Читать книгу Ena Murray Omnibus 38 - Ena Murray - Страница 4

1

Оглавление

“Nee, jy gaan nou nêrens heen nie. Jy kom sit. Ek wil met jou praat.”

“Ma, asseblief.”

“Sit, Emile!”

Haar stemtoon laat hom geen keuse nie. Hy moet gehoorsaam, maar laat darem hoor: “Tog asseblief net nie weer een van Ma se preeksessies nie! Ek is haastig. Ek moet goed by die Koöperasie kry en …”

“En by Monica en by Louise en by Sonja en by wie weet hoeveel ander ook nog ’n draai maak. Ek weet, Emile.”

Sy oë flits ergerlik. “Daar begin Ma al weer! Kan Ma om liefdeswil nie maar vir my en my meisies uitlos nie? Kragtie, ek is dertig, nie dertien nie!”

“Dis juis die punt. Wanneer gaan jy jou soos ’n dertig­jarige man begin gedra? En soos die toekomstige baas van La Rhône? Jy behoort lankal getroud te gewees het, opgeskote erfgenaam en al. Nou flenter jy van die een mooi popgesig na die volgende mooi lyf rond.”

Hy spring gefrustreerd op, laat amper bars hoor: “Is dit mý skuld dat ek nog nie getroud is nie? Met elke liewe vroumens met wie ek al hier aangekom het, het julle fout gevind. Nie een was goed genoeg om die toekomstige vrou van La Rhône te word nie. Nou word ék verwyt dat ek nog nie getroud is nie!”

“Jy weet so goed soos ons, Emile, dat hulle absoluut onvanpas was.”

“Julle oordeel net op die uiterlike. Omdat almal mooi meisies is wat modern aantrek en grimeer, is hulle taboe. In julle oë is hulle leë poppe wat net daarop uit is om die vrou van La Rhône te word vir die aansien en die status en natuurlik die geld. Maar van hulle was uitsoekmeisies van goeie agtergrond – en boonop met ’n graad of meer agter hul naam. Ag, Ma, waarom praat ons weer oor hierdie dinge? Dis al holrug gery en ek is siek en sat daarvan. Ek gaan nie langer luister …”

“Jy beter luister, Emile, want jou hele toekoms is op die spel.”

Hy draai in sy spore om, frons skerp. “Wat bedoel Ma?”

“Kom sit, Emile,” sug sy ma. “Ons moet ernstig praat.”

Hy sak op die stoel neer en kyk haar ondersoekend aan. Iets in die uitdrukking op haar gesig vertel hom dat dit nie maar net weer een van haar sedepreke dié is nie. Vandag steek daar iets meer agter.

“Emile, jou pa het gisteraand lank met my gepraat … oor jou.”

“Dit aanvaar ek. Ek weet ek is een van jul geliefkoosde onderwerpe,” sê hy droog, maar sy oë flikker waaksaam.

Sy ma se oë flits. “Staak dit, Emile! Ek het verlede nag omtrent nie ’n oog toegemaak nie!”

“Goed, Ma. Wat is dit? Uit daarmee.”

“Jou pa sê as jy jou nie gaan regruk en ’n bestendiger lewe gaan lei nie, sal hy jou onterf.”

“Onterf?” Hy spreek die woord uit asof hy dit vir die eerste keer in sy lewe hoor.

“Ja. Jy moet verstaan, Emile, La Rhône lê baie na aan sy hart. Dit is ’n modelplaas, dié plaas van die distrik. Maar dit het nie vanself gebeur nie. Dit het bloedsweet, fyn berekening en die grootste deel van sy lewe geverg om dit te kry soos dit vandag lyk. Hy wil die versekering hê dat die twee mense wat hier oorneem, dit werd sal wees, dit sal oppas en liefhê. Net die gedagte dat La Rhône in die verkeerde hande kan beland …”

“Dink Ma-hulle werklik so min van my?” Sy stem is laag van skok en ongeloof. Sy pa dink daaraan om hom te onterf!

“Boetie …” Vir die eerste keer in jare spreek sy hom weer aan soos toe hy nog klein was, “. . . dis nie dat ons min of sleg van jou dink nie. Ons is net onrustig oor jou! Ons weet jy is nie lui nie. Ons weet en sien jy werk hard op La Rhône. Ons grootste vrees is nie om jóú nie, maar om die lewensmaat wat jy gaan kies. Emile, ’n vrou kan ’n man maak of breek. Hoeveel keer in ons lewens het ons dit nie al gesien nie. Kyk wat het met Serfaas Myburgh gebeur. Onthou jy nog? ’n Klompie jare gelede? Sy tweede huwelik was ’n volslae mislukking en hy was ’n geruïneerde man. Hy is uit sy plaas, uit alles. Hy sit vandag in die stad by sy kinders, ’n verwese man. En hy was op sy dag ’n sterk boer.”

“En Pa dink dieselfde gaan met my gebeur.” Sy stem is so besadig soos wat sy ma dit nog selde gehoor het.

