Читать книгу Ena Murray Omnibus 36 - Ena Murray - Страница 8

Оглавление

5

Toe hy oor haar buk, is sy reeds weer op. Die duiseligheid het net vir ’n oomblik geduur.

Een kyk na sy gesig laat haar sommer dadelik in haar spore omdraai en hierdie keer hardloop sy in die veldpad af.

“Martina! Het jy van jou sinne geraak? Kom hier.”

Maar sy gee geen gehoor nie. Sy wil net wegkom, wegkom van Zak Coetzenbergh se woede en van daardie vreemde meisie met haar ewe hooghartige, meerderwaardige houding.

“Liewe land! Wie is dit?” wil die meisie van Zak weet, en hy antwoord met stywe lippe, sy oë stip op die weghardlopende gestalte. “Kobus se aanstaande.”

“Wat?” ’n Kortaf laggie. “Wanneer het dit gebeur?”

Zak is egter nie nou lus vir verduidelikings nie. “Ek sal jou perd kry.”

Sy kyk hom agterna terwyl hy haar perd aankeer, haar oë nougetrek. Dan glimlag sy. Kobus se aanstaande. Vir ’n oomblik het sy gedink daardie rooikop het iets met Zak te make. Dan is die veld nog oop. Zak Coetzenbergh loop nog steeds los rond. Dis tyd dat hy aangekeer word.

Hy oorhandig die leisels en sê kortaf: “Jy sal my moet verskoon. As daardie moedswillige rooikat alleen op die plaas aangeloop kom, sal Ma my braai. Ek sal haar moet keer voordat sy die huis haal.”

Samantha glimlag. “Sy sal dit nooit op eie bene haal nie. Sy was netnou al pootuit.”

“Dan sal sy kruip as sy nie meer kan loop nie, glo my. Jy ken haar nog nie.”

“Van wanneer af ken jy haar en wat soek sy hier?”

“Ek ken haar van gister af en dis amper ’n dag te lank. Kobus is oorsee om beeste te gaan koop en sy kuier nou hier by ons tot die troue.” Sy kan hoor dat hy sy tande liggies op mekaar kners. “Maar of daar ooit ’n troue gaan plaasvind, is ná dese ’n ope vraag.”

Samantha glimlag ingenome. “Ek lei af dat jy nie veel van jou aanstaande skoonsus hou nie.”

“Ek het nog altyd ’n broertjie dood gehad aan rooikoppe en hierdie een ... Verskoon my, asseblief, Samantha. Ons sien mekaar weer. Ek moet nou eers daardie vroumens gaan aankeer.”

Samantha kyk hom agterna en klim dan weer op haar perd. Sy was eintlik op pad Rocklands toe om te gaan groet, maar sy besef dat dit nie nou die geleë oomblik is nie. Daar gaan vuurvonke spat. Aan die een kant sal sy dit graag wil sien. Sy het Zak nog nooit so bleek gesien nie. Sy sal nie graag op hierdie oomblik in daardie onbekende rooikop se skoene wil wees nie.

Die rooikop besef dat sy maar die aftog kan blaas toe die bakkie met ’n vaart langs haar op die nou paadjie inskuif en sy vinnig moet padgee om nie omgery te word nie.

“Klim in!” Toe sy ’n sekonde aarsel, is hy self buite en sy word hardhandig aan die arm gevat. “Ek het my nog nooit te buite gegaan met ’n vroumens nie, maar vandag is die dag. Klim in voordat ek jou die loesing gee wat jy lankal kort.”

Sy klim gedwee in. Daar is geen veglus meer in haar oor nie. ’n Vyandige stilte heers tussen hulle tot hulle op die werf stilhou. Toe sy uitklim, wil haar bene onder haar swik. Sy besef nou eers hoe moeg sy werklik is, en haar knieë voel soos water. Hy kom om die bakkie gestap en tel haar sonder seremonie op.

“Los my! Ek sal self ...”

Sy laat die sin maar halfpad in die lug wegraak, wetende dat dit tog geen indruk sal maak nie.

Hy stap met haar deur na haar kamer en sit haar op die bed neer. “Waar het jy oral seergekry?”

“Nêrens. Ek is reg. Los my net uit.”

Hy gaan egter voort om haar goed deur te kyk, lig haar arm op en bekyk die lelike skaafplek by haar elmboog, dan die plek teen haar voorkop. “Is daar nog ander plekke?”

“Nee.”

