min as wat hy die man vir jou is. Julle pas glad nie by mekaar nie.”
Sy beteuel haar humeur en onrus. Hy het so pas kastig ’n wapenstilstand tussen hulle uitgeroep en daar begin hy al weer! Verder het hy natuurlik gelyk. Sy en Kobus pas beslis nie by mekaar nie, maar Martina en Kobus pas honderd persent. Maar natuurlik weet hy nie sy is nie Martina nie en sy durf hom nie laat agterkom dat hy gelyk het nie. O, dis ’n gekompliseerde besigheid! As hy net minder opmerksaam wil wees. Vir haar gemoedsrus is hy gans te skerpsinnig. As sy nie ligloop nie, gaan hy haar binne vier en twintig uur ontmasker.
Haar stem het weer sy effense gemoedelikheid verloor. “Jy kan dit natuurlik sê nadat jy my nog nie eens ’n volle dag ken nie.”
Sy stem bly egter vriendelik. “Natuurlik. Ek ken my broer, en ek weet presies watter soort vrou by hom sal pas, en dis nie jy nie. Jy sal pens en pootjies bo-op sy kop sit.”
Sy is weer so styf en kil soos voorheen. “Dankie. Jy sê die mooiste dinge.”
Hy lag skielik met ’n diep, geamuseerde lag wat haar laat lus voel om hom met die koffiefles te gooi. “Kom nou, rooikop. Jy weet dit is so. Jy het ’n man nodig wat jou kan kortvat en beheer.”
“Werklik?”
“Ja. Want as jy nie so iemand kry nie, sal jy dit binne die eerste huweliksweek uitgil van verveling. Jy sal nooit regkom met ’n man wat jy kan domineer nie.”
Haar groen oë flits weer gevaarlik, maar sy kry dit wonderbaarlik reg om haar stemtoon egalig te hou. “Dis uiters interessant. Gaan gerus voort.”
Hy sit haar deur sy pyprook en betrag, ’n fyn glimlaggie om sy mondhoeke. “Jy is volkome vrou, maar as jy nie die regte man kry nie, gaan jy onuitstaanbaar mannetjiesagtig word, hartjie.”
Sy sluk swaar, en nou bewe haar stem. “My naam is ... Martina.”
Hy haal die pyp uit sy mond en leun effens vooroor. “My ma noem jou hartjie.”
“Jy is nie jou ma nie.” Haar stem is bot en waarsku hom dat die vredesooreenkoms van ’n paar sekondes gelede ’n vinnige dood gaan sterf as hy nie nou ophou nie. Sy gesig versober ook, maar die blou oë bly skerp.
“Goed, rooikop. Ek sal nie weer vir jou hartjie sê nie.”
Sy kyk vinnig weg. Die man moenie dink dat hy haar met lang blikke van daardie blou kykers sal week maak nie. Sy is al ses en twintig. Sy word nie meer so maklik deur blou kyke beïndruk nie.
Tog besluit sy dat sy liewer nou hier moet padgee. Dis genoeg vir een aand. Sy druk haar stoel terug en staan op. “Nou gaan ek regtig slaap. Nag, meneer Zak.”
Hy staan ook op. “Bang om verder te luister?”
Sy trek haar kop agteroor om hom vas in die oë te kyk. “Is daar dan nog? Laat ek hoor dat dit kan klaarkom. Ek is vaak en moeg.”
“Toe maar. Gaan slaap maar. Netnou is jy weer van voor af kwaad vir my. Maar dit was nie iets onvleiends wat ek wou byvoeg nie.”
Sy knip haar oë vererg. Werklik, hy speel kat-en-muis met haar. “Wat wou jy nog byvoeg?” hoor sy haarself vra en kan haarself skop toe sy sy glimlaggie sien. Nou dink hy sy wil graag hoor wat hy nog te sê het!
“Net dit.” Skielik is sy vingers weer in haar hare en weer voel sy die vreemde tinteling oor haar kopvel gaan. “Jy is ’n vrou wat streng beheer sal moet word.”
“Jy het dit reeds gesê.”
“Maar in dieselfde maat ook bemin moet word.”
Sy is reeds halfpad die gang af toe sy hom agter haar hoor aanroep: “En dit sit nie in my kleinboet se klere nie.”