“Hy ís bang, my seun. As gevolg van die soort meisies wat jy hier aanbring. Hulle herinner jou pa baie aan Serfaas se tweede vrou.”

“En julle dink nie daaraan dat julle miskien bitter onregverdig teenoor hierdie meisies is nie?”

“Miskien is ons; miskien nie. O, Emile, moet dit nie in die verkeerde lig beskou nie, asseblief! Dis ouerliefde wat so maak. Dis kommer oor jou kind en sy toekoms en sy geluk!”

“Dit gaan om La Rhône, Ma, nie om my nie,” sê hy bitter. “Pa het ’n afgod van La Rhône gemaak.”

“Dis nie waar nie, Emile. Pa is hartstogtelik lief vir die plaas, maar hy het my gisteraand gesê hy sal môre van die plaas af padgee as hy weet jy en die regte vrou is hier om die leisels oor te neem.” Sy sien die ongeloof in sy oë. “Dis waar. Hy het dit gesê. Jou pa sê hy voel ons moet aftree. Ons moet êrens gaan bly, by die see of waar ook al, en ’n rustiger oudag geniet. Maar soos dinge nou is, kan hy nie. Hy moet eers gerustheid oor jou kry.”

Dis stil. Hy strengel en ontstrengel sy vingers. “As ek net kan weet hoe die vrou moet lyk en hoe sy moet wees met wie julle tevrede sal wees, trou ek môre met haar.”

“Moenie verspot wees nie. Ons wil nie hê jy moet ’n vrou trou ter wille van ons nie. Natuurlik wil ons hê jy moet uit liefde trou. Jou geluk is hoofsaak by ons, al sal jy dit nie nou glo nie. Maar jou geluk en La Rhône se toekoms is so ineengestrengel … Hoe sy moet lyk, is nie ter sprake nie. Dis hoe sy ís wat van belang is. Ek en jou pa wil weet dat jy én La Rhône veilig by haar sal wees.”

“Maar in hemelsnaam, Ma, vir wie moet ek dan op die uitkyk wees? Kom, sê my!” roep hy ongeduldig uit. Hy voel in ’n hoek gekeer. La Rhône mag hy nie verloor nie! Sy pa kan dit nie aan hom doen nie! Natuurlik is hy hartstogtelik lief vir hierdie plaas. Dis sy geboortegrond. Hy het hier grootgeword. Hier lê ook bloedsweet van hom. Hy steek nie lyf weg nie. Hy speel baie hard, maar hy werk ook baie hard. Hy ontmoet sy ma se oë en hy pleit nou amper. “Kom, vertel my. Beskryf haar vir my.”

Laura de Jongh skud haar kop. “Ek … weet nie presies nie. Wanneer sy voor my staan, sal ek weet dis sý.”

“Maar Ma moet darem tog ’n idee hê! Waarna soek ek? Waarna kyk ek?”

Hoe kan sy aan hom verduidelik dat ’n ouer net instinktief wéét of haar kind die regte lewensmaat kies of nie? Dis ’n intuïsie wat nie verklaar kan word nie. Jy weet net intuïtief of jou kind se geluk by daardie persoon veilig is of nie. Maar hy wag op ’n antwoord …

“Wel, iemand … iemand soos Miempie. Jy het haar tog al gesien.”

“Ek ken geen meisie met die naam Miempie nie.” Hy spreek die naam met onverbloemde minagting uit.

“Sy kom al die afgelope jaar gereeld hier op die plaas. Ek praat van Miempie Rust, daardie oulike verpleegsuster.”

Hy staar haar aan asof sy die kluts kwyt is, en sy laat ietwat selfbewus, verdedigend hoor: “Miempie is ’n baie dierbare kind. Ek het haar die afgelope tyd goed leer ken. Wanneer sy klaar is by die werkers, kom sy altyd hier aan en dan drink ons ’n koppie tee voordat sy verder gaan.”

“En sy is volgens Ma die ideale vrou vir La Rhône?”

“Ek het dit nie gesê nie, Emile! Ek het gesê iemand sóós sy.”

Hy pers sy lippe saam, probeer sy humeur beteuel. Natuurlik weet hy van die distriksmunisipaliteit se wit kombi wat gereeld hier kom. Dis ’n gesondheidsdiens wat aan die gemeenskap gelewer word en as ’t ware ’n kliniek-op-wiele is. Maar dit is nie nou ter sake nie. Die oulike suster is.

Hy probeer konsentreer, maar kan glad nie onthou dat hy haar al ooit van aangesig tot aangesig gesien het nie. Die kombi het gekom en gegaan sonder dat hy hom daaraan gesteur het. Maar nou …

“Hierdie … Miempie … Wat is daar aan haar wat haar so ideaal maak?” Sy oë spot. “Ma sê sy is so oulik en ’n dierbare kind. Wat verstaan Ma onder die begrip ‘dierbare kind’?”