Sy weet sy klink verskriklik kinderagtig en ondankbaar, maar sy voel op die punt van histerie. As hy net wil loop en sy hom nooit weer hoef te sien nie.

“Gaan neem ’n warm bad. Daar is ’n ontsmettingsmiddel in die badkamerkassie. Sit dit op die skraapplekke. Trek ’n langmouding aan dat Ma nie jou arm sien nie en kam jou hare dat dit oor daardie plek op jou voorkop hang. Dis beter as sy liewer niks van vanmiddag se kinderagtige spul hoor nie.”

Nadat sy ’n rukkie in die bad gelê en week het, begin sy kalmer voel en besef dat sy nie anders kan as om met hom saam te stem nie. Dit wás ’n kinderagtige spul, om die minste daarvan te sê. Sy weet nie wat haar besiel het om so op te tree nie. Sy het haarself nog altyd as ’n baie volwasse persoon beskou, maar die gebeure van vanmiddag bewys net die teenoorgestelde.

Maar dis alles daardie buffel se skuld, verontskuldig sy haarself. Dis daardie man wat die slegste in haar uitbring en haar dinge laat doen wat sy nooit anders sou doen nie. Hy tart en tart tot sy haar selfbeheersing totaal kwytraak. Sy frons bekommerd. Geen ander man het dit nog ooit reggekry nie. Sy was nog altyd in volle beheer van ’n situasie. Dis die mans wat soms die kluts kwytgeraak het, en dan het sy hulle uit die hoogte beskou. Maar hier op Rocklands is die bordjies skielik verhang.

Sy is behoorlik te bang om haar kamer te verlaat en dis weer die grootbaas van Rocklands wat self na haar kamer kom en haar kom haal.

Sy blik gaan speurend oor haar. “Alles reg?”

“Ja, dankie.”

“Net een ding voordat ons gaan. Ma wil graag jou indrukke van die plaas hoor,” sê hy met ’n sarkastiese krul in sy mondhoek, maar sy blou oë is yskoud. “Waag jy dit ooit weer om op ’n perd se rug te klim – jy wat nie eens weet wat is kop- of stertkant nie – dan foeter ek jou eiehandig. Verstaan jy?”

Die enigste antwoord wat sy daarop het, is om haar kop omhoog te ruk en neus in die lug by hom verby te stap, maar sy is net ’n paar tree weg toe sy deur ’n stewige hand om haar pols teruggehou word. Sy stem is nou sissend en sy kan sien dat sy woede nog nie juis afgeneem het nie.

“Jou hardgebaktheid sal ek nog uit jou uitkry, vroumens, al moet ek ook jou nek breek.”

Mevrou Coetzenbergh is die liefde en goedheid self teenoor Isolde en sy doen haar bes om die ou dame niks te laat agterkom nie. Zak staan ook ’n rukkie langs haar stoel soos ’n polisiewag om te kyk of sy sy bevele uitvoer.

“Ek hoop nie Zak het jou te veel vermoei nie, hartjie. Hy het self so ’n uithouvermoë dat hy miskien nooit agtergekom het dat jy al moeg is nie.”

Isolde grim in haar binneste en loer vlugtig na bo. Sy sien hom openlik staan en grinnik, en sy moet die bloedstollende begeerte om hom by te kom op hierdie oomblik onderdruk en sy antwoord: “O nee, tannie, dit was heerlik in die veld. Ek het dit só geniet.”

Sy voel, eerder as sien, hoe die man se wenkbroue hemelhoog skiet, maar sy hou haar oë stip op die ou dame.

“Dan is dit goed, my kind. Wat dink jy van ons wêreld?”

“Dis ... nog ’n bietjie vreemd vir my, maar ek glo ’n mens sal versot raak daarop.”

“Ek is bly jy dink so, Martina. Ek was bang jy sal jou nie maklik hier aanpas nie. Min mense wat nie gebore en getoë Karoo-kinders is nie, pas hulle hier aan. Maar ek sien sommer jy sal kan.” Sy kyk haar ondersoekend aan. “Hoe lyk dit my die son het jou gevang? Ek hoop tog nie Zak het jou te lank laat rondloop nie, kind. Die Karoo-son kan giftig wees vir iemand wat nie daaraan gewoond is nie.”

“Ag, nee wat, tannie, dit was nie té ver nie. Ek kon nog baie verder loop, as dit moes.”

Hy kom agter haar stoel verby en weer voel sy die vingers vlugtig maar hard deur haar rooi krulle trek.

“Ek sal nou moet gaan werk. Sien julle later. O ja, terloops, Ma, ons het Samantha gesien. Sy is terug op die plaas.”