Toe Isolde die volgende oggend wakker word, lê sy en luister na die plaasgeluide wat van buite af haar kamer insypel. Dis so ’n ander atmosfeer as naby die stad, waar sy woon. Daar word sy soggens wakker met die geluid van die motorverkeer in haar ore. Maar hier ...
Hier digby haar kamervenster kan sy ’n tortelduifie na sy maat hoor roep. Op die agtergrond is die gekwetter van vinke en mossies en kwikstertjies hoorbaar. Daar ver hoor sy ’n trekker raas en van die ander kant af kan sy die koeie na hul kalwers hoor bulk. Tussendeur is daar die geblêr van ’n lammetjie wat na sy ma soek.
Sy hoor ’n stem ’n entjie van haar kamervenster af bevele uitdeel en sy voel haar hart weer daardie vreemde skop gee. Sy spring uit die bed en trek die gordyn effens weg. Hy staan met sy rug na haar en beduie aan ’n werker wat hy vandag in die tuin gedoen wil hê.
Toe kyk hy onverwags om en betrap haar waar sy hom staan en beloer. Sy laat die gordyn vinnig terugval, maar nie voordat sy die glinstering in sy oë gesien het nie. Vinnig spring sy tussen die lakens in en trek dit oor haar kop, maar sy bluf niemand nie, beslis nie die man wat sonder seremonie die gordyn van buite af met ’n bruingebrande arm ooptrek nie.
“Slaap die Johannesburger dan nog?”
Sy draai haar om en kyk hom kwaai aan. “’n Mens trek nie sommer ’n dame se gordyn oop nie.”
“Dit hang af wie die dame is. ’n Dame wat ander mense in haar nagklere staan en afloer, soek moeilikheid.” Sy glimlag is breed. “Terloops, jy kan dit maar elke oggend doen. Jy het pragtig gelyk daar in die raam van die venster. ’n Prentjie om ’n man se hart te steel.”
“Gaan bars!”
“Nee, ek het nie nou tyd daarvoor nie. Ek moet veld toe, en as jy gou maak, kan jy saamkom.” Toe sy niks sê nie, kyk hy haar vraend aan. “Of wil jy nie sien hoe lyk die wêreld waar jy die res van jou lewe gaan slyt nie?”
“Jy sê dan ek sal nie die res van my lewe hier slyt nie. Hoekom sal ek dan die moeite doen?”
“Jy verdraai my woorde. Ek het net gesê Kobus is nie die man vir jou nie, ek staan daarby. Ek brekfis oor tien minute. Sorg dat jy daar is.”
Die gordyn val terug en sy sit besluiteloos daarna en kyk. Sy moet liewer so min moontlik in hierdie man se geselskap wees, maar dit sal lekker wees om saam met hom in die vroeë môre in die veld rond te ry ... Tien minute later voeg sy haar by hom aan ontbyttafel en hy knik goedkeurend.
“Mooi. Jy leer gou. Ons twee sal nog goed regkom.”
Sy vervies haar sommer weer. “Ek is net hier omdat ek graag die Karoo wil sien, nie omdat jy my beveel het nie.”
Hy glimlag lui. “Is dit, rooikop? Toe, eet jou pap en eier. Ek het vir ons ’n piekniekmandjie laat pak. Ons sal nie vir middagete tuis wees nie.”
“Maar jou ma ... sal sy nie omgee nie?”
“Ek het haar reeds gesê ek gaan jou vandag die plaas wys. Daar wag nog baie dae wat jy hier by haar kan sit en gesels en my sokkies stop en my knope aanwerk.”
“Verskoon my, asseblief. Jy bly vergeet ek gaan met jou broer trou, nie met jóú nie.”
“Maar ek het jou mos gesê jy trou dan net so goed met my.”
Die groen oë flits weer. “Hoekom soek jy nie vir jouself ’n vrou nie? Te vol fiemies, veronderstel ek.”
“Ek is glad nie haastig nie. Terwyl jy tog hier gaan wees, het ek mos nie iemand anders nodig nie.”
Isolde frons en kyk hom onseker aan. Verwag hy werklik dat Martina en Kobus vir die res van hul lewens hier by hom en sy ma in sy huis bly? Haar arme kleinsus!
Dis of hy haar gedagtes lees, want hy vervolg: “As hy met enige ander vrou getrou het, sou ek hom toegelaat het om eenkant te gaan bly. Maar ek het jou reeds gesê hy sal jou nie kan hanteer nie. Hy moet maar hier bly sodat ek hom met jou kan help. Klaar? Nou goed, kom.”