Laura wens sy het nooit Miempie se naam opgehaal nie. “As jy die moeite wil doen om haar te leer ken, sal jy weet wat ek bedoel. Maar kom ons los nou maar vir Miempie uit. Jy sit met ’n probleem, Emile. Sorg maar dat jy iets daadwerkliks daaromtrent doen. Jy ken jou pa. Hy sê nie sommer ligtelik iets nie. Hy sou nie so iets kwytgeraak het as hy nie lank en diep daaroor nagedink het nie. Dis ’n saak van erns.”

Emile besef dit terdeë. Hy knik, staan weer op. “Ek neem ter harte wat Ma my vandag vertel het,” sê hy stram voordat hy uitstap.

Op pad dorp toe is sy gedagtes ’n onrustige maalkolk. Hy kan nie glo dat sy pa dit werklik ernstig oorweeg om hom te onterf nie. Aan die ander kant weer weet hy hoe sterk sy pa oor La Rhône voel. As daar die geringste kans bestaan dat La Rhône uit sy, Emile, se hande kan val, sal sy pa liewer die plaas aan sy oudste broer se seun bemaak. Hy sal dan seker net kontant erf … wat hy en sy onvanpaste vrou na willekeur kan uitmors tot daar niks oor is nie.

Wat Laura en Giel de Jongh nie weet nie, is dat hy self al bekommerd geraak het. Sy vriende is reeds almal getroud. Natuurlik sal hy die een of ander tyd trou en met ’n gesin begin. Maar wat hy van sy vriende se huwelike sien, maak hom nie oorhaastig om die strop om die nek te kry nie. Dis nie altyd rosegeur en maneskyn nie, dis gewis. Menige dag al het hy sy sterre gedank dat hy nog nie sy kop in daardie bynes gesteek het nie. Maar dit het hom nie gekeer om van die een meisie na die ander te gaan nie. Die meisies weet dat hy ’n glibberige kalant is, maar dit weerhou hulle nie daarvan om die sjarmekrane oop te draai nie. Sodra hy egter agterkom dat die betrokke dame ernstige idees omtrent die toekoms begin kry, maak hy sy lyf skaars. Sy ouers is verniet bekommerd. Nie een van die meisies met wie hy tot dusver uitgegaan het, het hom al na die kansel laat verlang nie. Dit het hom eintlik goed gepas wanneer hulle duidelik gewys het dat hulle nie ingenome is met die potensiële skoondogters nie. Heimlik het hy met hulle saamgestem.

Maar nou het sake skielik ’n ernstiger wending begin neem. Hy sal iets daadwerkliks aan die saak moet doen …

Miempie Rust is salig onbewus daarvan dat haar naam in die deftige huis van die De Jonghs genoem is toe sy ’n paar dae later deur die motorhek van La Rhône ry. Sy ry in die rigting van die landerye en boorde waar die meeste werkers is. Toe hulle die bekende kombi gewaar, staak hulle hul werkery en begin in haar rigting aanstreep.

Vandag merk Emile de Jongh haar aankoms nie so terloops op soos voorheen nie. Hy bekyk die bedrywigheid op ’n afstand. Eers toe hy seker is dat die laaste pasiënt behandel is, stap hy in die rigting van die kombi. Hy voel ’n bietjie verspot. Tog het sy nuuskierigheid die oorhand gekry. Hy moet sien hoe lyk dié danige Miempie.

Sy verskyn in die kombideur en haar oë rek verbaas.

Hý is egter glad nie verbaas oor dit wat hy sien nie. Dis half en half wat hy verwag het. Nie mooi nie, ook nie lelik nie. Baie netjies in haar uniform. Al die kurwes op die regte plekke, maar nou nie om ’n man in ’n beswyming te laat raak nie. Net doodgewoon doodgewoon, dis Miempie Rust … sy Ma se bloudruk van die ideale vrou vir La Rhône. Sy mondhoeke trek.

’n Kepie verskyn tussen die doodgewone groenbruin oë. Sy weet nie wat die man so amusant vind nie, maar as hy vir háár staan en lag … “Ja, meneer? Kan ek help? Kom jy ook vir die gebruiklike?”

Sy laggie verdwyn onmiddellik. Sy stem klink sedig. “Wat is die gebruiklike? Is dit ’n skimp vir voorbehoeding? Is daar dan so iets op die mark? ’n Inspuiting ook vir mans?”

Sy kyk koel terug. “Nee, meneer. Kastrasie is nog die enigste antwoord. Ek hét ’n tang hier binne …”

Sy helder lag klink skielik op en sy weet nie hoekom nie, maar dit vererg haar nog meer. Wat sou die vername Emile de Jongh skielik vandag na die mobiele kliniek gelok het?

“Dankie, suster, maar ek sal liewer van minder pynlike metodes gebruik maak, dankie.”

Sy klim uit, skuif die deur toe, klim agter die stuurwiel in en skakel die voertuig aan. “In daardie geval, meneer … u mors my tyd. Ek het nog baie om te doen. Tot siens.”