Die ou dame kyk belangstellend op. “Samantha? Om te kuier of permanent?”

“Ek het nie gevra nie. Sy sal seker die een of ander tyd vandag hier uitslaan om te kom groet. Sy het ’n oulike nooi geword. Ek het haar skaars herken.”

Toe hy uit is, vra Isolde: “Wie is dié Samantha?”

Mevrou Coetzenbergh lyk verbaas. “Maar het Zak jou nie gesê nie?”

Hy was te smoorkwaad om iets te sê, wil sy antwoord, maar sê bedees: “Ons het nie eintlik oor haar gepraat nie.”

“Sy is ons bure se dogter – die Latskys.” Sy knik met haar kop. “Ja, sy is Richard Latsky se suster. Sy is ’n baie kunssinnige mens. Sy het die afgelope paar jaar ’n dramakursus in Johannesburg geloop. Ek neem aan sy het maar net kom kuier en sal seker weer teruggaan. Maar sy is ook ’n knap boerenooi, hoor. Sy ry ’n perd soos min vroue kan.”

Isolde antwoord nie. Die meisie is dus Richard se suster. Hy het al van haar gepraat, hoewel hulle nog nooit ontmoet het nie. Vandag is sy innig dankbaar dat sy destyds nie een van Richard se mense leer ken het nie. Sy het ’n paar keer voorgestel dat hulle darem seker die een of ander tyd sy ouers sal moet besoek sodat hulle mekaar kan leer ken, maar Richard het altyd ’n verskoning gehad. Vandag verstaan sy.

Toe Samantha daardie middag met ’n motor voor Rocklands se deur stilhou, voel Isolde of sy liewer wil spore maak. Maar al wat sy kan doen, is om saam met die twee Coetzenberghs, waar hulle op die grasperk sit en tee drink, te kyk hoe die slanke meisie uit die motor klim en met grasieuse tred aangestap kom. Sy lyk soos ’n kunstenaar, dink Isolde by haarself. Sy kan maklik vir ’n filmster deurgaan. Die blonde hare – wat Isolde sweer uit ’n botteltjie kom – hang gekartel oor die een oog en haar hele houding, haar kleredrag en grimering vertel wat haar agtergrond is.

Zak stap haar tegemoet. “Ek kan nou nog nie glo dis werklik daardie langbeenmeisiekind van die buurplaas nie,” laat hy hoor, en sy lag hom breed toe.

“Ek verseker jou dis die einste sy!”

Ook mevrou Coetzenbergh kan nie help om ’n opmerking te maak nie. “Maar Samantha-kind, jy is dan ’n totaal ander mens. Jy is pragtig!”

Samantha glimlag en soen die ou dame hartlik. “Dankie, tante. Ek het gedink julle gaan verras wees.”

“’n Wonderbaarlike verbetering, moet ek sê,” laat Zak hoor en Isolde vervies haar effens. Samantha is aantreklik, maar só erg is dit nou ook nie. Sy het al mooier gesien.

“Kom sit en drink saam tee. Daar is mos nog in die pot, nè, hartjie?” nooi mevrou Coetzenbergh en Isolde staan gehoorsaam op om vir die gas ook ’n koppie te gaan haal.

Toe sy wegstap, kyk Samantha haar fronsend agterna en sê dan: “Dis al asof daar iets bekends aan haar is. Waar kom sy vandaan?”

“Van Skoonspruit, nie ver van jou af nie.”

“Skoonspruit? Waar Richard is?”

“Ja. Sy ken jou broer ook.”

Samantha se frons verdiep effens. “Wat het jy gesê is haar van?”

“Cilliers. Martina Cilliers.”

“O.” ’n Oomblik stilte. “Richard was op ’n tyd aan ’n Cilliers-meisie van Skoonspruit verloof. Sy het so ’n eienaardige naam gehad, een wat ’n mens nie heeldag raakloop nie.”

“Isolde?”

Sy kyk vinnig na hom op. “Ja, dis die naam. Is sy familie van Martina?”

“Haar suster.”

Die ou dame frons liggies. “Martina het niks van ’n verlowing gepraat nie. Sy het gesê hulle ken Richard en dat hy haar suster soms uitneem.”

“Die verlowing is verbreek. Hoekom weet ek nie. Ek en Richard het ook nie veel kontak met mekaar nie. Ons bel mekaar dan en wan, maar dis ook al.” Samantha se oë vernou. “O, dan is daardie meisie Isolde se suster ...” Sy swyg toe Isolde teruggestap kom, en laat dan vriendelik hoor: “Ek verneem nou net jy ken my broer ook. Hy en jou suster was mos op ’n tyd verloof?”