Hy trek haar aan die arm op, lei haar die kombuis uit en skud sy kop vir die ou man wat met die opgesaalde perd nader kom.
“Nie vanoggend nie, oudste. Hierdie Johannesburger sal ek maar in ’n voertuig moet rondkarwei. Sy sal haar morsdood van ’n perd af val.”
Isolde swyg maar liewer. Sy het klaar verduidelik dat sy nie ’n Johannesburger is nie en hy het klaar besluit sy is. Wat sal dit help om weer ’n argument daaroor uit te lok? En dan ... Sy glimlag geheimsinnig. Hierdie Johannesburger sal hom dalk een of twee dinge kan leer van perdry, maar dit gaan sy hom nie vertel nie. Hy hoef nie te weet dat sy so te sê op ’n perd se rug grootgeword het nie, en dat daar ’n hele paar trofeë in haar woonstel in Skoonspruit as bewys daarvan staan nie.
Sy blik weer na agter. Die appelblouskimmel wat weggelei word, is van stoetgehalte. Hierdie man doen blykbaar alles goed.
“Waarna kyk jy?”
Sy glimlag soet na hom op. “Ek probeer net uitmaak watter is nou die stertkant en watter die kopkant. Die eerste keer in my lewe dat ek ’n perd sien, weet jy?”
Hy glimlag op haar af. “Moenie parmantig wees nie. Ek duld dit nie.”
“Wát duld jy, meneer Zak?”
“Mooi meisies met rooi koppe in dun nagkleertjies.”
Sy voel dat tot haar hare se wortels rooi word. “Dis gemeen!” Tog lag sy saam met hom en voel dat daar vanoggend ’n heelwat beter verhouding tussen hulle is as gister. Miskien ... miskien sal hierdie man darem al ’n bietjie van haar hou wanneer sy die dag hier moet weggaan.
Sy vind alles wat hy haar wys interessant en sy besef gou dat hierdie wêreld maar net op die oog af so vaal en kaal lyk. Teen die tyd dat hulle middagete by een van die windpompe in die veld nuttig, begin sy al voel om Martina te beny.
Sy het vir die uitstappie ’n gemaklike langbroek en kortmoubloese aangetrek en die rooi hare is in ’n poniestert saamgevang. Behalwe vir ’n baie ligte lipstiffie, het sy geen grimering aan nie. Die man staan en kyk na haar terwyl sy die grondseiltjie op die kweek langs die dammetjie onder die wilgerboom oopgooi en die mandjie se inhoud daarop begin uitpak. Sy oë is peinsend terwyl hulle oor die slanke kurwes gly. Dan stap hy nader en sy voel hoe sy vingers in haar poniestert woel. Haar hart ruk weer soos die vorige kere. Vir wat kan die man nie haar hare uitlos nie?
“Los my hare en kom eet.”
Hy gee die poniestert ’n plukkie en neem dan langs haar plaas. Sy kyk hom half vererg aan. “Is my hare werklik vir jou so aaklig dat jy dit net heeldag wil uittrek?”
Hy glimlag. “Ek kon nog nooit ’n rooikopvrou verdra nie. Behalwe dat hulle gewoonlik lyk asof hulle deur die nag in die dou gelê en die son hulle toe laat roes het, is hulle te beduiweld.”
“Ek het nie sproete nie,” verweer sy verontwaardig.
“Nee, maar jy het die humeur wat by rooi hare pas. Tog ... ek het nooit geweet rooi hare voel so lekker tussen ’n mens se vingers nie. Dis soos sydrade. Ek kan my hande nie van hulle afhou nie.”
Sy voel meteens selfbewus en frons. Skielik komplimente vanoggend? Is dit ’n nuwe manier van mak maak, wonder sy, en haar stem is skerper as wat sy besef, toe sy kortaf sê: “Jy praat kaf. Eet jou kos.”
Hy frons ook nou, maar gehoorsaam en vir ’n rukkie is dit stil tussen hulle. Die geur van die veldbossies hang om hulle en dis of ’n mens die stilte in die bak van jou hande kan skep. Sy betrap sy oë weer peinsend op haar en vra: “Was dit nodig om Kobus met onterwing te dreig?”