Ontstig ry sy verby die indrukwekkende opstal na waar die werkers se huise teen die rantjie nestel. Sy weet nie hoekom sy haar so vererg het nie. Maar hy het haar beskou asof sy op ’n vendusie te koop is. En hoekom Emile de Jongh háár so indringend sal wil beskou, slaan haar dronk. Sy het al genoeg gehoor van hierdie meneer om te weet dat sý beslis nie die tipe is in wie hy sal belangstel nie. In so ’n klein gemeenskap weet almal alles van almal af. En as jy Emile de Jongh van La Rhône is, is jy pal in die kollig.

Sy het hom al op ’n afstand gesien, maar vandag was die eerste keer van aangesig tot aangesig. Sy het selfs al twee keer oor die telefoon met hom gepraat toe sy plaas toe moes bel om hulle van ’n veranderde skedule in kennis te stel. Op die dorp ry hy gereeld in sy duur motor met een van die talle mooi meisies met wie hy hom pal omring. Gehoor van hom het sy genoeg. As die klomp by die distriksmunisipaliteit eers met die jongste sappige nuusbrokkie begin, móét jy luister … soos wanneer jy dit móét hoor wanneer ’n brommer in ’n leë blik beland.

Sy hou voor een van die huise stil en bepaal haar gedagtes onmiddellik by haar werk. ’n Paar vrouens met verskillende gesondheidsprobleme staan reeds op haar en wag. Sy behandel hulle en vra dan: “Waar is Martha?”

“Sy staan en was daar agter haar huis, suster.”

“En Maria? Sy moet al terug wees van die skool af.”

“Ek het gesien sy stap veld toe. Seker gaan hout soek, suster.”

Miempie stap om die huisie en kry Martha Benjamin by die groot sinkbad vol wasgoed. Martha kyk vinnig op, laat dan haar blik weer skuldig sak. Miempie kom fronsend nader. “Middag, Martha.”

“Middag, suster.” Die hande bly bedrywig.

“Jou drie maande is om. Dis weer tyd vir jou inspuiting.” Stilte. Ook geen teken dat sy die wasgoed gaan los nie. “Wat is dit dan vandag, Martha? Of wil jy nie meer die inspuiting neem nie?” Stilte. Die hande vryf en vryf net. “Julle het al sewe kinders, Martha!”

“Klaas wil nie hê ek moet dit vat nie.”

“Maar dan gaan jy weer verwagtend word! Hoe dink jy gaan julle agt kinders grootmaak? Kos en klere gee, geleerdheid, alles? Die lewe is so duur, word al hoe duurder.” Die bot swye wat sy al so goed leer ken het, volg. “Martha?”

“Hulle sal grootword, suster.”

Die ou bekende antwoord ook. Hulle sal grootword. Maak nie saak hoe nie, maar hulle sal oorleef.

“Maar hoe? Swaar kry al die pad, soos jy tot vandag toe swaar kry? Gun jy jou kinders nie ’n beter lewe as jou eie nie?” Die bruin oë flits ’n oomblik in hare, kyk weer terug op die wasgoed. “Hoe meer kinders daar is, hoe swaarder gaan hulle almal kry, Martha. Hoe minder is daar vir almal. Jy en Klaas moet dit tog insien!”

Die stem word effens weerbarstig. “Ons sal werk vir hulle. Ons werk nou en ons sal bly werk.”

“Jy bedoel afsloof. Dis al wat jy en Klaas elke dag doen. Julle sloof julle af om liggaam en siel aanmekaar te hou. Wil jy dan nie vir jouself ook ’n beter lewe hê nie?”

Die handbewegings verstil. “Daar is nie ’n beter lewe vir ons mense nie. Ek het eenmaal gedink daar kan wees … maar daar is nie.”

“Wat bedoel jy?”

“Eenmaal toe ek jonk was … so oud soos Maria nou is, het ek so gedink …” Die hande begin weer heftig vrywe.

Miempie besluit om die gesprek in ’n ander rigting te stuur.

“Waar is Maria?”

“Gaan hout soek.”

“Martha, ek het al voorheen met jou hieroor gepraat. Moet Maria nie ook die inspuiting begin kry nie? Het jy al met haar daaroor gesels?”

Die bruin gesig is strak, die donker oë hard. “Maria is ’n ordentlike kind.”

“Ek weet sy is, maar daar is soveel verkragtings deesdae. Oral loop leeglêers en boosdoeners rond wat haar kwaad kan aandoen. Sy is ’n mooi kind. Sy loop elke oggend die ses kilometers dorp toe en elke middag weer terug ná skool. Jy stuur haar alleen veld toe om hout te soek. En sy word nou ’n groot meisie. Sy is negentien. Ek en jy weet wat gebeur wanneer ’n mens jonk is en jy verloor jou hart. As jy jou oë uitvee, is die kwaad gedaan.”