Isolde se blik is koel. “Ja, maar dis reeds lankal verbreek.”

“Maar hulle gaan nog uit, nie waar nie?” Dis Zak wat praat en Isolde frons. Moes die Samantha-vroumens juis op hierdie tydstip kom kuier het?

“Dis eintlik hy wat so agter haar aanloop.”

“O?” Samantha se blik het ook verkoel. “Hoekom is hul verlowing destyds verbreek?”

“Omdat Isolde uitgevind het dat hy nie die man is met wie sy haar lewe wil slyt nie. Hul dink nie dieselfde oor baie dinge nie,” antwoord sy reguit, en nou is die dramastudent se oë beslis koel.

“Soos wat, byvoorbeeld?”

“Jy moet dit maar vir Isolde vra, juffrou Latsky. Dis haar private sake.”

Samantha se oë vernou. “Ek sal haar nogal graag wil ontmoet. Ek sal graag wil sien hoe lyk die meisie agter wie my broer aanloop.”

Dis Zak wat tussenbeide tree. “Jy sal wel die geleentheid kry. Sy sal eersdaags hier op Rocklands kom kuier. Ek moet erken, ek is net so nuuskierig om Martina se suster te sien.”

Isolde kyk hom agterdogtig aan. “Hoekom?”

“Ek dink sy moet iets besonders wees ...”

“Ten spyte van die feit dat sy al ’n oujongnooi is?”

Die ou dame kyk Isolde verbaas aan. “Maar het jy nie gesê sy is maar ses en twintig nie? Ek was self ses en twintig toe ek getroud is.”

Isolde glimlag skeef. “Maar Zak dink sy sit reeds diep op die rak.”

Hy glimlag lui na haar. “Ek het gesê sy klink soos een. Ek is heeltemal bereid om te aanvaar sy lyk nie soos een nie. Daarom dat ek haar graag wil sien. Miskien kan ons haar nog red as sy nie al te ver heen is nie.”

Samantha se laggie klink helder op, maar Isolde sien niks snaaks nie, en wens dat die vroumens wil vertrek. Sy ontstig net die atmosfeer hier op Rocklands.

’n Rukkie later neem Samantha met ’n uitnodiging afskeid. “Kom eet môreaand by ons.”

“Zak en Martina kan maar gaan, dankie, Samantha. Soos jy weet, gaan ek nooit meer uit nie.”

“Ek sal by u bly, tannie,” bied Isolde dadelik aan, want dis die laaste ding wat sy wil doen – om by die Latskys te gaan kuier. Hoe minder sy van daardie mense sien, hoe beter en veiliger vir haar.

“Maar ek wil juis hê my ouers moet jou ontmoet,” teken Samantha beswaar aan, en Zak stel haar dadelik gerus.

“Ons sal kom.” Hy stap saam met haar motor toe en Isolde hoor hom sê: “Dankie vir jou kuiertjie. Kom gerus weer.”

“O, ek sal. Ek gaan nog Rocklands se drumpel deurtrap.”

“Wanneer gaan jy terug?”

“O, ek weet nie. Hang af ... Ek is glad nie seker of ek weer teruggaan nie.”

“Nie?”

“Ek verlang te veel na hierdie wêreld en sy mense. Miskien bly ek vir ’n lang ruk hier. Ons sal maar sien.”

Die bietjie hoop wat Isolde gehad het dat sy gou ontslae sal wees van hierdie snuffelpot, is daarmee die nek ingeslaan. Sy kyk die motor agterna met die oortuiging dat hierdie meisie vir haar net probleme in die toekoms gaan meebring. Nóg sy nóg Martina nóg Kobus het daaraan gedink dat Richard se ouers ook in die distrik boer en dat dit komplikasies kan meebring. Oor een ding is sy darem dankbaar. Sy hoef nie te vrees dat Richard onverwags hier sal opdaag nie, en gelukkig het sy sy mense nooit voorheen ontmoet nie.

Tog bly die onrus in haar, en sy sou nog onrustiger gevoel het as sy kon lees wat in Samantha Latsky se gedagtes omgaan op pad terug na haar ouers se plaas.

“Dink jy nie dis tyd dat jy weer ’n slag jou ouers kom besoek nie, Richard?” vra Samantha daardie aand vir haar broer oor die telefoon. “Hulle begin oud word, boetie. Dis tog nie so veel gevra om ’n enkele naweek aan hulle af te staan nie.”