Die ontspanne atmosfeer tussen hulle is versteur. Hy sug. “Ja, ongelukkig. ’n Verliefde man het nie veel verstand nie. Ek het my pa belowe dat ek Ma sal beskerm, en dit is wat ek gaan doen, al beteken dit ook dat ek Kobus moet dwing om van jou af te sien as ek vind dat jy nie geskik is nie. Kobus is haar baba en dit sal haar breek as hy ’n ongelukkige huwelik moet hê of ’n vrou plaas toe bring wat glad nie by ons inpas nie. Daarom dat jy hier sal bly totdat ons jou goed leer ken het en kan uitvind of jy in die prentjie sal pas of nie. Ek het al genoeg gesien van die ellendes wat kan volg wanneer twee mense trou wat glad nie by mekaar of by die onderskeie families inpas nie. Dit gaan nie op Rocklands gebeur nie.”
Sy kyk hom vas aan. “Jy praat van ’n trouery of die soek van ’n lewensmaat asof dit ’n baie koelbloedige affêre is. Daar is tog so iets soos liefde, of glo jy nie daaraan nie?”
Sy mond trek effens smalend. “Ek is bevrees ek is verby die stadium van storieboekliefde. Liefde kom vanself as al die ander dinge reg is. Maar as die ander dinge verkeerd is, sterf daardie selfde vreeslike liefde gewoonlik ’n skielike dood.”
“Was jy al ooit in jou lewe verlief?”
Hy kyk haar fronsend aan. “Was jy?”
Sy kyk vinnig weg. Was sy al? Nee. Sy weet sy was nie, nie só soos wat Martina op haar Kobus verlief is nie. Nog nooit só aangetrokke tot ’n man dat sy hom blindelings na die einde van die aardbol sal volg as dit moet nie.
’n Fyn glimlaggie trek in sy mondhoeke. “Jy neem darem lank om te antwoord terwyl jy veronderstel is om op hierdie oomblik malverlief te wees.”
Sy skrik, maar probeer uiterlik kalm bly, en kyk hom koel, uit die hoogte aan. “Ek het dit nie nodig geag om jou vraag te beantwoord nie. Natuurlik is dit vanselfsprekend dat ek verlief moet wees as ek op trou staan.”
“Glad nie so vanselfsprekend nie. Mense trou om baie redes, en nie altyd omdat hulle liefhet nie. Jy is nie verlief nie, Martina.” Hy vang haar oë met syne vas. “Ek kan byna ’n eed sweer dat jy op hierdie oomblik net so min verlief is op my broer of enige ander man as wat ek op daardie suur oujongnooisuster van jou verlief is.”
“Jy word al weer beledigend.”
“Nee. Ek praat net die waarheid.”
Sy skuif oor op haar knieë en begin die eetgerei hardhandig in die mandjie terugpak. Sy kan stik van woede. O, hy is die verwaandste, mees eiegeregtige bees wat daar op twee bene rondloop!
“En nou is jy al weer kwaad vir my. Ek het dus die spyker op die kop geslaan.”
Sy werp hom ’n groen, stomende blik toe. “Ek sal my nie verwerdig om jou te antwoord nie. Kom ons ry.”
Hy staan op en gee sy lui, beterweterige glimlaggie. “Ma is reg. Jy is pragtig, veral as jy kwaad is. My kleinboet is ’n gelukkige man – ás hy jou gaan kry!”
Dis ’n rukkie stil in die bakkie toe hulle voortry en dan vra hy skielik: “Hierdie suster van jou ... Wat sê jy is haar naam?”
Sy voel weer die waarskuwingsliggie in haar flits. Zak is gans te geïnteresseerd in die oujongnooi in sy aanstaande familie. Hy dink niks van haar nie. Hoekom los hy haar nie uit nie?
“Isolde.”
“Uitheemse naam. Waar kom sy daaraan?”
“Kan nie sê dat Zak juis minder uitheems is nie,” byt sy terug.
“Zacharias is die familienaam van die stamvader van die Coetzenberghs.”
“So is Isolde.” Sy flits hom weer ’n blik toe. “Jy het in elk geval niks met háár uit te waai nie.”
“O, maar ek het. Beslis. Ek het jou reeds gesê ’n mens trou met die hele familie. Ek behoort haar ook hierheen te laat kom om haar deur te kyk.”