“En is ’n baba nou werklik die ergste ding wat met haar kan gebeur?”

Miempie is stomgeslaan. “Martha, hoe kan jy so iets sê! Maria leer so mooi …”

“Klaas is glad nie tevrede met hierdie geleerdery van haar nie. Hy sê sy is geleerd genoeg. Sy moet ophou en ’n man vat wat vir haar kan sorg.”

“Om net maar dieselfde lewe te lei wat jý al die jare lei? Jy kan dit nie aan Maria doen nie! Daar wag vir haar ’n beter lewe as sy graad twaalf slaag en miskien selfs verder gaan leer.”

“Sy vra te veel geld. Daar is ander kinders ook.”

“Juis, Martha, daarom moet julle sorg dat daar nie méér kom wat vra nie. Maar kom ons los nou eers Maria se leerdery uit. Wat van haar veiligheid? Veronderstel sy word op pad skool toe verkrag of sy raak verlief op iemand? Sê nou daar is wel ’n baba? Dis nog ’n mond vir jou en Klaas om te voer.”

“Ons sal ’n plan maak.”

Miempie voel ’n magtelose woede van haar besit neem. “Bedoel jy jy sal nie omgee as jou dogter se toekoms, haar mooi drome, aan skerwe moet spat nie?” In die swye wat volg, lees sy haar antwoord en Miempie voel die drang in haar om net weg te stap. Maar dan verskyn die jong Maria se gesig voor haar. Die mooi meisie met die fynbesnede gelaatstrekke en steil hare … die enigste kind van Maria met reguit hare.

Sy soek na woorde. “Martha, as dit Klaas se houding is, kan ek dit verstaan. Maar ek kan dit nie van jóú glo nie. Jy dink nie dieselfde as Klaas nie. Ek weet dit. Jy is ’n vrou en ’n ma. Jy was eenmaal ook so oud soos Maria. Toe wou jy ook vorentoe, boontoe, nie waar nie? Jy het seker ook jou drome gehad, wou ook wegbreek na ’n beter lewe. Jy kon dit nie regkry nie, maar miskien kry Maria dit reg. Gun haar die kans!”

Martha Benjamin laat sak die wasgoed in haar hande, kyk Miempie vas aan en vir die eerste keer sien Miempie emosie op haar gesig.

“Ja, suster. Ek wou ook eenmaal wegbreek na ’n beter lewe. Maar dit werk nie uit nie. Dit sal nooit uitwerk nie. Daar is geen reënboog vir ons mense wat so arm is nie. God het dit net vir die ander mense gestuur – en die rykes kry die pot goud daarby. Maar vir ons, hier op die plase, het Hy vergeet. En Hy luister tog nie meer na ons nie. Maria probeer wegloop van die stroois af, maar sy sal uitvind sy kan nie. Hoe verder ons van die stroois af dwaal, hoe meer trane wag daar op ons. Ek weet. Suster is verkeerd. Ek dink saam met Klaas oor hierdie saak van Maria. Die geleerdheid is nie vir haar goed nie. Dit maak dat haar mense nie meer vir haar goed genoeg is nie. Sy moet ’n man vat en haar plek leer ken. Sy moet weet waar sy hoort. Haar pa wil haar uit die skool haal. Hy sê sy kan op die plaas kom werk saam met die ander vrouens. Dan bring sy geld in. Maar ek het gesê laat haar maar tot die end van die jaar aangaan. Daarna kom Maria huis toe.”

Die magtelose woede het Miempie verlaat. Die bitterheid in die bruin vrou se stem het haar soos ’n skoot yswater getref. Onwillekeurig lê sy haar hand op Martha se voorarm. “Martha, moenie so bitter wees nie. Moenie dink God het jou vergeet nie en moenie hierdie netjiese huisie van jou ’n stroois noem nie. Dis een van die skoonste huise wat ek nog gesien het en jy is een van die netjiesste en mees opregte vroue wat ek ken.”

“Regtig?” Martha trek haar arm onder Miempie se aan­raking weg. “Ek weet nie, suster. Ek weet nie. Maar een ding weet ek. Ek wil nie hê my kind moet oorkom wat ék oorgekom het nie. Dan moet sy maar liewer net hier op die plaas bly. Dis beter vir haar.”

Miempie voel haar hart saamkrimp. Sy aarsel, waag dit dan tog: “Maria is nie Klaas se kind nie, is sy?”

Die donker oë swaai afwaarts. “Maak dit saak? Sy is mý kind.”

“En jy weier dat ek oor die voorbehoed-inspuiting met haar praat?”

“Ja.”

“Sy is al negentien, Martha. Sy mag self oor hierdie dinge besluit. Eintlik het sy nie eens meer jou toestemming nodig nie. Maar ek respekteer dit dat jy haar ma is … En jy self?” Sy sien die aarseling. “Klaas sal nie weet nie. Hy is op die land. Ek weet ek kan jou nie dwing nie, en dit is jou eie besluit, maar … asseblief, Martha! Ek probeer jou net help.”