“Hoe lank bly jy nou daar?”

“Miskien permanent. Ek moet nog besluit.”

“En wat van jou aspirasies vir die verhoog en die filmwêreld?”

“Dis nog hoog, maar nie hoog genoeg as die regte persoon my vra om met hom te trou nie.”

“O, is dit soos die wind waai? Wie is die gelukkige man, as ek mag vra?”

“Jy mag vra, maar nie oor ’n plaaslyn nie. Kom kuier ’n naweek dan sal ek jou alles vertel. Terloops, Richard, daardie gewese verloofde van jou ... Hoe het sy gelyk?”

Sy stem klink verbaas. “Isolde? Van waar die skielike belangstelling?”

“Dit sal ek jou ook vertel wanneer jy hier kom. Maar wag. Laat ék jou vertel hoe sy lyk en korrigeer my as ek verkeerd is. Sy is van middelmatige lengte, goed gebou, met mooi, rooi hare en besondere grasgroen oë en ’n pragtige gelaatskleur. Reg?”

“Honderd persent. Maar wag ... Wág ’n bietjie. Jy het haar nooit ontmoet nie, het jy?”

“Nie destyds nie, nee. Maar ek het onlangs. Ek verstaan jy neem haar nog soms uit en stel nog in haar belang. Reg?”

“Weer reg, maar Samantha ...”

“Hier loop ’n meisie hier naby ons plaas rond wat aan daardie beskrywing voldoen, net haar naam is anders. Sy noem haarself Martina. Haar suster se naam is glo Isolde. Sê my, het haar suster ook rooi hare en groen oë?”

“Beslis nie. Sy is donker.” Daar heers ’n oomblik stilte. “Goed. Ek kom plaas toe so gou ek hier kan wegbreek. Klink my daar is êrens ’n slang in die gras.”

Samantha glimlag ingenome. “So het ek uit die staanspoor vermoed. En sommer ’n grote ook. Ek kan net nie begryp wat daaragter skuil nie.”

“Ek is self op die oomblik dronkgeslaan, maar ek sal gou genoeg uitvind wat aangaan as ek daar kom.”

“Goed. Ons verwag jou.”

Toe sy die gehoorbuis op die mik neersit, is daar ’n selfvoldane glimlag op haar lippe. Tot dusver het sy nog geen rede tot onrus nie. Van wat sy gister gesien het, kom Zak en sy sogenaamde aanstaande skoonsuster glad nie goed oor die weg nie. Maar sy gaan geen kanse waag nie. Feit bly, Zak bly ’n man en met so ’n rooikopskoonheid heeldag onder sy voete kan hy dalk sy ergernis jeens haar begin vergeet. Net die feit dat haar eie broer haar nie kan vergeet of bereid is om afstand van haar te doen nie, bewys dat hierdie meisie ’n besondere houvas op ’n man kry. Voor dit dalk met Zak gebeur, sal sy iets moet doen.

En dié dame speel so reg in haar hand. Êrens is ’n lekker stukkie bedrog aan die gang, om watter rede, bly vir haar ’n duistere geheim. Sy kan net nie dink wat die meisiekind daarmee wil bereik nie. Maar dit pas haar.

Sy ken Zak van kindsbeen af, en sy weet hy is nie ’n man wat vir bedrog en valsheid te vinde is nie. Daarom dat hy en Richard nie kan regkom nie, want haar boet kan die waarheid wonderlik kinkel as dit hom pas.

Sy is baie jare jonger as Zak, maar van kleins af was hy haar held, en later, toe sy groter geword het, het sy ernstig verlief geraak op hom. Maar hy het haar nooit raakgesien nie. Sy was in sy oë maar altyd die langbeendogter van die buurplaas. Al wanneer hy haar werklik raakgesien het, was wanneer sy op ’n perd se rug gesit het, en dan het hy haar ruiterkuns bewonder, nie vir haar nie.

Ten einde raad is sy weg Johannesburg toe en daar het sy redelike sukses behaal. Maar sy kon Zak nie vergeet nie. Nou het sy die kruispad van haar loopbaan bereik. Sy moet nou besluit of sy die verhoogkuns en die filmwêreld haar beroep gaan maak of nie. Maar eers het sy weer plaas toe gekom om te kyk of Zak haar nie nóú sal raaksien nie, want sy het sorg gedra dat hy haar hierdie keer nie weer as die langbeendogter van oom John Latsky van die buurplaas sal aansien nie.