“Sy is nie ’n stoetooi nie,” laat sy kwaad hoor. “Sy sal ook nooit haar voete hier sit nie, dus het jy niks met haar te doen nie.”
“Maar natuurlik sal sy seker gereeld vir haar suster kom kuier. Dis dan net julle twee, verstaan ek. Een van die dae is sy stokoud en dan sal sy seker permanent hier kom intrek, want waar moet sy dan heen? Nee, ons sal haar hier moet kry. Waar sê jy werk sy?”
Isolde se hart klop in haar keel. Hier gaan nou ’n lollery kom, voel sy sommer aan. “Isolde is weg met haar jaarlikse verlof na ’n strandoord.”
“Maar dan werk dit nog meer ideaal uit. Sy is seker dood van verveling alleen daar by die strand. Wie gaan kuier nou alleen by die see? Ons sal haar vanaand bel en sê sy moet dadelik hierheen kom.”
“Hou stil.”
“Wat?”
“Hou stil!”
Hy skop die rem vas terwyl hy haar verward aankyk. “Wat is dit? Word jy motorsiek?”
Sy vlieg by die bakkie uit en haar rooi gesig vertel hom dat sy beslis nie motorsiek is nie. “Nee. Ek is siek van jóú, jou bemoeisieke ...”
Sy begin in die veldpaadjie aanstap en eers kyk hy haar net agterna.
Dan spring hy ook uit en skree: “Haai, waar gaan jy?”
“Ek stap terug plaas toe. Ek sal nie ’n enkele minuut langer in jou teenwoordigheid bly nie. Ry maar.”
“Martina, moenie verspot wees nie. Ons is kilometers van die huis af.”
“Ek gee nie om nie. Ek is siek en sat vir jou inmengery. Ek stap!”
Hy leun met sy voorarms op die kant van die oop motordeur.
“Jy stap in die verkeerde rigting. Die huis lê dáárdie kant toe.”
Sy swaai in haar spore om en begin aanstap in die rigting waarheen hy wys, en toe sy ’n entjie weg is, skree hy weer: “Nee, wag, ek is verkeerd. Die huis lê in dáárdie rigting.” Hy wys weer na die ander kant.
Sy kom tot stilstand en staan en gluur hom aan. Dan kom sy met ’n afgemete pas nader gestap en daar kom ’n waaksaamheid in sy oë toe sy so gedetermineerd aankom. Soos sy op hierdie oomblik lyk, is sy in staat tot enigiets.
Sy voel ook in staat tot enigiets toe sy reg voor hom tot stilstand kom. Sy was nog nooit in haar lewe so naby daaraan om ’n man ’n taai klap te gee soos op hierdie oomblik nie. Dis net die gedagte aan Martina en Kobus en watter gevolge dit vir hulle kan inhou, wat haar keer om hom te lyf te gaan. “Zacharias Coetzenbergh, jy moet vir jou ’n vrou soek dat jy kan mens word.”
“So? Het jy miskien aspirasies in daardie rigting, juffrou Cilliers?”
“Nee, dankie. Was jy Adam en ek Eva, het ons vandag nog rustig saam in die Paradys gelewe.”
“So? Jy klink baie oortuig van jouself, rooikop. Ek kom agter jy is geneig om altyd van goed te praat waarvan jy niks weet nie.”
“Soos wat?”
“Soos nou net en soos ... dit!” Skielik word sy sommer bo-oor die bakkie se deur aan die skouerknoppe vasgevat, en voordat sy nog reg besef wat gebeur, word sy stewig en goed gesoen. Sy oë blink sadisties in hare af toe hy haar los. “Nog so seker van jou saak, Eva?”
Sy is so verslae dat sy hom net verdwaas kan staan en aankyk, en dan word sy mooi netjies aan haar skouers omgeswaai en sy vinger kom oor haar skouer van agter af verby haar neus. “Daar! Met hierdie pad langs sal jy by die huis kom. Nou stap jy.”
“Wat?”
Daar is geen geamuseerdheid in die harde blou oë wat hare ontmoet toe sy verward na agter kyk nie. “Jy wou huis toe stap, nie waar nie? Dis nog omtrent tien kilometer tot daar. Jy moet dus begin stap as jy nie te laat by die huis wil kom en Ma onnodig ontstel nie. Maak dit maar ’n stewige passie. Ek volg.”