“Hy sê hy wil nog ’n kind hê. Dis sy rykdom.”

“En jou swaar kry.”

“Dan moet dit maar so wees, suster. Dis maar so uitgelê.”

Miempie stap terug kombi toe. Sy weet sy het haar teen ’n muur vasgeloop. Vandag sal Martha nie die inspuiting vat nie … en wanneer sy oor ’n maand weer kom, sal Martha waarskynlik swanger wees met haar agtste kind. Ag, as sy maar net meer oorredingskrag gehad het!

Sy skakel nie dadelik die kombi aan nie. Haar blik dwaal oor die huisies. Die strooise, soos Martha dit genoem het. Die netjiese huisies wat Giel de Jongh vir sy werkers gebou het, is allesbehalwe strooise. Maar sy weet dit het maar onlangs gekom, en op baie plase is die tradisionele stroois maar nog die enigste huis wat die werker ken. Martha het verseker in so ’n stroois grootgeword … en die merk van die stroois kon sy ná al die jare nog nie afgeskud kry nie. Die stroois het vir haar ’n beskutting geword teen die seerkry van drome wat nooit waar kan word nie … Daarom wil sy haar dogter ook maar liewer in die skadu van die stroois hou …

Die bekende ou magteloosheid vat Miempie Rust weer opnuut vas in hierdie oomblik. Elke dag ry sy in hierdie distrik rond, verby die soms oordadig luukse opstalle, want dit is ’n ryk distrik, na die plaaswerkers se huise. En so dikwels, só dikwels, kom dit in haar op wanneer haar blik op die strooise val: Hoe kan enigiemand verwag dat daar uit sulke krotte mense moet kom met selftrots en menswaardigheid? Tog, dit word verwag. En daar is wel mense met ruggraat wat hier grootword en elders ’n pad na ’n beter toekoms probeer uitkap. Die mense van die opstal verwag hulle moet dink en voel en optree en hulle gedra soos húlle “die voorbeeld stel”. En dan stel so baie nog ’n skewe voorbeeld ook, dink sy wrang.

Môreoggend moet die Marthas wat in daardie luukse huise werk, kraaknet en skoon by die kombuis instap. Miempie het al baie gewonder hoe hulle dit tog regkry. Dikwels is daar nie eens ’n kraan naby nie, moet water ’n ver ent in emmers en konkas aangedra word vanaf ’n rivier of ’n gronddam. Daar is nie elektrisiteit nie, maar die uniforms wat deur die boer se vrou verskaf word, moet netjies gestryk wees. En haar kinders moet skoon en netjies wees, al werk sy soms tot baie laat. So ook haar man se oorpak wanneer hy môre sy bevele ontvang.

Miempie laat sak haar ken in haar hand waar haar elmboog op die stuurwiel druk … en vir die soveelste keer wonder sy watter soort mens sý sou gewees het as God haar vel anders geverf het. Opnuut vul haar hart met deernis. Arme Martha … en arme Maria … Sy bid byna hardop dat die Vader sal verhoed dat Martha swanger word voordat sy weer hierlangs kom. Miskien sal sy haar volgende keer kan oorreed om die inspuiting te neem.

Sy skakel die kombi aan, voel nie daarna om vandag die gebruiklike koppie tee by Laura de Jongh te gaan drink nie. Eers het daardie man haar ontstig, toe het Martha haar ontstel en nou kan sy die jonge Maria nie uit haar gedagtes kry nie. Nie dat Maria veel jonger is as sy nie. Sy is vier-en-twintig en Maria negentien. Maar van die eerste oomblik af dat sy Maria gesien het, het ’n beskermingsdrang in haar posgevat. Maria se steil hare is nie die enigste eienskap wat haar uitsonder nie. Daar is iets in haar oë en in haar houding wat Miempie onmiddellik getref het.

Ook Maria se deursettingsvermoë verstom Miempie. Twaalf kilometers per skooldag loop sy heen en weer skool toe, in alle weersomstandighede. In die winter moet sy reeds donker in die pad val om betyds te wees, en namiddae is daar ’n kort ligdag oor wanneer sy die huis bereik. Dan word sy nie gespaar nie. Sy is die oudste. Sy moet help met die bondels wasgoed, want hier is dit nie ’n geval van een aan die bas, een in die was en een in die kas nie. Daar is nie ’n kas nie. Dis in die was of aan die bas.

Of daar moet fynhout gemaak word, die werf moet gevee word, of die kleintjies moet gewas word. En vanaand wanneer daar miskien eindelik tyd is om by skoolwerk uit te kom, is daar agt ander mense om haar in die tweevertrekhuisie. Die een lag en die ander huil en almal gesels. Vroegaand word die kers of paraffienlampie doodgeblaas, want môre wag nog ’n harde werkdag. Daar is in elk geval nie ’n kers beskikbaar vir Maria om by te studeer nie. Kerse is duur. Kerse vra geld.