En hy hét haar opgemerk. Hierdie keer het sy oë oopgegaan, maar ongelukkig is daar reeds ’n rooikop by hom en Samantha wil, tot sy seker is van hom, die enigste vrou in sy gesigsveld wees. Sy weet sy hoef haar nie oor die ander meisies in die kontrei te bekommer nie. As Zak een van hulle wou gehad het, sou hy lankal een van hulle gevat het. Nee. Hierdie keer het sy ’n baie goeie kans om Zak Coetzenbergh aan te keer, maar dan moet daardie rooikop uit die pad kom.

Want al lyk dit op die oog af asof hy haar nie onder sy oë kan verdra nie, en al het hy met sy eie mond gesê hy het ’n broertjie dood aan ’n rooikopvroumens, het sy sy gesig gesien toe Martina – of wat haar naam ook al is – van die perd geval het. Sy het self ook geskrik, maar daar was iets in Zak se oë wat haar nie te gerus laat voel nie.

Sy skud haar skouers. Miskien het sy haar dit maar net verbeel. Feit bly, Zak sien haar as sy broer se aanstaande bruid, en dit sal darem ’n ding wees as sy nou hier op die plaas moet verongeluk terwyl hulle op trou staan. Maar in die paar jaar dat Samantha in die stad is, het sy wêreldwys geword, en sy het geleer dis beter om vroegtydig te keer as om agterna die wonde te lek. Hoe gouer hierdie rooikop ontmasker word en hier kan padgee, hoe beter. En dit sal gebeur sodra Richard plaas toe kom.

Isolde maak die volgende aand teësinnig reg om die afspraak met die Latskys na te kom. Sy weet dit sal nie help om te protesteer nie. Zak het besluit hulle gaan, en gaan sal hulle, al moet hy haar ook weer soos ’n hanskalf voor die bakkie uitjaag tot op die buurplaas se werf.

Sy doen moeite met haar voorkoms. Nie omdat sy Richard se ouers wil beïndruk nie, maar om Samantha Filmster te wys dat sy darem nie altyd soos ’n doodgejaagde skaap lyk nie.

Mevrou Coetzenbergh is nie suinig met haar bewondering en lof toe Isolde vir inspeksie verskyn nie.

“Hartjie, jy is regtig pragtig. O, ek spog met my skoondogter.”

“Stadig, tannie,” lag Isolde verleë, bewus daarvan dat nog ’n paar oë haar krities bekyk.

“Ja, Ma, nie so haastig nie. ‘Between the cup and the lip’, sê die Engelsman, nè?” Hy stap nader. “As jy gereed is, kan ons maar gaan. Seker Ma gee nie om om alleen te bly nie?”

“Natuurlik nie, Zakkie. Gaan geniet die aand en sê groete vir die Latskys. En bring haar weer veilig terug, hoor?”

Hy soen haar liggies op die voorkop. “Ek sal jou hartjie veilig terugbring,” belowe hy plegtig.

Toe hulle die werf uitry, kyk hy skuins na haar en sê, asof hy nie regtig graag wil nie maar nie anders kan nie: “Jy lyk regtig goed vanaand, hartjie. Wie wil jy op Boshoek gaan beïndruk?”

Sy vererg haar sommer weer dadelik. Hy hoef haar nie te komplimenteer as hy nie wil nie. Sy het nie om ’n kompliment gevra nie. Hoekom moet daar altyd ’n angel in elke ding wees wat hy teenoor haar kwytraak?

“Jy lyk self nie te goor nie, Zakkie. Ek sal natuurlik nie vra wie jy op Boshoek wil gaan beïndruk nie.”

Hy lag saggies, skud sy kop. “O, julle vroumense darem! Hoekom is jy jaloers op Samantha?”

Sy voel haar rug trek laaistokstyf. “Moenie verspot wees nie. Hoekom sal ek jaloers wees op die filmster?”

“Toe nou. Nou word jy katterig. En terloops, rooikop, net my ma durf my Zakkie noem, hoor?”

“Goed, en ewe terloops, net jou ma durf my as hartjie aanspreek.”

Hy glimlag na haar. “Baklei ons al weer?”

“Jy’t begin. Jy begin altyd eerste. Ek weet nie hoekom jy my nie uitlos nie.”

Hy hou voor ’n kamphek stil en druk die deur oop. “Ek sal oopmaak as jy kan deurry.” Toe hy weer agter die wiel inskuif, kyk hy haar in die skynsel van die dakliggie aan. “Ek weet nie hoekom ek dit doen nie. Maar weet jy hoe mooi is jy as jy kwaad is?”