Hy klim ongeërg terug agter die stuur en skakel die bakkie aan. Toe sy nog besluiteloos bly staan, druk hy hard op die toeter en wys met sy hand dat sy moet begin.
Isolde het geen keuse nie. Sy moet maar begin stap, maar hoewel haar bene beweeg, het haar verstand gaan stilstaan. Sy kan nie glo dis besig om met haar te gebeur nie. Sy was nog nooit so verneder in haar lewe nie. Om soos ’n skaap op ’n plaaspaadjie aangejaag te word ... Sy vergeet totaal dat dit sy was wat in die eerste plek daarmee begin het, en dat die idee oorspronklik van haar gekom het.
Twee keer waag sy dit om vlugtig om te kyk, maar die gesig agter die stuurwiel is ongenaakbaar en hard. Sy moet geen genade verwag nie, besef sy terwyl sy die sweet sommer met die rugkant van haar hand van haar gesig afvee. Hy gaan haar die hele tien kilometer laat stap ... die ongemanierde plaasbuffel! Die mooiheid van die Karoo gaan nou by haar verby. Die lammetjies wat haar op ’n afstand staan en betrag, is glad nie meer mooi nie. Vroeër in die dag wou sy gaande raak oor hulle. Nou is sy blind daarvoor. Dis ’n aaklige, vieslike, snikhete warm wêreld hierdie! Sy is dankbaar sy hoef nooit in hierdie gramadoelas te kom bly nie.
As die pad nog gelyk was, kon dit gaan. Maar dis op en af en telkens trap sy op ’n ronde klip wat haar laat struikel. Haar sandale met die effense hoë hakkie is ook beslis nie vir ’n Karoo-plaaspad gemaak nie.
Sy loop en kyk stip voor haar op die stofgetrapte paadjie en bedink die wonderlikste metodes van moord wat Agatha Christie sou laat watertand het. Maar nie een is goed genoeg nie. Hulle is te vinnig, te pynloos. Dit moet ’n stadige, martelende dood wees.
Sy sien amper nie die draadhek wat skielik voor haar opdoem nie. Dan haak sy dit los, stap deur en haak dit weer stewig agter haar toe en kyk vermakerig terug na die bakkie wat verplig is om voor die hek tot stilstand te kom. Sy lippe is ’n stywe, wit lyn toe hy uitklim en die hek kom oopmaak sodat hy ook kan deurkom, en sy stryk vinnig aan. Hy kan dit dalk in sy kop kry om haar in te loop en haar terug te bring en te dwing om die hek vir hom te kom oophou, en sy sien nie vir ’n enkele ekstra tree meer kans nie. Dit voel vir haar sy kan beswyk van moegheid en hitte.
Eerlank is die sagte dreuning weer kort agter haar, maar nou gee hy die pas aan. Sy moet later begin drafstap om voor die wiele weg te bly, en die meisie wat op die heuweltjie op ’n perd se rug al ’n hele tydjie die petalje verbaas sit en aanskou, moet hardop lag.
Wat daar onder in die pad aangaan, kan sy nie dink nie, maar hiervandaan is dit beslis baie komieklik.
Sy besluit om ’n bietjie nader te gaan, en toe die perd skielik voor Isolde in die nou plaaspaadjie verskyn, sak sy sommer in haar spore op die grond neer. Verbaas en geamuseer kyk die meisie vanaf die perd op die bondeltjie mens met die rooi hare hier voor haar neer. Dan klap ’n deur toe en Zak stap nader.
Die meisie spring van die perd se rug af en deur ’n waas van moegheid sien Isolde hoe sy na Zak hardloop. “Zak!”
“Samantha! Liewe land, ek het jou skaars herken.”
“O, dis gaaf om jou weer te sien. Hoe gaan dit?”
Isolde steur haar nie verder aan hulle nie. Haar blik is op die perd voor haar. Sy sien nie kans om ’n enkele tree verder te stap nie. Suutjies, terwyl die ander twee mekaar groet, sukkel sy haar moeë lyf orent en bekruip die swart perd.
“Martina, klim af daar!”
Maar sy is op en kap die spore in. Die perd is egter nie hierdie soort behandeling gewoond nie, en steier runnikend agteroor.
Die volgende oomblik voel sy hoe sy uit die saal trek en dan word dit swart voor haar.