Maria se skoolresultate is dus heel gemiddeld, maar dat sy tot graad twaalf gevorder het, bly vir Miempie ’n raaisel.

Miempie draai die kombi se neus in na die opstal toe sy die uitdraaipad bereik. Dit sal snaaks lyk as sy nie hier inloer nie. Maar sy sal net verskoning maak dat sy vandag nie tyd het vir ’n koppie tee nie.

Sy kom nie so maklik weg soos sy gehoop het nie. Haar tee is klaar ingeskink toe sy sommer deur die kombuis vorentoe stap.

“Ek het jou sien aankom en solank jou tee ingeskink. Dag, Miempie. Kom sit. Kry ’n koekie.”

“Middag, tannie Laura.” Sy het geen keuse as om maar die aangebode koppie tee te neem nie. Laura de Jongh was nog altyd baie gaaf teenoor haar en het haar nog altyd tuis laat voel. Anders as wat die geval is by baie ander plase. Daar word die distriksverpleegster formeel as suster Rust aangespreek. Dikwels gebeur dit dat sy weer wegry sonder dat sy die vrou van die huis met ’n oog gesien het. Maar nie op La Rhône nie.

“Alles nog reg?” stel die ouer vrou die gebruiklike vraag.

Miempie skud haar kop. “Nie so alles reg vandag nie. Martha weier om die inspuiting te neem.”

“Martha Benjamin?”

“Ja. Klaas wil nog ’n kind hê. Ek het probeer praat … Tannie Laura, dit gaan nie net om te veel kinders nie, of te veel monde nie. As mense net wil besef dat twee of drie kinders hul eie lewenstandaard sal verbeter en aan die kinders ’n beter kans vir ’n beter toekoms sal gee!”

“Ek weet, Miempie. Dis in so baie lande ’n probleem. Wat wil Klaas met nog ’n kind maak?”

“Martha sê hy sê dis sy rykdom.”

“Sy armoede en ellende, ja.”

“Maar daar is iets wat my baie meer ontstel. Hulle weier ook dat Maria iets met voorbehoeding te doen moet hê.” Sy glimlag wrang. “Hulle hoop blykbaar sy sal haar vasvry en ’n man vat sodat sy van hulle nekke af kan kom. Kan tannie dink dat ouers só kan redeneer?”

Daar is ’n voetstap by die deur en die kroonprins van die plaas, soos Miempie baiekeer aan hom dink, kom binne. Haar gesig verstyf onmiddellik.

Hoewel Emile dit sien, glimlag hy en laat vriendelik hoor: “Is daar ’n koppie tee vir my ook?”

“O, Emile!” Sy ma kyk hom verras aan. “Jy het nog nie vir suster …”

“Ja. Ons het ontmoet, netnou by die boorde. Maar sy was toe nie juis te vriendelik nie. Ek hoop haar luim het al gesak.”

Laura kyk van die een na die ander, sien hoe Miempie se gesig onleesbaar word en sy rig ’n waarskuwende blik op haar seun. Maar voordat sy iets kan sê, sit Miempie haar koppie neer en staan op.

“Tannie sal my regtig nou moet verskoon. Ek moet nog by ’n paar plase aangaan. Dankie vir die tee. Tot siens.”

Sy stap ook sommer summier uit, maar toe sy by die kombi kom, is daar ’n hand voor hare op die deurknip.

“Genugtig, maar jy is darem ’n krapperige entjie mens. Wat byt jou?”

Haar blik flits na hom. “Ek is haastig, meneer De Jongh.”

“Jy was nie ander kere so haastig nie. Ek sweer jy sou nog gesit het as ek nie ingekom het nie.”

“Meneer De Jongh …”

“Die naam is Emile, Miempie.”

“Asseblief, ek het werk om te doen.”

Hy lyk eerlik verbaas. Hy is nie aan so iets gewoond nie. Die skoner geslag is altyd die ene glimlaggies wanneer hy met hulle gesels. Hy frons, kyk haar ondersoekend aan. “Wat is dit met jou? Wat het ek gedoen om jou antagonisme te verdien?”

Juis omdat sy weet hy het die volste reg om so ’n vraag te vra, en juis omdat sy besef dat sy haar buitensporig vererg het toe hy haar so staan en beskou het, raak sy net nog stroewer. “Meneer De Jongh, jy het niks verdien nie. Ek hou net nie van die onnodige aandag wat jy skielik op my uitstort nie, en beslis nie in my werktyd nie. Jy kan dit seker bekostig om ledig te wees, maar ek nie. Verskoon my dus asseblief.”

Hy laat toe dat sy sy hand van die deurhandvatsel wegdruk. In die truspieël van die kombi sien sy dat hy op dieselfde plek bly staan tot sy uit sig verdwyn.