Sy kyk hom vererg aan. “Nee, ek weet nie, maar jy moet ophou om jou met my te vermaak. Op ’n dag gaan ek jou nog terugkry.”

“Dit sal nie maklik gebeur nie, rooikop. Dit sit nie in daardie rooi hare van jou nie.”

Sy glimlag hovaardig. “Moenie so seker wees nie, meneer Zak. Jy gaan nog van jou troontjie tuimel voordat ek van Rocklands af padgee. Wag maar.”

“Ha!” snork hy. “Jy sal lank wag.”

“Wil jy wed?”

“Vir ’n foto van jou.”

“’n Foto?” Sy kyk hom aan asof sy dink hy is die kluts heeltemal kwyt.

“Ja. ’n Foto. ’n Baie duidelike foto. Ek gaan Saterdag dorp toe en jy gaan saam. Ons apteker neem nogal oulike foto’s.”

“Maar wat wil jy met ’n foto van my maak?” vra sy fronsend, skielik baie onrustig. Hierdie man doen niks sonder ’n rede nie.

“As jy moet weet ... dit ophang in my studeerkamer tussen my wildtrofeë.”

Sy kyk hom onseker aan. Sy weet sy kan maar laat staan. Sy sal dit nie uit hom kry hoekom hy skielik die foto wil hê nie.

Op Boshoek aangekom, word sy onmiddellik met die twee ou mense afgeskei en Samantha monopoliseer Zak totaal. Isolde voel ietwat geamuseer. Net die gedagte dat sy die buurdogter se kanse om Zak aan te keer enigsins kan kortwiek, is belaglik.

Sy vind oom John en tant Bessie Latsky twee dierbare mense en voel in haar hart boos teenoor Richard dat hy hulle so afskeep. Sy neem haar voor dat sy met hom daaroor gaan praat sodra hulle mekaar weer sien. Maar dan besef sy dat sy dit nie sal kan doen sonder om die hele storie van haar koms na Rocklands uit te lap nie, en dit sal sy nie doen nie.

Toe hulle later ná ’n heerlike ete begin groet, voel sy half hartseer toe sy afskeid neem. Amper was hulle haar skoonmense en sy het nooit besef watter dierbare ouers haar destydse verloofde het nie. Sy voel skuldig en skaam en ontevrede met haarself dat sy nie destyds harder daarop aangedring het dat hulle sy ouers moes besoek sodat sy hulle kon leer ken nie. Kinders kan so onnadenkend en selfsugtig wees, besef sy. Dis eers as jy nie meer ouers het nie dat jy weet wat jy al die jare gehad het. Richard sal te laat agterkom wat hy verloor het wanneer hierdie twee ou mense nie meer daar is om vir hom te wag en te bid nie.

Dis stil op pad terug Rocklands toe. Dis of albei skielik te diep ingedagte is om met mekaar te baklei.

Later vra sy: “Ek het gehoor jy en Samantha praat van boeresport wat aan die kom is.”

“Ja. Eerskomende Saterdag. Dis ook perdesport dié dag. Dis gewoonlik ’n groot geleentheid. Daar kom inskrywings van oor die hele land. Hier kort by ons is groot perdetelers.”

“Werklik? Ek het nie geweet in die Karoo teel hulle ook perde nie.”

“Jy weet maar min van die Karoo af, rooikop. ’n Perd wat hier by ons in die distrik geteel is, het laas die Metropolitan gewen. En verlede jaar se July is ook gewen deur ’n perd wat afkomstig is van een van ons drie groot perdetelers in hierdie kontrei.”

“En nou wil Kobus hier met Brahmane kom boer. Dink jy dit sal ’n sukses wees?”

“Ek dink nogal so. Ek dink hy het iets beet. Die Karoo is nie net bossies nie. Daar is dele van Rocklands wat grasveld is en op daardie dele behoort hulle goed te aard. Verlang jy al na hom?”

Die vraag kom so skielik op haar af dat sy eers nie weet wat om te sê nie, en hy spring haar weer voor. “Toe maar, jy hoef nie te antwoord nie. Dis onnodig om leuens te vertel. Kom jy saam boeresport toe? Daar is allerhande items waaraan jy sal kan deelneem om jou mee besig te hou terwyl ek met die perdesport besig is.”

“Word die twee goed dan gelyk gehou?” Sy is teleurgesteld, want sy sal graag by die perdenommers wil wees.