Emile se oë is peinsend op die grond voor hom gerig. En dis nou wat sy ma beskou as goeie materiaal vir ’n toekomstige vrou. Beduiwelde Miempie. Dan grynslag hy. Miskien dink sy ma hy het ’n kwaai vrou nodig. Iemand wat hom gereeld, en soms ook sonder rede, op sy plek sal sit. Iemand wat nie soos ’n oorryp appelkoos in sy skoot sal val nie …

Miempie voel effens skuldig toe sy aanry. Hy moet haar optrede vreemd vind. Sy kan regtig nie dink hoekom sy haar so vererg het nie. En hoekom het dit haar so ontstel dat die grootmeneer haar skielik vandag raakgesien het. Sy weet tog daar is geen bybedoelings nie. Miskien wou hy maar net beleef wees, en háár reaksie het gegrens aan ongemanierdheid. Maar dis of sy instinktief op die verdediging was toe sy hom daar voor haar sien staan, so asof sy haarself teen iets moes beskerm, maar wat dié iets is, is te vaag om te definieer. Sy is seker maar beïnvloed deur al die stories wat sy al van hom gehoor het. Met sy pierewaaierlewe het sy nie vrede nie. Die ledige rykes met hul enorme ego’s … Nee, sy voel glad nie meer skuldig oor haar gedrag nie. Sy kon sien dit het hom geruk dat die vaal ou verpleegsustertjie nie voor hom in ’n beswyming val nie. Goed so.

Sy moet die kombi se remme vinnig vasskop toe ’n gestalte skielik van agter ’n struik reg voor die voertuig inspring net voordat sy deur La Rhône se grenshek ry.

“Maria! Ek kon jou raak gery het!” raas sy.

“Ek is jammer, suster, maar ek is so bang ek mis suster.”

Miempie kyk die jong meisie skerp aan. “Wat is dit, Maria? Hoekom wou jy my so dringend sien? Is daar … is daar fout?” vra sy reguit en haar hart sak in haar skoene.

“Nee, suster, maar … ek …” Daar is groot verleentheid. “Ek wil asseblief die inspuiting hê.”

Dit stel Miempie geensins gerus nie. “Maria, jy moet eerlik met my wees. Die voorbehoedinspuiting help niks as daar reeds moeilikheid is nie. Verstaan jy?”

“Ja, suster. Ek makeer niks nie.”

Verligting spoel deur haar. “Maar jy het ’n spesiale vriend?”

“Nee, suster! Ek hou my nie met die ouens op nie. Ek wil leer.”

Miempie klim uit en maak die skuifdeur van die kombi oop. “Kom klim in. Ons praat binne verder.” Sy kyk die meisie vas aan. “Hoekom wil jy dan die inspuiting hê?”

“Oor … oor ek bang is daar gebeur iets. Daar is groot ouens in die skool wat by my aanlê. En hier op die plaas ook. Ek sê vir hulle ek wil niks met hulle te doen hê nie, maar hulle wil nie luister nie. Hulle hou aan. En almal weet ek loop skool toe en terug. Ek is bang een van hulle lê my voor, suster.”

Miempie knik. “Ek het met jou ma gepraat. Sy wil niks weet van voorbehoeding nie – ook nie dat jy die inspuiting moet kry nie.”

Die kop sak. “Ek weet, suster. Ek weet wat hulle wil hê. Maar ek …” Die oë pleit. “Asseblief, ek wil die inspuiting hê. Ek wil klaar leer. Ek is so bang iets gebeur met my …”

Miempie haal haar tas uit en kry alles gereed. “Ek het juis vandag my program só verander dat ek in die namiddag op La Rhône kan wees – ter wille van jou. Ek wou graag met jou gesels. Maar toe was jy veld toe en jou ma wou niks weet nie, maar jy is baie verstandig, Maria. ’n Vrou moet haarself beskerm. Probeer ook om nie alleen in die veld te stap nie, veral as dit begin donker word. Maar ek weet dis baie moeilik …” Toe sy klaar is, glimlag sy bemoedigend. “Dis baie mooi dat jy so graag wil leer, Maria. Hoe gaan dit op skool?”

“Maar so-so, suster. Ek moet maar eksamen skryf met behulp van wat ek in die klas hoor en onthou. Daar is nie kans vir leer by die huis nie. Maar ek het nog altyd deurgekom.”

“Wat wil jy ná graad twaalf doen?”

“Ek wil graag verder gaan leer.”

“So? In watter rigting?” vra sy belangstellend uit terwyl haar hart pyn. Arme Maria. Haar ouers het ander planne vir haar.

“Ek wil graag eendag ’n dokter word.”

“’n …” Miempie kry die uitdrukking op haar gesig vinnig reg. “Maar dis ’n pragtige ideaal, Maria.” Sy lê haar hand op die meisie se skouer. “Mooi leer en sterkte.”

Sy waai tot siens toe sy deur die motorhek gaan, sien in die truspieël hoe Maria buk, die bondel hout optel en begin aanstap … en in haar is dit seer … seer oor al die vergeefse drome wat tussen strooise begrawe lê.

Ena Murray Omnibus 38

Подняться наверх