“Nie juis nie, maar daar sal soms oorvleueling wees. Jy sal jou seker verveel met die perdenommers, maar daar sal wel iets wees om jou mee besig te hou.”

“Ek veronderstel Samantha sal ook deelneem aan die perdesport? Sy is mos ’n goeie ruiter.”

“Uitstekend. In die verlede, dié kere dat sy hier was, het sy baie nommers gewen.”

Isolde is ’n oomblik stil. Sy weet nie hoekom nie, maar dis seker maar skone koppigheid wat haar daarvan weerhou om hom te vertel dat sy self ’n goeie ruiter is. Tog is sy nou spyt dat sy hom dit nie uit die staanspoor vertel het nie. Dan sal sy daardie Samantha miskien Saterdag een of twee dingetjies kon leer. Nou moet sy daar eenkant tweebeentjie spring of met ’n eier in ’n lepel hardloop terwyl die grootjuffrou en -meneer op hul perde rondpryk. As sy net êrens ’n perd in die hande kan kry ...

“Dankie. Ek sal graag wil saamgaan,” sê sy op so ’n bedeesde toon dat hy haar vinnig aankyk.

“Jy moet jou net asseblief daar gedra,” waarsku hy ook sommer by voorbaat.

Sy wip haar natuurlik onmiddellik. “En wat bedoel jy daarmee? Ek weet hoe om my te gedra, hoor!”

“Dit betwyfel ek sterk. Ek wil nie nonsens voor ’n skaar van mense hê nie. En onthou asseblief jy is Kobus se verloofde. Daar sal baie jong boertjies wees wat sal probeer ...”

“Zak Coetzenbergh, ek is nie man-mal nie, gehoor? En dankie vir jou uiteindelike toestemming.”

“Toestemming? Waarvoor?”

“Dat ek en Kobus darem nou eindelik in jou oë verloof is.”

“Ek het dit glad nie gesê nie. In die oog van die wêreld is julle dalk verloof, maar ...” Hy hou stil, gee haar ’n kwaai kyk wat teen haar soet glimlaggie vasslaan, klim uit en stap hek toe om dit oop te maak en sy skuif gehoorsaam agter die wiel in om deur te ry.

Toe sy by hom verbykom, is die stroopsoet glimlaggie nog steeds om haar lippe en sy waai hom vriendelik toe. “Lekker stap, Zakkie!”

Dan gee sy vet en bring die motor ’n hele ent van die hek tot stilstand. Die man kom op sy tyd aangestap, maar sy kan in sy luie bewegings iets sien wat haar waarsku dat sy dit gaan berou. Sy voel haar hart hewig teen haar ribbekas bons. Hy gaan haar in die eerste plaasdam verdrink as hy haar in die hande kry. Maar dan ... Die koeël is reeds deur die kerk. Hy gaan haar in elk geval verdrink of hy haar nou of later in die hande kry, dus kan sy dit maar net sowel uitstel tot later. Dis ’n paar uur langer om te leef.

Net toe hy amper by haar is, trap sy weer die petrol-pedaal en skiet die voertuig vorentoe en in die truspieëltjie kan sy hom in die Karoo-maanlig tot stilstand sien kom in die middel van die plaaspaadjie. Hierdie keer stop sy nie weer nie, en hoewel haar verstand haar waarsku dat sy ’n dwase ding aanvang, kners sy op haar tande en ry voort.

Vannag is die nag dat Zakkie Coetzenbergh gaan stap soos sy gister gestap het. Sy het hom mos gewaarsku sy gaan hom terugkry. Hy is in elk geval beter af as wat sy gister was. Die son brand hom nie gaar nie en hy is goed gevoer deur sy Samanthatjie. Sy maag is vol genoeg om hom ’n bietjie oefening te laat verduur.

Toe sy die ligte op die werf van Rocklands laat skyn, trap sy byna die petrolpedaal in plaas van die rem toe sy iemand op die stoep sien staan.

Dit kan nie wees nie! Dit kán nie Zak wees wat daar op die stoep staan nie, vertel haar nugter verstand haar. Maar toe sy bewerig uitklim, weet sy dis beslis ook nie sy gees nie. Op die een of ander bomenslike manier het hy vóór haar tuisgekom en hy staan stewig op die boonste stoeptreetjie asof hy daar geplant is, ’n dik seekoeisambok duidelik in die helder maanlig in sy hand herkenbaar.

Ena Murray Omnibus 36

Подняться наверх